Ons verkondig goeie nuus hoog in die Andes
AL 18 van ons het op die grond gelê. Bibberend in ons slaapsakke het ons geluister hoe die stortreën op die sinkdak kletter. Die toestand van die geboutjie het ons laat wonder of ons die eerste mense is wat daarin bly.
Waarom sou 18 mense hierdie gebied besoek? Die antwoord hou verband met ons begeerte om Jesus se bevel uit te voer om die goeie nuus “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” te verkondig (Hand. 1:8; Matt. 24:14). Ons was op ’n predikingsreis na ’n afgeleë gebied in die Boliviaanse Andes.
Die reis soontoe
Die eerste uitdaging was om net daar te kom. Ons het uitgevind dat openbare vervoer na sulke verafgeleë plekke nie ’n spesifieke rooster volg nie. Toe ons bus opdaag, het ons ontdek dat dit kleiner was as wat dit veronderstel was om te wees, en gevolglik het ’n paar van ons nie sitplek gehad nie. Maar op die ou end het ons almal ons bestemming bereik.
Ons doel was om dorpies hoog in die Boliviaanse Andes te bereik. Ná die busrit het ons groep, wat swaar gedra het aan al die voorraad, dus versigtig in ’n ry teen steil bergpaadjies opgeloop.
Hoewel die dorpies klein gelyk het, was die huise ver uitmekaar uit, en dit het dus ure geneem om elke dorpie te besoek. Ongeag hoe ver ons geloop het, dit het altyd gelyk of daar nog ’n huis in die verte was. Ons het dikwels verdwaal in ’n doolhof van kronkelpaadjies wat deur die velde loop.
“Waarom kom julle nou eers?”
Een vrou was só beïndruk met hoe ver ons geloop het dat sy ons toegelaat het om haar kombuis en brandhout te gebruik om ons middagete mee te maak. Toe een man geleer het wat die Bybel aangaande die toestand van die dooies sê, het hy gevra: “Waarom kom julle nou eers?” Hy het soveel belanggestel dat hy saam met ons geloop het om ons verdere vrae te vra toe ons die dorpie verlaat het. ’n Ander man het nog nooit van Jehovah se Getuies gehoor nie en het baie in ons publikasies belanggestel. Hy kon ons nie genoeg bedank nie en het ons die sleutel van ’n geboutjie gegee waar ons die aand kon deurbring.
Een aand was dit so donker dat ons ons tente onwetend in die middel van ’n kolonie groot swartmiere opgeslaan het. Hulle het vinnig vir ons gewys hoe geïrriteerd hulle was deur ons te byt. Ons was te moeg om te skuif, maar hulle het ons genadiglik kort voor lank geïgnoreer.
Aanvanklik het ons rûe en ribbes gepyn omdat ons op die grond geslaap het, maar ons het gedurende die nag daaraan gewoond geraak. En in die oggend het ons van al die ongerief vergeet terwyl ons die ongerepte valleie aanskou het, met wolke wat stadig teen hulle hange opbeweeg en pragtige sneeubedekte pieke in die verte. Die stilte is slegs verbreek deur ’n murmelende stroom en voëlsang.
Nadat ons in die stroom gewas het, het ons ’n Bybelteks saam bespreek, ontbyt gehad en stadig na ander afgeleë dorpies geklim. Dit was beslis die moeite werd. Ons het ’n bejaarde vrou ontmoet wat gehuil het toe sy uitvind dat God se naam, Jehovah, in die Bybel is. Sy was oorstelp van vreugde. Nou kon sy God se naam in haar gebede gebruik!
’n Bejaarde man het uitgeroep dat God hom ongetwyfeld onthou het en het spontaan ’n liedjie begin sing wat gesê het dat die engele ons gestuur het. ’n Ander man, wat te siek was om sy huis te verlaat, het vir ons vertel dat niemand van sy eie dorpie ooit die moeite gedoen het om hom te besoek nie. Hy was verbaas dat ons die hele pad van La Paz af gekom het. Nog ’n man was diep beïndruk dat Jehovah se Getuies mense in hulle huise besoek, terwyl ander godsdienste hulle net met kerkklokke roep.
Nie een van die huise in daardie gebied het elektrisiteit nie, en daarom gaan slaap mense wanneer dit donker word en staan hulle op wanneer die son opkom. Om mense by die huis te kry, moes ons derhalwe sesuur die oggend al begin preek. Andersins sou die meeste mense al in die lande gaan werk het. Later was party wat reeds aan die werk was, bereid om te stop en na ons boodskap uit God se Woord te luister, wat die ploegos moontlik ’n aangename blaaskansie gegee het. Baie van die mense wat by die huis was, het skaapvelle op die vloer gegooi vir ons om op te sit en het die familie byeengeroep om te luister. Party boere het groot sakke mielies bygedra uit waardering vir die Bybellektuur wat ons by hulle gelaat het.
“Julle het my nie vergeet nie”
Mense het natuurlik meer as een besoek nodig om meer kennis van die Bybel op te doen. Baie het ons gesmeek om terug te kom en hulle verder te leer. Daarom het ons al verskeie kere na hierdie deel van Bolivia gereis.
Tydens ’n latere besoek was ’n bejaarde vrou bly dat ons teruggekeer het, en sy het gesê: “Julle is soos kinders vir my. Julle het my nie vergeet nie.” ’n Man het ons bedank vir ons werk en ons genooi om in sy huis te bly wanneer ons weer kom. Maar dalk was die grootste beloning vir ons pogings om te hoor dat ’n vrou met wie ons tydens een van ons vorige besoeke in aanraking gekom het, sedertdien na die stad getrek het en nou die goeie nuus verkondig.
Teen die laaste dag van ons eerste reis het ons keroseen vir die kampstofie opgeraak en was amper al ons kos klaar. Ons het genoeg hout bymekaargemaak om vuur mee te maak, ons laaste bietjie kos gekook en begin terugloop. Ons was kilometers van die dorp af waar ons ’n bus kon kry. Ons het uiteindelik in die donker daar aangekom.
Die terugreis
Die terugreis was nie sonder probleme nie, aangesien die bus gaan staan het. Later het ons ’n geleentheid agterop ’n vragmotor gekry wat propvol mense was. Gevolglik kon ons vir medepassasiers preek wat nuuskierig was oor waarom ons daar was. Hoewel die mense van nature teruggetrokke is, is hulle oor die algemeen hartlik en vriendelik.
Ná ’n rit van nege uur agterop daardie vragmotor het ons by die huis aangekom—nat en half verkluim. Maar die reis was nie tevergeefs nie. Op pad terug kon ons ’n Bybelstudie reël met ’n vrou wat in die stad woon.
Dit was inderdaad ’n voorreg om die goeie nuus aan die mense in hierdie afgeleë gebiede te verkondig. Ons het in vier dorpies en tallose gehuggies gepreek. Ons kon nie anders nie as om te dink aan die woorde: “Hoe lieflik op die berge is die voete van die een wat goeie nuus bring, wat vrede verkondig, wat goeie nuus van iets beters bring, wat redding verkondig.”—Jes. 52:7; Rom. 10:15.
[Prent op bladsy 17]
Gereed om die goeie nuus te verkondig