Verenig deur liefde vir God
TOE die Christengemeente in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling gestig is, was eenheid een van sy uitsonderlike kenmerke—ten spyte van die diversiteit van sy lede. Hierdie aanbidders van die ware God het uit nasies in Asië, Europa en Afrika gekom. Hulle het ’n verskeidenheid agtergronde verteenwoordig—priesters, soldate, slawe, vlugtelinge, handelaars sowel as beroeps- en sakemense. Sommige was Jode en ander was nie-Jode. Baie was vantevore egbrekers, homoseksuele, dronkaards, diewe of afpersers. Maar toe hulle Christene geword het, het hulle hulle slegte gebruike laat staan en is hulle ten nouste in die geloof verenig.
Wat het die eerste-eeuse Christelike godsdiens in staat gestel om al hierdie mense in eenheid saam te bring? Waarom het hulle vrede onder mekaar en met mense oor die algemeen geniet? Waarom het hulle nie by opstande en konflikte betrokke geraak nie? Waarom was die vroeë Christelike godsdiens so verskillend van vandag se vernaamste godsdienste?
Wat het gemeentelede verenig?
Die vernaamste faktor wat medegelowiges in die eerste eeu verenig het, was liefde vir God. Daardie Christene het besef dat hulle belangrikste verpligting was om die ware God, Jehovah, met hulle hele hart, siel en verstand lief te hê. Die apostel Petrus, ’n Jood, is byvoorbeeld die opdrag gegee om die huis van ’n nie-Jood te besoek, met wie hy nie normaalweg noue omgang sou hê nie. Dit was hoofsaaklik liefde vir Jehovah wat hom beweeg het om gehoorsaam te wees. Petrus en ander vroeë Christene het ’n hegte verhouding met God gehad, wat gegrond was op juiste kennis van Sy persoonlikheid en van die dinge waarvan Hy hou en nie hou nie. Mettertyd het alle aanbidders verstaan dat dit Jehovah se wil is dat hulle “verenig [moet] wees in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang”.—1 Korintiërs 1:10; Matteus 22:37; Handelinge 10:1-35.
Verder is gelowiges deur hulle geloof in Jesus Christus verenig. Hulle wou noukeurig in sy voetstappe volg. Hy het hulle beveel: “Julle [moet] mekaar . . . liefhê; net soos ek julle liefgehad het . . . Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34, 35). Dit moes nie ’n oppervlakkige emosie wees nie, maar ’n selfopofferende liefde. Wat sou die gevolg wees? Jesus het gebid aangaande dié wat geloof in hom stel: “Ek doen [versoek dat] . . . hulle almal een kan wees, net soos u, Vader, in eenheid met my en ek in eenheid met u is, dat hulle ook in eenheid met ons kan wees.”—Johannes 17:20, 21; 1 Petrus 2:21.
Jehovah het sy heilige gees, of werkende krag, op sy ware knegte uitgestort. Hierdie gees het eenheid onder hulle bevorder. Dit het hulle ’n begrip van Bybelleringe gegee wat in al die gemeentes aanvaar is. Aanbidders van Jehovah het dieselfde boodskap verkondig—die heiliging van Jehovah se naam deur God se Messiaanse Koninkryk, ’n hemelse regering wat oor die hele mensdom gaan heers. Vroeë Christene het verstaan dat hulle “geen deel van hierdie wêreld” moet wees nie. Wanneer burgerlike opstande of militêre konflikte ontstaan het, het Christene dus neutraal gebly. Hulle het vrede met almal nagestreef.—Johannes 14:26; 18:36; Matteus 6:9, 10; Handelinge 2:1-4; Romeine 12:17-21.
Alle gelowiges het hulle verantwoordelikheid aanvaar om eenheid te bevorder. Hoe? Deur seker te maak dat hulle gedrag in ooreenstemming met die Bybel is. Daarom het die apostel Paulus aan Christene geskryf: ‘Lê die ou persoonlikheid af, wat met julle vroeëre lewenswandel ooreenkom’, en ‘beklee julle met die nuwe persoonlikheid’.—Efesiërs 4:22-32.
Eenheid word gehandhaaf
Gelowiges in die eerste eeu was natuurlik onvolmaak, en situasies het ontstaan wat hulle eenheid bedreig het. Byvoorbeeld, Handelinge 6:1-6 vertel dat onenigheid ontstaan het tussen Griekssprekende en Hebreeussprekende Joodse Christene. Die Griekssprekendes het gevoel dat daar teen hulle gediskrimineer word. Toe die apostels egter van die saak in kennis gestel is, is dit gou en regverdig reggestel. Later het ’n leerstellige vraag ’n geskil oor die verpligtinge van nie-Jode in die Christengemeente laat ontstaan. ’n Besluit wat op Bybelbeginsels gegrond is, is geneem, en hierdie besluit is alom aanvaar.—Handelinge 15:1-29.
