Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 5/1 bl. 8-13
  • Die opstanding—’n Lering wat jou raak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die opstanding—’n Lering wat jou raak
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die opstandingshoop word in die openbaar bekend gemaak
  • Geloof en die opstanding
  • Die opstandingshoop
  • Die opstanding en vriendskap met Jehovah
  • God se liefde—die grondslag van die opstandingshoop
  • Hou vas aan die “goeie nuus”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Die opstandingshoop het krag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Die Koninkryk en die opstandingshoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Die opstanding – ’n Vaste hoop!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 5/1 bl. 8-13

Die opstanding—’n Lering wat jou raak

“Ek het die hoop op God . . . dat daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees.”—HANDELINGE 24:15.

1. Hoe het die opstanding ’n geskilpunt geword voor die Sanhedrin?

AAN die einde van sy derde sendingreis in 56 G.J. was die apostel Paulus in Jerusalem. Nadat hy deur die Romeine in hegtenis geneem is, is hy toegelaat om voor die Joodse Hoë Raad, die Sanhedrin, te verskyn (Handelinge 22:29, 30). Terwyl Paulus na die lede van daardie Raad gekyk het, het hy opgemerk dat party Sadduseërs en ander Fariseërs was. Hierdie twee groepe het in een belangrike opsig van mekaar verskil. Die Sadduseërs het nie aan die opstanding geglo nie; die Fariseërs het wel daaraan geglo. Om te toon wat sy standpunt ten opsigte van daardie geskil was, het Paulus gesê: “Manne, broers, ek is ’n Fariseër, ’n seun van Fariseërs. Oor die hoop op die opstanding van die dooies word ek geoordeel.” Met hierdie woorde het hy die vergadering in verwarring gebring!—Handelinge 23:6-9.

2. Waarom was Paulus bereid om sy geloof in die opstanding te verdedig?

2 Jare vroeër, toe Paulus op die pad na Damaskus was, het hy ’n visioen gesien waarin hy Jesus se stem gehoor het. Paulus het selfs vir Jesus gevra: “Wat moet ek doen, Here?” Jesus het geantwoord: “Staan op, gaan in Damaskus in, en dáár sal jy vertel word van alles wat jou opgelê is om te doen.” Toe Paulus in Damaskus aankom, het ’n hulpvaardige Christendissipel, Ananias, hom gevind en verduidelik: “Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te leer ken en die Regverdige [die verrese Jesus] te sien en die stem van sy mond te hoor” (Handelinge 22:6-16). Dit is dus geen wonder dat Paulus bereid was om sy geloof in die opstanding te verdedig nie.—1 Petrus 3:15.

Die opstandingshoop word in die openbaar bekend gemaak

3, 4. Hoe het Paulus gewys dat hy ’n vurige voorstander van die opstanding was, en wat kan ons uit sy voorbeeld leer?

3 Paulus het later voor goewerneur Feliks verskyn. By daardie geleentheid het Tertullus, “’n openbare spreker” wat die Jode se saak teen Paulus gestel het, hom daarvan beskuldig dat hy die leier van ’n sekte is en opstand verwek. In antwoord hierop het Paulus reguit gesê: “Dít erken ek teenoor u, dat ek, ooreenkomstig die weg wat hulle ’n ‘sekte’ noem, só heilige diens aan die God van my voorvaders verrig.” Toe het hy die eintlike geskilpunt aangeroer en voorts gesê: “Ek het die hoop op God, ’n hoop wat hierdie manne self ook koester, dat daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees.”—Handelinge 23:23, 24; 24:1-8, 14, 15.

