Maak seker dat jy teruggaan!
1 “Dit was nou ’n lekker gesprek! Ek moet onthou om terug te gaan.” Het jy al ooit so gesê en later vergeet waar die persoon woon? Dan weet jy dat die enigste manier om seker te maak dat jy wel teruggaan, is om dit neer te skryf.
2 Skryf alles neer: Terwyl ’n gesprek met ’n belangstellende nog vars in jou gedagtes is, moet jy die tyd neem om al die belangrike inligting oor die besoek neer te skryf. Maak ’n aantekening van die persoon se naam, en hoe jy hom sal herken. Skryf sy adres neer, maar moenie raai wat dit is nie—maak seker dat jy dit reg neerskryf. Maak ’n aantekening van die onderwerp waaroor julle gepraat het, asook enige tekste wat julle gelees het en watter lektuur jy by hom gelaat het.
3 As jy ’n vraag geopper het wat jy by die volgende besoek vir die persoon sal beantwoord, moet jy dit neerskryf. Het jy iets omtrent die persoon, sy familie of sy godsdiens uitgevind? Indien wel, maak ’n aantekening daarvan. Wanneer jy dan weer teruggaan en daarvan melding maak, sal dit toon dat jy persoonlik in die individu belangstel. Skryf laastens ook die dag en tyd neer waarop jy die eerste besoek gedoen het en wanneer jy gereël het om terug te gaan. As jy akkurate aantekeninge maak, sal dit vir jou as ’n goeie herinnering dien en sal jy waarskynlik nie jou belofte om terug te gaan vergeet nie.—1 Tim. 1:12.
4 Wanneer jy alles volledig neergeskryf het, moet jy dit in jou velddienssak sit saam met jou Bybel, Redenering-boek en lektuur, sodat dit altyd byderhand sal wees. Dit is beter om jou aantekeninge van mense wat nie tuis was nie op ’n aparte huis-tot-huis-verslag te skryf en nie op die een waarop jy jou herbesoeke skryf nie. Al het jy moeite gedoen om ’n rekord te hou van herbesoeke, is die belangrikste ding natuurlik om seker te maak dat jy teruggaan!
5 Dink aan die persoon: Wanneer jy vir die bediening voorberei, moet jy deur jou aantekeninge van jou herbesoeke gaan. Dink aan elke persoon en watter benadering met jou volgende besoek dalk die beste sal wees. Dink aan hoe jy die persoon se belangstelling in ’n tuisbybelstudie kan ontwikkel. Sulke beplanning kan jou produktiwiteit as ’n bedienaar van die goeie nuus en derhalwe jou persoonlike vreugde vergroot.—Spr. 21:5a.
6 Wanneer jy weer iemand vind wat na jou luister, moet jy nie dink dat jy maklik die besoek sal onthou nie. Skryf dit eerder neer, hersien jou aantekeninge, bly dink aan die persoon en maak dan seker dat jy teruggaan!