Filo van Aleksandrië—’n Vermenging van die Skrif met bespiegeling
IN 332 v.G.J. het Aleksander die Grote Egipte binnegeval. Voordat hy ooswaarts opgeruk het om die wêreld verder te verower, het hy ’n stad gestig wat hy Aleksandrië genoem het. Dit het ’n sentrum van Griekse kultuur geword. Daar, in ongeveer 20 v.G.J., is nog ’n veroweraar gebore, een wie se wapens nie swaarde en spiese was nie, maar filosofiese redenasies. Hy staan bekend as Filo van Aleksandrië, of Filo Judeus, weens sy Joodse agtergrond.
Die Diaspora, wat ná Jerusalem se vernietiging in 607 v.G.J. plaasgevind het, het veroorsaak dat baie Jode in Egipte gaan woon het. Duisende het in Aleksandrië gewoon. Daar was egter probleme tussen die Jode en hulle Griekse bure. Die Jode het geweier om die Griekse gode te aanbid, terwyl die Grieke die Hebreeuse Geskrifte bespot het. Filo, met sy Griekse geleerdheid en Joodse opvoeding, was bekend met die geskil. Hy het geglo dat Judaïsme die ware geloof is. Maar in teenstelling met baie het Filo ’n vreedsame manier gesoek om die heidene na God te lei. Hy wou Judaïsme vir hulle aanvaarbaar maak.
Nuwe betekenis vir ou geskrifte
Soos baie Jode in Aleksandrië, was Filo se eerste taal Grieks. Die Griekse Septuagint-vertaling van die Hebreeuse Geskrifte het dus die grondslag van sy studie gevorm. Terwyl hy die teks van die Septuagint ondersoek het, het hy daarvan oortuig geword dat dit filosofiese elemente bevat en dat Moses “die gawe van filosofie” gehad het.
Eeue vroeër het Griekse intellektuele dit moeilik gevind om stories van gode en godinne—reuse en demone van hulle antieke Griekse mitologie—te aanvaar. Hulle het ’n nuwe vertolking aan daardie ou stories begin gee. Die klassieke geleerde James Drummond het die volgende oor hulle metode gesê: “Die filosoof het begin soek na subtiele betekenisse wat in die mitologiese verhale opgesluit is en het uit die uiterste walglikheid en onsinnigheid daarvan afgelei dat dit ongetwyfeld die skrywers se bedoeling was om die een of ander diep of verligtende waarheid deur middel van hulle sinlike voorstellings na vore te bring.” Hierdie proses word allegoriese vertolking genoem, en Filo het dit probeer gebruik om die Skrif te verduidelik.
Neem byvoorbeeld Genesis 3:22 in Bagster se Septuagint-vertaling, wat sê: “Die Here God het vir Adam en sy vrou klere van vel gemaak en hulle geklee.” Die Grieke was van mening dat dit benede die waardigheid van die Allerhoogste God is om klere te maak. Filo het dus ’n simboliese betekenis in daardie vers gevind en gesê: “Die kledingstuk van vel is ’n figuurlike uitdrukking vir die natuurlike vel, dit wil sê ons liggaam; want God het die intellek, wat hy eerste geskep het, Adam genoem; daarna het hy die uiterlike gewaarwording geskep, wat hy Lewe genoem het. Derdens moes hy noodwendig ook ’n liggaam maak, waarvoor hy ’n figuurlike uitdrukking gebruik het, ’n kledingstuk van vel.” Sodoende het Filo God se daad, om Adam en Eva te klee, ’n filosofiese punt probeer maak waaroor gepeins moet word.
Neem ook Genesis 2:10-14, wat die waterbron vir die tuin in Eden beskryf en vier riviere noem wat uit die tuin uitgevloei het. Filo het probeer om tussen die lyne te lees en baie verder as die landskap te kyk. Nadat hy kommentaar gelewer het oor die landskap self, het hy gesê: “Dalk bevat hierdie gedeelte ook ’n allegoriese betekenis; want die vier riviere is die simbole van vier deugde.” Hy het bespiegel dat die Pisonrivier wysheid voorstel, die Gihonrivier die simbool van nugterheid is, die Tigris standvastigheid simboliseer en die Eufraat geregtigheid voorstel. So verdring allegorie aardrykskunde.
Filo het allegoriese vertolking gebruik om die skeppingsverslag te ontleed, sowel as die verslag van Kain se moord op Abel, die Vloed van Noag se dag, die verwarring van tale by Babel en baie voorskrifte van die Mosaïese Wet. Soos die voorbeeld in die vorige paragraaf toon, het hy dikwels die letterlike betekenis van ’n Bybelvers erken en dan sy simboliese verduideliking ingelei met woorde soos: “Dalk moet ons hierdie dinge in ’n allegoriese sin verstaan.” In Filo se geskrifte staan simboliek uit, terwyl die ooglopende betekenis van die Skrif ongelukkig verdwyn.
Wie is God?
Filo het die bestaan van God met behulp van ’n kragtige illustrasie probeer bewys. Nadat hy die land, riviere, planete en sterre beskryf het, het hy tot die slotsom gekom: “Die wêreld is die skeppingswerk wat op die kunstigste en vaardigste wyse gemaak is, asof dit geskep is deur iemand wat volkome bedrewe en volmaak in kennis is. Dit is op hierdie manier dat ons ’n idee gekry het van die bestaan van God.” Dít was ’n gesonde redenasie.—Romeine 1:20.
Maar toe Filo uitgewei het oor die natuur van God die Almagtige, het hy ver van die waarheid afgedwaal. Filo het beweer dat God “geen kenmerkende eienskappe het nie” en dat God “onverstaanbaar is”. Filo het pogings om God te leer ken, ontmoedig en gesê: “Pogings om verder te gaan en ondersoek in te stel na die aard of kenmerkende eienskappe van God, is die toppunt van dwaasheid.” Hierdie denkwyse het nie sy oorsprong by die Bybel gehad nie, maar by die heidense filosoof Plato.
Filo het gesê dat God so onverstaanbaar is dat hy onmoontlik ’n persoonlike naam kan hê. Hy het gesê: “Dit was dus heeltemal redelik om te aanvaar dat geen eienaam tereg gegee kan word aan hom wat in werklikheid die lewende God is nie.” Hoe strydig is dit tog met die feite!
Die Bybel laat geen twyfel nie dat God ’n persoonlike naam het. Psalm 83:18 sê: “U, wie se naam Jehovah is, u alleen [is] die Allerhoogste oor die hele aarde.” Jesaja 42:8 haal God aan waar hy sê: “Ek is Jehovah. Dit is my naam.” Waarom het Filo, ’n Jood wat geweet het van hierdie Bybeltekste, geleer dat God naamloos is? Omdat hy nie die persoonlike God van die Bybel beskryf het nie, maar ’n naamlose, ongenaakbare god van Griekse filosofie.
Wat is die siel?
Filo het geleer dat die siel apart is van die liggaam. Hy sê dat die mens “uit liggaam en siel bestaan”. Kan die siel sterf? Let op Filo se verduideliking: “Wanneer ons lewe, is ons lewendig, maar ons siel is dood en begrawe in ons liggaam, asof in ’n graf. Maar as dit [die liggaam] sou sterf, dan sal ons siel lewe soos dit werklik moet omdat dit bevry is van die bose en dooie liggaam waarin dit gevange gehou word.” Vir Filo was die siel se dood simbolies. Dit sterf nooit werklik nie. Dit is onsterflik.
Maar wat leer die Bybel aangaande die siel? Genesis 2:7 sê: “Jehovah God het die mens uit stof van die aarde begin vorm en in sy neusgate die asem van die lewe geblaas, en die mens het ’n lewende siel geword.” Volgens die Bybel het mense nie ’n siel nie; hulle is eerder ’n siel.
Die Bybel leer ook dat die siel nie onsterflik is nie. Esegiël 18:4 sê: “Die siel wat sondig—dié sal sterf.” Uit hierdie tekste kan ons heel tereg ’n gevolgtrekking maak: ’n Mens is ’n siel. Wanneer ’n mens dus sterf, sterf ’n siel.—Genesis 19:19.a
Ná Filo se dood het die Jode hulle nie veel aan hom gesteur nie. Die Christendom het egter sy denke aanvaar. Eusebius en ander kerkleiers het geglo dat Filo ’n Christen geword het. Hieronimus het hom as een van die Kerkvaders aangegee. Afvallige Christene, nie die Jode nie, het die geskrifte van Filo bewaar.
Filo se geskrifte het tot ’n godsdiensrevolusie gelei. Sy invloed het naamchristene die onskriftuurlike leerstelling van die onsterflikheid van die siel laat aanneem. En Filo se lering oor die Logos (of, Woord) het bygedra tot die ontwikkeling van die Drie-eenheidsleer, ’n nie-Bybelse leerstelling van die afvallige Christelike godsdiens.
Moenie mislei word nie
In sy studie van die Hebreeuse Geskrifte het Filo seker gemaak dat hy “geen allegoriese betekenis uitlaat wat moontlik in die eenvoudige taal versteek is nie”. Maar in Deuteronomium 4:2 het Moses aangaande God se Wet gesê: “Julle mag niks byvoeg by die woord wat ek julle beveel nie, en ook mag julle niks daarvan wegneem nie, sodat julle die gebooie van Jehovah julle God kan onderhou wat ek julle beveel.” Met al sy skynbaar goeie bedoelings het Filo lae van bespiegeling bygevoeg wat, soos ’n dik mis, die duidelike leringe van God se geïnspireerde Woord verberg het.
“Dit was nie deur kunstig versinde valse stories te volg dat ons die krag en teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus aan julle bekend gemaak het nie”, het die apostel Petrus gesê (2 Petrus 1:16). In teenstelling met die geskrifte van Filo, was Petrus se onderrigting aan die vroeë Christengemeente gegrond op feite en op die leiding van God se gees, “die gees van die waarheid”, wat hulle in die hele waarheid ingelei het.—Johannes 16:13.
As jy daarin belangstel om die God van die Bybel te aanbid, het jy betroubare leiding nodig, nie vertolkings wat op mensedenke gegrond is nie. Jy het juiste kennis van Jehovah en sy wil nodig, sowel as die nederigheid om ’n opregte student te wees. As jy die Bybel met hierdie heilsame gesindheid bestudeer, sal jy “die heilige geskrifte [leer ken], wat jou wys kan maak tot redding deur die geloof in verband met Christus Jesus”. Jy sal sien dat die Woord van God jou “volkome bevoeg kan [maak], ten volle toegerus vir elke goeie werk”.—2 Timoteus 3:15-17.
[Voetnoot]
a The Jewish Encyclopedia van 1910 sê aangaande die siel: “Die opvatting dat die siel ná die dood van die liggaam voortbestaan, is eerder ’n saak van filosofiese of teologiese bespiegeling as van eenvoudige geloof, en dit word derhalwe nêrens uitdruklik in die Heilige Skrif geleer nie.”
[Venster/Prent op bladsy 10]
DIE STAD VAN FILO
Filo het in die Egiptiese stad Aleksandrië gewoon en gewerk. Daardie stad was eeue lank die wêreldhoofstad van boeke en akademiese debatte.
Studente is deur beroemde geleerdes in die skole van die stad onderrig. Aleksandrië se biblioteek het wêreldbekend geword. Dit het mettertyd honderdduisende items bevat omdat die bibliotekarisse afskrifte van elke geskrewe dokument probeer verkry het.
Later het die wêreldwye agting vir Aleksandrië en al sy kennis geleidelik afgeneem. Keisers in Rome het voorkeur aan hulle eie stad gegee, en die kulturele sentrum het na Europa verskuif. Die agteruitgang van Aleksandrië het in die sewende eeu G.J. ’n klimaks bereik toe die stad deur invallers verower is. Tot vandag toe betreur geskiedkundiges die verlies van die beroemde biblioteek, en sommige beweer dat dit die beskawing 1 000 jaar agteruitgesit het.
[Erkenning]
L. Chapons/Illustrirte Familien-Bibel nach der deutschen Uebersetzung Dr. Martin Luthers
[Venster op bladsy 12]
HEDENDAAGSE ALLEGORIESE VERTOLKING
’n Allegorie is gewoonlik “die uitbeelding van waarhede of veralgemenings oor die menslike bestaan deur middel van simboliese, fiktiewe karakters en dade”. Verslae wat allegorieë gebruik, is glo simbolies van belangriker dinge wat daarin versteek is. Soos Filo van Aleksandrië, gebruik party hedendaagse godsdiensonderrigters allegoriese vertolking om die Bybel te verduidelik.
Kyk byvoorbeeld na Genesis hoofstukke 1-11, waarin die mensegeskiedenis van die skepping tot die verstrooiing van die volke by die toring van Babel opgeteken is. The New American Bible, ’n Katolieke vertaling, sê aangaande hierdie deel van die Bybel: “Om die waarhede wat in hierdie hoofstukke vervat is, verstaanbaar te maak vir die Israelitiese volk, wat dit sou bewaar, moes dit uitgedruk word deur middel van idees wat algemeen was onder die mense van daardie tyd. Daarom moet die eintlike waarhede duidelik onderskei word van hulle literêre gewaad.” Hierdie woorde impliseer dat Genesis hoofstukke 1-11 nie letterlik opgeneem moet word nie. Maar net soos ’n gewaad (kledingstuk) die liggaam bedek, bedek die woorde ’n dieper betekenis.
Jesus het egter geleer dat daardie eerste hoofstukke van Genesis in letterlike sin waar is (Matteus 19:4-6; 24:37-39). Die apostels Paulus en Petrus het dit ook gedoen (Handelinge 17:24-26; 2 Petrus 2:5; 3:6, 7). Opregte Bybelstudente verwerp verduidelikings wat nie met die hele Woord van God ooreenstem nie.
[Prent op bladsy 9]
Die groot vuurtoring van Aleksandrië
[Erkenning]
Archives Charmet/Bridgeman Art Library