4 Omtrent twee jaar later het Feliks se opvolger, Porcius Festus, vir koning Herodes Agrippa genooi om Paulus as gevangene saam met hom te ondervra. Festus het verduidelik dat die beskuldigers Paulus se bewering betwis dat “’n sekere Jesus wat dood is, . . . lewe”. In sy verdediging het Paulus gevra: “Waarom word dit onder julle as ongelooflik geag dat God die dooies opwek?” Toe het hy gesê: “Omdat ek egter die hulp verkry het wat van God kom, gaan ek tot vandag toe voort om aan klein sowel as groot te getuig, maar ek sê niks behalwe dinge wat die Profete sowel as Moses verklaar het sou plaasvind nie, dat die Christus moes ly en dat hy, as die eerste wat uit die dode opgewek sou word, lig aan hierdie volk sowel as aan die nasies sou verkondig” (Handelinge 24:27; 25:13-22; 26:8, 22, 23). Wat ’n vurige voorstander van die opstanding was Paulus tog! Soos Paulus, kan ons ook met oortuiging verkondig dat daar ’n opstanding sal wees. Maar watter reaksie kan ons verwag? Waarskynlik dieselfde as wat Paulus gekry het.

5, 6. (a) Watter reaksie het dit uitgelok toe die apostels die opstanding verkondig het? (b) Wat is noodsaaklik wanneer ons ons hoop op die opstanding bekend maak?

5 Kyk wat vroeër gedurende Paulus se tweede sendingreis (omstreeks 49-52 G.J.) gebeur het toe hy Atene besoek het. Hy het met mense geredeneer wat aan baie gode geglo het, en hy het hulle aangespoor om te let op God se voorneme om die bewoonde aarde in regverdigheid te oordeel deur ’n man wat Hy aangestel het. Dit was niemand anders nie as Jesus. Paulus het verduidelik dat God ’n waarborg hiervoor verskaf het deur Jesus op te wek. Wat was die reaksie? Ons lees: “Wel, toe hulle van ’n opstanding van die dooies hoor, het party die spot begin dryf, terwyl ander gesê het: ‘Ons sal jou weer hieroor hoor.’”—Handelinge 17:29-32.

6 Daardie reaksie was soortgelyk aan die reaksie wat Petrus en Johannes kort ná Pinkster 33 G.J. gekry het. Die Sadduseërs het weer eens ’n belangrike rol in die geskil gespeel. Handelinge 4:1-4 vertel wat gebeur het: “En terwyl die twee met die volk gepraat het, het die hoofpriesters en die hoofman van die tempel en die Sadduseërs op hulle afgekom, ergerlik omdat hulle die volk geleer en die opstanding uit die dode in die geval van Jesus duidelik verkondig het.” Ander het egter gunstig gereageer. “Baie van dié wat na die toespraak geluister het, het . . . geglo, en die getal van die manne het omtrent vyfduisend geword.” Ons kan klaarblyklik uiteenlopende reaksies verwag wanneer ons oor die opstandingshoop praat. Met die oog hierop is dit noodsaaklik dat ons ons geloof in hierdie lering versterk.

Geloof en die opstanding

7, 8. (a) Hoe kan geloof tevergeefs wees, soos ’n brief aan die eerste-eeuse gemeente in Korinte toon? (b) Hoe onderskei ’n juiste begrip van die opstandingshoop ware Christene van valse Christene?

7 Dit was nie vir almal wat in die eerste eeu G.J. Christene geword het, maklik om die opstandingshoop te aanvaar nie. Party van dié wat dit moeilik gevind het, het met die gemeente in Korinte omgegaan. Paulus het aan hulle geskryf: “Een van die eerste dinge wat ek aan julle oorgedra het, is wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het, volgens die Skrif; en dat hy begrawe is, ja, dat hy op die derde dag opgewek is, volgens die Skrif.” Paulus het toe hierdie waarheid gestaaf deur te sê dat die verrese Christus “aan meer as vyfhonderd broers . . . verskyn” het, en hy het bygevoeg dat die meeste van hulle nog gelewe het (1 Korintiërs 15:3-8). Hy het verder geredeneer: “As daar dan nou van Christus verkondig word dat hy uit die dode opgewek is, hoe is dit dat party onder julle sê dat daar geen opstanding van die dooies is nie? As daar werklik geen opstanding van die dooies is nie, is Christus ook nie opgewek nie. Maar as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking beslis tevergeefs en is ons geloof tevergeefs.”—1 Korintiërs 15:12-14.

