Laat ons almal Jehovah en sy Seun eer
Hoe almal wat die Gedenkmaal op 8 April bywoon meer daarby baat kan vind
1 Wie ontvang vandag spesiale eer? Diegene wie se prestasies deur die wêreld hooggeag word. In die meeste gevalle word hulle dade egter gou vergeet. Maar wat van dade waarby die ganse mensdom waarlik baat vind? Ons sal die grootste hiervan ons volle aandag gee wanneer ons die Here se Aandmaal op 8 April 2001 ná sononder herdenk.
2 Wie is die hoogste eer waardig? Die Bybel antwoord: “U is waardig, Jehovah, . . . om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep” (Op. 4:11). As die Skepper is Jehovah die Soewereine Heerser van die heelal. Hy sal altyd eer waardig wees!—1 Tim. 1:17.
3 Jesus Christus, God se Seun, het waardige dade verrig wat vir die mensdom eindelose seëninge sal bring. Hy het sy Vader op volmaakte wyse nagevolg (Joh. 5:19). Sy onberispelike gehoorsaamheid en getroue diens het hom “waardig [gemaak] om die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en seën te ontvang” (Op. 5:12). Sy Vader het hom geëer deur hom as Koning op die troon te plaas (Ps. 2:6-8). Wat ons betref, ons sal die geleentheid hê om die Vader en die Seun te eer wanneer ons die Here se Aandmaal op 8 April 2001 herdenk.
4 Ongelukkig het relatief min in die mensegeskiedenis Jehovah en sy Seun die eer gegee wat hulle toekom. Soms het selfs God se eertydse volk, die Israeliete, slegs vormdiens aan Jehovah verrig. Dit was skaamtelose oneerbiedigheid (Mal. 1:6). Gepaste respek vereis getroue gehoorsaamheid gebaseer op liefde en op waardering vir alles wat Jehovah en sy Seun vir ons gedoen het. Om sulke eer en respek te gee, beteken dat ons godvrugtige vrees en ontsag toon, en Jehovah en Jesus in al ons weë erken. Die Christengemeente probeer ander leer en help om dieselfde te doen.
5 ’n Spesiale geleentheid om eer te betoon: Die viering van die Gedenkmaal is elke jaar die belangrikste samekoms van Jehovah se volk. Elkeen wat ’n begeerte het om Jehovah te dien en te eer, moet teenwoordig wees (Luk. 22:19). Ons verwag dat daar buiten die 6 miljoen bedrywige Getuies belangstellendes sal wees wat die bywoningsyfer tot meer as 14 miljoen sal laat styg. Wat ’n wonderlike geleentheid om ons hemelse Vader te eer! Hoewel die herdenking die aandag op Jesus vestig, word die Vader, wat hom gestuur het, verheerlik deur die eer en respek wat ons toon vir wat hy gedoen het.—Joh. 5:23.
6 Wat kan ons doen om hierdie spesiale geleentheid te ondersteun? Ons kan nuwe belangstellendes help om ten volle daarby baat te vind. Spoor hulle aan om dit by te woon, en bied, waar nodig, vriendelik aan om hulle te help om daar te kom. Verduidelik die doel van die toespraak. Stel hulle aan ander voor. Wat hulle sien en hoor, kan hulle beweeg om Jehovah saam met ons te eer.
7 Moenie die trefkrag van die program onderskat nie. ’n Universiteitstudent het so gereageer: “Ek het al baie die Nagmaal in my kerk bygewoon, maar julle s’n is baie anders. Ek kan sien dat dit presies volgens die Bybel gedoen word, en ek dink julle het die waarheid.” Hy het die vergaderinge gereeld begin bywoon en is weldra gedoop.
8 Help nuwelinge om vordering te maak: Wees op die uitkyk na nuwelinge wat die Gedenkmaal bywoon, en besoek hulle kort daarna om die verkwikkende dinge wat hulle geleer en gesien het, te hersien. Vertel hulle van die ander vergaderinge waar hulle hulle Bybelkennis kan verbreed. ’n Hersiening van hoofstuk 17 van die Kennis-boek, “Vind veiligheid onder God se volk”, sal hulle help om te sien watter wye verskeidenheid geestelike voorsienings die gemeente bied wat geredelik tot hulle beskikking is. Reël met hulle om na die video Our Whole Association of Brothers te kyk sodat hulle die eenheid, vreugde en ywer van Jehovah se volk met hulle eie oë kan sien!
9 Dit is belangrik dat belangstellendes leer hoe hulle persoonlik eer en respek vir Jehovah kan toon. Verduidelik dat hartgrondige gebed Jehovah behaag en ’n voortdurende bron van geestelike verkwikking is (1 Joh. 5:14). Gebruik lesse 8 tot 12 in die Vereis-brosjure en verduidelik die soort gedrag wat Jehovah eer. Bespreek wat die Jehovah se Getuies-brosjure op bladsye 30-1 sê, en moedig nuwelinge aan om na te dink oor die moontlikheid om Jehovah te eer deur persoonlik aan die predikingswerk deel te neem.
10 Waardering vir Jesus se offerande en vir ons voorreg om as sy dissipels die dien, eer die Vader en bring seëninge vir ander. Jesus het belowe: “As iemand my wil dien, sal die Vader hom eer.”—Joh. 12:26.