Nuwe program vir die spesiale byeenkomsdag
Daar is vandag baie inligting beskikbaar oor hoe ons ons fisiese hart gesond kan hou sodat ons ’n aangenamer en langer lewe kan geniet. Wat egter van veel groter belang is, is die toestand van ons figuurlike hart. Hoe gepas is die tema tog vir die spesiale byeenkomsdag wat in September 2003 sal begin: “Dien Jehovah met ’n volkome hart” (1 Kron. 28:9). Waarna kan ons uitsien?
Die kringopsiener sal die toespraak hou: “Help ander om Jehovah met ’n gewillige siel te dien.” Onderhoude sal die vreugde beklemtoon wat dit meebring om na belangstellendes terug te gaan en Bybelstudies te hou met mense wat Jehovah graag wil dien. Almal in die gehoor sal ongetwyfeld vertroosting en bemoediging put uit die besoekende spreker se eerste toespraak “Ons moet ons hart bewaak in ’n wêreld vol probleme”. Die oggendsessie sal met die dooptoespraak afsluit.
In die middag sal die deel “Bied ’n helpende hand” maniere bespreek waarop ons ander kan help. Wat kan ouers doen om hulle kinders se harte teen verkeerde invloede te beskerm en hulle te help om nader aan Jehovah te kom? Die deel “Help julle kinders om hulle in Jehovah te verlustig” sal praktiese wenke voorsien en sal demonstreer hoe dit gedoen kan word.
Benut ons elke voorsiening wat Jehovah maak om ons figuurlike hart gesond en sterk te hou? Die besoekende spreker se laaste toespraak, “Behou ’n volkome hart in Jehovah se diens”, sal die aandag vestig op vier noodsaaklike aspekte van ons program om ons geestelikheid in stand te hou. Hoeveel tyd en energie wy ons aan ernstige gebed, ’n studie van God se Woord, ’n ywerige deelname aan die predikingswerk en assosiasie met ander Christene? Kan ons op enige van hierdie gebiede verbeter?
Jehovah rig die uitnodiging: “Bring jou hart tog na dissipline en jou oor na die woorde van kennis” (Spr. 23:12). Beplan nou al om hierdie lonende dag van skriftuurlike onderrigting by te woon. Dit sal jou versterk om Jehovah met ’n volkome hart en ’n gewillige siel te bly dien.