Vriende van God op die “Vriendskapseilande”
In 1932 het ’n seilboot kosbare saadjies na Tonga gebring. Die kaptein van die boot het die boekie “Waar is die dode?” vir Charles Vete gegee. Charles was daarvan oortuig dat hy die waarheid gevind het. ’n Ruk later het die hoofkwartier van Jehovah se Getuies Charles se versoek goedgekeur om die boekie in sy moedertaal te vertaal. Nadat hy die taak voltooi het, het hy 1 000 gedrukte boekies ontvang en dit begin versprei. Dit is hoe die saadjies van waarheid oor Jehovah se Koninkryk vir die eerste keer in die koninkryk van Tonga versprei is.
OP ’N kaart van die Stille Suidsee sal jy Tonga vind net wes van waar die internasionale datumlyn die Steenbokskeerkring kruis. Die grootste eiland, Tongatapu, is ongeveer 2 000 kilometer noordoos van Auckland, Nieu-Seeland, geleë. Tonga bestaan uit 171 eilande, waarvan 45 bewoon word. Die bekende 18de-eeuse Britse ontdekkingsreisiger James Cook het hierdie afgeleë eilande die Vriendskapseilande genoem.
Tonga het ’n bevolking van ongeveer 106 000 mense en bestaan uit drie eilandgroepe—waarvan die vernaamstes Tongatapu, Ha’apai en Vava’u is. Drie van die vyf plaaslike gemeentes van Jehovah se Getuies is in die Tongatapu-groep, wat die digste bevolk is, een is in Ha’apai en die ander een is in Vava’u. Om mense te help om God se vriende te word, het Jehovah se Getuies ’n sendinghuis en ’n vertaalkantoor naby die hoofstad, Nuku’alofa.—Jesaja 41:8.
Charles Vete het al sedert die 1930’s alom bekend gestaan as een van Jehovah se Getuies, hoewel hy eers in 1964 gedoop is. Ander het die getuieniswerk saam met hom begin doen, en in 1966 is ’n Koninkryksaal met sitplek vir 30 mense gebou. In 1970 is ’n gemeente van 20 Koninkryksverkondigers in Nuku’alofa gestig.
Sedertdien kan die vervulling van die profeet Jesaja se woorde duidelik op die Tonga-eilande gesien word: “Laat hulle heerlikheid aan Jehovah toeskryf, en laat hulle op die eilande sy lof verkondig” (Jesaja 42:12). Die Koninkrykswerk het bly groei, en baie is gehelp om ’n verhouding met Jehovah op te bou. By die streekbyeenkoms in Nuku’alofa in 2003 was daar ’n hoogtepunt van 407 byeenkomsgangers en is 5 gedoop. Die feit dat 621 mense in 2004 die Gedenkmaal bygewoon het, toon dat daar vooruitsigte op groei is.
’n Eenvoudige lewenswyse
Buite die hoofstad is daar egter beslis nog Koninkryksverkondigers nodig. Byvoorbeeld, die 8 500 mense wat op die 16 bewoonde eilande van die Ha’apai-groep bly, moet nog meer oor Bybelwaarhede vertel word. Ha’apai bestaan hoofsaaklik uit laagliggende, palmbedekte eilande met lang, wit sandstrande. Die seewater is besonder helder, en ’n mens kan dikwels meer as 30 meter diep sien. Dit is ’n besondere ondervinding om tussen die koraalriwwe en die meer as eenhonderd soorte kleurvolle tropiese visse rond te swem. Die dorpies is oor die algemeen klein. Hoewel die huise beskeie is, is hulle gebou om tropiese siklone te weerstaan.
Broodvrug- en mangobome voorsien skadu en voedsel. ’n Groot deel van die dag word gebruik om voedsel bymekaar te maak en voor te berei. Behalwe varkvleis geniet die eilanders die oorvloedige opbrengs van die see. Op familie-erwe word knolgewasse en ander soorte groente gekweek. Sitrusbome groei wild, en daar is ’n oorvloed kokospalmbome en piesangbome. Plaaslike kennis van geneeskragtige kruie, blare, bas en wortels word van een geslag na ’n ander oorgedra.
Ha’apai se grootste bate is natuurlik die vriendelike mense, wat by die rustige omgewing pas. Eenvoud is hier ’n lewenswyse. Die meeste vroue doen kunshandwerk—hulle maak mandjies, basdoek en matte. Terwyl hulle werk, sit en gesels, sing en lag die Tongaanse vroue saam onder ’n skaduboom, en hulle kinders en babas speel of slaap dikwels daar naby. En dit is oor die algemeen die vroue wat met laagwater na die riwwe gaan om skulpvis en ander eetbare seediertjies bymekaar te maak, asook die krakerige seewier wat ’n heerlike slaai maak.
Die meeste mans bestee hulle dae daaraan om tuin te maak, vis te vang, houtsnywerk te doen, bote te bou en visnette reg te maak. Mans, vroue en kinders reis van een eiland na die ander in klein, bedekte vissersbootjies om familie te besoek, mediese sorg te kry en hulle produkte van die hand te sit.
Geen plek te afgeleë vir die goeie nuus nie
Dit was teen hierdie idilliese agtergrond dat twee sendelinge en twee pionierbedienaars gedurende die Gedenkmaalseisoen van 2002 daar aangekom het. Daar is al van tyd tot tyd met die mense van Ha’apai kontak gemaak, en party het al lektuur ontvang wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word en het selfs die Bybel saam met die Getuies gestudeer.
Die vier besoekende Bybelonderrigters het drie doelwitte gehad: om Bybellektuur te versprei, tuisbybelstudies te begin en belangstellendes na die viering van die Here se Aandmaal te nooi. Al drie doelwitte is bereik. Sewe-en-negentig mense het die uitnodiging aanvaar om die Herdenking van Jesus se dood by te woon. Sommige van hulle het in oop bote gekom, ten spyte van swaar reën en sterk wind. Baie het weens die slegte weer by die plek oornag waar die Gedenkmaal gehou is en die volgende dag na hulle huise teruggekeer.
Die Gedenkmaalspreker het hom ook in ’n moeilike situasie bevind. “Ek hoef julle nie te vertel hoe skrikwekkend dit is om op dieselfde aand twee Gedenkmaaltoesprake in ’n vreemde taal te hou nie”, sê die sendeling wat die spreker was. “Julle kan julle voorstel hoe benoud ek was. Gebed was ’n groot hulp! Ek het woorde en sinstrukture onthou wat ek nie eens besef het ek ken nie.”
Omdat die evangeliedienaars die belangstelling wat reeds in die Ha’apai-eilande gevind is, verder ontwikkel het, is twee egpare van daardie gebied gedoop. In die een geval het die man in die Getuies se lektuur begin belangstel terwyl hy opleiding ontvang het om ’n priester in die plaaslike kerk te word.
Hoewel hierdie man en sy vrou arm is, het hulle altyd ’n groot finansiële bydrae gemaak wanneer hulle name in die kerk uitgeroep is tydens ’n jaarlikse fondsinsamelingsdiens. ’n Getuie wat die man voorheen besoek het, het hom gevra om sy Bybel oop te slaan en 1 Timoteus 5:8 te lees. Die apostel Paulus het geskryf: “As iemand vir sy eie mense, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige.” Hierdie Bybelbeginsel het die man se hart geraak. Hy het besef dat hy versuim om in die basiese behoeftes van sy gesin te voorsien omdat hy aan die kerk se buitensporige eise toegegee het. By die volgende jaarlikse insamelingsdiens het hy die geld in sy sak gehad, maar hy kon 1 Timoteus 5:8 nie vergeet nie. Toe sy naam uitgeroep is, het hy moedig vir die priester gesê dat sy gesin se behoeftes belangriker is. Gevolglik is die egpaar in die publiek verkleineer en deur die kerk se ouderlinge uitgeskel.
Nadat die man en sy vrou die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het, het hulle verkondigers van die goeie nuus geword. Die man sê: “Bybelwaarheid het my verander. Ek is nie meer wreed en ongevoelig teenoor my gesin nie. Ek drink nie meer te veel nie. Die mense in my dorpie kan die verskil sien wat die waarheid in my lewe gemaak het. Ek hoop dat hulle die waarheid sal liefkry soos ek dit liefgekry het.”
Die Quest word in die soektog gebruik
’n Paar maande ná die Gedenkmaal van 2002 het nog ’n seilboot ’n kosbare vrag na afgeleë Ha’apai gebring. Die 18 meter lange seilboot Quest van Nieu-Seeland het die Tonga-eilande besoek. Gary en Hetty was aan boord, tesame met hulle dogter Katie. Nege Tongaanse broers en susters en twee sendelinge het hulle op twee reise vergesel. Die plaaslike Getuies het gehelp om die boot vaardig te navigeer, soms deur ongekarteerde riwwe. Dit was nie plesierreise nie. Die mense aan boord was daar om Bybelwaarheid aan ander te leer. Hulle het ’n uitgestrekte seegebied gedek om 14 eilande te besoek. Op sommige van daardie eilande is die goeie nuus van die Koninkryk nog nooit tevore verkondig nie.
Hoe het die mense gereageer? Die seevarende verkondigers is oor die algemeen met ’n kombinasie van nuuskierigheid, hartlikheid en tradisionele eilandgasvryheid ontvang. Wanneer die eilandbewoners verstaan het wat die doel van die besoek is, het hulle hulle innige waardering daarvoor uitgespreek. Dit was vir die besoekende Getuies duidelik dat die eilandbewoners respek gehad het vir God se Woord en bewus was van hulle geestelike behoefte.—Matteus 5:3.
Die besoekers het dikwels onder die tropiese bome gesit, omring deur mense wat talle vrae oor die Skrif gehad het. Ná sononder is die Bybelbesprekings in die huise voortgesit. Die mense op een eiland het by die Getuies gepleit toe hulle vertrek: “Moenie gaan nie! Wie sal ons vrae beantwoord as julle gaan?” Een Getuie het gesê: “Dit was altyd moeilik om soveel skaapgeaarde mense wat na die waarheid honger, agter te laat. Baie saadjies van waarheid is geplant.” Toe die Quest by een eiland gekom het, het die Getuies gesien dat almal rouklere aanhet. Die dorpshoof se vrou het kort tevore gesterf. Hy het die broers persoonlik bedank dat hulle ’n boodskap van vertroosting uit die Bybel gebring het.
Dit was moeilik om op party van die eilande te kom. Hetty verduidelik: “Een eiland het geen geskikte landingsplek gehad nie, net ’n rotsbank wat ’n meter of wat hoër as die watervlak was. Ons kon die land net met ons klein rubberbootjie bereik. Eers moes ons ons sakke vir al die behulpsame mense op land gooi. Daarna moes ons, wanneer die golwe die rubberbootjie gelyk met die rand van die rotsbank gelig het, spring voordat dit weer sak.”
Nie almal aan boord was egter gesoute seemanne nie. Ná ’n twee week lange reis het die kaptein oor die terugtog na die hoofeiland Tongatapu geskryf: “Agtien uur op see lê vir ons voor. Ons kan dit nie in een skof doen nie weens dié wat seesiek word. Ons is bly om terug te gaan huis toe, maar ook baie hartseer om so baie agter te laat wat nou die Koninkryksboodskap gehoor het. Ons laat hulle in Jehovah se sorg, met sy heilige gees en die engele om hulle geestelik te help groei.”
Eilande met goeie vooruitsigte
Ongeveer ses maande nadat die Quest vertrek het, is twee spesiale pioniers, Stephen en Malaki, gestuur om predikingswerk in die Ha’apai-eilandgroep te gaan doen. Daar het hulle by die twee pas gedoopte egpare aangesluit om ander van die Bybel te leer. Lewendige besprekings word oor leerstellige sake gevoer, en die verkondigers maak goed gebruik van die Bybel.
Op 1 Desember 2003 is ’n gemeente in Ha’apai gestig, die vyfde in Tonga. Daar is baie kinders onder dié wat die vergaderinge bywoon. Hulle het geleer om aandagtig te luister. Hulle sit stil en is gretig om deel te neem wanneer gehoordeelname vereis word. Die kringopsiener het gesê dat “hulle kennis van My boek met Bybelverhale toon dat ouers hulle verantwoordelikheid om Bybelwaarheid by hulle kinders in te skerp, ernstig opneem”. Dit is duidelik dat die vooruitsigte baie goed is dat nog meer vriende van Jehovah op hierdie eilande ingesamel sal word.
Toe Charles Vete meer as 70 jaar gelede die boekie Waar is die dode? in sy moedertaal, Tongaans, vertaal het, het hy nie besef tot watter mate die Koninkryksaad in die harte van sy landgenote sou wortelskiet nie. Van daardie klein begin af het Jehovah die uitbreidende verkondiging van die goeie nuus in daardie hoekie van die aarde bly seën. Vandag kan daar waarlik gesê word dat Tonga ingesluit is onder die afgeleë eilande van die see wat hulle tot Jehovah wend (Psalm 97:1; Jesaja 51:5). Daar is nou baie vriende van Jehovah op die “Vriendskapseilande”.
[Prent op bladsy 8]
Charles Vete, 1983
[Prent op bladsy 9]
Basdoek word gemaak
[Prent op bladsy 10]
Die “Quest” is gebruik om die goeie nuus in Tonga te verkondig
[Prent op bladsy 11]
Vertaalspan, Nuku’alofa
[Foto-erkennings op bladsy 9]
Basdoek word gemaak: © Jack Fields/CORBIS; agtergrond van bladsye 8 en 9, en visvangs: © Fred J. Eckert