Wanneer is daar rede om aanstoot te neem?
DIE Bybel sê in Prediker 7:9: “Om aanstoot te neem, rus in die boesem van die sotte.” Hierdie vers toon dat ons nie liggeraak moet wees wanneer iemand ons aanstoot gee nie; ons moet eerder vergewensgesind wees.
Bedoel Prediker 7:9 egter dat niks of niemand ons ooit aanstoot moet gee nie, dat ons alle misstappe moet vergewe, ongeag hoe ernstig dit is of hoe dikwels dit gebeur en dat ons niks daaromtrent moet doen nie? Moet ons glad nie bekommerd wees of ons ander deur ons woorde of dade aanstoot gee nie omdat ons weet dat die persoon wat te na gekom is, vergewensgesind moet wees? Dit kan nie die geval wees nie.
Jehovah God is die verpersoonliking van liefde, barmhartigheid, vergewensgesindheid en lankmoedigheid. En tog word daar dikwels in die Bybel gesê dat hy aanstoot geneem het. Wanneer die oortreding ernstig was, het hy teen die oortreders opgetree. Kyk na ’n paar voorbeelde.
Oortredings teen Jehovah
Die verslag in 1 Konings 15:30 praat van die sondes van Jerobeam “waarmee hy Israel laat sondig het en oor sy aanstootlikheid waarmee hy Jehovah . . . aanstoot gegee het”. In 2 Kronieke 28:25 sê die Bybel aangaande koning Agas van Juda: “Hy [het] hoogtes gemaak om vir ander gode offerrook te laat opgaan, sodat hy Jehovah, die God van sy voorvaders, aanstoot gegee het.” Nog ’n voorbeeld kan gevind word in Rigters 2:11-14: “Die kinders van Israel het begin doen wat sleg was in die oë van Jehovah en die Baäls gedien . . . , sodat hulle Jehovah aanstoot gegee het. . . . Hierop het Jehovah se toorn teen Israel ontvlam, sodat hy hulle in die hand van die plunderaars gegee het.”
Daar is ander dinge wat Jehovah aanstoot gegee het en wat streng optrede vereis het. Ons lees byvoorbeeld in Eksodus 22:18-20: “Jy mag ’n towenares nie laat lewe nie. Elkeen wat by ’n dier gaan lê, moet gewis doodgemaak word. Wie aan enige ander gode behalwe aan Jehovah alleen offerandes bring, moet aan vernietiging oorgegee word.”
Jehovah het nie die groot oortredings van eertydse Israel bly vergewe toe hulle aangehou het om hom aanstoot te gee en versuim het om ware berou te toon nie. Wanneer daar geen ware berou was en geen dade om te toon dat hulle teruggedraai het en Jehovah sou gehoorsaam nie, het God die oortreders uiteindelik laat vernietig. Dit het op ’n nasionale skaal gebeur in 607 v.G.J. deur die toedoen van die Babiloniërs, en weer in 70 G.J. deur die toedoen van die Romeine.
Ja, Jehovah neem aanstoot wanneer mense slegte dinge sê en doen, en hy stel onberouvolle oortreders wat hulle aan growwe sondes skuldig maak, selfs tereg. Maar plaas dit hom in die kategorie van dié wat in Prediker 7:9 genoem word? Glad nie. Hy is geregverdig wanneer hy aan growwe sondes aanstoot neem, en sy oordeel is altyd regverdig. Die Bybel sê van Jehovah: “Volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie; regverdig en reg is hy.”—Deuteronomium 32:4.
Ernstige oortredings teen individue
Onder die Wet wat God aan eertydse Israel gegee het, het ernstige oortredings teen individue ernstige gevolge ingehou. Byvoorbeeld, as ’n dief gedurende die nag in ’n huis ingekom het en die huisbewoner hom doodgemaak het, sou die huisbewoner geen bloedskuld op hom hê nie. Hy was ’n onskuldige slagoffer van ’n ernstige misdaad. Ons lees derhalwe: “As ’n dief betrap word terwyl hy inbreek en hy geslaan word en sterf, is daar geen bloedskuld weens hom [op die huisbewoner] nie.”—Eksodus 22:2.
