Die vreugde van die voltydse diens
1 As ’n jong persoon het jy ongetwyfeld al aan jou toekoms gedink. Spreuke 21:5 sê vir ons: “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel.” Dit sal jou tot voordeel strek as jy ernstig nadink oor jou doelwitte in die lewe. Wanneer jy jou toekomsplanne maak, moet jy dit oorweeg om die voltydse diens te betree. Waarom?
2 Vra ’n paar volwassenes wat gedurende hulle jeug pionierdiens gedoen het, wat hulle indrukke was en hulle sal almal dieselfde sê: “Dit was die beste jare van my lewe!” ’n Broer wat van jongs af die vreugde van die voltydse diens gesmaak het, het later in sy lewe gesê: “Dit is baie bevredigend om op jou jeug terug te kyk en te kan sê dat jy gehoor gegee het aan die wyse raad: ‘Dink dan nou aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid’” (Pred. 12:1). Dit verg nou goeie beplanning van jou en jou ouers om ’n manier uit te werk waarop jy hierdie soort vreugde in jou jonkheid kan ondervind.
3 Ouers, moedig die voltydse diens aan: Soos ’n liefdevolle Vader wys Jehovah vir julle presies watter weg julle moet inslaan (Jes. 30:21). Deurdat hy hierdie liefdevolle leiding gee, stel hy ’n goeie voorbeeld vir julle as Christenouers. Pleks van dit aan julle kinders oor te laat om te kies watter weg vir hulle die beste is, sal dit verstandig wees as julle hulle eerder oplei in die weg waarop hulle moet wandel sodat hulle Jehovah se seën sal hê. Wanneer hulle ouer word, sal julle opleiding hulle dan help “om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Heb. 5:14). Volwassenes weet uit ondervinding dat hulle nie op hulle eie oordeel kan staatmaak nie; hulle moet op Jehovah vertrou om hulle paaie reguit te maak (Spr. 3:5, 6). Dit is vir jongmense, wat minder ondervinding in die lewe het, selfs belangriker om dit te doen.
4 Wanneer kinders hulle tienerjare nader, of selfs vroeër as dit, moet julle as ouers realisties met hulle oor hulle loopbaandoelwitte praat. Skoolvoorligters, onderwysers en klasmaats sal hulle probeer beïnvloed om wêreldse, materialistiese strewes na te jaag. Help julle kinders om vakke te kies wat praktiese opleiding bied en hulle sal toerus om in hulle materiële behoeftes te voorsien sonder om Koninkryksbelange op die agtergrond te skuif (1 Tim. 6:6-11). Dikwels is hoërskoolopleiding tesame met beroeps- en/of indiensopleiding dalk al wat nodig is om in jou lewensbenodigdhede te voorsien wanneer jy ’n gewone pionier word.
5 Spoor jongmense aan om die gawe na te streef om ongetroud te bly. As hulle later besluit om te trou, sal hulle in ’n beter posisie wees om die groter verantwoordelikhede van die huwelik te aanvaar. (Sien paragraaf 19 in die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Junie 2001, “Kan jy jou beskikbaar stel?”) As julle op ’n positiewe manier oor die pionierdiens, diens in plekke waar hulp nodig is, Betheldiens en sendingwerk praat, sal julle vroeg reeds by jongmense die begeerte wek om hulle lewe op ’n manier te gebruik wat Jehovah behaag, ander tot voordeel strek en vir hulleself vreugde meebring.
6 Jongmense, stel die voltydse diens eerste: Jongmense, julle hoef nie te wonder wat die pionierdiens behels nie. Julle kan dit probeer deur, indien moontlik, gedurende die skooljaar en vakansies hulppionierdiens te doen. Dan sal julle weet hoe bevredigend die pionierdiens werklik is! Sal jy gedurende die volgende paar maande hulppionierdiens kan doen?
7 As jy ’n jong broer in God se organisasie is, moet dit vir jou ’n saak van erns wees om aan die vereistes te probeer voldoen om ’n bedieningskneg te word (1 Tim. 3:8-10, 12). Besluit ook of jy, wanneer jy oud genoeg is, aansoek wil doen vir Betheldiens of om die Bedieningsopleidingskool by te woon. Jou ondervinding in die pionierbediening sal jou waardevolle lesse leer, soos hoe om by ’n rooster te hou, meer georganiseerd te wees, met ander oor die weg te kom en ’n verantwoordelikheidsin te ontwikkel. Dit alles sal jou voorberei om later groter diensvoorregte te geniet.
8 Vlytigheid wat teokratiese dinge betref, is ’n belangrike faktor as jy in die voltydse diens suksesvol wil wees. Die apostel Paulus het ons aangespoor om so ’n gesindheid te hê en het gewys watter seëninge daaruit sou voortspruit: “Wat julle ook al doen, doen dit met julle hele siel soos vir Jehovah . . . , omdat julle weet dat julle van Jehovah die erfenis as die gepaste beloning sal ontvang” (Kol. 3:23, 24). Mag Jehovah julle met groot vreugde in die voltydse diens seën!