Ons vereenvoudigde reëling vir lektuurverspreiding
1 Gedurende Oktober en November 1999 is daar verduidelik dat die vereenvoudigde reëling vir lektuurverspreiding op 1 Januarie 2000 in werking sal tree in alle takkantore regoor die wêreld, met inbegrip van die Suid-Afrikaanse takkantoor. Dit beteken dat tydskrifte en lektuur kosteloos aan verkondigers en aan belangstellendes in die publiek voorsien sal word. Ons sal nie meer ’n spesifieke bydrae vra nie. Wanneer ’n belangstellende lektuur neem, sal ons verduidelik dat ons wêreldwye werk deur vrywillige bydraes gefinansier word en dat hulle ook ’n bydrae kan maak as hulle wil. Ons sal die lektuur by belangstellendes laat hetsy hulle ’n bydrae maak of nie.
2 Ons staan egter nie onder verpligting om ons lektuur voor die voet aan sommer enigeen te gee wat bereid is om dit te neem nie, en dit is ook nie wat ons wil doen nie. Net soos ons ons eie materiële middele verstandig gebruik, het elke verkondiger die verantwoordelikheid om die lektuur wat hy of sy kosteloos van die Genootskap deur die plaaslike gemeente ontvang verstandig te gebruik. Die feit dat die Genootskap sy lektuur kosteloos aan die verkondigers beskikbaar stel, beteken beslis nie dat daar geen koste verbonde is aan die produksie en verspreiding daarvan nie. Almal moet veral besef hoe nuttig ons lektuur is om opregtes van hart te help in hulle soeke na juiste kennis van Jehovah God en sy Seun Jesus Christus.—Joh. 17:3.
3 Hoe kan die Genootskap sy lektuur kosteloos aan almal voorsien? Die onvermydelike koste verbonde aan die produksie en verspreiding daarvan word deur bydraes gedek. Jehovah se toegewyde knegte is die hoofbron van hierdie finansiering. Jehovah se Getuies het nie op die publiek staatgemaak om hierdie dringende Koninkryksverkondigingswerk te finansier nie. Ons het ons nog nooit tot openbare geldinsameling gewend nie en doen dit ook nie nou nie. Maar klein bydraes word waardeer van mense wat ons in die velddiens ontmoet en wat opregte belangstelling en waardering het.
4 Hierdie aanpassing in ons werkwyse bied verdere bewys dat ‘ons nie met die woord van God smous nie’ (2 Kor. 2:17). Dit toon ook dat ons afgeskeie van die wêreld is.—Joh. 17:14.
5 Met die naderende vernietiging van Babilon die Grote is daar al hoe meer druk op alle godsdienselemente. Dit is vir ons van die allergrootste belang dat die lewensbelangrike Koninkrykspredikingswerk ongehinderd voortgaan sodat nog baie mense gered kan word.—Matt. 24:14; Rom. 10:13, 14.