‘Verkondig ’n vrylating aan die gevangenes’
AAN die begin van sy bediening het Jesus verklaar dat sy opdrag ingesluit het om “’n vrylating aan die gevangenes te verkondig” (Lukas 4:18). Ware Christene volg die voorbeeld van hulle Heer na en verkondig die goeie nuus van die Koninkryk aan “alle soorte mense”, waardeur hulle uit geestelike gevangenskap verlos word en gehelp word om hulle lewe te verbeter.—1 Timoteus 2:4.
Vandag sluit hierdie werk in dat daar vir letterlike gevangenes gepreek word—mense wat weens verskeie misdade in die gevangenis is en wat ’n geestelike vrylating waardeer. Lees gerus hierdie aanmoedigende verslag oor die predikingswerk van Jehovah se Getuies in die gevangenisse van die Oekraïne en ander plekke in Europa.
Van dwelmslawe tot Christene
Uit die 38 jaar van Serhiia se lewe het hy 20 agter tralies deurgebring. Hy het selfs in die gevangenis skool klaargemaak. Hy sê: “Jare gelede is ek vir moord in die tronk opgesluit, en ek moet nog ’n deel van my vonnis uitdien. In die tronk het ek my soos ’n tiran gedra, en die ander gevangenes was bang vir my.” Het dit hom vry laat voel? Nee. Serhii was baie jare lank verslaaf aan dwelms, alkohol en tabak.
Toe het ’n medegevangene oor Bybelwaarheid met hom gepraat. Dit was soos ’n ligstraal in die donker. Binne ’n paar maande het hy sy verslawings oorkom, ’n verkondiger van die goeie nuus geword en is hy gedoop. Serhii lei nou ’n besige lewe in die gevangenis as ’n voltydse bedienaar van Jehovah. Hy het sewe misdadigers gehelp om hulle weë te verander en sy geestelike broers te word. Ses van hulle is al vrygelaat, maar Serhii is nog agter tralies. Hy is nie ontsteld daaroor nie, want hy is bly dat hy ander kan help om uit geestelike gevangenskap vrygelaat te word.—Handelinge 20:35.
Een van Serhii se studente in die gevangenis was Viktor, ’n voormalige dwelmsmous en -verslaafde. Nadat hy uit die gevangenis vrygelaat is, het Viktor aangehou om geestelike vooruitgang te maak en uiteindelik gegradueer aan die Bedieningsopleidingskool in die Oekraïne. Nou dien hy as ’n spesiale pionierbedienaar in Moldowa. Viktor sê: “Ek het begin rook toe ek 8 was, drank begin misbruik toe ek 12 was en dwelms begin gebruik toe ek 14 was. Ek wou my lewe verander, maar al my pogings was onsuksesvol. In 1995, net toe ek en my vrou wou trek om van my slegte vriende af weg te kom, het ’n moorddadige maniak haar doodgesteek. My lewe het absoluut ellendig geword. ‘Waar is my vrou nou? Wat gebeur wanneer ’n mens doodgaan?’ Sulke vrae het in my gedagtes gemaal, maar ek kon geen antwoorde kry nie. Ek het al hoe meer dwelms gebruik om die leemte te probeer vul. Ek is in hegtenis geneem omdat ek dwelms verkoop het en is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Daar het Serhii my gehelp om die antwoorde te vind. Ek het baie keer probeer om dwelms te laat staan, maar ek kon dit nou eers met behulp van die Bybel regkry. God se Woord is werklik kragtig!”—Hebreërs 4:12.
Geharde misdadigers verander
Wasil het nooit dwelms gebruik nie, maar hy het nie gevangenskap vrygespring nie. “Ek was aan skopboks verslaaf”, verduidelik hy. “Ek het geoefen om mense te slaan sonder om ’n merk te laat.” Wasil het sy gewelddadige weë gebruik om mense te beroof. “Ek was drie keer in die tronk, wat daartoe gelei het dat my vrou van my geskei het. Gedurende die laaste vonnis van vyf jaar het ek die lektuur van Jehovah se Getuies begin lees. Dit het my beweeg om die Bybel te lees, maar ek het betrokke gebly by dit waarvoor ek regtig lief was—gevegte sonder reëls.
“Ná ses maande van Bybellees het iets egter in my verander. Om ’n geveg te wen, het my nie meer dieselfde bevrediging gegee as vroeër nie. Toe het ek my lewe begin ontleed in die lig van Jesaja 2:4 en besef dat ek die res van my lewe in die tronk sou bly tensy ek my denke verander. Daarom het ek al my gevegstoerusting weggegooi en aan my persoonlikheid begin werk. Dit was nie maklik nie, maar bepeinsing en gebed het my geleidelik gehelp om van my slegte gewoontes ontslae te raak. Soms het ek Jehovah in trane gesmeek om my die krag te gee om van my verslawing los te breek. Uiteindelik het ek dit reggekry.
“Nadat ek uit die tronk vrygelaat is, is ek weer met my gesin verenig. Nou werk ek in ’n steenkoolmyn. Dit gee my genoeg tyd om saam met my vrou aan die predikingswerk deel te neem en my verantwoordelikhede in die gemeente na te kom.”
Mikola en sy vriende het etlike banke in die Oekraïne beroof. Hy is gevolglik tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis. Voor hy in die tronk beland het, het hy net een keer kerk toe gegaan—om voor te berei om daardie kerk te beroof. Dinge het nie uitgewerk nie, maar daardie besoek aan die kerk het Mikola laat glo dat die Bybel vol vervelige verhale oor Ortodokse priesters, kerse en godsdienstige feesdae moet wees. Hy sê: “Ek weet nie eintlik waarom nie, maar ek het die Bybel begin lees. Ek was verbaas toe ek vind dat dit glad nie was soos ek gedink het dit sou wees nie!” Hy het ’n Bybelstudie gevra en is in 1999 gedoop. As ’n mens hom nou sien, is dit moeilik om te glo dat hierdie nederige bedieningskneg ooit ’n wrede gewapende bankrower was!
Wladimir is ter dood veroordeel. Terwyl hy gewag het om tereggestel te word, het hy tot God gebid en belowe om Hom te dien as hy gespaar word. Intussen het die wet verander, en sy doodsvonnis is tot lewenslange gevangenisstraf versag. Om sy belofte na te kom, het Wladimir na die ware godsdiens begin soek. Hy het vir ’n korrespondensiekursus ingeskryf en ’n diploma van ’n Adventistekerk gekry, maar hy was nog nie tevrede nie.
Nadat hy egter Die Wagtoring en Ontwaak! in die gevangenisbiblioteek gelees het, het Wladimir aan die takkantoor van Jehovah se Getuies in die Oekraïne geskryf en gevra dat iemand hom besoek. Toe plaaslike broers hom kom besoek, het hy hom reeds as ’n Getuie beskou en in die gevangenis gepreek. Hy is gehelp om as ’n Koninkryksverkondiger te kwalifiseer. Toe hierdie artikel voorberei is, het Wladimir en sewe ander in daardie gevangenis gewag om gedoop te word. Maar hulle het ’n probleem. Aangesien gevangenes wat lewenslange vonnisse uitdien, volgens hulle godsdiensoortuigings in selle gegroepeer word, behoort Wladimir en sy selmaats aan dieselfde godsdiens. Vir wie kan hulle dan preek? Hulle praat met die tronkbewaarders oor die goeie nuus en skryf briewe.
Nazar het van die Oekraïne na die Tsjeggiese Republiek getrek, waar hy by ’n bende diewe aangesluit het. Dit het tot gevangenisstraf van drie en ’n half jaar gelei. Terwyl hy in die gevangenis was, het hy op die besoeke van Jehovah se Getuies uit die stad Karlovy Vary gereageer, die waarheid geleer en is hy ten volle gerehabiliteer. Een van die veiligheidswagte het vir Nazar se selmaats gesê: “As julle almal soos daardie Oekraïner kan wees, sal ek uiteindelik ander werk kan gaan soek.” ’n Ander een het gesê: “Jehovah se Getuies weet regtig wat hulle doen. ’n Misdadiger kom in die tronk in; ’n goeie man word ontslaan.” Nou is Nazar weer by die huis. Hy het geleer om houtwerk te doen en het getrou, en hy en sy vrou is in die voltydse bediening. Hoe dankbaar is hy tog dat die Getuies die gevangenis besoek het!
Amptelike erkenning
Gevangenes is nie die enigstes wat dankbaar is vir die diens wat Jehovah se Getuies lewer nie. Miroslaf Kowalski, ’n woordvoerder van een van die gevangenisse in Pole, het gesê: “Ons waardeer hulle besoeke baie. Party gevangenes het ’n hartseer agtergrond. Hulle is moontlik nog nooit soos mense behandel nie. . . . Die hulp [van die Getuies] is baie waardevol, want ons het ’n tekort aan personeel en opvoeders.”
Die hoof van ’n ander gevangenis in Pole het aan die takkantoor geskryf en gevra dat die Getuies meer werk in sy gevangenis doen. Waarom? Hy het verduidelik: “As Wagtoringverteenwoordigers meer dikwels besoeke aflê, sal dit die gevangenes moontlik help om sosiaal wenslike eienskappe aan te kweek en sal dit hulle minder aggressief maak.”
’n Oekraïnse koerant het berig gelewer oor ’n terneergedrukte gevangene wat probeer selfmoord pleeg het, maar wat toe deur Jehovah se Getuies gehelp is. “Tans is hierdie man besig om emosioneel te herstel”, sê die berig. “Hy bly by die gevangenisroetine en is ’n voorbeeld vir ander gevangenes.”
Voordele buite die gevangenis
Die voordele van die werk wat Jehovah se Getuies doen, strek tot buite die gevangenishekke. Gevangenes word ook gehelp nadat hulle vrygelaat is. Twee Christene, Brigitte en Renate, help mense al ’n paar jaar lank so. ’n Duitse koerant, Main-Echo Aschaffenburg, sê van hulle: “Hulle sien drie tot vyf maande ná die gevangenes se vrylating na hulle om en spoor hulle aan om ’n doel in die lewe te vind. . . . Hulle is amptelik erken as vrywillige proefbeamptes. . . . Hulle het ook konstruktiewe en positiewe verhoudings met die gevangenispersoneel.” As gevolg van hierdie soort hulp het ’n hele aantal mense al hulle lewe aan Jehovah toegewy.
Selfs gevangenispersoneel vind baat by die Bybelonderrigtingswerk van Jehovah se Getuies. Roman was byvoorbeeld ’n majoor in die leër en ’n sielkundige in ’n Oekraïnse gevangenis. Toe die Getuies sy huis besoek het, het hy tot ’n Bybelstudie ingestem. Daarna het hy uitgevind dat die Getuies nie toegelaat word om kontak te maak met die gevangenes waar hy werk nie. Daarom het hy by die gevangenishoof toestemming gevra om die Bybel in sy werk met die gevangenes te gebruik. Sy versoek is toegestaan en omtrent tien gevangenes het belangstelling getoon. Roman het wat hy uit die Bybel geleer het, gereeld met hierdie gevangenes bespreek, en sy pogings het uitstekende resultate opgelewer. Nadat hulle vrygelaat is, het party voortgegaan om vordering te maak en gedoopte Christene geword. Toe Roman die krag van God se Woord sien, het hy sy studie ernstiger opgeneem. Hy het uit die leër bedank en voortgegaan met sy Bybelonderrigtingswerk. Nou neem hy saam met ’n voormalige gevangene aan die predikingswerk deel.
“Hier lewe ons as ’t ware van die Bybel, Bybelpublikasies en Bybelstudie”, het een gevangene geskryf. Hierdie woorde is ’n goeie beskrywing van die behoefte aan Bybellektuur in sommige gevangenisse. Een gemeente in die Oekraïne sê van die Bybelonderrigtingswerk in ’n plaaslike gevangenis: “Die administrasie is dankbaar vir die lektuur wat ons voorsien. Ons voorsien hulle van 60 eksemplare van elke nommer van Die Wagtoring en Ontwaak!” ’n Ander gemeente skryf: “Ons sien om na ’n gevangenis wat 20 klein bibliotekies het. Ons het ons vernaamste publikasies in elke biblioteek geplaas. Dit was 20 kartonne lektuur.” In een gevangenis hou die wagte ’n lêer met ons tydskrifte in die biblioteek sodat die gevangenes by elke nommer kan baat vind.
In 2002 het die takkantoor in die Oekraïne ’n Gevangenisafdeling gestig. Tot dusver het die afdeling met sowat 120 gevangenisse in verbinding getree en gemeentes toegewys om na hulle om te sien. Elke maand word omtrent 50 briewe van gevangenes ontvang, waarvan die meeste versoeke vir lektuur of ’n Bybelstudie is. Die tak stuur boeke, tydskrifte en brosjures aan hulle totdat plaaslike broers met hulle in verbinding kan tree.
“Dink aan dié in gevangenisboeie”, het die apostel Paulus aan mede-Christene geskryf (Hebreërs 13:3). Hy het gepraat van diegene wat weens hulle geloof in die gevangenis was. Jehovah se Getuies dink vandag aan diegene wat in die gevangenis is, besoek gevangenisse en ‘verkondig ’n vrylating aan die gevangenes’.—Lukas 4:18.
[Voetnoot]
a Van die name is verander.
[Prent op bladsy 9]
Gevangenismuur, L’viv, die Oekraïne
[Prent op bladsy 10]
Mikola
[Prent op bladsy 10]
Wasil met sy vrou, Irina
[Prent op bladsy 10]
Viktor