Wonderwerke wat jy gesien het!
DIE woord “wonderwerk” het die sekondêre betekenis van “’n besonder opmerklike of ongewone gebeurtenis, ding of prestasie”. Ons het al almal hierdie soort wonderwerk gesien wat nie van goddelike ingryping afhanklik is nie.
Groter kennis van die fisiese natuurwette het mense in staat gestel om te bereik wat vroeër oor die algemeen as onbereikbaar beskou is. Byvoorbeeld, dinge wat die meeste mense honderd jaar gelede dalk as onmoontlik beskou het, is vandag iets alledaags as gevolg van rekenaars, televisie, ruimtetegnologie en soortgelyke hedendaagse ontwikkelinge.
Aangesien hulle besef dat hulle bloot gedeeltelike kennis het van die wetenskaplike wonders in God se skeppingswerke, erken party wetenskaplikes dat hulle nie meer met sekerheid kan sê dat iets onmoontlik is nie. Hulle kan hoogstens sê dat dit onwaarskynlik is. Hulle laat dus die weg oop vir toekomstige “wonderwerke”.
Al gebruik ons die primêre betekenis van “wonderwerk”, wat verwys na dinge “wat uit ’n bonatuurlike bron kom”, kan ons sê dat elkeen van ons al wonderwerke gesien het. Ons sien byvoorbeeld die son, maan en sterre—alles produkte uit ’n “bonatuurlike bron”, die Skepper self. Wat meer is, wie kan in volle besonderhede beskryf hoe die menseliggaam funksioneer? hoe die brein werk? of hoe die menslike embrio ontwikkel? Die boek The Body Machine sê: “Die menslike organisme, wat deur die sentrale senuweestelsel beheer en gekoördineer word, is ’n gesofistikeerde sensoriese apparaat, ’n selfregulerende mobiele enjin, ’n selfreproduserende rekenaar—’n wonderlike en in baie opsigte raaiselagtige skepping.” Die God wat “die menslike organisme” geskep het, het inderdaad ’n wonderwerk gedoen, ’n wonderwerk wat ons nog steeds verbaas. Jy het ook ander soorte wonderwerke gesien, al het jy hulle miskien nie as sodanig beskou nie.
Kan ’n boek ’n wonderwerk wees?
Daar is geen boek wat ’n groter verspreiding het as die Bybel nie. Beskou jy dit as ’n wonderwerk? Kan ons die bestaan daarvan aan ’n “bonatuurlike bron” toeskryf? Die Bybel is weliswaar ’n boek wat deur mense geskryf is, maar hulle het gesê dat hulle die gedagtes van God neergeskryf het, nie hulle eie nie (2 Samuel 23:1, 2; 2 Petrus 1:20, 21). Dink net daaraan. Daar was sowat 40 van hulle, en hulle het gedurende ’n tydperk van 1 600 jaar gelewe. Hulle het uit uiteenlopende agtergronde gekom en het herders, militêre manne, vissers, staatsamptenare, dokters, priesters en konings ingesluit. En tog kon hulle ’n enkele boodskap van hoop oordra wat waar sowel as juis is.
Jehovah se Getuies beskou die Bybel, op grond van ’n noukeurige ondersoek, “nie as die woord van mense . . . nie maar, soos dit waarlik is, as die woord van God”, soos die apostel Paulus geskryf het (1 Tessalonisense 2:13). Hulle publikasies het deur die jare heen verduidelik hoe sogenoemde weersprekings in die Bybel in ooreenstemming gebring kan word met die deurlopende boodskap daarvan. Hierdie interne harmonie is op sigself ’n bewys van goddelike outeurskap.a
Geen ander boek is nog ooit aan sulke verbete pogings onderwerp om dit te vernietig nie. Maar dit bestaan nog steeds, en boonop, ten minste gedeeltelik, in meer as 2 000 tale. Die feit dat die boek fisies behoue gebly het sowel as die integriteit van die inhoud lewer bewys van goddelike ingryping. Die Bybel is werklik ’n wonderwerk!
’n Wonderwerk wat ‘lewend is en krag uitoefen’
Die wonderwerke van vervloë tye—wonderdadige genesings en opstandings—gebeur nie meer nie. Maar ons het rede vir vertroue dat sulke wonderwerke weer in God se komende nuwe wêreld sal plaasvind, hierdie keer op ’n aardwye skaal. Dit sal permanente verligting bring en ons huidige begripsvermoë te bowe gaan.
Die Bybel, wat self ’n wonderwerk is, kan selfs vandag dinge vermag wat op wonderwerke neerkom deur mense te beweeg om hulle persoonlikhede te verbeter. (Sien ’n voorbeeld in die venster “Die krag van God se Woord”, op bladsy 8.) Hebreërs 4:12 sê: “Die woord van God is lewend en oefen krag uit en is skerper as enige tweesnydende swaard en dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees, en van gewrigte en hulle murg, en kan gedagtes en bedoelings van die hart onderskei.” Ja, die Bybel het ’n rol daarin gespeel om die lewe van meer as sesmiljoen mense regoor die aarde te verander, dit het hulle lewe ’n doel gegee en hulle ’n wonderlike hoop vir die toekoms gebied.
