Moenie die doel van ons veldbediening uit die oog verloor nie
1 In talle gebiede vandag kan ’n verkondiger ’n uur of langer aan die veldbediening bestee sonder om ’n geleentheid te hê om vir enigiemand te getuig of om enige lektuur te versprei. Miskien is min mense tuis, of wanneer iemand wel tuis is, sê hy moontlik vir ons dat hy sy eie geloof het en nie daarin belangstel om te verander nie. ’n Ander sê dalk: “Julle doen ’n goeie werk, maar my kerk voorsien my van al die lektuur wat ek nodig het.” Sê ons net “Dankie” wanneer dit gebeur en gaan ons na die volgende deur, of probeer ons ten minste die doel van ons besoek verduidelik?
2 Jesus het soortgelyke probleme in sy bediening teëgekom. Toe sekere dissipels van die Fariseërs gesê het: “Meester, ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer”, het hy sonder om te aarsel so ’n doeltreffende getuienis gegee dat hulle verwonderd was oor wat hy gesê het. Hy het nie toegelaat dat hulle vleitaal hom daarvan weerhou om met vrymoedigheid te getuig nie.—Matt. 22:15-22.
NOU DRINGENDER
3 Eendag sal ons ons laaste besoek by die mense in ons gebied aflê. Elke keer wanneer ons aan die veldbediening deelneem, moet ons dit in gedagte hou (2 Kor. 6:2; Jes. 55:6). Mense moet gewaarsku word dat Jehovah se “dag van die wraak” naby is, en hulle moet gehelp word om die enigste weg tot oorlewing te vind. —Jes. 61:1, 2; Eseg. 33:8, 9.
4 Wanneer ons die huidige lektuur aanbod maak, aan tydskrifwerk deelneem of ’n herbesoek doen, moet ons nie aarsel om die waarheid met waardigheid, takt en goeie maniere te spreek nie. Toon altyd behoorlike respek vir die huisbewoner en doen terselfdertyd alles wat jy redelikerwys kan om die huisbewoner te help om die doel van jou besoek te verstaan.
HOE OM ONS DOEL IN APRIL TE BEREIK
5 Jou aanvangswoorde is baie belangrik. Wat jy in jou inleiding sê, bepaal dikwels of jy die persoon se belangstelling sal wek en die gesprek sal kan voortsit. Wat is ’n paar van die algemene besware in julle gebied? Dit is miskien raadsaam om een van hulle in jou inleiding te opper.
6 As die mense in jou gebied byvoorbeeld godsdienstig is en die gebied dikwels gedek word, kan jy moontlik sê: “Jy besef waarskynlik dat ons Jehovah se Getuies is. As jy aan een van die kerke in die gebied behoort, wonder jy dalk waarom ons jou so dikwels hier besoek. [Laat huisbewoner antwoord.] Een ernstige probleem wat ons raak, is die verbrokkeling van die gesin wêreldwyd. Die World Book Encyclopedia het gesê: ‘Hele beskawings het, afhangende van die krag of die swakheid van die gesinslewe, bly bestaan of ten gronde gegaan’” Jy kan die gesprek dan na Genesis 1:27, 28 lei.
7 Probleme wat met die gesin verband hou, sal in Die Wagtoring se nommers vir April en Mei bespreek word. Nadat jy Jesaja 48:17, 18 gelees het, kan jy dus met oortuiging sê dat Die Wagtoring miljoene gesinne gehelp het om gelukkiger, produktiewer lewens te lei. Jy kan dalk meld hoe dit jou gehelp het. Lewer kortliks kommentaar oor een van die glansartikels en sê vir die persoon dat hy Die Wagtoring ’n hele jaar lank teen slegs R9,00 deur die pos kan kry.
8 “Die tyd is kort” (1 Kor. 7:29). Ons weet nie hoeveel geleenthede oor is om die oorblywende opregte persone te vind nie. Mense wat nie ’n liefde vir die waarheid openbaar nie, moet gewaarsku word. Die wêreld is vasgevang in ’n plaag van onverskilligheid, en daarom moet ons die waarheid met vrymoedigheid en oortuiging verkondig terwyl daar nog tyd is (Hand. 4:29, 31; 14:3). As ons ons deel doen om die doel van ons bediening te bereik, kan ons daarvan verseker wees dat die “skape” na die Goeie Herder se stem sal luister.—Joh. 10:4, 27.