Jou bydrae om vergaderinge opbouend te maak
1 Ons vergaderinge help ons om Jehovah beter te leer ken. Hulle help ons om sy wette en beginsels te verstaan en moedig ons aan om daarvolgens te lewe. Vergaderinge berei ons voor om die lewensreddende predikingswerk met groter welslae te doen. En dit help ons om ons doelwit, naamlik die ewige lewe in God se nuwe wêreld, te bereik. Ons sal die grootste voordeel trek uit die tyd wat ons saam by vergaderinge bestee as ons elkeen ons deel bydra om die vergaderinge opbouend te maak.
2 Daar is drie dinge wat vergaderinge opbouend maak—voorbereiding, deelname en praktiese toepassing. Hierdie dinge hou onderling verband met mekaar. Goeie voorbereiding maak deelname maklik en aangenaam. Diegene wat na ons luister, word bemoedig en aangespoor deur ons vreugdevolle, entoesiastiese geloofsuitings (Ef. 4:29). Alle aanwesiges sal baie meer geneig wees om wat aangebied word te gebruik as hulle dit verstaan en gehelp word om te besef hoe die informasie op praktiese maniere in hulle eie lewe toegepas kan word en hoe dit gebruik kan word om ander te help om dissipels te word.
DIE WAGTORING-STUDIE EN GEMEENTELIKE BOEKSTUDIE
3 Die Wagtoring-studie en Gemeentelike Boekstudie is baie belangrike vergaderinge, want “die getroue en verstandige dienskneg” voed die huisgenote van die geloof daardeur (Matt. 24:45-47). Sit jy tyd opsy om die informasie wat bespreek gaan word te bestudeer? Is jy voorbereid om by die vergaderinge kommentaar te lewer? Jy speel natuurlik ’n belangrike rol in hierdie verband.
4 As jy die materiaal vir die Wagtoring-studie of die Gemeentelike Boekstudie noukeurig bestudeer het, sal jy ook die groter geluk smaak wat ’n mens ervaar wanneer jy gee (Hand. 20:35). Baie vind dit nuttig om sleutelwoorde te onderstreep. As ’n mens tekste wat nie aangehaal is nie, opsoek en oor hulle toepassing nadink, sal jy die skriftuurlike grondslag van die antwoorde verstaan. Kan jy nou in jou eie woorde antwoord, of moet jy die antwoorde lees? Die hoofdoeleindes van teokratiese studie is om die informasie jou eie te maak en met waardering en insig daarop ag te gee.—Spr. 2:5; 4:7, 8.
DIE TEOKRATIESE BEDIENINGSKOOL EN DIENSVERGADERING
5 Beskou jy jou studentetoesprake op die skool as toewysings van Jehovah, en weerspieël jy dit deur die manier waarop jy voorberei? Maak seker dat jy die informasie verstaan en dit goed kan aanbied. Maar selfs al het jy nie ’n spesifieke toewysing nie, kan jy studeer deur die Bybelhoofstukke en ander informasie wat elke week op die rooster verskyn te lees. Jy kan dit vir die Diensvergadering ook doen. As jy dit voor die tyd doen, kan jy jou tydens die vergadering daarop toelê om na die program te luister, pleks van te sukkel om die eerste keer met die inligting bekend te raak.
6 Demonstrasies op die Diensvergadering en die agtergrond van studentetoesprake moet realisties wees, en moet plaaslike omstandighede weerspieël waarmee almal bekend is. Oefen jou deel goed. Jou kleredrag moet ook gepas wees sodat jy ’n goeie voorbeeld vir ander stel.
7 Stel jou dit ten doel om jou dele goed voor te berei en dit entoesiasties aan te bied. Ouers, help julle kinders om voor te berei en in hulle eie woorde te antwoord wanneer die geleentheid hom voordoen. Trouens, as almal persoonlik daarin belangstel om betyds te wees en geredelik kommentaar te lewer, sal ons vergaderinge gevul word met lewensbelangrike, besielende informasie wat só aangebied word dat dit die gehoor boei. Sal jy jou deel in hierdie opsig bydra sodat “alles tot stigting geskied” vir elkeen wat saam met jou vergader?—1 Kor. 14:26.