’n Vrou wat verkrag is, het die reg om diep gegrief te wees, aangesien dit in God se oë ’n ernstige misdaad is. Onder die Mosaïese Wet moes ’n man wat ’n vrou verkrag het, sterf “net soos wanneer ’n man teen sy medemens opstaan en hom inderdaad vermoor” (Deuteronomium 22:25, 26). Hoewel ons nie meer onder daardie Wet is nie, gee dit ons insig in hoe Jehovah voel oor verkragting—’n verskriklike onreg.
In ons tyd is verkragting ’n ernstige misdaad wat swaar gestraf word. Die slagoffer het alle reg om die saak by die polisie aan te gee. Sodoende kan die aangewese owerheid die oortreder straf. En as die slagoffer ’n minderjarige is, sal die ouers moontlik die inisiatief hierin neem.
Kleiner oortredings
Maar nie alle oortredings vereis optrede deur die owerheid nie. Ons moet derhalwe nie onnodig aanstoot neem aan die betreklike klein foute wat ander maak nie, maar moet vergewensgesind wees. Hoe dikwels moet ons vergewe? Die apostel Petrus het Jesus gevra: “Here, hoeveel keer kan my broer teen my sondig en moet ek hom vergewe? Tot sewe keer?” Jesus het geantwoord: “Ek sê vir jou: Nie ‘tot sewe keer’ nie, maar ‘tot sewe-en-sewentig keer’.”—Matteus 18:21, 22.
Aan die ander kant moet ons voortdurend aan ons Christelike persoonlikheid aandag skenk sodat ons so min as moontlik aanstoot gee. Byvoorbeeld, is jy soms kortaf, taktloos of beledigend in jou handelinge met ander? Sulke gedrag sal waarskynlik aanstoot gee. Die persoon wat aanstoot gegee het, moet besef dat hy die oorsaak van die probleem is en moenie die slagoffer blameer omdat hy aanstoot geneem het en meen dat hy verplig is om hom te vergewe nie. Die skuldige moet hom daarop toelê om sy dade en spraak te beheer sodat hy in die eerste plek nie aanstoot gee nie. As ons dit probeer doen, sal ons ander se gevoelens nie so dikwels seermaak nie. Die Bybel herinner ons: “Daar is een wat onnadenkend praat soos met swaardsteke, maar die tong van die wyses is genesing” (Spreuke 12:18). Wanneer ons ander aanstoot gee, selfs al het ons dit nie bedoel nie, help dit om die situasie reg te stel as ons om verskoning vra.
God se Woord toon dat ons “die dinge [moet] nastreef wat vrede bevorder en . . . vir mekaar opbouend is” (Romeine 14:19). Wanneer ons taktvol en goedhartig is, pas ons die volgende spreuk toe: “Soos goue appels in silwersnywerk is ’n woord wat op sy regte tyd gespreek word” (Spreuke 25:11). Wat ’n aangename indruk skep dit tog! Sagte, taktvolle woorde kan selfs die ontoegeeflike gesindhede van ander verander: “’n Sagte tong kan die gebeente breek.”—Spreuke 25:15.
God se Woord vermaan ons dus: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord” (Kolossense 4:6). “Smaaklik gemaak met sout” beteken dat ons ons woorde vir ander aangenaam maak en sodoende die moontlikheid verminder dat ons aanstoot gee. Deur hulle woorde sowel as hulle dade streef Christene daarna om die Bybel se vermaning toe te pas: ‘Soek vrede en streef dit na.’—1 Petrus 3:11.
Prediker 7:9 moet derhalwe beteken dat ons nie aanstoot moet neem aan die betreklike klein sondes van ander nie. Dit kan die gevolg wees van menslike onvolmaaktheid of kan selfs opsetlik wees, maar nie growwe sondes nie. Wanneer ’n oortreding egter ’n ernstige sonde is, is dit verstaanbaar dat die slagoffer aanstoot kan neem en kan besluit om gepaste stappe te doen.—Matteus 18:15-17.
[Prent op bladsy 14]
Jehovah het die Romeine toegelaat om onberouvolle Israel in 70 G.J. te vernietig
[Prent op bladsy 15]
“Soos goue appels . . . is ’n woord wat op sy regte tyd gespreek word”