Gebruik brosjures om na belangstellendes te soek
1 Brosjures is kragtige instrumente. ’n Brosjure kan in net 32 bladsye skriftuurlike waarhede duidelik bewys en redenasies omverwerp wat nie met die kennis van God strook nie.—2 Kor. 10:5, NW.
2 Nadat een man die brosjure Jehovah se Getuies—Verenig in die uitvoering van God se wil wêreldwyd gelees het, is hy beweeg om te skryf: “Ek het nog nooit sulke organisasie gesien nie. . . . Dit is wonderlik om in hierdie eeu waar daar soveel godsdienshuigelary is mense te vind vir wie dit ’n saak van erns is om God se wil te doen.” ’n Toordokter in Afrika het die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! bestudeer. Watter uitwerking het dit op hom gehad? Hy het sy toordokterpraktyk opgegee en die vroue met wie hy saamgeleef het, behalwe sy eerste vrou, weggestuur. Toe het hy sy huwelik met haar gewettig.
3 Die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo? is ’n goed gedokumenteerde, redelike en doeltreffende instrument van waarheid. ’n Godsdiensskrywer vir The Sunday Gleaner in Jamaika, Wes-Indiese Eilande, se kommentaar daaroor was: “Die publikasie . . . is ’n meesterstuk van die Getuies en nou is geen Trinitariër—of binatariër—veilig nie. Die boekie meld aanhaling na aanhaling uit geskiedkundige en teologiese bronne om te toon dat die Drie-eenheidsleer nie in die Bybel is nie. . . . Dit is uiters moeilik vir hierdie godsdiensskrywer om te sien hoe die gemiddelde—of selfs die bogemiddelde kerklidmaat—op die gebiedende en omvattende redenasies kan antwoord wat die Getuies aanvoer om die beskouing dat Jesus God is te weerlê.”
4 Gebruik hulle goed: Ons moet probeer om hierdie doeltreffende, aantreklike en gesaghebbende instrumente by soveel mense in ons gebied as moontlik te laat. Aangesien ons verskillende brosjures het wat elk oor ’n ander onderwerp handel, moet ons probeer om die een aan te bied wat ons dink die beste is vir die persoon vir wie ons getuig. As ons ons brosjures ken en verskillendes byderhand het, sal dit vir ons makliker wees om hulle goed te gebruik, of dit nou in die velddiens, tuis of iewers anders is.
5 Watter brosjure sal jy byvoorbeeld gebruik as jy met iemand praat wat verward is oor die Christendom se Drie-eenheidsleerstelling of wat dink dat Jesus God is? Watter brosjure sal nuttig wees as iemand vra waarom ’n liefdevolle God soveel lyding toelaat? Watter is die regte brosjure vir iemand wat sy besorgdheid uitspreek oor die behoefte aan ’n regering waarby mense sal baat vind?
6 Behalwe dat jy moet weet watter brosjure om te gebruik, moet jy ook probeer om die persoon se belangstelling in die inhoud daarvan te prikkel. Indien die omstandighede dit toelaat, kan jy die aandag op ’n kommentaar of illustrasie vestig wat sy belangstelling kan prikkel om die materiaal te lees. Of jy kan ’n paragraaf of twee saam met hom lees, die teksverwysings naslaan en die materiaal bespreek. Talle goeie Bybelstudies is al so begin.
7 Ons brosjures voorsien skriftuurlike antwoorde en vervul diegene met hoop wat sug en steun oor die gruwels wat in die wêreld gedoen word. (Vergelyk Esegiël 9:4.) Skaapgeaarde mense sal aan die boodskap in hierdie lektuur gehoor gee. Dit is ons voorreg om die brosjures goed in alle aspekte van ons bediening te gebruik terwyl ons na belangstellendes soek.