Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 5/1 bl. 13-15
  • ’n Ramp tref die Salomonseilande

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Ramp tref die Salomonseilande
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Aardbewing!
  • Toe kom die tsoenami
  • Noodlenigingspogings
  • Lof van toeskouers
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 5/1 bl. 13-15

’n Ramp tref die Salomonseilande

Op Maandag 2 April 2007 is dele van die Salomonseilande, ’n tropiese eilandgroep noordoos van Australië, geskud deur ’n aardbewing wat 8,1 op die Richterskaal gemeet het. Binne minute het toringhoë golwe, waarvan party glo tien meter hoog was, eilande in die Westelike Provinsie getref en 52 lewens geëis en 6 000 mense dakloos gelaat.

Een van die plekke wat die swaarste getref is, was Gizo, ’n kusdorpie met omtrent 7 000 inwoners op Ghizo-eiland, net 45 kilometer van die aardbewing se episentrum af. ’n Klein gemeente van Jehovah se Getuies in Gizo het daarna uitgesien om die jaarlikse Herdenking van Jesus se dood daardie aand te hou (1 Korintiërs 11:23-26). Die dag het soos enige ander dag begin, met ’n pragtige sonsopkoms en ’n kalm see. Toe, om 7:39 die oggend, het die aardbewing die gebied getref.

Aardbewing!

Ron Parkinson, ’n ouer man in die gemeente, en sy vrou, Dorothy, was besig om ontbyt te maak toe die aardbewing plaasvind. “Ons ou huis het heen en weer geswaai soos ’n kokospalm, maar het bly staan”, sê Ron. “Die geraas was ongelooflik. Kaste, meubels, breekware, ’n regopklavier en ander losgoed het op die vloer geval. Ons het gesukkel om uit die huis te kom. Dorothy het haar kaal voete op stukkende glas gesny.”

Die sendelinge Tony en Christine Shaw, wat daar naby gewoon het, het ook buitentoe gehardloop. “Die aarde het so erg geskud dat ek geval het en nie kon opstaan nie”, sê Christine. “Huise het in die see rondgedryf. ’n Groot golf het hulle van hulle fondament afgeruk. Mense in kano’s het desperaat tussen die wrakstukke geroei, op soek na oorlewendes. Toe het nog ’n groot aardbewing plaasgevind—en toe nóg een. Die naskokke het vyf dae lank voortgeduur. Dit was verskriklik!”

Toe kom die tsoenami

Patson Baea was by sy huis op die eiland Sepo Hite, omtrent ses kilometer van Gizo af, toe die aardbewing plaasvind. Hoe het Patson en sy gesin gedurende hierdie ramp gevaar?

Patson sê van hierdie moeilike tyd: “Ek het op die strand na my vrou, Naomi, en ons vier kinders gehardloop. Hulle is op die grond neergeslinger, maar was veilig. Die kinders het gebewe en van hulle het gehuil. Ek en Naomi het hulle gou gerusgestel.

“Ek het opgemerk dat die see abnormaal beweeg. Dit was duidelik dat ’n tsoenami op pad was. Ons klein eilandjie sou waarskynlik oorstroom word. My ma, Evalyn, wat op ’n nabygeleë eilandjie gewoon het, was ook in gevaar. Ek het my gesin gou beveel om in ons gemotoriseerde kano te klim, en ons is daar weg om haar te gaan red.

“Ons het nie ver gevorder nie, toe ’n groot deining onder ons kano deurbeweeg. Die see het gedein en gemaal. Toe ons by my ma kom, was sy verbysterd en verward en te bang om in die water in te gaan. Naomi en Jeremy, ons 15-jarige seun, het in die sterk stroom geduik en haar gehelp om na die kano te swem. Daarna het ons met volle vaart na die oop see gejaag.

“Teen dié tyd het die see ontsettend ver teruggetrek, sodat koraalriwwe rondom die eilande sigbaar geword het. Skielik het ’n ontsaglike golf ingerol en albei eilande oorstroom. Ons gastehuis aan die strand is van sy fondament afgeruk en heeltemal verwoes. Water het deur ons gesinshuis gestroom en baie van ons besittings verinneweer. Toe die see gesak het, het ons Bybels en liedereboeke uit ons beskadigde huis gaan haal en na Gizo gegaan.”

Al langs die kus kon dood en verwoesting gesien word. Die westelike kant van Ghizo-eiland het die grootste skade gely. Ten minste 13 dorpies is platgevee deur ’n vloedgolf wat glo vyf meter hoog was!

Daardie aand het 22 mense by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in Gizo bymekaargekom vir die Herdenking van Jesus se dood. Gelukkig is nie een van hulle tydens die ramp ernstig beseer nie. “Daar was nie elektrisiteit nie, en ons paraffienlampe was stukkend”, sê Ron, wat vroeër aangehaal is. “Broer Shaw het dus die toespraak by flitslig gehou. In die donker het ons Jehovah uit volle bors met meerstemmige sang gedank.”

