Bied die goeie nuus aan—Op vakansiedae
1 Hoewel baie vieringe wat met Kersfees en Nuwejaar verband hou ’n heidense oorsprong het, vier meer as ’n miljard voorgewende Christene elke jaar hierdie vakansiedae. Baie mense glo opreg dat God hierdie vieringe goedkeur. Hoe kan ons gedurende die vakansieseisoen die harte van sulke mense met die goeie nuus bereik?
WEES BEDAGSAAM EN BELEEF
2 Die ouere manne tref spesiale reëlings vir getuieniswerk op vakansiedae, aangesien baie van ons dan nie werk nie. Die tyd om van huis tot huis te begin werk, moet aangepas word ter wille van daardie huisbewoners wat op hierdie dae dalk later as gewoonlik slaap.
3 Terwyl ons aan die bediening deelneem, sal ons waarskynlik ’n aantal mense vind wat taamlik besig is omdat hulle besoekers het en vir ete voorberei. Aangesien ons besef dat dit ’n spesiale tyd vir hulle is, kan ons beleef ons kommentare kort en saaklik maak. Ons Christelike beleefdheid kan die weg baan vir ’n verdere getuienis in die toekoms.
4 Ons neem nie aan wêreldse godsdiensvieringe deel nie, en ons wens mekaar nie die tradisionele feesgroete toe nie. Gevolglik moet ons taktvol op sulke groete reageer. Dit is nie nodig om ’n geskilpunt van die groete te maak nie, maar in die meeste gevalle kan ons die huisbewoner eenvoudig bedank vir sy beste wense. As mense ons oor ons geloof uitvra, kan ons hulle verseker dat ons Christus Jesus eer, aangesien dit vereis word van diegene wat God eer (Joh. 5:23). Maar baie vakansiegebruike strek nie Christus of God tot eer nie. As mense op daardie tydstip of later meer informasie wil hê, kan ons die materiaal in die Redenering-boek op bladsye 400-2 en 404 met hulle bespreek.
INLEIDINGS
5 Aangesien die Kersvakansie godsdienstig van aard is, vind ons dalk baie mense wat meer geneig is om dan oor God te praat as op enige ander tyd van die jaar. Ons kan hierdie feit in ons inleiding benut. Ons kan byvoorbeeld sê: “Miljoene mense oor die hele wêreld heen vier Kersfees en Nuwejaarsdag. Dink jy dat hierdie feesvieringe mense nader aan God bring?” Of die huisbewoner nou dink dat die vieringe goed of sleg is, kan ons hom vir sy kommentaar bedank en sê: “Baie mense wens hulle het ’n beter verhouding met God gehad, en hulle dink moontlik dat God ’n bietjie ver van hulle af is. Dink jy dat God werklik vir ons en die planeet aarde omgee?” Gaan dan voort met die ‘Onderwerp vir gesprekke’.
6 Ons kan hulle op ’n ander manier benader en sê: “Gedurende die Kerstyd hoor ons dikwels dat mense die hoop uitspreek dat daar vrede op aarde en in die mense ’n welbehae sal wees. Dink jy dat God in ons tyd vrede op die aarde sal bring?” Daarna kan ons toon dat Jesus Christus die voorspelde “Vredevors” is (Jes. 9:5, 6). As die aangestelde Heerser in God se regering, sal Christus binnekort optree om ewige vrede op die aarde te bewerkstellig.—Dan. 2:44; Openb. 21:3-5.
7 Hoewel die meeste mense onverskillig staan teenoor die Koninkryksboodskap en behae skep in hulle valse godsdiensvakansiedae, sal Jehovah ongetwyfeld ons pogings seën om mense wat na die waarheid soek te vind, want hy “soek ook sulke mense om hom te aanbid”, en hy sal hulle na sy organisasie rig.—Joh. 4:23, 24, NW.