Paradys—Vir Jou?
“Ek ken ’n mens in eenheid met Christus wat . . . tot in die paradys weggeruk is.”—2 Korintiërs 12:2-4.
1. Watter beloftes in die Bybel is vir baie aantreklik?
PARADYS. Kan jy onthou hoe jy gevoel het toe jy vir die eerste keer van God se belofte van ’n aardse paradys gehoor het? Dink aan toe jy geleer het dat ‘die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit sal word en dat die wildernis sal uitbreek’ in oorvloedige prag. Of wat van die profesie dat die wolf by die lam en die boklam by die luiperd sal wees? Was jy nie verheug om te lees dat afgestorwe dierbares opgewek sal word met die vooruitsig om vir ewig in daardie Paradys te lewe nie?—Jesaja 11:6; 35:5, 6; Johannes 5:28, 29.
2, 3. (a) Waarom kan daar gesê word dat jou Bybelse hoop nie ongegrond is nie? (b) Watter verdere grondslag vir hoop het ons?
2 Jou hoop is nie ongegrond nie. Jy het alle rede om die Bybel se beloftes oor daardie Paradys te glo. Jy glo byvoorbeeld Jesus se woorde aan die kwaaddoener wat langs hom aan die paal gehang het: “Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Jy stel vertroue in die belofte: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon.” Jy glo ook die belofte dat God ons trane sal afvee; dat die dood nie meer daar sal wees nie; dat verdriet, angsgeroep en pyn uit die weg geruim sal wees. Dit beteken dat daar weer ’n paradys op aarde sal wees!—2 Petrus 3:13; Openbaring 21:4.
3 Nog ’n grondslag vir hierdie hoop op die Paradys is iets waarvan Christene regoor die aarde alreeds deel is. Wat is dit? God het ’n geestelike paradys geskep en het sy knegte daarin gebring. Die uitdrukking “geestelike paradys” klink dalk abstrak, na iets wat moeilik is om te begryp, maar so ’n paradys is voorspel en dit bestaan werklik.
’n Visioen van die Paradys
4. Van watter visioen maak 2 Korintiërs 12:2-4 melding, en wie het dit heel moontlik gehad?
4 Let in dié verband op wat die apostel Paulus geskryf het: “Ek ken ’n mens in eenheid met Christus wat . . . na die derde hemel weggeruk is. Ja, ek ken so ’n mens—of dit in die liggaam of geskei van die liggaam was, weet ek nie, God weet—dat hy tot in die paradys weggeruk is en onuitspreeklike woorde gehoor het wat dit ’n mens nie geoorloof is om te spreek nie” (2 Korintiërs 12:2-4). Hierdie gedeelte volg onmiddellik op die verse waarin Paulus sy apostelskap verdedig het. Verder praat die Bybel van niemand anders wat so ’n ondervinding gehad het nie, en Paulus is die een wat ons daarvan vertel. Dit was dus heel moontlik Paulus wat hierdie visioen gehad het. Watter “paradys” het hy gedurende hierdie bonatuurlike ondervinding binnegegaan?—2 Korintiërs 11:5, 23-31.
5. Wat het Paulus nie gesien nie, en watter soort “paradys” was dit dus?
5 Die konteks dui nie daarop dat “die derde hemel” na die atmosfeer om ons aarde verwys of na die buitenste ruimte of na enige ander heelal, wat moontlik volgens astrofisici bestaan nie. Die Bybel gebruik dikwels die syfer drie om klem, intensiteit of groter krag aan te dui (Prediker 4:12; Jesaja 6:3; Matteus 26:34, 75; Openbaring 4:8). Wat Paulus in die visioen gesien het, was dus hoog of verhewe. Dit was geestelik.
6. Watter geskiedkundige gebeure gee insig in wat Paulus gesien het?
6 Vroeëre Bybelprofesieë gee ons insig in die saak. Nadat God se eertydse volk ontrou aan hom was, het hy besluit om die Babiloniërs teen Juda en Jerusalem te laat optrek. Dit het gelei tot die vernietiging wat volgens Bybelchronologie in 607 v.G.J. plaasgevind het. Profesie het getoon dat die land 70 jaar woes sou lê; daarna sou God berouvolle Jode toelaat om terug te keer en ware aanbidding te herstel. Dit het vanaf 537 v.G.J. plaasgevind (Deuteronomium 28:15, 62-68; 2 Konings 21:10-15; 24:12-16; 25:1-4; Jeremia 29:10-14). Maar wat van die land self? Gedurende daardie 70 jaar het dit ’n wildernis, ’n dorre landstreek, die woonplek van jakkalse geword (Jeremia 4:26; 10:22). Nietemin was daar hierdie belofte: “Jehovah sal Sion beslis vertroos. Hy sal al sy verwoeste plekke vir seker vertroos, en hy sal sy wildernis soos Eden maak en sy woestynvlakte soos die tuin [of Paradys, Septuagint] van Jehovah.”—Jesaja 51:3; voetnoot in NW.
7. Wat sou gebeur ná die 70 jaar dat die land woes gelê het?
7 Dit het ná die 70 jaar gebeur. Met God se seën het toestande verbeter. Stel jou hierdie toneel voor: “Die wildernis en die waterlose streek sal jubel, en die woestynvlakte sal bly wees en bloei soos die saffraan. Dit sal vir seker bloei, en dit sal werklik bly wees met blydskap en met vreugdegeroep. . . . Dan sal die kreupele net soos ’n takbok klim, en die tong van die stomme sal van vreugde uitroep. Want in die wildernis sal waters uitbreek, en strome in die woestynvlakte. En die verskroeide grond sal soos ’n rietpoel word, en die dorsland soos waterfonteine. In die woonplek van jakkalse, ’n rusplek vir hulle, sal daar groen gras met riete en papirusplante wees.”—Jesaja 35:1-7.
’n Volk word herstel en ondergaan verandering
8. Hoe weet ons dat Jesaja hoofstuk 35 op mense van toepassing is?
8 Wat ’n verandering! Van ’n woesteny tot ’n paradys. Maar hierdie en ander betroubare profesieë het getoon dat daar ook ’n verandering in mense sou plaasvind, wat vergelyk kon word met ’n woeste landstreek wat vrugbaar word. Waarom kan ons dit sê? Wel, Jesaja het die aandag gevestig op “dié wat deur Jehovah losgekoop is”, wat na hulle land sou terugkeer “met vreugdegeroep” en wat “verheuging en blydskap” sou verkry (Jesaja 35:10). Dit was nie van toepassing op die letterlike grond nie, maar op mense. Verder het Jesaja elders aangaande die volk wat in Sion herstel sou word, voorspel: “Hulle moet groot bome van regverdigheid genoem word, wat deur Jehovah geplant is . . . Want soos die aarde sy uitspruitsel voortbring, . . . [so sal] Jehovah regverdigheid en lof voor al die nasies laat uitspruit.” Jesaja het ook van God se volk gesê: “Jehovah sal jou sekerlik voortdurend lei . . . , en hy sal jou gebeente krag gee; en jy moet word soos ’n tuin wat goed natgelei word” (Jesaja 58:11; 61:3, 11; Jeremia 31:10-12). Net soos die fisiese toestand van die letterlike land dus sou verbeter, sou daar veranderinge in die herstelde Joodse volk wees.
9. Watter “paradys” het Paulus gesien, en wanneer het dit tot stand gekom?
9 Hierdie geskiedkundige voorbeeld help ons om te verstaan wat Paulus in die visioen gesien het. Dit sou betrekking hê op die Christengemeente, waarna hy verwys het as “God se saailand wat bewerk word” en wat vrugbaar moes wees (1 Korintiërs 3:9). Wanneer sou hierdie visioen vervul word? Paulus het wat hy gesien het, ’n ‘openbaring’ genoem, iets toekomstigs. Hy het geweet dat daar groot afvalligheid ná sy dood sou ontstaan (2 Korintiërs 12:1; Handelinge 20:29, 30; 2 Tessalonisense 2:3, 7). Ware Christene kon nouliks met ’n vrugbare tuin vergelyk word terwyl afvalliges die oorhand gehad en hulle blykbaar oorskadu het. Nietemin sou die tyd aanbreek wanneer ware aanbidding weer eens verhef sou word. God se volk sou herstel word sodat ‘die regverdiges so helder soos die son kon skyn in die koninkryk van hulle Vader’ (Matteus 13:24-30, 36-43). Dit het in werklikheid plaasgevind ’n paar jaar nadat God se Koninkryk in die hemel opgerig is. En met die verloop van die dekades word dit al hoe duideliker dat God se volk ’n geestelike paradys geniet, wat Paulus in daardie visioen vooruitgesien het.
10, 11. Waarom kan ons sê dat ons in ’n geestelike paradys is, al is ons onvolmaak?
10 Ons weet weliswaar dat ons as individue onvolmaak is, en daarom verbaas dit ons nie dat daar van tyd tot tyd probleme onder ons ontstaan nie, net soos dit die geval was onder Christene in Paulus se dag (1 Korintiërs 1:10-13; Filippense 4:2, 3; 2 Tessalonisense 3:6-14). Maar dink aan die geestelike paradys wat ons nou geniet. In vergelyking met die siek toestand waarin ons voorheen verkeer het, is ons nou geestelik genees. En terwyl ons voorheen uitgehonger was, is ons nou geestelik goed gevoed. God se knegte sukkel nie voort in ’n dor geestelike land nie, maar hulle geniet sy goedkeuring en ’n oorvloed seëninge (Jesaja 35:1, 7). Ons is nie blind en in geestelike duisternis vasgevang nie, maar ons geniet die lig van vryheid en van God se guns. Baie wat as ’t ware doof was vir Bybelprofesieë, kan nou met begrip hoor wat die Skrif sê (Jesaja 35:5). Byvoorbeeld, miljoene van Jehovah se Getuies regoor die aarde het Daniël se profesie vers vir vers bestudeer. Daarna het hulle elke hoofstuk van die Bybelboek Jesaja noukeurig ondersoek. Is hierdie verkwikkende geestelike voedsel nie ’n bewys van ons geestelike paradys nie?
11 Dink ook aan die veranderinge wat opregtes uit alle agtergronde in hulle persoonlikheid aangebring het namate hulle daarna gestreef het om God se Woord te verstaan en toe te pas. Hulle het hulle daarop toegelê om die dierlike eienskappe af te lê wat hulle voorheen geopenbaar het. Miskien het jy dit gedoen en merkwaardige resultate gesien, en dieselfde geld vir jou geestelike broers en susters (Kolossense 3:8-14). Wanneer jy met ’n gemeente van Jehovah se Getuies omgaan, is jy derhalwe saam met mense wat vredeliewender en vriendeliker geword het. Nee, hulle is nog nie volmaak nie, maar hulle kan beslis nie beskryf word as verskeurende leeus of wrede wilde diere nie (Jesaja 35:9). Wat toon hierdie vreedsame geestelike assosiasie? Ongetwyfeld dat ons ’n geestelike toestand geniet wat ons tereg ’n geestelike paradys noem. En ons geestelike paradys is ’n voorskou van ’n aardse paradys wat ons sal geniet as ons aan God lojaal bly.
12, 13. Wat moet ons doen om in ons geestelike paradys te bly?
12 Nietemin is daar iets wat ons nie oor die hoof moet sien nie. God het vir die Israeliete gesê: “Julle moet die hele gebod onderhou wat ek jou vandag beveel, sodat julle sterk kan word en inderdaad kan ingaan en die land in besit kan neem” (Deuteronomium 11:8). In Levitikus 20:22, 24 word daar van dieselfde land melding gemaak: “Julle moet al my insettinge en al my regterlike beslissings onderhou en dit nakom, sodat die land waarheen ek julle bring om daarin te woon, julle nie uitbraak nie. Daarom het ek vir julle gesê: ‘Wat julle betref, julle sal hulle land in besit neem, en wat my betref, ek sal dit aan julle gee om dit in besit te neem, ’n land wat oorloop van melk en heuning.’” Ja, ’n goeie verhouding met Jehovah God was nodig om die Beloofde Land in besit te neem. Omdat die Israeliete nie aan God gehoorsaam was nie, het hy toegelaat dat die Babiloniërs hulle verower en hulle van hulle woonplek af wegneem.
13 Daar is baie dinge omtrent ons geestelike paradys wat ons kan waardeer. Die milieu is aangenaam en kalmerend. Ons geniet vrede met Christene wat hard gewerk het om dierlike eienskappe af te lê. Hulle streef daarna om goedhartig en behulpsaam te wees. Maar meer as net ’n goeie verhouding met hierdie persone is nodig as ons in ons geestelike paradys wil bly. Ons moet ’n goeie verhouding met Jehovah hê en sy wil doen (Miga 6:8). Ons het uit vrye wil in hierdie geestelike paradys gekom, maar ons kan daaruit wegdryf—of daaruit gesit word—as ons ons nie daarop toelê om ons verhouding met God te bewaar nie.
14. Wat sal ons help om in die geestelike paradys te bly?
14 Iets belangriks wat ons sal help, is om voortdurend deur die Woord van God versterk te word. Let op die beeldspraak wat in Psalm 1:1-3 gebruik word: “Gelukkig is die man wat nie in die raad van die goddeloses gewandel het [nie] . . . Maar sy behae is in die wet van Jehovah, en in sy wet lees hy dag en nag op gedempte toon. En hy sal beslis word soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verwelk nie, en alles wat hy doen, sal suksesvol wees.” Verder voorsien die Bybelpublikasies van die “getroue en verstandige slaaf”-klas ons van geestelike voedsel in die geestelike paradys.—Matteus 24:45-47.
Verskerp jou beeld van die Paradys
15. Waarom kon Moses die Israeliete nie tot in die Beloofde Land lei nie, maar wat het hy gesien?
15 Kyk na nog ’n voorskou van die Paradys. Nadat Israel 40 jaar lank in die wildernis rondgetrek het, het Moses hulle na die vlaktes van Moab, oos van die Jordaanrivier, gelei. Weens ’n oortreding wat Moses vroeër begaan het, het Jehovah gesê dat Moses Israel nie oor die Jordaan sou lei nie (Numeri 20:7-12; 27:12, 13). Moses het God gesmeek: “Laat my asseblief oortrek en die goeie land sien wat oorkant die Jordaan lê.” Al kon Moses dit nie binnegaan nie, het hy, nadat hy teen die berg Pisga opgeklim en verskillende dele van daardie land gesien het, ongetwyfeld besef dat dit ’n “goeie land” is. Hoe dink jy het daardie land gelyk?—Deuteronomium 3:25-27.
16, 17. (a) Hoe het die Beloofde Land in die ou tyd verskil van die land in onlangser tye? (b) Waarom kan ons glo dat die Beloofde Land voorheen soos ’n paradys was?
16 As jy jou beskouing van daardie land baseer op hoe die grootste deel van daardie streek in onlangse tye lyk, sal jy dalk dink aan ’n droë land van sand, rotsagtige woestyne en versengende hitte. Daar is egter rede om te glo dat die gebied in Bybeltye oor die algemeen heeltemal anders was. In die tydskrif Scientific American het water-en-gronddeskundige dr. Walter C. Lowdermilk verduidelik dat die land in hierdie gebied “deur ’n millennium van misbruik beskadig is”. Hierdie agronoom het geskryf: “Die ‘woestyn’ wat die eens florerende land oorgeneem het, is nie deur die natuur nie, maar deur mense veroorsaak.” Trouens, sy studies het getoon dat “hierdie land eens op ’n tyd ’n herdersparadys was”. ’n Gebied wat voorheen “’n herdersparadys” was, is dus deur die mens se misbruik beskadig.a
17 Wanneer jy nadink oor wat jy in die Bybel gelees het, sien jy dalk hoe logies daardie gevolgtrekking is. Onthou watter versekering Jehovah die volk deur middel van Moses gegee het: “Die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem, is ’n land van berge en valleivlaktes. Van die reën van die hemel drink dit water; ’n land waarvoor Jehovah jou God sorg.”—Deuteronomium 11:8-12.
18. Hoe het Jesaja 35:2 die Israeliete in ballingskap ’n idee gegee van hoe die Beloofde Land sou lyk?
18 Die Beloofde Land se pragtige natuurskoon en vrugbaarheid was van so ’n aard dat die blote vermelding van sekere plekke mense aan paradysagtige toestande laat dink het. Dit blyk duidelik uit die profesie in Jesaja hoofstuk 35, wat sy eerste vervulling gehad het toe die Israeliete van Babilon af teruggekeer het. Jesaja het voorspel: “Dit sal vir seker bloei, en dit sal werklik bly wees met blydskap en met vreugdegeroep. Die heerlikheid van die Libanon sal daaraan gegee word, die prag van Karmel en van Saron. Daar sal dié wees wat die heerlikheid van Jehovah sal sien, die prag van ons God” (Jesaja 35:2). Die verwysing na Libanon, Karmel en Saron het die Israeliete ongetwyfeld ’n bevredigende en pragtige toneel voor hulle geestesoog laat sien.
19, 20. (a) Beskryf die gebied van eertydse Saron. (b) Wat is een manier waarop ons ons hoop op die Paradys kan versterk?
19 Dink aan Saron, ’n kusvlakte tussen die heuwels van Samaria en die Groot See, of die Middellandse See. (Sien die foto op bladsy 10.) Dit was bekend vir sy natuurskoon en vrugbaarheid. Aangesien dit waterryk was, was dit geskik vir weiding, maar dit het ook eikewoude in die noordelike dele gehad (1 Kronieke 27:29; Hooglied 2:1, voetnoot in NW; Jesaja 65:10). Jesaja 35:2 het dus ’n herstel en ’n land in volle prag voorspel, ’n land wat soos ’n paradys sou word. Hierdie profesie het ook vooruitgewys na ’n wonderlike geestelike paradys, in ooreenstemming met wat Paulus later in sy visioen gesien het. Laastens versterk hierdie profesie, tesame met ander profesieë, ons hoop op ’n aardse paradys vir die mensdom.
20 Terwyl ons in ons geestelike paradys woon, kan ons ons waardering daarvoor vergroot en ons hoop op die Paradys op aarde versterk. Hoe? Deur ons begrip van wat ons in die Bybel lees, te verbreed. Die Bybel se beskrywings en profesieë verwys dikwels na spesifieke plekke. Sal jy daarvan hou om beter te verstaan waar hierdie plekke was en wat hulle ligging in verhouding met ander gebiede was? Ons sal in die volgende artikel bespreek hoe jy dit tot jou eie voordeel kan doen.
[Voetnoot]
a Denis Baly sê in The Geography of the Bible: “Die algemene aard van die plantegroei het sekerlik baie groot veranderinge sedert Bybeltye ondergaan.” Die oorsaak? “Die mens het hout nodig gehad waarmee hy kon vuur maak sowel as bou, en daarom . . . het hy die bome begin afkap en sodoende die land aan die aanslae van die weer blootgestel. Die gevolg van hierdie inmenging in die omgewing was dat die klimaat . . . geleidelik die grootste faktor in die vernietiging daarvan geword het.”
Onthou jy?
• Watter “paradys” het die apostel Paulus in ’n visioen gesien?
• Wat was die eerste vervulling van Jesaja hoofstuk 35, en hoe hou dit verband met wat Paulus in ’n visioen gesien het?
• Hoe kan ons ons waardering vir ons geestelike paradys en ons hoop op ’n aardse paradys versterk?
[Prent op bladsy 10]
Die vlakte van Saron, ’n vrugbare gebied in die Beloofde Land
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Prent op bladsy 12]
Moses het besef dat dit ’n “goeie land” was