Hierdie voorbeelde toon dat meningsverskille in die eerste-eeuse Christengemeente nie gelei het tot etniese verdeeldheid of tot onenigheid as gevolg van onbuigsaamheid in verband met leerstellings nie. Waarom nie? Omdat die verenigende faktore—liefde vir Jehovah, geloof in Jesus Christus, selfopofferende liefde vir mekaar, aanvaarding van die leiding van die heilige gees, ’n gemeenskaplike begrip van Bybelleringe en ’n bereidwilligheid om ’n mens se gedrag te verander—sterk genoeg was om die vroeë gemeente verenig en vreedsaam te hou.
Verenig in aanbidding in hedendaagse tye
Kan eenheid vandag op dieselfde manier teweeggebring word? Kan dieselfde faktore nog steeds lede van ’n geloof verenig en hulle in staat stel om in vrede te lewe met alle rasse in alle dele van die wêreld? Ja, dit kan! Jehovah se Getuies is verenig in ’n wêreldwye broederskap wat oor meer as 230 lande, eilande en gebiede strek. En hulle is verenig deur dieselfde faktore wat Christene in die eerste eeu verenig het.
Die vernaamste faktor wat tot die eenheid van Jehovah se Getuies bydra, is hulle toegewydheid aan Jehovah God. Dit beteken dat hulle daarna streef om in alle omstandighede aan hom lojaal te wees. Getuies van Jehovah beoefen ook geloof in Jesus Christus en in sy leringe. Hierdie Christene toon selfopofferende liefde vir medegelowiges en verkondig dieselfde goeie nuus van God se Koninkryk in al die lande waar hulle bedrywig is. Dit verskaf hulle vreugde om met mense van alle gelowe, rasse, nasionaliteite en sosiale groepe oor hierdie Koninkryk te praat. Jehovah se Getuies bly ook neutraal in die aangeleenthede van die wêreld, wat hulle help om die politieke, kulturele, sosiale en kommersiële druk te weerstaan wat soveel verdeeldheid onder die mensdom veroorsaak. Alle Getuies aanvaar dat hulle die verpligting het om eenheid te bevorder deur hulle in ooreenstemming met die Bybel se standaarde te gedra.
Eenheid trek ander aan
Hierdie eenheid het dikwels die belangstelling gewek van mense wat nie Getuies is nie. Byvoorbeeld, Ilsea was voorheen ’n Katolieke non in ’n klooster in Duitsland. Wat het haar tot Jehovah se Getuies aangetrek? Ilse het gesê: “Hulle is die beste mense wat ek al ooit ontmoet het. Hulle voer nie oorlog nie; hulle doen niks wat enigiemand kwaad kan aandoen nie. Hulle wil mense help om in geluk op ’n paradysaarde onder God se Koninkryk te lewe.”
Dan is daar Günther, ’n voormalige Duitse soldaat wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Frankryk gestasioneer was. Eendag het ’n Protestantse priester ’n diens vir die soldate in Günther se eenheid gehou. Die priester het vir seëninge, beskerming en oorwinning gebid. Ná die diens moes Günther gaan wagstaan. Hy het toe deur sy verkyker gesien hoe soldate aan die ander kant van die gevegslinie ook ’n diens bywoon wat deur ’n priester gehou word. Günther het later gesê: “Daardie priester het waarskynlik ook vir seëninge, beskerming en oorwinning gebid. Ek het gewonder hoe dit moontlik is vir Christenkerke om aan teenoorgestelde kante van dieselfde oorlog te wees.” Hierdie gedagtes het Günther bygebly. Toe hy later in aanraking gekom het met Jehovah se Getuies, wat nie aan oorlog deelneem nie, het Günther deel van hulle wêreldwye broederskap geword.
Ashok en Feema het aan ’n Oosterse geloof behoort. In hulle huis het hulle ’n altaar vir ’n god gehad. Toe ernstige siekte hulle gesin tref, het hulle hulle geloof weer in oënskou geneem. Gedurende hulle gesprekke met Jehovah se Getuies is Ashok en Feema beïndruk deur die leringe van die Bybel en die liefde onder die Getuies. Hulle is nou ywerige verkondigers van die goeie nuus van Jehovah se Koninkryk.
Ilse, Günther, Ashok en Feema is verenig met miljoene van Jehovah se Getuies in ’n wêreldwye broederskap. Hulle glo die Bybel se belofte dat dieselfde faktore wat hulle vandag in aanbidding verenig, binnekort alle gehoorsame mense sal verenig. Dan sal daar nie meer gruweldade, onenigheid en verdeeldheid in die naam van godsdiens wees nie. Die hele wêreld sal verenig wees in die aanbidding van die ware God, Jehovah.—Openbaring 21:4, 5.
[Voetnoot]
a Sommige van die name in hierdie artikel is verander.
[Prente op bladsy 4, 5]
Die vroeë Christene was verenig ten spyte van die feit dat hulle uit verskillende agtergronde gekom het