Jongmense, loof Jehovah!
“Loof Jehovah van die aarde af, . . . jong manne en ook maagde.”—PSALM 148:7, 12.
1, 2. (a) Van watter soort beperkings is baie jongmense bewus? (b) Waarom hoef jongmense nie gegrief te voel oor die beperkings wat hulle ouers aan hulle oplê nie?
JONGMENSE is dikwels deeglik bewus van wat hulle nog nie mag doen nie. Baie van hulle kan dadelik vir jou sê hoe oud hulle moet wees voordat hulle alleen oor ’n straat mag loop of saans tot ’n sekere tyd mag opbly of ’n motor mag bestuur. Soms meen ’n jongmens dalk dat die antwoord op te veel van sy of haar gretige versoeke dieselfde is: “Wag totdat jy ouer is.”
2 Jongmense, julle weet dat julle ouers meen dat dit verstandig is om sulke beperkings te stel, miskien vir julle eie beskerming. Julle weet ongetwyfeld ook dat dit Jehovah behaag wanneer julle aan julle ouers gehoorsaam is (Kolossense 3:20). Maar voel julle ooit asof julle wag vir julle lewe om te begin? Is al die belangrike dinge verbode totdat julle ouer is? Niks kan minder waar wees nie! Daar word vandag ’n werk gedoen wat baie belangriker is as enige ander voorreg waarvoor julle dalk wag. Mag julle as jongmense aan hierdie werk deelneem? Nog beter—julle word in werklikheid deur die Allerhoogste God genooi om dit te doen!
3. Watter voorreg nooi Jehovah jongmense om te geniet, en watter vrae sal ons nou bespreek?
3 Van watter werk praat ons? Let op die woorde van ons temateks vir hierdie artikel: “Loof Jehovah van die aarde af, . . . jong manne en ook maagde, ou manne saam met seuns” (Psalm 148:7, 12). Dít is jou groot voorreg: Jy kan Jehovah loof. Is jy as jongmens opgewonde daaroor om ’n aandeel aan hierdie werk te hê? Baie is. Om te sien waarom dit die moeite werd is om so te voel, sal ons drie vrae bespreek. Eerstens, waarom moet jy Jehovah loof? Tweedens, hoe kan jy hom op ’n doeltreffende wyse loof? Derdens, wanneer is dit ’n goeie tyd om Jehovah te begin loof?
Waarom moet jy Jehovah loof?
4, 5. (a) In watter wonderlike situasie is ons volgens Psalm 148? (b) Hoe kan skeppingswerke wat nie praat of redeneer nie, Jehovah nogtans loof?
4 ’n Belangrike rede waarom ons Jehovah moet loof, is omdat hy die Skepper is. Psalm 148 help ons om ons aandag op hierdie waarheid toe te spits. Stel jou voor: Hoe sal jy voel as jy naby ’n groot groep mense kom wat ’n pragtige, roerende lied eenstemmig sing? Sê nou jy weet dat die woorde van die lied waar is en gedagtes uitspreek wat belangrik, vreugdevol en opbouend is? Sal jy graag die woorde wil leer en wil saam sing? Die meeste van ons sal. Wel, Psalm 148 toon dat jy in ’n soortgelyke maar baie wonderliker situasie is. Hierdie psalm beskryf ’n ontsaglike menigte wat Jehovah almal eenstemmig loof. Maar wanneer jy die psalm lees, sal jy dalk iets ongewoons opmerk. Wat is dit?
5 Baie van die lowers wat in Psalm 148 beskryf word, kan nie praat of redeneer nie. Ons lees byvoorbeeld dat die son, maan, sterre, sneeu, wind, berge en heuwels Jehovah loof. Hoe kan hierdie lewelose skeppingswerke dit doen? (Ps 148 Verse 3, 8, 9). Eintlik op dieselfde manier as die bome, seediere en landdiere (Ps 148 Verse 7, 9, 10). Het jy al ooit na ’n pragtige sonsondergang gekyk of gesien hoe ’n volmaan verby ’n see van sterre beweeg of lekker gelag vir diere wat speel of vol ontsag gestaan en kyk na ’n pragtige landskap? Dan het jy die loflied “gehoor” wat van die skepping af kom. Alles wat Jehovah gemaak het, herinner ons daaraan dat hy die almagtige Skepper is, dat niemand in die ganse heelal so sterk, so verstandig of so liefdevol soos hy is nie.—Romeine 1:20; Openbaring 4:11.
