Vraebus
◼ Wat moet gedoen word wanneer ’n spreker wat die openbare toespraak moet hou nie betyds vir die vergadering opdaag nie?
By geleentheid sal omstandighede buite ’n broer se beheer verhinder dat hy betyds opdaag om sy aangewese toespraak te hou. As daar rede is om te verwag dat hy enige oomblik sal opdaag, kan die ouer manne besluit om met die Wagtoring-studie te begin; die Openbare Vergadering kan daarna volg. Gestel dit is duidelik dat die spreker nie gaan opdaag nie. Dalk kan een van die plaaslike sprekers ’n toespraak hou wat hy al voorberei het.
Sorgvuldige beplanning voorkom gewoonlik hierdie probleem. Die broer wat die openbare toesprake reël, moet ten minste ’n week voor die tyd met elke spreker in aanraking kom om hom aan sy toewysing te herinner. Hy moet onder meer herinner word aan die vergaderingtyd, die adres en telefoonnommer van die Koninkryksaal en duidelike aanwysings kry oor hoe om by die saal te kom. Die spreker moet noukeurige aantekeninge van hierdie besonderhede maak. Hy moet die toewysing ernstig opneem en enige nodige aanpassings in sy persoonlike sake aanbring sodat hy sy verantwoordelikheid kan nakom. As iets onvermydeliks opduik wat hom verhinder om dit te doen, moet hy onmiddellik in aanraking kom met die broer wat die openbare toesprake reël sodat reëlings met iemand anders getref kan word. Broers moet alles in hulle vermoë doen om nie op die nippertjie te kanselleer nie. As die spreker vertraag word en ’n paar minute laat sal wees, kan hy reël dat die Koninkryksaal gebel word sodat die broers sal weet wat om te doen.
Waardering vir openbaretoespraaktoewysings, goeie vroegtydige beplanning en herinnerings, asook om toe te sien dat reëlings vlot verloop, sal verseker dat die gemeente elke week ’n opbouende openbare toespraak sal kan geniet.