Noodlenigingspogings

Toe die tyding van die ramp Honiara, die nasionale hoofstad, bereik het, het die plaaslike takkantoor van Jehovah se Getuies onmiddellik reëlings vir noodleniging getref. Deur middel van telefoonoproepe het hulle gou bevestig dat die meeste van die Getuies in die rampgebiede veilig is. Betroubare persone is gestuur om ’n baie afgesonderde Getuie op Choiseul-eiland te gaan soek. Sy is uiteindelik gevind en was veilig en wel. Geld is ook na Gizo gestuur om noodvoorraad te koop.

Verteenwoordigers van die tak het Donderdag op die eerste beskikbare vlug in Gizo aangekom. “Ons het ’n hele paar bokse met noodlenigingsvoorraad saam met ons geneem”, sê Craig Tucker, ’n lid van die Takkomitee. “Bagasie van ander passasiers is agtergelaat weens gewigsbeperkings, maar tot ons verligting het al ons bokse veilig daar aangekom. Dit was van die eerste besendings noodlenigingsvoorraad wat die rampgebied bereik het. Bykomende toerusting het twee dae later per boot daar aangekom.”

Intussen het Tony Shaw en Patson Baea, tesame met ander Getuies van Gizo, twee uur lank per kano gereis om afgesonderde Getuies op die eiland Ranongga te gaan help. Die krag van die aardbewing het hierdie eiland, wat 32 kilometer lank en 8 kilometer breed is, meer as 2 meter hoër uit die see gelig! Die skielike verplasing van water rondom die eiland het klaarblyklik die tsoenami veroorsaak wat die omliggende eilande getref het.

“Die lede van die gemeente was verheug om ons te sien”, sê Tony. “Hulle was veilig en wel en het buitenshuis gebly omdat hulle bang was vir naskokke. Ons boot was die eerste wat noodlenigingsvoorraad gebring het. Voordat ons daar weg is, het ons saam ’n opregte dankgebed tot Jehovah gedoen.”

Patson sê: “’n Paar dae later het ons na Ranongga teruggekeer om nog voorraad te bring en om na ’n Getuiegesin te soek wat op ’n afgeleë deel van die eiland gewoon het. Ons het uiteindelik vir Matthew Itu en sy gesin gevind waar hulle diep in die bos gekamp het. Hulle het gehuil van vreugde toe hulle besef dat ons hulle nie vergeet het nie! Die aardbewing het hulle huis sowel as die meeste van die geboue in hulle dorpie vernietig. Maar wat vir hulle die belangrikste was, was om hulle gesin se Bybels te vervang, wat in die ramp verlore geraak het.”

Lof van toeskouers

Hierdie Christelike liefde is deur ander opgemerk. “’n Joernalis wat die algemene noodlenigingspoging gekritiseer het, was verbaas en beïndruk om uit te vind dat Jehovah se Getuies binne dae ná die aardbewing hulle lede van voedsel, dekseile en ander noodsaaklike items voorsien het”, sê Craig Tucker. “Dorpsbewoners op Ranongga het gunstige kommentare gelewer oor ons vinnige noodlenigingspogings en gekla oor die gebrek aan ondersteuning van hulle eie kerk”, voeg Patson by. ’n Vrou het uitgeroep: “Julle organisasie het so vinnig gereageer!”

Die Getuies het ook hulle bure gehelp. “Terwyl ons ’n tydelike hospitaal in Gizo besoek het, het ons ’n egpaar gesien wat ons kort tevore ontmoet het”, vertel Christine Shaw. “Albei was beseer en het erg aan skok gely. Die vrou se kleinkind is deur die tsoenami van haar weggeskeur en het verdrink. Ons het gou huis toe gegaan om vir hulle die nodige kos en klere te gaan haal. Hulle was baie dankbaar.”

Slagoffers van natuurrampe het egter meer as net materiële noodleniging nodig. Hulle het veral ’n behoefte aan die vertroosting wat slegs God se Woord, die Bybel, kan voorsien. “Party geestelikes het gesê dat God die mense vir hulle sondes straf”, sê Ron. “Maar ons het vir hulle uit die Bybel gewys dat God nooit die bron van boosheid is nie. Baie het ons vir hierdie geestelike vertroosting bedank.”—2 Korintiërs 1:3, 4; Jakobus 1:13.a

[Voetnoot]

a Sien die artikel “‘Waarom?’—Die moeilikste vraag om te beantwoord” in die Ontwaak! van November 2006, bladsye 3-9. Honderde eksemplare van hierdie nommer is ná die ramp in Gizo versprei.

[Diagram/Kaarte op bladsy 13]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Choiseul

Ghizo

Gizo

Ranongga

HONIARA

AUSTRALIË

[Prent op bladsy 15]

Die Baea-gesin in hulle gemotoriseerde kano

[Prent op bladsy 15]

Skade wat in Gizo deur die tsoenami aangerig is

[Prent op bladsy 15]

Hierdie Koninkryksaal was die enigste gebou wat in Lale op Ranongga-eiland bly staan het

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel