Seëninge wat ons ontvang as ons waardering vir Jehovah se liefde toon—Deel 1
1 Die apostel Johannes het geskryf: “Wat ons betref, ons het lief omdat [Jehovah] ons eerste liefgehad het” (1 Joh. 4:19). Wanneer ons aan alles dink wat Jehovah ons gegee het, word ons beweeg om op ons beurt diepe waardering te toon. Jesus het die voorbeeld hierin gestel deur gehoorsaam van God se naam en Koninkryk te getuig (Joh. 14:31). Dit sal goed wees as ons kyk na ’n paar maniere waarop ons ons waardering vir Jehovah se liefde kan toon en die seëninge wat dit tot gevolg het.
2 Gaan van huis tot huis: Jesus het sy dissipels geleer hoe om die Koninkrykspredikingswerk te doen. Sy instruksies toon duidelik dat hulle van huis tot huis gegaan het om die goeie nuus te verkondig (Luk. 9:1-6; 10:1-7). Dit verg liefde vir God en ons naaste om aan te hou om van deur tot deur te gaan wanneer ons onverskilligheid en teenstand ondervind. Terwyl ons dit doen, vind ons egter persoonlik daarby baat omdat ons geloof sterker, ons oortuiging vaster en ons hoop helderder word.
3 Omdat ons onder engeleleiding werk, het ons baie gevind wat honger en dors na die waarheid (Op. 14:6). Huisbewoners het al gesê dat hulle besig was om vir hulp te bid toe ’n Getuie na hulle deur toe gekom het. Twee Getuies en ’n klein kindjie het op ’n Karibiese eiland van huis tot huis gegaan. Toe die volwassenes besluit het om op te hou vir die dag, het die kindjie alleen na die volgende deur gegaan en geklop. ’n Jong vrou het die deur oopgemaak. Toe die volwassenes dit sien, het hulle daarheen gegaan en met haar gesels. Sy het hulle ingenooi en verduidelik dat sy besig was om te bid dat God die Getuies na haar toe moet stuur om haar van die Bybel te leer!
4 Getuieniswerk op straat: Aangesien dit in party gebiede baie moeilik is om mense by die huis te kry, is straatgetuieniswerk ’n doeltreffende manier om vir mense te getuig. Daarbenewens woon baie mense in woonbuurte met toegangsbeheer of in woonstelblokke met streng veiligheidsmaatreëls waar ons nie van deur tot deur kan gaan nie. Maar ons waardering vir Jehovah se liefde beweeg ons om van elke moontlike manier gebruik te maak om mense met die Koninkryksboodskap te bereik, wat straatgetuieniswerk insluit.—Spr. 1:20, 21.
5 Doen herbesoeke: Aangesien ons na diegene soek wat “bewus is van hulle geestelike behoefte”, wil ons alles in ons vermoë doen om in daardie behoefte te voorsien (Matt. 5:3). Dit vereis dat ons teruggaan om die saadjies van waarheid wat ons geplant het, nat te gooi (1 Kor. 3:6-8). ’n Suster in Australië het ’n traktaat by ’n vrou gelaat wat nie juis gelyk het of sy belangstel nie. Die suster het nietemin aangehou om haar weer by die huis te probeer kry. Toe sy haar uiteindelik weer tuis gekry het, het ons suster gevind dat die vrou ná die eerste besoek ’n duur Bybel gekoop het. Die suster het ’n studie met haar begin!
6 Hou Bybelstudies: Dit kan die aangenaamste en lonendste aspek van ons bediening wees. Wat ’n seëning is dit tog om mense te help om van Jehovah te leer, om te sien hoe hulle veranderinge in hulle lewe maak om hom te behaag en om dan ’n getuie te wees van hulle Christelike doop as simbool van hulle toewyding aan God!—1 Tess. 2:20; 3 Joh. 4.
7 In die volgende nommer sal ons nog maniere bespreek waarop ons geseën word omdat ons waardering vir Jehovah se liefde toon.