Die ewige lewe—ons doelwit
1 Duisende mense wat deur Jesus geleer is, was getuies van die tekens wat hy gedoen het. Wat ’n voorreg het hulle tog geniet! By een geleentheid het hy die skare laat sit, gedank en hulle toe gevoed met ’n oorvloed van brood en vis. Daar was omtrent 5 000 mans, buiten vroue en kinders. Hoewel Jesus die fisiese behoeftes van die mense in aanmerking geneem het, was hy hoofsaaklik besorg oor hulle geestelike behoeftes.—Lees Johannes 6:27.
2 As ware Christene wil ons Jesus se raad volg en na ewigdurende geestelike voordele streef. Daarom boots ons Jesus na en wend ons elke redelike poging aan om die waarheid met ander te deel en hulle te help om geestelike dinge te waardeer, met die ewige lewe as ’n doelwit.
WERKSAAMHEDE IN AUGUSTUS
3 Gedurende Augustus sal ons steeds die boek Is die Bybel werklik die Woord van God? en die brosjure “Kyk, Ek maak alles nuut” aanbied. (Engels: Enjoy Life on Earth Forever!, “Look! I Am Making All Things New”, The Divine Name That Will Endure Forever of The Government That Will Bring Paradise.) Gedurende die ontoegekendegebied-kampanje sal ons die gewone aanbod vir Augustus maak. Gemeentes wat in ontoegekende gebied werk waar Afrikaans, Tsonga, Venda en Xhosa gepraat word, kan ook die ouer publikasies teen R1,00 aanbied, soos gemeld in die Genootskap se brief van 20 April 1989. Waar belangstelling getoon word, kan die Openbaring-boek ook aangebied word.
4 Dit is goed om ’n verskeidenheid van hierdie puik publikasies te hê. Dit laat ons toe om aanpasbaar te wees, ons na die belange van die huisbewoner te skik en die mees gepaste lektuur aan te bied. “Bied die goeie nuus aan” van Ons Koninkryksbediening vir Augustus 1988 het nuttige wenke bevat oor hoe om die brosjures aan te bied.
5 As die huisbewoner geen lektuur neem nie, kan ons ’n traktaat laat om die persoon se belangstelling in geestelike dinge te wek. Of ons kan ’n Bybelvraag opper en aan die hand doen dat die huisbewoner ’n bietjie daaroor dink sodat ons dit kan bespreek wanneer ons hulle weer besoek. Jy kan een van die talle vrae kies wat in die Redenering-boek bespreek word, soos die wat op bladsye 214, 219, 269 of 272 gemeld word.
6 As ons die goeie nuus met welslae aan ander wil verkondig, moet ons goed voorberei wees. Dit verg dat ons voor die tyd voorberei. Is ons vertroud met die ‘Onderwerp vir gesprekke’, en het ons spesifieke gedagtes in die lektuur gevind wat ons wil meld? As ons die Skriflesing wat elke week aangewys word, doen en die teks elke dag bespreek, sal ons geestelik groei, en ons sal talle goeie dinge hê om oor te praat in ons bediening.—Vergelyk Jeremia 20:9.
7 Gedurende Augustus kan jy die geleentheid hê om saam met ’n paar verkondigers te werk. Dit kan jou help om ander beter te leer ken en meer vriende te maak. Dit sal jou ook in staat stel om te sien hoe ander die goeie nuus aanbied. Ja, ons doelwit is getroue diens aan Jehovah met die ewige lewe in die vooruitsig. Mag ons waardering vir geestelike dinge toon deur ons werksaamhede terwyl ons ander tot liefde en goeie werke aanspoor.—Hebr. 10:24.