6, 7. (a) Watter intelligente skepsele loof Jehovah volgens Psalm 148? (b) Waarom word ons moontlik beweeg om Jehovah te loof? Lig toe.
6 Psalm 148 beskryf ook intelligente skepsele wat Jehovah loof. In Ps 148 vers 2 bring Jehovah se hemelse “leër”, die engele, lof aan God. In Ps 148 vers 11 word magtige en invloedryke mense, soos konings en regters, genooi om hom ook te loof. Watter blote mens kan tereg sê dat hy te belangrik is om Jehovah te loof as die magtige engele daarin behae skep om dit te doen? Jongmense word dan, in Ps 148 verse 12 en 13, genooi om Jehovah ook te loof. Word jy beweeg om dit te doen?
7 Kom ons lig dit toe. Sal jy, as jy ’n boesemvriend met ’n verbasende vaardigheid het—miskien in sport, kuns of musiek—met jou gesin en ander vriende oor hom praat? Beslis. Wel, as ons leer van alles wat Jehovah gedoen het, kan dit ’n soortgelyke uitwerking op ons hê. Psalm 19:1, 2 sê byvoorbeeld dat die sterrehemel ‘spraak laat uitborrel’. Wanneer ons dink aan die verbasende dinge wat Jehovah gedoen het, kan ons ons skaars daarvan weerhou om met ander oor ons God te praat.
8, 9. Waarom wil Jehovah hê dat ons hom moet loof?
8 Nog ’n belangrike rede om Jehovah te loof, is dat hy wil hê ons moet. Waarom? Is dit omdat hy lof van mense nodig het? Nee. Soms het ons as mense dalk lof nodig, maar Jehovah is baie hoër as ons (Jesaja 55:8). Hy is glad nie onseker oor homself of oor sy eienskappe nie (Jesaja 45:5). Tog wil hy hê dat ons hom moet loof, en dit behaag hom as ons dit doen. Waarom? Kyk na twee redes. Eerstens, hy weet dat dit vir ons nodig is om hom te loof. Hy het ons geskep met ’n geestelike behoefte, ’n behoefte om te aanbid (Matteus 5:3). Dit behaag Jehovah om te sien dat ons hierdie behoefte bevredig, baie soos dit jou ouers behaag om te sien dat jy kos eet wat hulle weet goed is vir jou.—Johannes 4:34.
9 Tweedens, Jehovah weet dat ander mense moet hoor hoe ons hom loof. Die apostel Paulus het hierdie woorde aan die jonger man Timoteus geskryf: “Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting. Bly by hierdie dinge, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister” (1 Timoteus 4:16). Ja, wanneer jy ander van Jehovah God leer en hom loof, sal hulle Jehovah dalk ook leer ken. Hierdie kennis kan tot hulle ewige redding lei!—Johannes 17:3.
10. Waarom voel ons genoodsaak om ons God te loof?
10 Daar is nog ’n rede om Jehovah te loof. Onthou die illustrasie oor jou merkwaardige vriend. Sal jy nie, as jy hoor dat ander leuens oor hom vertel en sy goeie naam skend, selfs vasbeslotener wees om hom te prys nie? Wel, Jehovah word alom in hierdie wêreld gelaster (Johannes 8:44; Openbaring 12:9). Gevolglik voel diegene wat hom liefhet, genoodsaak om die waarheid oor hom te vertel en die ware feite te gee. Wil jy ook graag vir Jehovah wys dat jy hom liefhet en waardeer en dat jy hóm as jou Heerser wil hê en nie sy grootste vyand, Satan, nie? Jy kan dit alles doen deur Jehovah te loof. Die volgende vraag is dan hoe ons dit kan doen.
