Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 9/1 bl. 30-31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Soortgelyke materiaal
  • Wie gaan hemel toe?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Die triomfantlike nuwe lied word gesing
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Openbaring – Wat dit vir jou toekoms beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Die “blye tyding” in die Apokalips
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 9/1 bl. 30-31

Vrae van lesers

Waarom beskou Jehovah se Getuies die getal 144 000 in die boek Openbaring as letterlik en nie as simbolies nie?

Die apostel Johannes het geskryf: “Ek het die getal gehoor van dié wat verseël is, honderd-vier-en-veertigduisend” (Openbaring 7:4). In die Bybel verwys die uitdrukking “dié wat verseël is”, na ’n groep persone wat uit die mensdom gekies is om saam met Christus in die hemel oor die komende Paradysaarde te heers (2 Korintiërs 1:21, 22; Openbaring 5:9, 10; 20:6). Hulle getal, 144 000, word om verskeie redes as letterlik beskou. Een rede word in die konteks van Openbaring 7:4 gevind.

Nadat die apostel Johannes in ’n visioen vertel is van hierdie groep van 144 000 persone, is hy ’n ander groep gewys. Johannes het hierdie tweede groep beskryf as “’n groot menigte, wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale”. Hierdie groot menigte verwys na diegene wat die komende “groot verdrukking” sal oorleef, waartydens die teenswoordige goddelose wêreld vernietig sal word.—Openbaring 7:9, 14.

Maar let op die teenstelling wat Johannes tussen verse 4 en 9 van Openbaring hoofstuk 7 maak. Hy sê dat die eerste groep, “dié wat verseël is”, ’n bepaalde aantal lede het. Maar die tweede groep, “’n groot menigte”, het nie ’n bepaalde aantal lede nie. As ons dit in aanmerking neem, is dit logies om die getal 144 000 as letterlik te beskou. As die getal 144 000 simbolies was en na ’n groep sonder ’n bepaalde getal verwys het, sou die trefkrag van die teenstelling tussen hierdie twee verse verlore wees. Die konteks is dus ’n sterk aanduiding dat die getal 144 000 as letterlik beskou moet word.

Verskeie Bybelgeleerdes van die verlede en die hede het tot dieselfde gevolgtrekking gekom—dit wil sê dat die getal letterlik is. Sowat 100 jaar gelede het die Britse leksikograaf dr. Ethelbert W. Bullinger byvoorbeeld oor Openbaring 7:4, 9 kommentaar gelewer en gesê: “Dit is eenvoudig ’n feit wat gemeld word: ’n bepaalde getal in teenstelling met die onbepaalde getal in dieselfde hoofstuk” (The Apocalypse or “The Day of the Lord”, bladsy 282). Korter gelede het Robert L. Thomas jr., professor in Nuwe-Testamentiese studies aan Die Meester se Kweekskool in die Verenigde State, geskryf: “Die saak vir simboliek het nie ’n vaste grondslag nie.” Hy het bygevoeg: “Dit is ’n bepaalde getal [in 7:4] in teenstelling met die onbepaalde getal van 7:9. Indien dit as simbolies beskou word, kan geen getal in die boek as letterlik beskou word nie.”—Revelation: An Exegetical Commentary, Deel 1, bladsy 474.

Party voer aan dat al die getalle in Openbaring, met inbegrip van die getal 144 000, simbolies moet wees aangesien hierdie boek hoogs simboliese taal bevat (Openbaring 1:1, 4; 2:10). Maar dié gevolgtrekking is klaarblyklik nie reg nie. Openbaring bevat weliswaar baie simboliese getalle, maar dit sluit ook letterlike getalle in. Johannes praat byvoorbeeld van “die twaalf name van die twaalf apostels van die Lam” (Openbaring 21:14). Dit is duidelik dat die getal 12 in hierdie vers letterlik is, nie simbolies nie. En die apostel Johannes skryf oor “die duisend jaar” van Christus se heerskappy. Hierdie getal moet ook as letterlik beskou word, soos ’n noukeurige ondersoek van die Bybel toon (Openbaring 20:3, 5-7).a Of ’n getal in Openbaring as letterlik of simbolies beskou moet word, hang dus af van die agtergrond en konteks daarvan.

Die gevolgtrekking dat die getal 144 000 letterlik is en na ’n beperkte getal persone verwys, ’n betreklike klein groepie in vergelyking met die “groot menigte”, stem ook ooreen met ander Skrifgedeeltes. Later in die visioen wat die apostel Johannes sien, word die 144 000 byvoorbeeld beskryf as dié wat “uit die mensdom gekoop [is] as eerstelinge” (Openbaring 14:1, 4). Die woord “eerstelinge” verwys na ’n klein verteenwoordigende versameling. En terwyl Jesus op die aarde was, het hy gepraat van dié wat saam met hom in sy hemelse Koninkryk sal regeer en hulle ’n “klein kuddetjie” genoem (Lukas 12:32; 22:29). Ja, diegene uit die mensdom wat in die hemel sal regeer, is min in vergelyking met die mense wat die komende Paradysaarde sal bewoon.

Die konteks van Openbaring 7:4 en verwante uitdrukkings elders in die Bybel bevestig dus dat die getal 144 000 as letterlik beskou moet word. Dit verwys na diegene wat saam met Christus in die hemel sal regeer oor ’n paradysaarde, wat gevul sal word met ’n groot en onbepaalde aantal gelukkige mense wat Jehovah God aanbid.—Psalm 37:29.

[Voetnoot]

a Vir meer inligting oor die Duisendjarige Heerskappy van Christus, sien Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, bladsye 289-90, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 31]

Die hemelse erfgename is tot 144 000 beperk

[Prent op bladsy 31]

Die “groot menigte” het ’n onbepaalde aantal lede

[Foto-erkenning op bladsy 31]

Sterre: Courtesy of Anglo-Australian Observatory, photograph by David Malin

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel