Liberië—Koninkryksvermeerdering ten spyte van oorlog
BURGEROORLOG woed al langer as ’n dekade in Liberië. Teen die middel van 2003 het strydende rebelle die hoofstad, Monrovia, bereik. Baie Getuies van Jehovah moes noodgedwonge uit hulle huise vlug, soms meer as een keer. Hulle besittings is herhaaldelik geplunder.
Ongelukkig het duisende mense tydens die gevegte in die hoofstad gesterf. Onder hulle was twee Getuies, ’n broer en ’n suster. Hoe het ander broers die ontberinge verduur, en wat is gedoen om hulle te help?
Hulp aan behoeftiges
Deur die hele krisis het die takkantoor van Jehovah se Getuies in Liberië noodleniging vir die behoeftiges gereël. Kos, noodsaaklike huishoudelike items en mediese voorraad is aan hulle voorsien. Terwyl die rebelle in beheer van die hawegebied was, het kos skaars geword. Die takkantoor was voorbereid hierop en het genoeg voorraad gehad vir die tweeduisend Getuies wat na Koninkryksale regoor die stad gevlug het. Die broers het die kos gerantsoeneer sodat die voorraad gehou het totdat die hawe weer oopgestel is. Die takkantore in België en Sierra Leone het mediese voorraad per vliegtuig gestuur, en die takkantore in Brittanje en Frankryk het besendings klere voorsien.
Ten spyte van die wanhopige situasie het ons broers positief en opgeruimd gebly. Die kommentaar van een van hulle, wat drie keer uit sy huis moes vlug, was kenmerkend van baie. Hy het gesê: “Dít is die toestande waarvan ons mense vertel in ons predikingswerk; ons lewe in die laaste dae.”
Reaksie op die goeie nuus
Ten spyte van landwye onrus het die Getuies nog steeds uitstekende resultate in die veld. Daar was ’n splinternuwe hoogtepunt van 3 879 Koninkryksverkondigers in Januarie 2003, en in Februarie het hulle 15 227 tuisbybelstudies gehou.
Mense reageer vinnig op die goeie nuus. Neem byvoorbeeld wat in ’n dorp in die suidooste van die land gebeur het. ’n Gemeente het beplan om die herdenking van Christus se dood in die groot dorp Bewahn te hou, wat omtrent vyf uur te voet is van waar hulle gewoonlik ontmoet. Voordat die broers na die dorp gegaan het om die mense na die Gedenkmaal te nooi, het hulle ’n uitnodiging aan die burgemeester van Bewahn gegee. Nadat hy dit ontvang het, het hy sy Bybel geneem, na die inwoners van die dorp gegaan, ’n teks gelees wat op die uitnodiging was en hulle aangespoor om die Gedenkmaal by te woon. Toe die verkondigers dus daar aankom, het hulle gevind dat hulle werk klaar vir hulle gedoen is! Die burgemeester, tesame met sy kinders en sy twee vrouens, het na die Gedenkmaal gekom. Altesaam 27 mense het dit bygewoon. Sedertdien het die burgemeester as lid van die Metodistekerk bedank, saam met die Getuies begin studeer en grond aangebied waarop ’n Koninkryksaal gebou kon word.
’n Veranderde gesindheid
Ons broers se gedrag het ook al gehelp om sommige teenstanders se siening van die waarheid te verander. Beskou die geval van ’n man genaamd Opoku. ’n Spesiale pionier het hom in velddiens ontmoet en vir hom ’n Wagtoring aangebied. Opoku het in ’n artikel in die tydskrif belanggestel, maar het nie geld gehad nie. Die pionier het verduidelik dat hy nie vir die tydskrif hoef te betaal nie, dit by hom gelaat en gereël om hom weer te besoek. Met die herbesoek het Opoku die pionier gevra: “Ken jy my? Die meeste van julle mense in die dorp Harper ken my. Ek het vroeër julle kinders uit die skool geskors!” Hy het toe verduidelik dat hy die hoof van ’n hoërskool op die dorp was en dat hy die kinders van Jehovah se Getuies vervolg het omdat hulle nie die vlag wou salueer nie.
Drie voorbeelde van Christelike liefde wat deur Jehovah se Getuies betoon is, het egter daartoe gelei dat Opoku sy gesindheid verander het. Eerstens het hy gesien hoe die Getuies na ’n geestelike broer omsien wat ernstig siek was. Hulle het selfs gereël dat hy behandeling in ’n buurland kry. Opoku het gedink dat die siek broer ’n “belangrike man” onder die Getuies is, maar het toe uitgevind dat hy net ’n gewone Getuie is. Tweedens was Opoku gedurende die 1990’s ’n vlugteling in Côte d’Ivoire. Eendag toe hy dors was, het hy water by ’n jong man gaan koop. Opoku het net ’n groot banknoot gehad en die jong man het geen kleingeld gehad nie; daarom het hy vir Opoku die water verniet gegee. Toe hy vir Opoku die water gee, het die jong man gevra: “Dink jy daar sal ooit ’n tyd wees wanneer mense soos ek en jy vir mekaar dinge sal gee sonder om geld daarvoor te vra?” Opoku het vermoed dat hy een van Jehovah se Getuies is, en die jong man het dit bevestig. Die vrygewigheid en goedhartigheid van hierdie broer het hom beïndruk. Uiteindelik het die spesiale pionier se gewilligheid om die tydskrif kosteloos vir hom te gee, Opoku oortuig dat sy beskouing van die Getuies verkeerd is en dat hy dit moet verander. Hy het geestelike vordering gemaak en is nou ’n ongedoopte verkondiger.
Hoewel die broers in Liberië nog steeds uiters moeilike toestande beleef, vertrou hulle op God en verkondig hulle getrou die goeie nuus van beter tye onder die regverdige heerskappy van God se Koninkryk. Jehovah sal nooit hulle harde werk en die liefde wat hulle vir sy naam betoon, vergeet nie.—Hebreërs 6:10.
[Kaarte op bladsy 30]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
MONROVIA
[Prente op bladsy 31]
Gedurende tye van nood voorsien Jehovah se volk geestelike en fisiese hulp aan behoeftiges