Dra jy by tot ’n akkurate rapport?
1 Baie Bybelverslae bevat spesifieke getalle, wat help om ’n duidelike beeld oor te dra van wat gebeur het. Gideon het die kamp van Midian byvoorbeeld met net 300 man verslaan (Rigt. 7:7). Jehovah se engel het 185 000 Assiriese soldate doodgemaak (2 Kon. 19:35). Op Pinkster 33 G.J. is sowat 3 000 gedoop, en kort daarna het die getal gelowiges tot ongeveer 5 000 vermeerder (Hand. 2:41; 4:4). Uit hierdie verslae is dit duidelik dat God se eertydse knegte baie moeite gedoen het om ’n volledige en noukeurige verslag saam te stel.
2 Jehovah se hedendaagse organisasie leer ons om elke maand ons velddiensbedrywighede te rapporteer. As ons getrou met hierdie reëling saamwerk, dra dit by tot doeltreffende toesig oor die predikingswerk. Rapporte kan toon dat ’n aspek van die bediening aandag vereis of dat daar meer werkers in ’n sekere deel van die veld nodig is. In die gemeente help velddiensrapporte die ouer manne om te sien wie moontlik hulle bediening kan uitbrei sowel as wie miskien hulp nodig het. En verslae oor die vooruitgang van die Koninkrykspredikingswerk moedig die hele Christenbroederskap aan. Doen jy jou deel om tot ’n akkurate rapport by te dra?
3 Jou persoonlike verantwoordelikheid: Is dit aan die einde van die maand vir jou moeilik om te onthou wat jy in die bediening gedoen het? Indien wel, kan jy gerus elke keer as jy velddiens doen, neerskryf wat jy gedoen het. Party gebruik ’n kalender of ’n dagboek. Ander hou ’n skoon velddiensrapportvormpie by hulle. Gee jou rapport stiptelik aan die einde van die maand vir jou boekstudieopsiener. As jy vergeet om jou rapport in te gee, moet jy dadelik vir jou boekstudieopsiener sê en nie wag totdat hy jou nader nie. As jy jou bedrywighede pligsgetrou rapporteer, toon dit eerbied vir Jehovah se reëling en liefdevolle bedagsaamheid teenoor die broers wat die toewysing het om die rapporte bymekaar te maak en die gemeenterapport saam te stel.—Luk. 16:10.
4 Boekstudieopsiener se rol: As ’n wakker en bedagsame herder stel die boekstudieopsiener deur die hele maand in die groep se bedrywighede belang (Spr. 27:23). Hy weet of elke verkondiger ’n gereelde, betekenisvolle en vreugdevolle deelname het en bied gou hulp aan as party ’n hele maand lank nie velddiens gedoen het nie. ’n Bietjie aanmoediging, ’n praktiese wenk of ’n uitnodiging om saam met hom velddiens te doen, is dikwels al wat nodig is.
5 Aan die einde van die maand maak die boekstudieopsiener seker dat almal in die groep hulle verantwoordelikheid nagekom het om hulle bedrywighede te rapporteer sodat die sekretaris teen die sesde van die volgende maand ’n akkurate gemeenterapport na die takkantoor kan stuur. Wanneer die einde van die maand nader kom, sal dit dalk help as hy die groep herinner en rapportvormpies by die boekstudie beskikbaar stel. As party gereeld vergeet om hulle bedrywighede te rapporteer, kan hy gepaste herinneringe en aanmoediging gee.
6 As ons ons velddiensrapporte stiptelik ingee, dra dit by tot ’n rapport wat noukeurig weergee wat in die veld verrig is. Sal jy jou deel doen deur jou bedrywighede elke maand stiptelik te rapporteer?