8 Ja, die opstanding is so ’n fundamentele lering dat die Christelike geloof tevergeefs is as die opstanding nie as ’n werklikheid aanvaar word nie. Trouens, die juiste begrip van die opstanding onderskei ware Christene van valse Christene (Genesis 3:4; Esegiël 18:4). Paulus sluit dus die lering van die opstanding in by “die grondleer” van die Christelike godsdiens. Mag ons vasbeslote wees om ‘tot volwassenheid voort te beur’. “En dit sal ons doen”, sê Paulus, “as God dit inderdaad toelaat.”—Hebreërs 6:1-3.

Die opstandingshoop

9, 10. Wat bedoel die Bybel wanneer dit na die opstanding verwys?

9 Om ons geloof in die opstanding verder te versterk, sal ons vrae hersien soos: Wat bedoel die Bybel wanneer dit na die opstanding verwys? Hoe verheerlik die lering van die opstanding Jehovah se liefde? Antwoorde op hierdie vrae sal ons nader aan God laat kom en ons terselfdertyd help om ander te onderrig.—2 Timoteus 2:2; Jakobus 4:8.

10 “Opstanding” is die vertaling vir ’n Griekse woord wat letterlik beteken “om weer op te staan”. Wat sluit hierdie uitdrukking in? Volgens die Bybel is die opstandingshoop die oortuiging dat iemand wat dood is, weer kan lewe. Die Bybel toon verder dat die persoon weer lewend gemaak word met ’n menslike of ’n geestelike liggaam, afhangende daarvan of hy ’n aardse of ’n hemelse hoop het. Ons verwonder ons oor Jehovah se liefde, wysheid en mag wat geopenbaar word in hierdie wonderlike vooruitsig op die opstanding.

11. Watter vooruitsigte bied die opstanding vir God se gesalfde knegte?

11 Jesus en sy gesalfde broers ontvang met hulle opstanding ’n geestelike liggaam wat geskik is vir diens in die hemel (1 Korintiërs 15:35-38, 42-53). Hulle sal saam dien as heersers van die Messiaanse Koninkryk, wat paradystoestande op die aarde sal bring. Onder Jesus as Hoëpriester maak die gesalfdes ’n koninklike priesterdom uit. In die nuwe wêreld van regverdigheid sal hulle die voordele van Christus se losprysoffer ten behoewe van die mensdom aanwend (Hebreërs 7:25, 26; 9:24; 1 Petrus 2:9; Openbaring 22:1, 2). Intussen is dit die begeerte van die gesalfdes wat nog op aarde lewe, om in God se oë aanneemlik te bly. Wanneer hulle sterf, sal hulle ontvang ‘wat hulle toekom’ deur middel van ’n opstanding tot onsterflike geeslewe in die hemel (2 Korintiërs 5:1-3, 6-8, 10; 1 Korintiërs 15:51, 52; Openbaring 14:13). “As ons een met hom geword het in die gelykheid van sy dood”, het Paulus geskryf, “sal ons beslis ook een met hom wees in die gelykheid van sy opstanding” (Romeine 6:5). Maar wat van diegene vir wie die opstanding weer lewe op aarde as mense sal beteken? Hoe kan die opstandingshoop hulle nader aan God laat kom? Ons kan baie leer uit die voorbeeld van Abraham.

Die opstanding en vriendskap met Jehovah

12, 13. Watter stewige grondslag vir geloof in die opstanding het Abraham gehad?

12 Abraham, wat as “Jehovah se vriend” beskryf is, was ’n man met uitsonderlike geloof (Jakobus 2:23). Paulus het drie keer na Abraham se geloof verwys in sy lys van getroue manne en vroue wat in die 11de hoofstuk van Hebreërs opgeteken is (Hebreërs 11:8, 9, 17). In sy derde verwysing vestig hy die aandag op die geloof wat Abraham geopenbaar het toe hy gehoorsaam voorbereidings getref het om sy seun Isak as ’n offerande te bring. Abraham was daarvan oortuig dat Jehovah die belofte van ’n saad deur middel van Isak sou nakom. Al sou Isak dan ook as ’n offerande sterf, het Abraham “gereken dat God hom selfs uit die dode kon opwek”.

13 Toe Jehovah sien hoe sterk Abraham se geloof is, het hy ’n dier voorsien wat in die plek van Isak geoffer kon word. Isak se ondervinding het nietemin as ’n illustrasie van die opstanding gedien, soos Paulus verduidelik het: “Daaruit het hy [Abraham] hom [Isak] dan ook, by wyse van illustrasie, ontvang” (Hebreërs 11:19). Wat meer is, Abraham het alreeds ’n stewige grondslag vir sy geloof in die opstanding gehad. Het Jehovah dan nie Abraham se voortplantingsvermoëns weer lewend gemaak toe hy en sy vrou Sara op hulle oudag bymekaargekom en hulle seun, Isak, verwek het nie?—Genesis 18:10-14; 21:1-3; Romeine 4:19-21.

14. (a) Waarop het Abraham volgens Hebreërs 11:9, 10 gewag? (b) Wat moet nog met Abraham gebeur sodat hy Koninkrykseëninge in die nuwe wêreld kan ontvang? (c) Hoe kan ons Koninkrykseëninge ontvang?

14 Paulus het Abraham beskryf as ’n inwonende vreemdeling en ’n tentbewoner wat “gewag [het] op die stad wat ware fondamente het, waarvan God die bouer en maker is” (Hebreërs 11:9, 10). Dit was nie ’n letterlike stad soos Jerusalem, waar God se tempel geleë was nie. Nee, dit was ’n simboliese stad. Dit was God se hemelse Koninkryk wat bestaan uit Christus Jesus en sy 144 000 medeheersers. Die 144 000 in hulle hemelse heerlikheid word ook “die heilige stad, Nuwe Jerusalem”, die “bruid” van Christus, genoem (Openbaring 21:2). In 1914 het Jehovah Jesus as die Messiaanse Koning van die hemelse Koninkryk gekroon en hom beveel om te midde van sy vyande te heers (Psalm 110:1, 2; Openbaring 11:15). Om die seëninge van die Koninkryksheerskappy te ontvang, sal Abraham, “Jehovah se vriend”, weer moet lewe. Vir ons om Koninkrykseëninge te ontvang, moet ons eweneens lewend wees in God se nuwe wêreld, hetsy as lede van die groot menigte Armageddon-oorlewendes of as diegene wat uit die dood opgewek is (Openbaring 7:9, 14). Maar wat is die grondslag van die opstandingshoop?

God se liefde—die grondslag van die opstandingshoop

15, 16. (a) Hoe lê die eerste profesie in die Bybel die grondslag vir ons opstandingshoop? (b) Hoe kan geloof in die opstanding ons nader aan Jehovah laat kom?

15 Ons hegte verhouding met ons liefdevolle hemelse Vader, ons sterk geloof soos dié van Abraham en ons gehoorsaamheid aan God se gebooie maak dit moontlik dat ons regverdig verklaar en deur Jehovah as sy vriende beskou kan word. Dit bied ons die vooruitsig om by die Koninkryksheerskappy baat te vind. Ja, die heel eerste profesie wat in God se Woord opgeteken is, in Genesis 3:15, lê die grondslag vir die opstandingshoop en vriendskap met God. Dit voorspel nie net dat Satan se kop vermorsel sal word nie, maar ook, in teenstelling daarmee, dat die Saad van God se vrou in die hakskeen gewond sou word. Toe Jesus aan die paal gesterf het, is hy in figuurlike sin in die hakskeen gewond. Sy opstanding op die derde dag het daardie wond genees en die weg gebaan vir beslissende optrede teen “die een . . . wat die vermoë het om die dood te veroorsaak, dit is die Duiwel”.—Hebreërs 2:14.

16 Paulus herinner ons: “Hierin beveel God sy eie liefde by ons aan, dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was” (Romeine 5:8). Waardering vir hierdie onverdiende goedhartigheid bring ons werklik nader aan Jesus en ons liefdevolle hemelse Vader.—2 Korintiërs 5:14, 15.

17. (a) Watter hoop het Job uitgespreek? (b) Wat openbaar Job 14:15 oor Jehovah, en hoe laat dit jou voel?

17 Job, ’n getroue man in voor-Christelike tye, het ook na ’n opstanding uitgesien. Satan het groot lyding vir hom veroorsaak. Anders as sy valse metgeselle, wat nooit die opstanding genoem het nie, het Job vertroosting geput uit hierdie hoop en gevra: “As ’n man sterf, kan hy weer lewe?” Job het self geantwoord: “Al die dae van my dwangarbeid sal ek wag, totdat my verligting kom.” Hy het met sy God, Jehovah, gepraat en erken: “U sal roep, en ek sal u antwoord.” Oor die gevoelens van ons liefdevolle Skepper het Job gesê: “Na die werk van u hande sal u vurig verlang” (Job 14:14, 15). Ja, Jehovah sien gretig uit na die tyd wanneer getroues in die opstanding tot die lewe sal terugkeer. Hoeveel nader laat dit ons tog aan hom kom wanneer ons nadink oor die liefde en onverdiende goedhartigheid wat hy aan ons betoon hoewel ons onvolmaak is!—Romeine 5:21; Jakobus 4:8.

18, 19. (a) Watter vooruitsig het Daniël om weer te lewe? (b) Wat sal ons in die volgende artikel hersien?

18 Die profeet Daniël, wat deur God se engel as ’n “besonder geliefde man” beskryf is, het ’n lang lewe van getroue diens gelei (Daniël 10:11, 19). Hy het sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah gehandhaaf vandat hy in 617 v.G.J. in ballingskap weggevoer is tot sy dood, ’n ruk nadat hy ’n visioen ontvang het in 536 v.G.J., die derde jaar van Kores, die koning van Persië (Daniël 1:1; 10:1). Die een of ander tyd gedurende daardie derde jaar van Kores het Daniël ’n visioen ontvang van die opmars van die wêreldmoondhede, wat in die komende groot verdrukking ’n hoogtepunt sal bereik (Daniël 11:1–12:13). Omdat Daniël die visioen nie ten volle kon verstaan nie, het hy die engeleboodskapper wat dit gebring het, gevra: “O my heer, wat sal die einde van hierdie dinge wees?” In antwoord hierop het die engel verwys na “die tyd van die einde”, waartydens “dié wat insig het, sal verstaan”. Maar watter vooruitsig het Daniël gehad? Die engel het gesê: “Jy sal rus, maar jy sal opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae” (Daniël 12:8-10, 13). Daniël sal terugkeer “in die opstanding van die regverdiges”, gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy.—Lukas 14:14.

19 Ons lewe diep in die tyd van die einde en is nader aan die begin van Christus se Duisendjarige Heerskappy as toe ons gelowiges geword het. Daarom moet ons ons afvra: ‘Sal ek in die nuwe wêreld wees om met Abraham, Job, Daniël en ander getroue manne en vroue te assosieer?’ Ons sal daar wees as ons na aan Jehovah bly en sy gebooie gehoorsaam. In ons volgende artikel sal ons verdere besonderhede omtrent die opstandingshoop hersien om vas te stel wie opgewek sal word.

Onthou jy?

• Watter reaksie het Paulus gekry toe hy sy hoop op die opstanding bekend gemaak het?

• Waarom onderskei die opstandingshoop ware Christene van valse Christene?

• Hoe weet ons dat Abraham, Job en Daniël geloof in die opstanding gehad het?

[Prent op bladsy 8]

Toe hy voor goewerneur Feliks verskyn het, het Paulus die opstandingshoop met oortuiging verkondig

[Prent op bladsy 10]

Waarom het Abraham geloof in die opstanding gehad?

[Prent op bladsy 12]

Job het vertroosting geput uit die opstandingshoop

[Prent op bladsy 12]

Daniël sal terugkeer in die opstanding van die regverdiges

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel