Laat ons ons plek van aanbidding in ’n goeie toestand hou
1. Wat is die doel van die Koninkryksaal?
1 Regoor die wêreld is daar meer as 94 000 gemeentes van Jehovah se Getuies. Die meeste gemeentes vergader vir Bybelstudie en Christelike assosiasie by ’n Koninkryksaal, wat as ’n plaaslike sentrum van ware aanbidding dien. Party vergader egter nog in gehuurde fasiliteite, soos skole, asook in tydelike strukture.
2. Waarom is dit belangrik om die Koninkryksaal skoon en netjies te hou?
2 Gereelde skoonmaakprogram: Die instandhouding van die Koninkryksaal is ’n belangrike deel van ons heilige diens. Ons bediening-boek sê op bladsy 61: “Die broers moet dit as ’n voorreg beskou om nie alleen die Koninkryksaal finansieel te ondersteun nie, maar ook om hulle dienste aan te bied om dit skoon, netjies en in stand te hou. Die binnekant en buitekant van die Koninkryksaal moet Jehovah se organisasie goed verteenwoordig.” Aangesien die Koninkryksaal verskeie kere per week gebruik word, moet dit gereeld skoongemaak en in stand gehou word. Gewoonlik sien vrywilligers in die gemeente(s) wat die Koninkryksaal gebruik, na hierdie sake om. Soos in Bybeltye moet Jehovah se knegte vandag ywerig wees om ons plek van aanbidding “op te knap en te herstel”.—2 Kron. 34:10.
3. Hoe word die skoonmaak van die Koninkryksaal georganiseer, en wie kan hierdie voorreg geniet?
3 ’n Rooster vir die weeklikse skoonmaak van die Koninkryksaal moet op die kennisgewingbord geplaas word. Alle boekstudiegroepe moet beurte maak om die saal elke week skoon te maak, deur ’n lys te volg van take wat verrig moet word. Almal wat kan, moet help met die weeklikse voorreg om die Koninkryksaal skoon en netjies te hou. Kinders kan ook onder hulle ouers se toesig hiermee help, en dit sal hulle leer om waardering vir hierdie voorreg te toon. Veral wanneer meer as een gemeente ’n Koninkryksaal gebruik, is goeie samewerking noodsaaklik sodat hierdie belangrike aspek van ons aanbidding nie net aan ’n paar oorgelaat word nie. Dit geld ook vir gemeentes wat gehuurde fasiliteite of tydelike strukture gebruik.
4. Wat is nodig sodat die gemeente weet wat om te doen wanneer die Koninkryksaal skoongemaak word?
4 ’n Lys take kan êrens geplaas word, dalk waar die skoonmaakmiddels gehou word. Hierdie lys moet die weeklikse take uiteensit, onder meer om te stofsuig, vensters skoon te maak, af te stof, snippermandjies leeg te maak, vloere te was en spieëls skoon te maak. Party take kan minder gereeld gedoen word, soos om houtmeubels te politoer en stoele, gordyne en ligskerms ’n deeglike skoonmaak te gee. Alle chemikalieë wat vir skoonmaak gebruik word, moet buite die bereik van kinders gebêre word en duidelik gemerk wees. Kort gebruiksaanwysings moet ook op elkeen aangebring word.
5. Hoe belangrik is veiligheid, en watter dinge moet gereeld nagegaan word? (Sien venster op bladsy 4.)
5 Veiligheid by die Koninkryksaal is uiters belangrik (Deut. 22:8). In dié verband word daar in die venster op bladsy 4 ’n lys items opgenoem wat, waar dit van toepassing is, gereeld nagegaan moet word om ongelukke te vermy.
6. Hoe word die werk gekoördineer om die Koninkryksaal in stand te hou?
6 Instandhouding van die Koninkryksaal: Die liggaam van ouer manne het die verantwoordelikheid om toesig te hou oor die instandhouding van die Koninkryksaal. Gewoonlik word ’n ouer man of ’n bedieningskneg aangestel om die werk te koördineer. Hy maak seker dat die Koninkryksaal geskik is vir daaglikse gebruik, deur toe te sien dat dit skoongehou word en in ’n goeie toestand bly en dat daar genoeg skoonmaakmiddels en ander benodigdhede is. Dit is belangrik dat daar niks binne die saal of op die terrein is wat ’n gevaar kan inhou nie. Wanneer twee of meer gemeentes dieselfde saal gebruik, stel die liggame van ouer manne ’n bedryfskomitee aan om die reëlings te organiseer om na die gebou en terrein om te sien. Hierdie komitee werk onder die leiding van die liggame van ouer manne.
7. (a) Wat word elke jaar gedoen om te verseker dat die Koninkryksaal in ’n goeie toestand bly? (b) Na watter dinge moet gereeld omgesien word? (Sien venster op bladsy 5.)
7 Elke jaar word ’n deeglike inspeksie van die Koninkryksaal gehou. Daarna reël die ouer manne dat daar behoorlik omgesien word na enigiets wat aandag nodig het. Die verkondigers kan genooi word om met die nodige herstelwerk en instandhouding te help. Almal moet daarop let om selfs kleiner takies deeglik te doen en moet gou wees om na dinge om te sien wat aandag nodig het. ’n Tydelike struktuur wat as ’n vergaderplek gebruik word, moet ook in stand gehou word.
8. Wanneer kan die ouer manne met die Streekboukomitee in aanraking kom oor instandhoudingswerk?
8 As die ouer manne meen dat hulle raad of hulp nodig het met instandhoudingswerk by die Koninkryksaal, kan hulle met die Streekboukomitee in aanraking kom. Dit kan sake insluit soos die versorging van matte of probleme met klammigheid in die gebou.
9. Watter prosedure moet gevolg word as dit nodig is om ’n kontrakteur te huur?
9 Gebruik gemeentelike fondse verstandig: Die meeste van die werk aan die Koninkryksaal en die terrein word deur vrywilligers gedoen. Hulle selfopofferende pogings bewys hulle liefde en help grootliks om koste te besnoei. As dit nodig is om ’n kontrakteur te huur om van die werk te doen, soos plaagbestryding of elektriese herstelwerk, sal die ouer manne ’n paar kwotasies aanvra. Hulle doen dit deur eers ’n uitvoerige skriftelike beskrywing voor te berei van die werk wat gedoen en materiaal wat voorsien moet word. ’n Afskrif van hierdie lys word aan ’n paar mededingende verskaffers gegee sodat almal daarvolgens kan tender. Nadat skriftelike tenders van verskeie voornemende verskaffers ontvang is, kan die ouer manne dan die beste tender kies. Hierdie prosedure moet gevolg word selfs as ’n broer aanbied om die werk te doen of om die nodige materiaal te verskaf teen ’n spesifieke prys.
10. Wat word gedoen om te verseker dat die gemeentelike fondse verstandig gebruik word?
10 Die ouer manne moet ook gepaste stappe doen om vrystelling van eiendomsbelasting te verkry, waar dit van toepassing is. Wanneer meer as een gemeente die Koninkryksaal gebruik, moet die bedryfskomitee ’n aparte bankrekening hê en elke maand skriftelike finansiële verslae aan elke liggaam van ouer manne gee, sodat die ouer manne op hoogte kan bly van hoe die fondse bestee word. Die ouer manne moet toesien dat die gemeentelike fondse verstandig gebruik word.
11. Wat moet gedoen word as groot instandhoudings- of opknappingswerk nodig is?
11 Groot instandhoudings- en opknappingswerk: Wanneer die bedryfskomitee meen dat groot instandhoudings- of opknappingswerk aan die Koninkryksaal nodig is, moet hulle die saak na die liggame van ouer manne verwys. As daar besluit word dat hierdie werk wel nodig is of dat die gemeente(s) wat daardie Koninkryksaal gebruik, hulp van buite moet kry, sal die ouer manne die Streekboukomitee nader. Hierdie gekwalifiseerde, bekwame broers kan nuttige voorstelle maak en help met toesig oor die werk. As groot uitgawes betrokke gaan wees, moet akkurate kosteberekenings gedoen word en ’n resolusie opgestel en aan die gemeente voorgelê word.—Sien die Vraebus in Ons Koninkryksbediening vir Februarie 1994.
12. Hoe kan ons ons waardering toon vir die voorreg om vergaderinge by die Koninkryksaal by te woon?
12 Hoe waardeer ons tog nie ons voorreg om by die Koninkryksaal te vergader nie! Ons wil nooit ons vergaderinge verwaarloos of as vanselfsprekend aanneem nie. Ons almal kan bydra tot die sukses van hierdie voorsiening vir ons aanmoediging as ons ywerig help om na ons Koninkryksaal om te sien. Dit verheerlik ware aanbidding en bring eer op Jehovah se naam. Laat ons vasbeslote wees om ons plek van aanbidding in ’n goeie toestand te hou.
[Venster op bladsy 4]
Veiligheidskontrolelys
◻ Brandblussers moet binne bereik wees en jaarliks gediens word.
◻ Uitgange en trappe moet duidelik gemerk, goed belig en maklik bereikbaar wees, en die handrelings moet stewig wees.
◻ Pakkamers en toilette moet skoon en netjies wees, en uiters vlambare stowwe, persoonlike items en rommel moenie daarin gehou word nie.
◻ Dak en geute moet nagegaan en gereeld skoongemaak word.
◻ Sypaadjies en parkeerterrein moet belig wees, en daar moet niks wees wat iemand kan laat gly of val nie.
◻ Elektriese, verhitting- en ventilasiestelsels moet nagegaan en behoorlik gediens word.
◻ Enige lekplekke moet gou reggemaak word om ernstige probleme met klammigheid te voorkom.
◻ Die gebou moet gesluit wees wanneer niemand op die terrein is nie.
[Venster op bladsy 5]
Instandhouding van gebou en terrein
◻ Buitekant: Is die dak, mure, verf, vensters en Koninkryksaal-naambord in ’n goeie toestand?
◻ Terrein: Word die terrein netjies gehou? Is die sypaadjies, heinings en parkeerterrein in ’n goeie toestand?
◻ Binnekant: Lyk die matte, gordyne, stoele, toebehore, mure en lektuurtoonbanke nog goed?
◻ Toerusting: Werk die ligte, klank-, verhitting- en ventilasiestelsel behoorlik?
◻ Toiletgeriewe: Is dit skoon en in ’n werkende toestand? Word die handdoeke gereeld gewas?
◻ Gemeentelike dokumente: Is die trustaktes op datum en akkuraat? Word die vorms vir vrystelling van eiendomsbelasting, waar dit vereis word, jaarliks ingedien?