Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 2/91 bl. 7-8
  • Jou rol in die bouwerk vir die toekoms

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jou rol in die bouwerk vir die toekoms
  • Ons Koninkryksbediening—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • BAIE BIED LIEFDEVOLLE HULP AAN
  • MEER VRYWILLIGERS NODIG
  • DIE ROL VAN DIE STREEKBOUKOMITEES
  • HOE KONINKRYKSAAL-BOUPROJEKTE GEFINANSIER WORD
  • BEHOU ’N YWERIGE GEES
  • Voorsien met vreugde in die behoeftes wat die oeswerk meebring
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Vertrou op Jehovah in alles wat ons onderneem
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Die bou van Koninkryksale in Suid-Afrika en sy buurstate
    Ons Koninkryksbediening—1997
  • ’n Nuwe program vir die bou van Koninkryksale
    Ons Koninkryksbediening—1990
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1991
km 2/91 bl. 7-8

Jou rol in die bouwerk vir die toekoms

1 Vandag gaan Christene voort om na ’n geestelike bouwerk om te sien wat Jesus ongeveer 1960 jaar gelede op tou gesit het toe hy dissipels begin insamel het (Matt. 4:17; 7:24, 25, 28; Joh. 7:46). Jehovah het hierdie werk ryklik geseën (Spr. 10:22). Terwyl ons God se Koninkryk verkondig, doen ons ook ’n bouwerk om na toekomstige vermeerdering om te sien.—Pred. 11:6.

2 Hoewel party ouer Koninkryksale opgeknap moet word, is baie bykomende sale vir nuwe en bestaande gemeentes nodig. Geld en vrywilligers is nodig om hierdie bouprojekte met welslae te voltooi. Die broers se prysenswaardige, positiewe gesindheid om in hierdie behoefte te voorsien, word ryklik beloon.—Ps. 41:2; Spr. 19:17; Pred. 11:1; Luk. 14:13, 14.

BAIE BIED LIEFDEVOLLE HULP AAN

3 Ons betoon ons liefde vir “die hele gemeenskap van broeders” deur tot die Genootskap-Koninkryksaalfonds by te dra (1 Pet. 2:17, NW). Maar hierdie behoefte word al hoe groter namate die insamelingswerk bespoedig word. Jehovah gaan dus voort om hierdie reëling te seën, en die ouere manne moet sorg dat die bydraebussie vir die Genootskap-Koninkryksaalfonds duidelik gemerk is en vir almal beskikbaar is. Die bydraes sowel as die terugbetaling van lenings wat ons ontvang, word gebruik om nuwe Koninkryksale te bou.

4 Die Genootskap, asook al die gemeentes wat by hierdie voorsiening baat vind, betuig hulle diepe waardering aan al die persone en gesinne wat gereeld tot die Genootskap-Koninkryksaalfonds bydra. Baie gemeentes het ’n resolusie aangeneem om tot hierdie fonds by te dra. Party kringe het liefdevol soortgelyke reëlings getref. Trouens, ons is baie bly om te sê dat 504 van die 1195 gemeentes tans hierdie fonds ondersteun. Aangesien dit ’n voorreg is om ons broers te help, kan die ander gemeentes dit gerus ernstig oorweeg of hulle dit ook kan doen. Dit sal die beskikbare fondse gouer vermeerder, en sodoende kan meer gemeentes daarby baat vind.

MEER VRYWILLIGERS NODIG

5 Is jy geskool in ’n bouambag? Dan kan jy, indien jy beskikbaar is om met Koninkryksaalbouwerk te help, die plaaslike ouere manne of die kringopsiener daarvan laat weet. Ons het geskoolde vrywilligers oral in die land nodig. Daar is tans nie baie bouambagsmanne beskikbaar nie, wat beteken dat die verantwoordelikheid om ’n Koninkryksaal te bou op net ’n paar broers val. Hierdie broers is gewillig, maar hulle verkeer onder druk weens die aanhoudende eise wat aan hulle gestel word. Daarbenewens het hulle ook ander verpligtinge, soos ’n gesin en gemeentelike verantwoordelikhede. Die vraag word dus geopper: Waar kan ons meer bekwame bouers kry? Deur hulle op te lei!

6 Ons doen ’n beroep op almal, maar veral op jonger broers wat liggaamlik sterk is, om die ouere manne in hulle gemeente of die kringopsiener te laat weet as hulle graag wil help. Die Streekboukomitee sal jou oplei terwyl jy werk. Bouvaardighede kan gou aangeleer word. Terwyl die Bethelhuis by Roodekrans gebou is, het ons ’n groot tekort aan ambagsmanne ondervind, en daarom het ons broers wat geen ondervinding gehad het nie as messelaars, pleisteraars, loodgieters, timmermanne, ens. opgelei. Selfs susters is vaardighede soos teël- en verfwerk geleer, en hulle het dit werklik baie goed gedoen.

7 Ons spoor die Streekboukomitees aan om die broers se ywer aan te wakker. Laat bekwame manne gewillige broers en susters oplei. Hoewel dit die werk aanvanklik kan vertraag, sal daar op die lange duur meer bekwame manne beskikbaar wees om na al die projekte om te sien. Dit sal tot gevolg hê dat die werklas ewerediger versprei word, en dit sal derhalwe die bouprogram bespoedig. Nog ’n voordeel is dat dit baie aangenaam is om pragtige Koninkryksale saam met mede-aanbidders te bou.

8 Stel jou dus gerus NOU beskikbaar. Jy sal ’n bouvaardigheid geleer word, terwyl jy in gedagte hou dat Jesaja 65:21, 22 toon dat jou vaardighede ook in die nuwe wêreld gebruik sal word.

DIE ROL VAN DIE STREEKBOUKOMITEES

9 Die 22 Streekboukomitees verleen hulp in alle stadiums van beplanning en bouwerk. Die broers wat op die komitees dien, is ervare ouere manne, en hulle kan nuttige wenke gee oor hoe ’n beskeie en aantreklike Koninkryksaal gebou kan word, sowel as hoe om tyd en geld te spaar. Weens hulle ondervinding kan hulle plaaslike ouere manne help besluit of dit beter is om ’n bestaande Koninkryksaal om te bou of om ’n nuwe een te bou, en voor die grond gekoop word, kan hulle die ouere manne help om vas te stel of die voorgestelde terrein geskik is. Hulle kan ouere manne ook help om die boukoste en die markwaarde van ’n bestaande Koninkryksaal wat dalk verkoop moet word akkuraat te beraam.

10 Dit sal goed wees om die Streekboukomitee se raad te vra lank voor die eiendom gekoop word. Hierdie komitees se taak is om met Koninkryksaalbouwerk in ’n spesifieke gebied te help, en hulle kan met die aankoop van eiendom help. Hulle het riglyne om broers te help sodat hulle moeilikhede vermy wat hulle kan teëkom as eiendom aangeskaf word. Elke kringopsiener word in kennis gestel van die komiteevoorsitter se naam, adres en telefoonnommer, en hy kan dit aan die plaaslike ouere manne gee wanneer hulle dit nodig het.

11 Wanneer eiendom gekies word om ’n Koninkryksaal in ’n stad te bou wat meer as een gemeente het, moet die plaaslike ouere manne die saak met die Streekboukomitee, die kringopsiener(s), stadsopsiener en moontlik die ouere manne van naburige gemeentes bespreek. Dit kan die plaaslike ouere manne help om grond te kies waarby die gemeente(s) wat by die huidige projek betrokke is, sal baat vind, en wat oorvol toestande in naburige Koninkryksale kan verbeter terwyl daar ook vir toekomstige groei in die gebied toegelaat word. In stedelike gebiede word een Koninkryksaal dikwels deur drie of meer gemeentes gebruik. Selfs in gebiede wat nie so dig bevolk is nie, kan ’n plek gekies word wat deur twee of meer gemeentes gebruik kan word. Ons spoor gemeentes aan om hulle Koninkryksale ten volle te benut.

12 Streekboukomitees maak gebruik van die riglyne wat die Genootskap voorsien en lewer ’n nuttige diens terwyl hulle plaaslike gemeentes help met hulle ombouings en nuwe bouprojekte. Gedurende die bouwerk word vrywilligers net gebruik wanneer hulle werklik by die bouterrein nodig is sodat hulle nie hulle gemeente se vergaderinge en velddiensbedrywighede misloop nie. Een Streekboukomitee het gesê: “Deur ons volgehoue pogings om die Genootskap se riglyne toe te pas, is ons gehelp om die boumetodes te vereenvoudig en te bespoedig.” Die organisasie en vaardighede wat by hierdie projekte geleer word, sal nuttig wees om Byeenkomssale te bou en om broers ná natuurrampe met herbouings te help. Trouens, party vrywilligers wat deur die Genootskap opgelei is, het gehelp om die vertalerskantore in Windhoek te bou, en ander sal gebruik word om die nuwe uitbreidings by Bethel te bou.

13 Ons kan almal die vrug van goedheid aan die dag lê deur ons samewerking te gee aan diegene wat oor die bouwerk toesig hou. Op hierdie manier word die nodige werk “volbring” en ‘met blydskap en nie al sugtende nie’ gedoen (Hand. 14:26; Hebr. 13:17). ’n Streekboukomitee kon sê: “Die drie gemeentes het besonder goed saamgewerk. . . . Al die broers het geestelike rypheid aan die dag gelê. Dit was ’n plesier om saam met hulle te werk. Dit was ’n projek om te onthou.”

HOE KONINKRYKSAAL-BOUPROJEKTE GEFINANSIER WORD

14 Reëlings vir enige finansiering wat julle nodig het, moet aan die begin getref word (Luk. 14:28-30). Die ouere manne moet vasstel of die gemeente die koste wat hierby betrokke is, kan betaal deur ’n opname te maak om vas te stel (1) hoeveel daar in een bedrag bygedra sal word om met die aankoop van die eiendom en boukoste te help, (2) hoeveel plaaslik geleen kan word, en hoe lank die fondse beskikbaar sal wees en (3) hoeveel die verkondigers in gedagte het om maandeliks by te dra om, benewens die gewone onderhoudskoste wat gedek moet word, ’n lening terug te betaal as die gemeente een nodig het.

15 Daarna moet ouere manne van gemeentes wat graag geldelike bystand van die Genootskap-Koninkryksaalfonds wil hê hulle voorgenome projek en geldelike behoefte met die kringopsiener bespreek, wat hulle kan help deur die Genootskap van hulle behoeftes en van die besonderhede van die projek in kennis te stel. Nadat die kringopsiener die informasie aan die Genootskap gestuur het, word briefwisseling direk aan die betrokke gemeentes gerig. Geldelike bystand word progressief verleen soos fondse beskikbaar kom en volgens die behoefte.

BEHOU ’N YWERIGE GEES

16 Almal moet geprys word vir hulle vrygewige ondersteuning van die Genootskap-Koninkryksaalfonds. Ons het betuigings van waardering ontvang van gemeentes wat al gehelp is. ’n “Gelykheid” word onder die gemeentes tot stand gebring (2 Kor. 8:14, 15). Vier gemeentes in een gebied het geskryf: “Ons waardeer werklik hierdie puik reëling, en ons is baie dankbaar teenoor al die vrygewige broers wat tot die Genootskap-Koninkryksaalfonds bygedra het . . . Besondere Christelike liefde is waarlik ten behoewe van ons geopenbaar. Baie dankie vir al julle hulp sodat hierdie Koninkryksaalprojek met sukses bekroon kon word.” ’n Ander gemeente in Natal het geskryf: “Broers, die doel van hierdie brief is om baie dankie te sê omdat julle ons ’n bedrag geld geleen het om ons saal te bou. Broers, sonder hierdie hoogs gewaardeerde lening sou ons nie die Koninkryksaal kon bou nie. Daarom, broers, sê ons nogmaals baie, baie dankie.”

17 Gedurende die bou van ’n nuwe Koninkryksaal dra entoesiasme, ywer en ’n positiewe gesindheid by tot die sukses van die projek. Dieselfde gesindheid behoort te heers terwyl ons probeer om baie meer mense tot ’n kennis van die waarheid te help en hulle aan te spoor om saam met ons by die Koninkryksaal te vergader. Sulke ywer is ’n duidelike betuiging van waardering wat lei tot ’n opvallende vermeerdering in vergaderingbywoning en die algehele groei van die gemeente.

18 Terwyl ons voortgaan om ons bediening uit te brei en ons kragtig in te span in die werk wat voor ons lê, sal Jehovah ongetwyfeld voortgaan om ons te seën (Luk. 13:24, NW). Ons weet nie watter groei en vermeerdering in die toekoms op ons wag nie. Maar ons moet gereed wees om enige toekomstige instroming van aanbidders te verwelkom. Dit vereis dat ons nou moet voorberei. Daarom bid ons dat Jehovah sal voortgaan om ons te seën en te lei. Mag ons almal—liggaamlik, materieel en geestelik—saam met Jehovah werk in hierdie bouwerk vir die toekoms. Hy sal ons ongetwyfeld seën terwyl ons behoorlik omsien na diegene wat hulle gedurende die finale deel van hierdie laaste dae na sy Koninkryksorganisasie haas.—Jes. 60:8, 10, 11, 22.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel