Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 12/1 bl. 24-29
  • Ek het op Jehovah se liefdevolle sorg vertrou

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het op Jehovah se liefdevolle sorg vertrou
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Van beroering tot tirannie
  • Gevaarlike uitstappies
  • Betrap!
  • Die lewe in ballingskap
  • Hoe kan ek Jehovah vergoed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Ek wag geduldig op Jehovah van my jeug af
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Aangemoedig deur my gesin se lojaliteit aan God
    Ontwaak!—1998
  • ‘‘Die Nazi’s kon ons nie keer nie!”
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 12/1 bl. 24-29

Lewensverhaal

Ek het op Jehovah se liefdevolle sorg vertrou

SOOS VERTEL DEUR ANNA DENZ TURPIN

“Jy is een groot ‘HOEKOM’!” het my ma glimlaggend uitgeroep. Toe ek ’n dogtertjie was, het ek my ouers met vrae bestook. Maar my ma en pa het my nooit berispe oor my kinderlike nuuskierigheid nie. Hulle het my eerder geleer om te redeneer en my eie besluite te neem, gegrond op ’n Bybelopgeleide gewete. Hoe waardevol was daardie opleiding tog! Eendag, toe ek 14 jaar oud was, het die Nazi’s my geliefde ouers van my af weggeskeur, en ek het hulle nooit weer gesien nie.

MY PA, Oskar Denz, en my ma, Anna Maria, het gewoon in Lörrach, ’n Duitse stad naby die Switserse grens. Toe hulle jonk was, was hulle aktief betrokke by die politiek, en die mense in die gemeenskap het hulle geken en gerespekteer. Maar in 1922, kort nadat hulle getrou het, het my ouers hulle beskouing van die politiek en hulle doelwitte in die lewe verander. My ma het die Bybel saam met die Bybelstudente begin studeer, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, en was verheug om te leer dat God se Koninkryk vrede op die aarde sal bring. My pa het kort daarna saam met my ma gestudeer, en hulle het die vergaderinge van die Bybelstudente begin bywoon. My pa het selfs daardie jaar vir my ma ’n Bybelstudieboek, Die Harp van God, vir Kersfees gegee. Op 25 Maart 1923 is ek, hulle enigste kind, gebore.

Watter aangename herinneringe het ek tog van ons gesinslewe—ons somerstaptogte in die rustige Swart Woud en my ma wat my leer hoe om huis te hou! Ek kan haar nog in die kombuis sien staan waar sy haar klein kok touwys probeer maak. Bowenal het my ouers my geleer om Jehovah God lief te hê en op hom te vertrou.

Ons gemeente het uit omtrent 40 ywerige Koninkryksverkondigers bestaan. My ouers het ’n besondere gawe gehad om geleenthede te skep om oor die Koninkryk te praat. Omdat hulle vroeër by gemeenskapsbedrywighede betrokke was, het hulle op hulle gemak gevoel by ander, en mense het hulle goed ontvang. Toe ek sewe geword het, wou ek ook van deur tot deur getuig. Op my eerste dag het die persoon saam met wie ek gewerk het, vir my lektuur gegee, na ’n huis gewys en eenvoudig gesê: “Gaan kyk of hulle dit wil hê.” In 1931 het ons ’n streekbyeenkoms van die Bybelstudente in Basel, Switserland, bygewoon. My ouers is daar gedoop.

Van beroering tot tirannie

Duitsland was in daardie dae in groot beroering, en verskeie politieke faksies het in die strate met mekaar slaags geraak. Een aand het gille uit die bure se huis my wakker gemaak. Twee tienerseuns het hulle broer met ’n gaffel doodgemaak omdat hulle nie met sy politieke beskouings saamgestem het nie. Vyandigheid teenoor die Jode het ook merkbaar toegeneem. Op skool moes een meisie alleen in die hoek staan bloot omdat sy Joods was. Ek het baie jammer vir haar gevoel, maar het nie besef dat ek kort voor lank self sou uitvind hoe dit voel om verstoot te word nie.

Op 30 Januarie 1933 het Adolf Hitler die kanselier van Duitsland geword. Toe die Nazi’s die swastikavlag seëvierend bo die stadsaal gehys het, het ons omtrent twee blokke daarvandaan gestaan en toekyk. By die skool het ons entoesiastiese onderwyser ons geleer om die begroeting “Heil Hitler!” te sê. Daardie middag het ek my pa daarvan vertel. Dit het hom bekommer. “Ek hou nie daarvan nie”, het hy gesê. “‘Heil’ beteken redding. As ons ‘Heil Hitler’ sê, sal dit beteken dat ons redding aan hom toeskryf in plaas van aan Jehovah. Ek glo nie dit is reg nie, maar jy moet self besluit wat jy gaan doen.”

Omdat ek besluit het om nie die Hitler-saluut te gee nie, het my skoolmaats my soos ’n uitgeworpene begin behandel. Party seuns het my selfs geslaan wanneer die onderwysers nie gekyk het nie. Uiteindelik het hulle my uitgelos, maar selfs my vriendinne het vir my gesê dat hulle pa’s hulle verbied het om met my te speel. Ek was te gevaarlik.

Twee maande nadat die Nazi’s in Duitsland aan bewind gekom het, het hulle ’n verbod op Jehovah se Getuies geplaas omdat hulle hulle as ’n gevaar vir die Staat beskou het. Stormtroepe het die kantoor in Maagdenburg gesluit en ons vergaderinge verbied. Maar omdat ons naby die grens gewoon het, het my pa vir ons permitte gekry sodat ons kon oorgaan na Basel, waar ons die Sondagvergaderinge bygewoon het. Hy het dikwels die wens uitgespreek dat ons broers in Duitsland hierdie geestelike voedsel kon ontvang om hulle te help om die toekoms moedig tegemoet te gaan.

Gevaarlike uitstappies

Nadat die kantoor in Maagdenburg gesluit is, het ’n voormalige personeellid, Julius Riffel, na Lörrach, sy tuisdorp, gekom om die ondergrondse predikingswerk te organiseer. My pa het onmiddellik aangebied om te help. Hy het my en my ma laat sit en toe verduidelik dat hy ingestem het om Bybellektuur uit Switserland in Duitsland in te bring. Hy het gesê dat dit uiters gevaarlik sou wees en dat hy enige tyd in hegtenis geneem kon word. Hy wou nie hê dat ons verplig moes voel om hierby betrokke te wees nie, want dit sou ook vir ons gevaarlik wees. My ma het dadelik gesê: “Ek sal jou help.” Hulle het al twee na my gekyk, en ek het gesê: “Ek sal ook help!”

My ma het ’n handsak gehekel wat omtrent so groot soos ’n Wagtoring was. Sy het die lektuur in ’n opening aan die een kant van die sak gesit en dit dan toegehekel. Sy het geheime sakke in my pa se klere gemaak, asook twee gordelbroekies waarin ek en sy klein Bybelstudiehulpe kon wegsteek. Elke keer dat ons dit reggekry het om ons geheime skat huis toe te bring, het ons ’n sug van verligting geslaak en Jehovah gedank. Ons het die lektuur op ons solder weggesteek.

Aanvanklik was die Nazi’s glad nie agterdogtig teenoor ons nie. Hulle het ons nie ondervra of ons huis deursoek nie. Nietemin het ons besluit op ’n kode wat ons sou gebruik om ons geestelike broers te waarsku ingeval daar moeilikheid is—4711, die naam van ’n bekende reukwater. As dit gevaarlik sou word om na die huis toe te kom, sou ons hulle waarsku—deur daardie nommer op die een of ander manier te gebruik. My pa het ook vir hulle gesê om op te kyk na ons sitkamervensters voordat hulle by die gebou inkom. As die linkervenster oop was, het dit beteken dat iets verkeerd geloop het, en dan moes hulle wegbly.

In 1936 en 1937 het die Gestapo massa-inhegtenisnemings uitgevoer en duisende Getuies in tronke en konsentrasiekampe gegooi, waar hulle uiters wreed en sadisties behandel is. Die takkantoor in Bern, Switserland, het verslae begin versamel, waarvan party uit die kampe gesmokkel is, vir ’n boek met die naam Kreuzzug gegen das Christentum (Kruistog teen die Christelike godsdiens), wat Nazi-misdade blootgelê het. Ons het die gevaarlike werk gehad om die geheime verslae oor die grens na Basel te neem. As die Nazi’s ons met daardie verbode dokumente gevang het, sou hulle ons onmiddellik in die tronk gestop het. Ek het gehuil toe ek lees van die lyding wat ons broers verduur het. Tog het ek nie bang gevoel nie. Ek het die vertroue gehad dat Jehovah en my ouers, my beste vriende, na my sou omsien.

Ek het my skoolopleiding voltooi toe ek 14 was en het as ’n klerk in ’n hardewarewinkel begin werk. Gewoonlik het ons ons koerieruitstappies op ’n Saterdagmiddag of Sondag gemaak, wanneer my pa nie gewerk het nie. Ons het gewoonlik elke twee weke gegaan. Ons het soos enige ander gesin gelyk wat die naweek op ’n uitstappie gaan, en byna vier jaar lank het die grenswagte ons nie voorgekeer of probeer deursoek nie—tot een dag in Februarie 1938.

Betrap!

Ek sal nooit die uitdrukking op my pa se gesig vergeet toe ons by die optelpunt naby Basel kom en die groot stapel lektuur sien wat op ons wag nie. Omdat die ander gesin wat koeriers was, in hegtenis geneem is, het ons ekstra boeke gehad om te dra. By die grens het ’n doeanebeampte ons agterdogtig aangekyk en beveel dat ons deursoek word. Toe hulle die boeke by ons vind, het hy sy vuurwapen op ons gerig en ons beveel om na polisiemotors daar naby te loop. Terwyl die offisiere met ons weggery het, het my pa my hand gedruk en gefluister: “Moenie ’n verraaier wees nie. Moet niemand verklap nie!” “Ek sal nie”, het ek hom verseker. Toe ons by Lörrach aankom, het hulle my geliefde pa weggeneem. Ek het hom die laaste keer gesien toe die tronkdeur agter hom toeklap.

Vier Gestapo-mans het my vier uur lank ondervra en geëis dat ek hulle die name en adresse van ander Getuies gee. Toe ek weier, het een van die amptenare woedend geword en gedreig: “Ons het ander metodes om jou te laat praat!” Ek het hulle niks vertel nie. Toe het hulle my en my ma teruggeneem na ons huis toe, wat hulle vir die eerste keer deursoek het. Hulle het my ma in hegtenis geneem en my na my tante se huis gestuur en in haar sorg geplaas, min wetende dat sy ook ’n Getuie was. Hoewel ek toegelaat is om werk toe te gaan, het vier Gestapo-mans in ’n motor voor die huis gesit om al my bewegings dop te hou terwyl ’n polisieman die sypaadjie gepatrolleer het.

’n Paar dae later het ek tydens etenstyd uit die huis gekom en ’n jong suster op haar fiets in my rigting sien ry. Terwyl sy nader gekom het, kon ek sien dat sy ’n stukkie papier vir my gaan gooi. Toe ek dit vang, het ek dadelik omgedraai om te kyk of die Gestapo gesien het wat ek gedoen het. Tot my verbasing was almal se koppe op daardie selfde oomblik agteroorgegooi terwyl hulle gelag het!

Die suster se briefie het gesê dat ek om twaalfuur na haar ouers se huis moet gaan. Maar hoe kon ek dit doen sonder om haar ouers in gevaar te stel, aangesien die Gestapo my dopgehou het? Ek het gekyk na die vier Gestapo-agente in die motor en toe na die polisieman wat op en af in die straat geloop het. Ek het nie geweet wat om te doen nie, en ek het vurig tot Jehovah gebid om my te help. Skielik het die polisieman na die motor van die Gestapo geloop en met die mans gepraat. Toe het hy in hulle motor geklim, en hulle het weggery!

Op daardie oomblik het my tante om die hoek gekom. Dit was reeds ná twaalf. Sy het die briefie gelees en gedink dat ons na die huis moet gaan soos dit gesê het, want sy het vermoed dat die broers gereël het om my na Switserland te neem. Toe ons daar aankom, het die gesin my voorgestel aan ’n man wat ek nie geken het nie, Heinrich Reiff. Hy het vir my gesê dat hy bly is ek kon veilig wegkom en dat hy gekom het om my na Switserland te help ontsnap. Hy het gesê dat hy my oor ’n halfuur in die woud sou ontmoet.

Die lewe in ballingskap

Toe ek broer Reiff daar ontmoet, het die trane oor my wange gestroom omdat ek hartseer was dat ek my ouers moes agterlaat. Alles het so vinnig gebeur. Ná ’n paar benoude oomblikke het ons by ’n groep toeriste aangesluit en die Switserse grens veilig oorgesteek.

Toe ek by die takkantoor in Bern aankom, het ek gehoor dat die broers daar my ontsnapping gereël het. Hulle het goedgunstiglik blyplek aan my voorsien. Ek het in die kombuis gewerk, wat ek baie geniet het. Maar dit was baie moeilik om in ballingskap te lewe en nie te weet wat met my ouers sou gebeur nie, wat albei tot twee jaar tronkstraf gevonnis is! Soms het hartseer en bekommernis my oorweldig, en dan het ek my in die badkamer toegesluit en gehuil. Maar ek kon gereeld met my ouers korrespondeer, en hulle het my aangemoedig om lojaal te bly.

My ouers se voorbeeld van geloof het my beweeg om my lewe aan Jehovah toe te wy, en ek is op 25 Julie 1938 gedoop. Ná ’n jaar by Bethel het ek gaan werk by Chanélaz, ’n plaas wat deur die Switserse tak gekoop is om vir die Bethelgesin voedsel te voorsien, asook huisvesting vir broers wat weens die vervolging gevlug het.

Nadat my ouers hulle tronkstraf in 1940 uitgedien het, het die Nazi’s aangebied om hulle vry te laat as hulle hulle geloof verloën. Hulle het standvastig gebly en is toe na konsentrasiekampe gestuur, my pa na Dachau en my ma na Ravensbrück. In die winter van 1941 het my ma en ander Getuie-vroue in die kamp geweier om werk vir die leër te doen. As hulle straf moes hulle 3 dae en 3 nagte in die koue staan, waarna hulle in donker selle toegesluit is en vir 40 dae op ’n hongerdieet geplaas is. Daarna is hulle geslaan. My ma is op 31 Januarie 1942 oorlede, drie weke nadat sy wreed geslaan is.

My pa is oorgeplaas van Dachau na Mauthausen in Oostenryk. In hierdie kamp het die Nazi’s gevangenes stelselmatig vermoor deur verhongering en uitmergelende fisiese arbeid. Maar ses maande ná my ma se dood het die Nazi’s ’n ander metode gebruik om my pa te vermoor—mediese eksperimente. Die kampdokters het menslike proefkonyne doelbewus met tering besmet. Later is die gevangenes ’n dodelike inspuiting in die hart gegee. Die amptelike verslag sê dat my pa weens “’n swak hartspier” gesterf het. Hy was 43 jaar oud. Ek het eers maande later van die gruwelike moorde gehoor. Die herinneringe aan my geliefde ouers bring nog steeds trane in my oë. Maar ek word nou, soos destyds, vertroos deur die wete dat my ma en pa, wat die hoop op hemelse lewe gehad het, veilig in Jehovah se hande is.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het ek die voorreg gehad om die 11de klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead in New York by te woon. Hoe wonderlik was dit tog om vyf maande lank in ’n studie van die Skrif verdiep te wees! Toe ek in 1948 gegradueer het, is ek as ’n sendeling na Switserland gestuur. Kort daarna het ek James L. Turpin ontmoet, ’n getroue broer wat aan die vyfde klas van Gilead gegradueer het. Toe die eerste takkantoor in Turkye geopen is, het hy as die opsiener daarvan gedien. Ons is in Maart 1951 getroud en het kort daarna uitgevind dat ons ouers gaan word! Ons het na die Verenigde State getrek en daardie Desember ons babadogter, Marlene, in die wêreld verwelkom.

Deur die jare heen het ek en Jim groot vreugde uit ons Koninkryksdiens geput. Ek onthou ’n Bybelstudent, ’n jong Chinese vrou met die naam Penny, wat dit baie geniet het om die Bybel te bestudeer. Sy is gedoop en het later met Guy Pierce getrou, wat nou op die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies dien. Sulke dierbare mense het gehelp om die leemte te vul wat die dood van my ouers gelaat het.

Vroeg in 2004 het die broers in Lörrach, my ouers se tuisdorp, ’n nuwe Koninkryksaal in Stichstraat gebou. Ter erkenning van wat Jehovah se Getuies gedoen het, het die stadsraad besluit om die straat ter ere van my ouers tot Denzstraße (Denzstraat) te hernoem. Die plaaslike koerant, Badische Zeitung, het onder die opskrif “Ter gedagtenis aan die vermoorde Denz-egpaar: Nuwe straatnaam” gesê dat my ouers “gedurende die Derde Ryk weens hulle geloof in ’n konsentrasiekamp vermoor is”. Hierdie optrede deur die stadsraad was onverwags maar uiters hartverblydend.

My pa het altyd gesê dat ons vooruit moet beplan asof Armageddon nie in ons leeftyd sal kom nie, maar dat ons moet lewe asof dit môre gaan kom—kosbare raad wat ek nog altyd probeer toepas het. Dit is nie altyd maklik om geduld in ewewig te hou met gretige verwagting nie, veral aangesien die ouderdom my so afgetakel het dat ek nie meer die huis kan verlaat nie. Maar ek het nog nooit getwyfel aan Jehovah se belofte aan al sy getroue knegte nie: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart . . . Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.”—Spreuke 3:5, 6.

[Venster/Prent op bladsy 29]

KOSBARE WOORDE UIT DIE VERLEDE

In die 1980’s het ’n vrou van ’n dorpie wat redelik ver van Lörrach af is, daar besoek afgelê. Gedurende dié tyd het die dorpsmense besittings wat hulle nie meer wou hê nie, na ’n openbare plek gebring waar ander daardeur kon kyk en kon neem wat hulle wou hê. Hierdie vrou het ’n naaldwerkkissie gevind en dit huis toe geneem. Later het sy in die bodem van die kissie foto’s van ’n jong meisie gekry, asook briewe wat geskryf is op skryfpapier wat in die konsentrasiekampe gebruik is. Die briewe het die vrou gefassineer, en sy het gewonder wie die dogtertjie met die vlegsels was.

Eendag in 2000 het die vrou ’n koerantartikel oor ’n geskiedkundige uitstalling in Lörrach gesien. Die artikel het die geskiedenis van Jehovah se Getuies gedurende die Nazi-jare bespreek, en daar is ook melding gemaak van ons gesin. Dit het foto’s van my as ’n tiener bevat. Die vrou het die ooreenkoms gesien, met die joernalis in aanraking gekom en haar van die briewe vertel—altesaam 42! ’n Paar weke later het ek dit in my hande gehad. Hier, in my ouers se handskrif, was hulle voortdurende navrae aan my tante oor my. Hulle liefdevolle besorgdheid oor my het nooit opgehou nie. Dit is ’n wonder dat hierdie briewe behoue gebly het en ná meer as 60 jaar weer te voorskyn gekom het!

[Prente op bladsy 25]

Ons gelukkige gesin is uitmekaargeskeur toe Hitler aan bewind gekom het

[Erkenning]

Hitler: U.S. Army photo

[Prente op bladsy 26]

1. Die kantoor in Maagdenburg

2. Die Gestapo het duisende Getuies in hegtenis geneem

[Prent op bladsy 28]

Ek en Jim het groot vreugde uit ons Koninkryksdiens geput

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel