Gesonde verstand—Waarom so skaars?
“WAT makeer hom? Hy behoort beter te weet”, sê iemand wat gesien het wat hy doen. Iemand anders skud sy kop in ongeloof en loop weg terwyl hy mompel: “As hy net ’n bietjie gesonde verstand gehad het, sou hy dit nooit gedoen het nie.” Het jy miskien al soortgelyke opmerkings gehoor? Maar wat is “gesonde verstand”?
Die woord “verstand” word omskryf as “juiste insig”, “begrip” en “praktiese wysheid of oordeel”. Dit impliseer dat ’n persoon die vermoë het om oordeel aan die dag te lê en ’n intelligente besluit te neem. Gesonde verstand behels klaarblyklik dat ons ons denkvermoë gebruik. Baie mense verkies dat ander vir hulle die dinkwerk doen. Hulle laat toe dat die media, hulle portuurs of die gewilde mening vir hulle besluit.
In vandag se wêreld is daar blykbaar so ’n gebrek aan gesonde verstand dat ’n opmerksame man eenkeer gesê het: ‘Gesonde verstand is in werklikheid baie skaars.’ Hoe kan ons gesonde verstand verkry? Watter voordele hou dit in?
Hoe word dit verkry?
Hoewel dit tyd, volgehoue bepeinsing en voortdurende inspanning verg om verstandigheid en goeie oordeel te ontwikkel, is gesonde verstand beslis binne ons bereik. Beskou drie faktore wat ons kan help om gesonde verstand te verkry.
Bestudeer die Bybel en volg die raad daarin. Die Bybel, met sy voortreflike taalgebruik en duidelike logika, is ’n uitstekende hulpmiddel om wysheid en verstandigheid te verkry (Efesiërs 1:8). Die apostel Paulus maan mede-Christene byvoorbeeld: “Alles wat waar is, alles wat van ernstige belang is, alles wat regverdig is, alles wat kuis is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug en watter lofwaardige saak daar ook al is, hou aan om hierdie dinge te bedink” (Filippense 4:8). As ons voortdurend op hierdie raad ag slaan, sal dit goeie oordeel en verstandige gedrag tot gevolg hê.
Leer uit ondervinding. ’n Switserse digter het gesonde verstand met lewensondervinding verbind en gesê: “Gesonde verstand . . . spruit voort uit ondervinding en die vermoë om vooruit te sien.” Ja, “iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe” (Spreuke 14:15). Oplettendheid, opleiding en ondervinding kan ’n mens help om gesonde verstand te ontwikkel. Ons kan met verloop van tyd leer om dinge beter te doen. Maar om uit ons foute te leer, verg nederigheid en sagmoedigheid. Die aanmatigende, hoogmoedige en eiesinnige gees van mense in hierdie laaste dae getuig nie van gesonde verstand nie.—2 Timoteus 3:1-5.
Kies jou metgeselle verstandig. Ook ons metgeselle sal ons help of verhinder om wysheid en gesonde verstand aan die dag te lê. Spreuke 13:20 sê: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan.” Ons hoef nie die denkwyse of idees te aanvaar van diegene wat ongehoorsaam aan God is en sy Woord ignoreer nie. Spreuke 17:12 stel dit so: “Laat ’n man eerder ’n beer teëkom wat van haar kleintjies beroof is as ’n sot in sy dwaasheid.”
Watter voordele hou dit in?
Dit is tot ’n mens se voordeel om gesonde verstand te ontwikkel. Dit maak die lewe interessanter en kan tyd spaar. Gesonde verstand kan selfs die frustrasie verminder wat dikwels die gevolg is as ’n mens dinge onnadenkend doen. Diegene wat goeie oordeel kortkom, maak die lewe vir hulleself moeiliker. “Die harde werk van die sotte maak hulle moeg”, sê die Bybel (Prediker 10:15). Sulke mense swoeg dalk onophoudelik en maak hulleself moeg; tog rig hulle feitlik niks uit wat werklik die moeite werd is nie.
Die Bybel voorsien ’n oorvloed praktiese raad oor sindelikheid, kommunikasie, vlytigheid, hoe om armoede die hoof te bied en baie ander aspekte van die lewe. Miljoene mense kan daarvan getuig dat die verskil tussen sukses en mislukking in hulle lewe bepaal is deur die mate waarin hulle Bybelbeginsels toegepas het, wat hulle gehelp het om wysheid aan die dag te lê.
Gesonde verstand stel ons in staat om meer te doen as om net ’n stel uitvoerige instruksies of reëls te volg. Dit help ons om ons verantwoordelikhede na te kom. Maar gesonde verstand is nie ’n plaasvervanger vir die inname van kennis nie. “’n Wyse sal luister en meer onderrigting inneem”, sê Spreuke 1:5. Ons moet ook leer om die inligting wat ons versamel, te ontleed en die regte gevolgtrekkings daaruit te maak. Dit help ons om “in wysheid [te] wandel”.—Spreuke 28:26.
Beskeidenheid gaan hand aan hand met gesonde verstand. Hoewel ons dalk baie verantwoordelikhede wil nakom, moet ons goeie oordeel aan die dag lê en ons kragte nie ooreis nie. Die apostel Paulus sê weliswaar dat ons “baie [moet hê] om in die werk van die Here te doen” (1 Korintiërs 15:58). Maar hierdie vermaning moet in ewewig gehou word met die beginsel in Prediker 9:4 dat “’n lewende hond beter daaraan toe is as ’n dooie leeu”. As ons goed na ons gesondheid omsien terwyl ons Jehovah dien, sal ons moontlik langer kan lewe en bedrywig kan bly. Gesonde verstand kan ons help om ’n redelike balans te vind wat ons in staat stel om nodige dinge gedoen te kry sonder om ons vreugde te verloor. Ja, gesonde verstand bring baie voordele mee.
[Prent op bladsy 14]
’n Oorvloed betroubare raad word in die Bybel gevind
[Prent op bladsy 15]
Gesonde verstand kan deur middel van oplettendheid, opleiding en ondervinding ontwikkel word