Jongmense—Wat sal julle met julle lewe doen?
“Die manier waarop ek my houe rig, is só dat ek nie in die lug slaan nie.”—1 KOR. 9:26.
1, 2. Wat moet jy hê om sukses te behaal terwyl jy volwasse word?
AS JY met ’n onbekende voetpad gaan stap, sal jy moontlik ’n kaart en ’n kompas wil saamneem. Die kaart sal jou help om te bepaal waar jy is en om ’n roete te beplan. Die kompas sal dit vir jou moontlik maak om op die regte pad te bly. Maar die kaart sowel as die kompas sal nie veel help as jy nie weet waarheen jy gaan nie. Om te voorkom dat jy doelloos ronddwaal, moet jy weet presies wat jou bestemming is.
2 Jy kom voor ’n soortgelyke situasie te staan terwyl jy volwasse word. Daar is ’n betroubare kaart en ’n kompas tot jou beskikking. Die Bybel is ’n kaart wat jou kan help om die regte pad te kies (Spr. 3:5, 6). As jou gewete goed opgelei is, kan dit jou baie help om op die regte pad te bly (Rom. 2:15). Dit kan as ’n kompas dien. Maar as jy sukses in die lewe wil behaal, moet jy ook weet waarheen jy op pad is. Jy het besliste doelwitte nodig.
3. Watter voordele hou dit volgens Paulus se woorde in 1 Korintiërs 9:26 in om doelwitte te hê?
3 Die apostel Paulus het opgesom hoe voordelig dit is om doelwitte te stel en dit na te streef, toe hy geskryf het: “Die manier waarop ek hardloop, [is] nie onseker nie; die manier waarop ek my houe rig, is só dat ek nie in die lug slaan nie” (1 Kor. 9:26). As jy doelwitte het, hoef jy nie op ’n onsekere manier te hardloop nie. Jy sal binnekort ’n paar groot besluite moet neem aangaande aanbidding, werk, die huwelik en ’n gesin, om maar ’n paar te noem. Jy voel dalk soms asof jy voor ’n verwarrende klomp keuses staan. Maar as jy jou roete voor die tyd beplan en jou besluite op die waarhede en beginsels in God se Woord grond, sal jy nie in die versoeking kom om ’n verkeerde weg in te slaan nie.—2 Tim. 4:4, 5.
4, 5. (a) Wat kan gebeur as jy nie vir jou doelwitte stel nie? (b) Waarom moet jou keuses gerig word deur ’n begeerte om God te behaag?
4 As jy nie vir jou doelwitte stel nie, sal jou portuurs en onderwysers jou waarskynlik beïnvloed om te doen wat hulle dink goed is vir jou. Selfs al het jy besliste doelwitte, sal party natuurlik nog steeds hulle mening lug. Wanneer jy na hulle voorstelle luister, kan jy jou afvra: ‘Sal die doelwitte waarvan hulle praat, my help om aan my Skepper te dink terwyl ek jonk is of sal dit my aandag daarvan aflei?’—Lees Prediker 12:1.
5 Waarom moet jou keuses in die lewe gerig word deur jou begeerte om God te behaag? Een rede is dat alle goeie dinge wat ons het, van Jehovah af kom (Jak. 1:17). Almal is in werklikheid dank aan Jehovah verskuldig (Op. 4:11). Watter beter manier kan daar wees om jou dankbaarheid te toon as om Jehovah in gedagte te hou wanneer jy doelwitte stel? Kom ons kyk watter doelwitte die moeite werd is en wat jy moet doen om dit te bereik.
Watter doelwitte kan jy stel?
6. Watter fundamentele doelwit kan jy stel, en waarom?
6 ’n Fundamentele doelwit wat jy volgens die vorige artikel kan stel, is om aan jouself te bewys dat wat die Bybel sê, waar is (Rom. 12:2; 2 Kor. 13:5). Jou portuurs glo dalk aan evolusie of verskillende valse godsdiensleerstellings omdat ander vir hulle gesê het dat hulle daaraan moet glo. Maar jy hoef nie soos hulle te wees nie; jy kan self besluit waaraan jy sal glo. Moenie vergeet nie, Jehovah wil hê dat jy hom met jou hele verstand moet dien. (Lees Matteus 22:36, 37.) Ons hemelse Vader wil hê dat jy jou geloof op bewyse moet grond.—Heb. 11:1.
7, 8. (a) Watter korttermyndoelwitte sal jou help om jou geloof te versterk? (b) Wat sal jy ondervind wanneer jy party van jou korttermyndoelwitte bereik?
7 Stel gerus vir jou ’n paar korttermyndoelwitte wat sal help om jou geloof te versterk. Een doelwit kan wees om elke dag te bid. Om seker te maak dat jou gebede spesifiek en nie herhalend is nie, kan jy spesifieke gebeure van die dag wat jy in jou gebede wil insluit, probeer onthou of neerskryf. Moenie net praat van die uitdagings waarvoor jy te staan gekom het nie, maar ook van die dinge wat jy geniet het (Fil. 4:6). ’n Ander doelwit is om die Bybel elke dag te lees. Het jy geweet dat jy die Bybel in net een jaar kan deurlees as jy elke dag omtrent vier bladsye lees?a “Gelukkig is die man . . . [wie se] behae is in die wet van Jehovah”, sê Psalm 1:1, 2, “en in sy wet lees hy dag en nag op gedempte toon.”
8 ’n Derde korttermyndoelwit wat jy kan stel, is om ’n antwoord vir elke gemeentelike vergadering voor te berei. Aan die begin sal jy dalk die antwoord of ’n teks wil lees. Later kan jy die doelwit hê om in jou eie woorde te antwoord. Elke keer wanneer jy antwoord, gee jy in werklikheid ’n gawe aan Jehovah (Heb. 13:15). Wanneer jy party van hierdie doelwitte bereik het, sal jou selfvertroue en jou waardering vir Jehovah toeneem en sal jy gereed wees om langtermyndoelwitte te stel.
9. Watter langtermyndoelwitte kan jy vir jou stel as jy nog nie ’n Koninkryksverkondiger is nie?
9 Watter langtermyndoelwitte kan jy vir jou stel? As jy nog nie die goeie nuus in die openbaar begin verkondig het nie, kan jou langtermyndoelwit wees om ’n Koninkryksverkondiger te word. Wanneer jy hierdie eerbare doelwit bereik het, moet jy gereeld uitgaan, doeltreffend wees en nooit ’n maand laat verbygaan sonder om velddiens te doen nie. Jy moet ook leer om die Bybel in die bediening te gebruik. As jy dit doen, sal jy waarskynlik agterkom dat jy die predikingswerk meer geniet. Jy kan dan meer tyd aan die huis-tot-huiswerk bestee of selfs daarna streef om ’n Bybelstudie te hou. As ’n ongedoopte verkondiger kan jy sekerlik nie ’n beter doelwit hê as om vir doop te kwalifiseer en ’n toegewyde en gedoopte Getuie van Jehovah God te word nie.
10, 11. Watter langtermyndoelwitte kan gedoopte jongmense vir hulle stel?
10 Hier is ’n paar langtermyndoelwitte waarna jy kan streef as jy reeds ’n gedoopte kneg van Jehovah is. Jy sal dalk elke nou en dan gemeentes wil help om die predikingswerk te doen in gebied wat selde gedek word. Jy kan ook besluit om jou krag en goeie gesondheid in die hulp- of gewone pionierdiens te gebruik. Tienduisende gelukkige pioniers sal vir jou sê dat voltydse diens ’n bevredigende manier is om gedurende jou jeug aan jou Skepper te dink. Jy kan hierdie doelwitte bereik terwyl jy nog in die huis is. Jou plaaslike gemeente sal ook daarby baat vind as jy dit bereik.
11 Ander langtermyndoelwitte kan daartoe lei dat jy meer as net jou tuisgemeente help. Jy kan byvoorbeeld beplan om in ’n ander gebied of land te dien waar hulp nodig is. Jy wil moontlik help om Koninkryksale of takfasiliteite in ander lande te bou. Jy kan miskien selfs by Bethel gaan dien of ’n sendeling word. Die eerste mylpaal wat jy sal moet bereik voordat jy die meeste van die langtermyndoelwitte wat hier genoem is, kan nastreef, is natuurlik om gedoop te word. As jy nog nie gedoop is nie, kan jy gerus kyk wat dit behels om hierdie mylpaal in jou lewe te bereik.
Bereik die doelwit om gedoop te word
12. Om watter redes word party gedoop, en waarom is dit nie geldige redes nie?
12 Wat sal jy sê is die doel van doop? Party dink miskien dat dit is om hulle teen sonde te beskerm. Ander dink moontlik dat hulle gedoop moet word omdat hulle portuurs gedoop is. Ander jongmense wil dalk hulle ouers tevrede stel. Doop is egter nie ’n kontrak wat keer dat jy dinge doen wat jy eintlik in die geheim wíl doen nie; jy moet ook nie gedoop word omdat ander druk op jou uitoefen nie. Jy moet gedoop word wanneer jy heeltemal verstaan wat dit behels om een van Jehovah se Getuies te wees en wanneer jy seker is dat jy gereed en bereid is om hierdie verantwoordelikheid te aanvaar.—Pred. 5:4, 5.
13. Waarom moet jy gedoop word?
13 Een rede om gedoop te word, is dat Jesus sy volgelinge die opdrag gegee het: “Maak dissipels . . . en doop hulle.” Hy het ook die voorbeeld gestel deur gedoop te word. (Lees Matteus 28:19, 20; Markus 1:9.) En doop is ’n belangrike stap vir diegene wat gered wil word. Nadat die apostel Petrus genoem het dat Noag die ark gebou het waarin hy en sy gesin gedurende die Vloed bewaar is, het hy gesê: “Wat hiermee ooreenkom, red julle ook nou, naamlik die doop . . . , deur die opstanding van Jesus Christus” (1 Pet. 3:20, 21). Maar dit beteken nie dat doop soos ’n versekeringspolis is wat jy koop om jou te beskerm ingeval jy iets oorkom nie. Jy word eerder gedoop omdat jy Jehovah liefhet en hom met jou hele hart, siel, verstand en al jou krag wil dien.—Mark. 12:29, 30.
14. Waarom huiwer party dalk om gedoop te word, maar watter versekering het jy?
14 Party huiwer dalk om gedoop te word omdat hulle bang is dat hulle miskien later uitgesit sal word. Is dit hoe jy voel? Indien wel, is hierdie vrees op sigself nie noodwendig sleg nie. Dit kan beteken dat jy besef watter ernstige verantwoordelikheid daarmee gepaardgaan om een van Jehovah se Getuies te wees. Kan daar nog ’n rede wees? Jy is dalk nog nie oortuig dat dit die beste lewenswyse is om volgens God se standaarde te lewe nie. In daardie geval kan dit jou help om tot ’n besluit te kom as jy nadink oor wat die gevolge is wanneer iemand Bybelstandaarde verontagsaam. Of jy is dalk lief vir God se standaarde, maar jy het nie die vertroue dat jy daarvolgens kan lewe nie. Dit kan eintlik ’n goeie teken wees, want dit toon dat jy nederig is. Die Bybel sê immers dat alle onvolmaakte menseharte verraderlik is (Jer. 17:9). Maar jy kan sukses behaal as jy altyd ‘op jou hoede bly ooreenkomstig God se woord’. (Lees Psalm 119:9.) Wat die redes ook al is waarom jy huiwer om gedoop te word, jy moet hierdie probleme en bekommernisse uit die weg ruim.b
15, 16. Hoe weet jy of jy gereed is om gedoop te word?
15 Maar hoe weet jy of jy gereed is om gedoop te word? Een manier is om jou vrae soos die volgende af te vra: ‘Kan ek basiese Bybelleerstellings aan ander verduidelik? Neem ek aan die bediening deel selfs wanneer my ouers dit nie doen nie? Probeer ek al die Christelike vergaderinge bywoon? Kan ek spesifieke gevalle onthou toe ek portuurdruk weerstaan het? Sal ek aanhou om Jehovah te dien, al hou my ouers en vriende op om dit te doen? Het ek al oor my verhouding met God gebid? En het ek my al onvoorwaardelik in gebed aan Jehovah toegewy?’
16 Doop is ’n stap wat ’n mens se lewe verander en nie ligtelik opgeneem moet word nie. Is jy volwasse genoeg om hierdie stap ernstig te oorweeg? Volwassenheid beteken meer as om goeie toesprake op die verhoog te hou of om gedurende ’n vergadering indrukwekkende antwoorde te gee. Dit vereis dat jy besluite kan neem wat op ’n begrip van Bybelbeginsels gegrond is. (Lees Hebreërs 5:14.) As jy op die stadium van die lewe is waar jy dit kan doen, lê die allergrootste voorreg vir jou voor—om Jehovah heelhartig te dien en op ’n manier te lewe wat toon dat jy jou waarlik aan hom toegewy het.
17. Wat sal jou help om beproewinge die hoof te bied waarvoor jy dalk ná jou doop te staan sal kom?
17 Net ná jou doop sal jy moontlik baie geesdrif hê vir God se diens. Maar kort voor lank sal jy dalk voor beproewinge te staan kom wat jou geloof en uithouvermoë op die proef stel (2 Tim. 3:12). Moenie dink dat jy hierdie beproewinge alleen die hoof moet bied nie. Vra jou ouers se raad. Soek hulp by diegene in die gemeente wat geestelik volwasse is. Bly vriende met diegene wat jou sal ondersteun. Hou altyd in gedagte dat Jehovah vir jou omgee en dat hy jou die nodige krag sal gee vir enige situasie waarvoor jy dalk te staan sal kom.—1 Pet. 5:6, 7.
Hoe kan jy jou doelwitte bereik?
18, 19. Hoe kan dit jou tot voordeel strek as jy jou prioriteite ondersoek?
18 Lyk dit of jy, ondanks jou beste bedoelings, net nooit genoeg tyd het om te doen wat jy wil en moet doen nie? Indien wel, moet jy jou prioriteite ondersoek. Ter toeligting: Kry ’n emmer en sit ’n paar groot klippe daarin. Gooi dan sand in totdat die emmer vol is. Jy het nou ’n emmer vol klippe en sand. Maak die emmer leeg, maar hou dieselfde klippe en sand. Gooi dié keer die sand eerste in die emmer en probeer dan die klippe in die emmer sit. Is daar nie genoeg plek nie? Dit is omdat jy die sand eerste in die emmer gegooi het.
19 Jy kom voor ’n soortgelyke uitdaging te staan wat die indeling van jou tyd betref. As jy dinge soos ontspanning eerste stel, sal dit lyk asof jy nooit genoeg tyd in jou lewe het vir die belangrike dinge—geestelike strewes—nie. Maar as jy die Bybel se raad volg om “seker [te] maak van die belangriker dinge”, sal jy vind dat jy tyd het vir Koninkryksbelange sowel as ’n bietjie ontspanning.—Fil. 1:10.
20. Wat moet jy doen as jy bekommernisse en twyfelgedagtes het terwyl jy jou doelwitte probeer bereik?
20 Terwyl jy jou doelwitte probeer bereik, wat doop insluit, het jy dalk soms bekommernisse en twyfelgedagtes. Indien wel, moet jy hierdie raad volg: “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag” (Ps. 55:22). Jy het nou die geleentheid om deel te neem aan die opwindendste en belangrikste werk in die mensegeskiedenis, ’n wêreldwye predikings- en onderrigtingskampanje (Hand. 1:8). Jy kan besluit om ’n toeskouer te wees en te kyk hoe ander hierdie werk doen. Of jy kan deel van die aksie wees. Moenie huiwer om jou talente te gebruik om Koninkryksbelange te bevorder nie. Jy sal nooit spyt wees dat jy “jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid” gedien het nie.—Pred. 12:1.
[Voetnote]
a Sien Die Wagtoring van 1 Augustus 2009, bladsye 15-18.
b Vir hulp hiermee, sien die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, hoofstuk 34.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom moet jy doelwitte stel?
• Wat is party van die doelwitte wat die moeite werd is?
• Wat behels dit om die doelwit om gedoop te word, te bereik?
• Hoe kan ’n ondersoek van jou prioriteite jou help om jou doelwitte te bereik?
[Prent op bladsy 13]
Is een van jou doelwitte om die Bybel elke dag te lees?
[Prent op bladsy 15]
Wat sal jou help om die doelwit om gedoop te word, te bereik?
[Prent op bladsy 16]
Watter les leer jy uit hierdie illustrasie?