’n “Pim” getuig van die Bybel se historisiteit
DIE woord “pim” kom net een keer in die Bybel voor. In die dae van koning Saul moes die Israeliete hulle metaalgereedskap deur Filistynse smede laat skerp maak. “Die prys om die ploegskare en die bylpikke en die drietandwerktuie en die byle skerp te maak en om die osprikkel vas te sit, was ’n pim”, sê die Bybel.—1 Samuel 13:21.
Wat was ’n pim? Die antwoord op hierdie vraag het ’n raaisel gebly tot 1907 G.J. toe die eerste pimgewiggie by die eertydse stad Geser opgegrawe is. Vroeë Bybelvertalers het gesukkel om die woord “pim” te vertaal. Die King James Version het byvoorbeeld 1 Samuel 13:21 as volg vertaal: “Maar hulle het ’n vyl gehad vir die bylpikke en vir die ploegysters en vir die vurke en vir die byle en om die osprikkels skerp te maak.”
Vandag weet geleerdes dat ’n pim ’n gewigsmaat van gemiddeld 7,82 gram was, of omtrent twee derdes van ’n sikkel, die basiese Hebreeuse gewigseenheid. ’n Pimmaat silwerafval was die prys wat die Filistyne die Israeliete gevra het om hulle gereedskap skerp te maak. Die sikkelgewigstelsel het met die val van die koninkryk van Juda en sy hoofstad, Jerusalem, in 607 v.G.J., in onbruik geraak. Maar hoe getuig die pimmaat van die historisiteit van die Hebreeuse teks?
Party geleerdes voer aan dat die teks van die Hebreeuse Geskrifte, onder andere die boek Eerste Samuel, uit die Hellenisties-Romeinse tydperk dateer, selfs so laat as van die tweede tot die eerste eeu v.G.J. Daar word dus beweer dat “dit . . . ’onhistories’ is, van min of geen waarde in die rekonstruksie van ’n ‘bybelse’ of ’n ‘eertydse Israel’, wat albei bloot hedendaagse Joodse en Christelike literêre verdigsels is”.
Maar met verwysing na die pimmaat wat in 1 Samuel 13:21 genoem word, sê William G. Dever, professor in Nabye-Oosterse argeologie en antropologie: “[Dit] kon onmoontlik ‘versin’ gewees het deur skrywers wat in die Hellenisties-Romeinse tydperk gelewe het, etlike eeue nadat hierdie gewigte verdwyn het en vergete was. Trouens, hierdie stukkie teks in die Bybel . . . sou eers in die vroeë 20ste eeu n.C. verstaan word, toe die eerste werklike argeologiese vondste gemaak is waarop die Hebreeuse woord pîm voorgekom het.” Die professor sê verder: “As die Bybelse verhale almal ‘literêre verdigsels’ uit die Hellenisties-Romeinse tydperk is, hoe het dit dan gekom dat hierdie spesifieke verhaal in die Hebreeuse Bybel is? Iemand kan natuurlik die beswaar maak dat die pîm-voorval ‘maar net ’n besonderheid’ is. Dit is waar; maar soos goed bekend is: ‘geskiedenis bestaan uit die besonderhede’.”
[Prent op bladsy 29]
’n Pimgewigsmaat was omtrent twee derdes van ’n sikkel