Hoe party jongmense Jehovah geloof het
11. Watter Bybelvoorbeelde toon dat jongmense Jehovah op ’n baie doeltreffende wyse kan loof?
11 Die Bybel toon dat jongmense Jehovah dikwels op ’n baie doeltreffende wyse loof. Ons lees byvoorbeeld van ’n Israelitiese meisie wat deur die Siriërs gevange geneem is. Sy het met vrymoedigheid vir haar meesteres getuig oor Jehovah se profeet Elisa. Haar woorde het tot ’n wonderwerk gelei, en ’n kragtige getuienis is gegee (2 Konings 5:1-17). Jesus het ook as kind met vrymoedigheid getuig. Uit al die gebeure in sy jeug wat in die Skrif opgeteken kon word, het Jehovah een gekies, die geleentheid toe die 12-jarige Jesus die leermeesters by die tempel in Jerusalem moedig uitgevra het en hulle verbaas het met sy begrip van Jehovah se weë.—Lukas 2:46-49.
12, 13. (a) Wat het Jesus kort voor sy dood in die tempel gedoen, en watter uitwerking het dit op die mense daar gehad? (b) Hoe het Jesus gevoel oor die lof wat jong seuns gebring het?
12 Jesus het ook as volwassene kinders besiel om Jehovah te loof. Net ’n paar dae voor sy dood het Jesus byvoorbeeld tyd by die tempel in Jerusalem deurgebring. Hy het “wonderlike dinge” daar gedoen, sê die Bybel. Hy het die mense uitgejaag wat daardie heilige plek ’n rowersnes gemaak het. Hy het ook blindes en kreupeles gesond gemaak. Dit moes almal wat daar was, veral die godsdiensleiers, beweeg het om Jehovah en sy Seun, die Messias, te loof. Maar ongelukkig het baie destyds nie sulke lof gebring nie. Hulle het geweet dat Jesus deur God gestuur is, maar hulle was bang vir die godsdiensleiers. Een groep mense het egter wel met vrymoedigheid gepraat. Weet jy wie dit was? Die Bybel sê: “Toe die hoofpriesters en die skrifgeleerdes die wonderlike dinge sien wat [Jesus] doen, en die seuns wat in die tempel uitroep en sê: ‘Red tog die Seun van Dawid!’ het hulle verontwaardig geword en vir [Jesus] gesê: ‘Hoor jy wat hulle sê?’”—Matteus 21:15, 16; Johannes 12:42.
13 Daardie priesters het gehoop dat Jesus die seuns sou stilmaak wat hom geloof het. Het hy? Glad nie! Jesus het die priesters geantwoord: “Ja. Het julle nooit gelees nie: ‘Uit die mond van klein kindertjies en suigelinge het u lof berei’?” Dit is duidelik dat Jesus en sy Vader behae geskep het in die lof van die jong seuns. Daardie kinders het gedoen wat al die volwassenes daar moes gedoen het. In hulle jong verstande was alles ongetwyfeld baie duidelik. Hulle het gesien hoe hierdie man wonderlike dinge doen, met moed en geloof praat en vurige liefde vir God en sy volk toon. Hy was wie hy gesê het hy is—die beloofde “Seun van Dawid”, die Messias. Die seuns is vir hulle geloof geseën en het selfs die voorreg gehad om ’n profesie te vervul.—Psalm 8:2.
14. Hoe rus die gawes wat jongmense het, hulle toe om God te loof?
14 Wat kan ons uit hierdie voorbeelde leer? Dat jongmense Jehovah op ’n baie doeltreffende wyse kan loof. Hulle het dikwels die gawe om die waarheid duidelik en eenvoudig te sien, en hulle gee met erns en ywer uiting aan hulle geloof. Hulle het ook die gawe wat in Spreuke 20:29 gemeld word: “Die sieraad van jong manne is hulle krag.” Ja, jongmense, julle is geseën met krag en energie—ware bates waarmee Jehovah geloof kan word. Hoe kan julle hierdie gawes in die besonder gebruik?
Hoe kan jy Jehovah loof?
15. Watter beweegrede is nodig om Jehovah op ’n doeltreffende wyse te loof?
15 Om dit op ’n doeltreffende wyse te doen, moet dit uit die hart kom. Jy kan Jehovah nie op ’n doeltreffende wyse loof as jy dit doen net omdat ander wil hê jy moet nie. Onthou, die heel grootste gebod is: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matteus 22:37). Het jy Jehovah persoonlik leer ken deur jou eie studie van sy Woord? Die regte resultaat van so ’n studie is ’n gevoel van liefde vir Jehovah. Die natuurlike manier om aan hierdie liefde uiting te gee, is deur hom te loof. Wanneer jou beweegrede duidelik en sterk is, is jy gereed om Jehovah geesdriftig te loof.
16, 17. Watter rol speel gedrag daarin om Jehovah te loof? Lig toe.
16 Nou moet jy, selfs voordat jy dink wat jy sal sê, dink hoe jy sal optree. Dink jy dat die Siriërs wat daardie Israelitiese meisie van Elisa se dag gevange geneem het, na haar woorde oor Jehovah se profeet sou geluister het as sy gewoonlik ongeskik, oneerbiedig of oneerlik was? Waarskynlik nie. Net so is dit waarskynliker dat mense na jou sal luister as hulle sien dat jy eerbiedig, eerlik en goed gemanierd is (Romeine 2:21). Beskou ’n voorbeeld.
17 Daar is by die skool druk op ’n 11-jarige meisie in Portugal uitgeoefen om vakansiedae te vier wat strydig is met haar Bybelopgeleide gewete. Sy het eerbiedig aan haar onderwyseres verduidelik waarom sy moet weier, maar die onderwyseres het haar gespot. Met verloop van tyd het die onderwyseres keer op keer probeer om haar skaam te laat voel deur haar godsdiens te bespot. Tog het die jong meisie eerbiedig gebly. Jare later was daardie jong suster ’n gewone pionier, ’n voltydse bedienaar. By ’n byeenkoms het sy gekyk hoe mense gedoop word en een van hulle herken. Dit was haar gewese onderwyseres! Hulle het mekaar in trane omhels, en die ouer vrou het toe vir die jonger een gesê dat sy nooit haar leerling se respekvolle gedrag vergeet het nie. ’n Getuie het haar besoek, en die onderwyseres het van haar gewese leerling se gedrag gepraat. Gevolglik is ’n Bybelstudie begin, en hierdie vrou het Bybelwaarheid aangeneem. Ja, jou gedrag kan ’n baie kragtige manier wees om Jehovah te loof!
18. Wat kan ’n jongmens doen as hy huiwerig is om gesprekke oor die Bybel en Jehovah God te begin?
18 Is dit soms vir jou moeilik om by die skool gesprekke oor jou geloof te begin? Jy is nie al een wat so voel nie. Maar jy kan die kanse vergroot dat ander jou oor jou geloof sal uitvra. As dit wettig en toelaatbaar is, kan jy byvoorbeeld Bybelpublikasies saam met jou neem en dit lees tydens die etenspouse of ander tye wanneer jy mag. Jou skoolmaats sal jou dalk vra wat jy lees. As jy hulle antwoord en vir hulle sê wat vir jou interessant is van die artikel of boek wat jy lees, kry jy dalk sommer gou ’n goeie gesprek aan die gang. Onthou om vrae te vra en uit te vind wat jou skoolmaats glo. Luister beleefd, en praat oor wat jy uit die Bybel geleer het. Soos die ondervindinge op bladsy 29 toon, loof baie jongmense God by die skool. Dit verskaf hulle groot vreugde en help baie ander om Jehovah te leer ken.
