’n Onvermoeide “reisiger ter wille van die Evangelie”
NA BEWERING het George Borrow, teen die tyd dat hy 18 was, ’n kennis van 12 tale gehad. Twee jaar later was hy in staat om 20 verskillende tale “vlot en stylvol” te vertaal.
In 1833 is hierdie buitengewoon begaafde man vir ’n onderhoud na die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap in Londen, Engeland, genooi. Omdat hy nie vir die reis daarheen kon betaal nie, het die 30-jarige Borrow, vasbeslote om hierdie gulde geleentheid te benut, die 180 kilometer van sy huis in Norwich af te voet afgelê—in net 28 uur.
Die Bybelgenootskap het hom ’n moeilike taak opgedra—om binne ses maande die Mantsjoe-taal aan te leer, wat in dele van China gebruik is. Hy het vir ’n taalhandboek gevra, maar al wat hulle hom kon gee, was ’n afskrif van Matteus se Evangelie in Mantsjoe en ’n Mantsjoe-Franse woordeboek. Nietemin het hy binne 19 weke Londen toe geskryf en gesê: “Ek het daarin geslaag om Mantsjoe te leer”, met, soos hy dit gestel het, “God se hulp”. Hierdie prestasie was selfs merkwaardiger omdat hy glo terselfdertyd Lukas se Evangelie in Nahuatl, een van die inheemse tale van Mexiko, nagesien en verbeter het.
Die Bybel in Mantsjoe
In die 17de eeu, toe Mantsjoe die eerste keer in geskrewe vorm verskyn het met behulp van lettertekens wat van die Mongoolse Oeigoer-alfabet geleen is, het dit die taal geword wat in China se amptelike kringe gebruik is. Hoewel die gebruik daarvan met verloop van tyd afgeneem het, was lede van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap gretig om Bybels in Mantsjoe te druk en te versprei. Teen 1822 het hulle ’n uitgawe van 550 eksemplare van Matteus se Evangelie gefinansier, wat deur Stepan V. Lipoftsoff vertaal is. Hy was ’n lid van die Russiese Kantoor vir Buitelandse Sake en het 20 jaar lank in China gewoon. Die eksemplare is in St. Petersburg gedruk, maar nadat net ’n handjie vol versprei is, is die res tydens ’n oorstroming vernietig.
’n Volledige vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte het kort daarna verskyn. In 1834 het die ontdekking van ’n eertydse manuskripweergawe van die grootste deel van die Hebreeuse Geskrifte belangstelling in die Bybel laat toeneem. Wie kon die hersiening van die bestaande Mantsjoe-Bybel koördineer en die res van die vertaling voltooi? Die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap het George Borrow gestuur om hierdie taak namens hulle aan te pak.
Na Rusland
Nadat Borrow in St. Petersburg aangekom het, het hy hom toegelê op ’n intensiewer studie van Mantsjoe sodat hy die Bybelteks met groter akkuraatheid kon proeflees en verbeter. Dit was nietemin ’n veeleisende taak, en hy het tot 13 uur per dag gewerk om die drukletters vir Die Nuwe Testament te set, wat uiteindelik beskryf is as “’n pragtige uitgawe van ’n Oosterse werk”. Eenduisend eksemplare is in 1835 gedruk. Maar Borrow se grootste begeerte, om dit na China te neem en daar te versprei, is nie vervul nie. Die Russiese regering, wat gevrees het dat dit as ’n sendingkampanje beskou kon word en moontlik hulle vriendskaplike verhouding met hulle bure kon bedreig, het Borrow toestemming geweier om na die Chinese grens te reis as hy “selfs net een Mantsjoe-Bybel” saam met hom neem.
’n Paar eksemplare is ongeveer tien jaar later versprei, en vertalings van die Evangelies van Matteus en Markus, met parallelle kolomme in Mantsjoe en Chinees, het in 1859 verskyn. Teen daardie tyd het die meeste mense wat Mantsjoe kon lees, egter verkies om Chinees te lees, en die vooruitsig op ’n volledige Bybel in Mantsjoe het begin vervaag. Mantsjoe was in werklikheid aan die uitsterf en is kort voor lank deur Chinees vervang. Die oorskakeling is teen 1912 voltooi toe China ’n republiek geword het.
Die Iberiese Skiereiland
Aangevuur deur sy ondervindinge het George Borrow na Londen teruggekeer. In 1835 is hy na Portugal en Spanje gestuur “om te bepaal in watter mate die mense ontvanklik sou wees vir die waarhede van die Christelike godsdiens”, soos hy dit later gestel het. Destyds het die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap nog nie baie werk in hierdie twee lande gedoen nie weens wydverspreide politieke en maatskaplike onrus. Borrow het dit geniet om met mense in die plattelandse gemeenskappe van Portugal oor die Bybel te gesels, maar binne ’n kort tydjie het die onverskilligheid teenoor godsdiens en die gebrek aan belangstelling wat hy daar ondervind het, hom laat besluit om eerder na Spanje te gaan.
Spanje het ’n ander uitdaging gebied, veral die Sigeunervolk met wie Borrow spoedig hegte bande aangeknoop het, aangesien hy hulle taal kon praat. Kort ná sy aankoms het hy die “Nuwe Testament” in die Spaanse Sigeunertaal, Gitano, begin vertaal. Hy het twee Sigeunervroue genooi om hom met ’n deel van hierdie taak te help. Hy het vir hulle die Spaanse weergawe gelees en hulle dan gevra om dit vir hom te vertaal. Sodoende kon hy die regte gebruik van Sigeuneridiome leer. As gevolg van hierdie pogings is Lukas se Evangelie in die lente van 1838 uitgegee, wat ’n biskop laat uitroep het: “Hy sal die hele Spanje deur middel van die Sigeunertaal bekeer.”
George Borrow is toestemming gegee om “iemand te vind wat bevoeg is om die Skrif in Baskies te vertaal”. Dié taak is opgedra aan dr. Oteiza, ’n dokter wat “goed vertroud is met daardie dialek, waarvan ek self ’n mate van kennis het”, het Borrow geskryf. In 1838 het Lukas se Evangelie die eerste Bybelboek geword wat in Spaanse Baskies verskyn het.
Aangedryf deur sy begeerte om kennis na die gewone mense te bring, het Borrow lang, dikwels gevaarlike reise onderneem om boeke van die Bybel onder die armes in plattelandse gemeenskappe te versprei. Hy wou hulle van godsdiensonkunde en bygelowigheid bevry. Om die nutteloosheid bloot te lê van die aflaatbriewe wat hulle gekoop het, het hy byvoorbeeld geredeneer: “Is dit moontlik dat God, wat goed is, dit sou goedkeur dat sonde verkoop word?” Maar die Bybelgenootskap het hom gevra om hom uitsluitlik op die verspreiding van die Skrif toe te spits, uit vrees dat hierdie soort kritiek teen gevestigde opvattings daartoe kon lei dat hulle bedrywighede verbied word.
Borrow het mondelinge toestemming gekry om El Nuevo Testamento, ’n Spaanse Nuwe Testament, sonder sy Rooms-Katolieke leerstellige aantekeninge te druk. Dit was ten spyte van die aanvanklike teenkanting van die eerste minister, wat die vertaling as ’n gevaarlike en “ongepaste boek” beskryf het. Borrow het toe ’n depot in Madrid geopen om hierdie Spaanse Nuwe Testament te verkoop, ’n stap wat hom laat bots het met die godsdiensleiers sowel as die regering. Hy is 12 dae in die tronk opgesluit. Toe hy protes aangeteken het, is Borrow gevra om die land stilweg te verlaat. Omdat hy goed geweet het dat sy gevangeneming onwettig was, het hy die voorbeeld van die apostel Paulus aangehaal en verkies om te bly totdat hy behoorlik vrygespreek is, met geen stigma wat aan sy naam kleef nie.—Handelinge 16:37.
Teen die tyd dat die Bybelgenootskap se ywerige gesant Spanje in 1840 verlaat het, kon hulle in ’n verslag sê: “Bykans 14 000 eksemplare van die Skrif is binne die laaste vyf jaar in Spanje in omloop gebring.” Borrow, wat ’n groot aandeel hieraan gehad het, het sy Spaanse ondervindinge opgesom as “die gelukkigste jare van my lewe”.
The Bible in Spain, wat die eerste keer in 1842 gepubliseer is—en nog in druk is—is George Borrow se eie lewendige, persoonlike vertelling van sy reise en wedervaringe. In hierdie boek, wat ’n kitssukses geword het, het hy homself ’n “reisiger ter wille van die Evangelie” genoem. Hy het geskryf: “Ek wou die afgesonderde en afgeleë gebiede tussen die ruwe heuwels en berge besoek en, op my manier, met die mense oor Christus praat.”
Deur die Skrif met soveel geesdrif te versprei en te vertaal, het George Borrow die aanvoorwerk vir ander gedoen—inderdaad ’n kosbare voorreg.
[Kaart op bladsy 29]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
George Borrow se pogings om die Bybel te vertaal en te versprei, het hom geneem van (1) Engeland na (2) Rusland, (3) Portugal en (4) Spanje
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prent op bladsy 28]
Die openingswoorde van Johannes se Evangelie in Mantsjoe, gedruk in 1835, wat van bo na onder en van links na regs gelees word
[Erkenning]
From the book The Bible of Every Land, 1860
[Foto-erkenning op bladsy 27]
From the book The Life of George Borrow by Clement K. Shorter, 1919