Geheim 5
Bevredig jou geestelike behoefte
WAT LEER DIE BYBEL? “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte.”—Matteus 5:3.
WAT IS DIE UITDAGING? Daar is duisende godsdienste, waarvan baie teenstrydige leringe het oor hoe om jou geestelike behoefte te bevredig. Hoe kan jy weet watter een die waarheid leer en God werklik behaag? Party vooraanstaande skrywers beweer dat geloof in God en toegewydheid aan hom onlogies, selfs skadelik, is. Die tydskrif Maclean’s som die beskouings van ’n vooraanstaande ateïs soos volg op: “Hierdie Christelike begrip, dat daar iets meers is as die wetenskap en ons sintuie, . . . verlaag die waarde van die enigste lewe wat ons het en maak ons te geneig tot geweld.”
WAT KAN JY DOEN? Ondersoek die bewyse dat God bestaan (Romeine 1:20; Hebreërs 3:4). Moenie dat enigiemand jou ontmoedig om te soek na antwoorde op belangrike vrae soos die volgende nie: Waarom is ons hier? Is daar lewe ná die dood? Waarom is daar soveel lyding? Wat vereis God van my? Dit is noodsaaklik om bevredigende antwoorde op hierdie vrae te kry as jy blywende vergenoegdheid wil vind.
Maar moenie blindelings aanvaar wat ander vir jou sê nie. God se Woord spoor jou aan om jou “denkvermoë” te gebruik om seker te maak wat vir hom aanneemlik is (Romeine 12:1, 2). Jou pogings sal beloon word. As jy tyd maak om die Bybel te bestudeer en die praktiese raad daarin toepas, sal jy probleme vermy, angs verminder en meer genot uit die lewe put. Dít is beslis nie ’n leë belofte nie. Miljoene mense uit allerhande agtergronde het daarby baat gevind om die waarheid oor God en sy voornemens te leer. Lees byvoorbeeld die werklike ondervindinge op bladsye 18-21 van hierdie tydskrif.
Jy sal daarby baat vind om die Bybel se wyse raad toe te pas, en dít sal jou toegewydheid aan God vergroot. Aanvaar gerus die uitnodiging om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer. As jy dit doen, sal jy waarskynlik vind dat jy saamstem met die apostel Paulus, wat geskryf het: “Dit is ongetwyfeld ’n middel tot groot gewin, hierdie godvrugtige toegewydheid tesame met vergenoegdheid.”—1 Timoteus 6:6, voetnoot in NW.
[Prent op bladsy 8]
Maak seker wat vir God aanneemlik is