19. Hoe kan jongmense bekwamer in die deur-tot-deur-bediening word?
19 Die deur-tot-deur-bediening is ’n baie doeltreffende manier om Jehovah te loof. As jy nog nie ’n aandeel daaraan het nie, kan jy dit gerus ’n doelwit maak. Is daar verdere doelwitte wat jy vir jou kan stel as jy reeds ’n aandeel daaraan het? Probeer byvoorbeeld om nie by elke deur feitlik dieselfde te sê nie, maar soek maniere om te verbeter deur jou ouers en ander ervare persone om wenke te vra. Leer hoe om die Bybel meer te gebruik, doeltreffende herbesoeke te doen en ’n Bybelstudie te begin (1 Timoteus 4:15). Hoe meer jy Jehovah op hierdie maniere loof, hoe bekwamer sal jy word en hoe meer sal jy jou bediening geniet.
Wanneer moet jy Jehovah begin loof?
20. Waarom hoef jongmense nie te voel dat hulle te jonk is om Jehovah te loof nie?
20 Uit die drie vrae in dié bespreking is die antwoord op hierdie laaste een die eenvoudigste. Let op die Bybel se reguit antwoord: “Dink dan nou aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid” (Prediker 12:1). Ja, die tyd om Jehovah te begin loof, is nou. Dit is baie maklik om te sê: “Ek is te jonk om Jehovah te loof. Ek is onervare. Ek moet wag totdat ek ouer is.” Jy sal nie die eerste een wees wat so voel nie. Die jong Jeremia het byvoorbeeld vir Jehovah gesê: “Ag, o Soewereine Heer Jehovah! Kyk, ek weet nie hoe ek moet praat nie, want ek is nog maar net ’n seun.” Jehovah het hom verseker dat daar geen rede is om bang te wees nie (Jeremia 1:6, 7). Ons hoef ook vir niks bang te wees wanneer ons Jehovah loof nie. Jehovah kan enige leed wat ons dalk aangedoen word, heeltemal ongedaan maak.—Psalm 118:6.
21, 22. Waarom word jong lowers van Jehovah met doudruppels vergelyk, en waarom is hierdie vergelyking aanmoedigend?
21 Jongmense, ons spoor julle dus aan: Moenie huiwer om Jehovah te loof nie! Nou terwyl julle jonk is, is die beste tyd om ’n aandeel te hê aan die belangrikste werk wat vandag op die aarde gedoen word. Wanneer julle dit doen, word julle ’n deel van iets wonderliks—die universele gesin van diegene wat Jehovah loof. Jehovah is baie bly dat julle deel uitmaak van hierdie gesin. Let op hierdie geïnspireerde woorde wat die psalmis tot Jehovah gerig het: “U volk sal hulle gewillig aanbied op die dag van u krygsmag. In die prag van heiligheid, uit die moederskoot van die dagbreek, het u u geselskap van jong manne net soos doudruppels.”—Psalm 110:3.
22 Doudruppels wat in die oggendlig glinster, is ’n pragtige gesig, nie waar nie? Hulle is verkwikkend, glansend en feitlik ontelbaar. Dit is hoe Jehovah jongmense beskou wat hom in hierdie kritieke tye getrou loof. Julle besluit om Jehovah te loof, maak beslis sy hart bly (Spreuke 27:11). Jongmense, doen dus alles in julle vermoë om Jehovah te loof!
Hoe sal jy antwoord?
• Wat is ’n paar belangrike redes om Jehovah te loof?
• Watter Bybelvoorbeelde toon dat jongmense Jehovah op ’n baie doeltreffende wyse kan loof?
• Hoe kan jongmense Jehovah vandag loof?
• Wanneer moet jongmense Jehovah begin loof, en waarom?
[Prente op bladsy 25]
Sal jy nie, as jou vriend ’n besondere vaardigheid het, ander daarvan vertel nie?
[Prent op bladsy 27]
Skoolmaats stel dalk belang in jou oortuigings
[Prent op bladsy 28]
As jy bekwamer in jou bediening wil word, kan jy ’n meer ervare Getuie om wenke vra