Laat die Bybel toe om ook in jou lewe ’n wonderwerk te doen.
[Voetnoot]
a As jy meer van hierdie sogenoemde weersprekings wil ondersoek om te sien hoe hulle opgelos kan word, kan jy baie voorbeelde daarvan vind in Die Bybel—God se woord of die mens s’n? hoofstuk 7, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Venster/Prent op bladsy 7]
REEDS DOOD OF NOG LEWEND?
Volgens Johannes 19:33, 34 was Jesus reeds dood toe ‘een van die soldate sy sy met ’n spies gesteek en bloed en water onmiddellik uitgekom het’. Maar Matteus 27:49, 50 gee te kenne dat Jesus nog gelewe het toe dit gebeur het. Waarom die verskil?
Die Mosaïese Wet het verbied dat ’n misdadiger oornag aan die teregstellingspaal hang (Deuteronomium 21:22, 23). As ’n misdadiger wat aan ’n paal gehang is, laat in die dag nog gelewe het, was dit dus in Jesus se dag gebruiklik om sy bene te breek, wat die dood sou verhaas. Hy sou dan nie meer regop kon kom om behoorlik te kan asemhaal nie. Die feit dat die soldate die bene van die twee misdadigers wat langs Jesus gehang het, gebreek het, maar syne nie, toon dat hulle gedink het dat hy dood was. Die soldaat het hom moontlik net in sy sy gesteek om alle twyfel uit die weg te ruim en om die moontlikheid uit te skakel dat hy later kon herleef en dit valslik ’n opstanding genoem kon word.
Die teks in Matteus 27:49, 50 gee ’n ander volgorde van die gebeurtenisse aan. Dit sê: “’n Ander man het ’n spies geneem en sy sy deurboor, en bloed en water het uitgekom. Jesus het weer met ’n harde stem uitgeroep en die gees gegee.” Die skuins gedrukte sin kom egter nie in alle ou Bybelmanuskripte voor nie. Baie gesaghebbendes glo dat dit later uit Johannes se Evangelie ingevoeg is, maar op die verkeerde plek. Baie vertalings plaas hierdie sin derhalwe tussen vierkantige of ronde hakies, gee ’n verklarende voetnoot of laat die sin eenvoudig geheel en al weg.
Die grondteks van Westcott en Hort, wat in groot mate gebruik is as ’n grondslag vir die Nuwe Wêreld-vertaling, plaas die sin tussen dubbelhakies. Dit sê dat daar “’n sterk vermoede moet bestaan dat [die sin] deur skrifgeleerdes ingevoeg is”.
Die oorweldigende getuienis is dan dat Johannes 19:33, 34 feitelik is en dat Jesus reeds dood was toe die Romeinse soldaat hom met die spies gesteek het.
[Venster/Prent op bladsy 8]
DIE KRAG VAN GOD SE WOORD
Detlef, ’n tiener en die slagoffer van ’n gebroke gesin, het in ’n wêreld van dwelms, alkohol en heavy metal betrokke geraak.b Hy het ’n sogenoemde skinhead geword, en sy gewelddadige gedrag het hom gou by die polisie in die moeilikheid laat beland.
In 1992 het 60 skinheads by ’n restaurant en kroeg in Noordoos-Duitsland in ’n groot bakleiery met omtrent 35 punkers betrokke geraak. Een van die punkers, Thomas, is so erg geslaan dat hy aan sy beserings gesterf het. Etlike van die voorbokke, waaronder Detlef, is tot tronkstraf gevonnis ná ’n hofsaak wat groot mediadekking gekry het.
Kort nadat Detlef uit die tronk vrygelaat is, het Jehovah se Getuies vir hom ’n pamflet gegee. Die pamflet se titel was “Waarom is die lewe so vol probleme?” Detlef het onmiddellik die waarheid daarin herken en het die Bybel saam met die Getuies begin studeer. Dit het sy lewe heeltemal verander. Hy is sedert 1996 ’n ywerige Getuie van Jehovah.
Siegfried, ’n voormalige punker, was ’n goeie vriend van Thomas, die jong man wat doodgemaak is; hy het ook later ’n Getuie geword en is nou ’n gemeentelike ouer man. Toe Siegfried Detlef se gemeente besoek het om ’n Bybeltoespraak daar te hou (terloops, Thomas se ma woon ook soms vergaderinge daar by), het Detlef hom vir middagete genooi. Sowat tien jaar gelede sou hulle hulle haat moeilik kon beheers. Vandag is hulle broederliefde duidelik sigbaar.
Detlef en Siegfried sien daarna uit om Thomas terug te verwelkom na lewe in ’n aardse paradys. Detlef sê: “As ek net daaraan dink, laat dit my oë vol trane skiet. Ek is so jammer oor wat ek gedoen het.” Dit is hulle albei se begeerte om dan vir Thomas te help, soos hulle vandag vir ander help, om Jehovah te leer ken en hom te verheug in die hoop wat die Bybel bied.
Ja, dít is die krag van God se Woord!
[Voetnoot]
b Name is verander.
[Prent op bladsy 6]
Die menseliggaam is ’n wonderlike skeppingswerk
[Erkenning]
Anatomy Improved and Illustrated, London, 1723, Bernardino Genga