Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 3/1 bl. 5-7
  • Die ware Christelike godsdiens floreer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die ware Christelike godsdiens floreer
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die grondslag vir Christelike eenheid
  • Waarom kerke verdeeld is
  • Ware Christene is nog steeds verenig
  • Christene aanbid met gees en waarheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Die Christelike godsdiens—Was Jesus die weg na God?
    Die mensdom se soeke na God
  • Jehovah se Getuies
    Redenering uit die Skrif
  • Christengetuies van Jehovah in die eerste eeu
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 3/1 bl. 5-7

Die ware Christelike godsdiens floreer

JESUS CHRISTUS se bediening het in die eerste eeu ’n groot impak op die wêreld gehad. Sy boodskap was so besielend, insiggewend en inspirerend dat dit mense verstom het. Baie van die mense wat hom hoor praat het, is diep getref deur sy woorde.—Matteus 7:28, 29.

Jesus het enige betrokkenheid by die onderdrukkende godsdiens- en politieke stelsels van sy dag onbevrees verwerp, maar het gewone mense laat voel dat hulle hom kon nader (Matteus 11:25-30). Hy het die groot invloed wat bose geeste op die aarde gehad het, openlik erken en het getoon dat hy godgegewe krag oor hulle het (Matteus 4:2-11, 24; Johannes 14:30). Jesus het op bedrewe wyse lig gewerp op die fundamentele verband tussen lyding en sonde, en hy het liefdevol die aandag op God se Koninkryk gevestig as die bron van blywende verligting (Markus 2:1-12; Lukas 11:2, 17-23). Hy het die sluier van duisternis wat sy Vader se ware persoonlikheid so lank verberg het, eens en vir altyd gelig en het God se naam bekend gemaak aan almal wat daarin belanggestel het om ’n persoonlike verhouding met Hom te hê.—Johannes 17:6, 26.

Dit is dus nie verbasend dat Jesus se dissipels, ten spyte van vurige godsdiens- en politieke vervolging, sy dinamiese boodskap vinnig versprei het nie. Binne ’n tydperk van net sowat 30 jaar is bedrywige Christengemeentes in Afrika, Asië en Europa gestig (Kolossense 1:23). Die eenvoudige waarhede wat Jesus verkondig het, het die harte van nederige, regskape mense oral in die Romeinse Ryk verlig.—Efesiërs 1:17, 18.

Maar hoe sou al hierdie nuwe dissipels uit sulke uiteenlopende ekonomiese, kulturele, taal- en godsdiensagtergronde saamkom om ’n waarlik verenigde “een geloof” te vorm, soos die apostel Paulus dit genoem het? (Efesiërs 4:5). Wat sou hulle help om ‘eenstemmig te praat’ sodat hulle nie uitmekaardryf nie? (1 Korintiërs 1:10). Met die oog op die ernstige verdeeldheid wat vandag onder verklaarde Christene bestaan, sal dit goed wees as ons ondersoek wat Jesus self verkondig het.

Die grondslag vir Christelike eenheid

Toe hy voor Pontius Pilatus tereggestaan het, het Jesus die grondslag vir Christelike eenheid geïdentifiseer. Hy het gesê: “Hiervoor is ek gebore en hiervoor het ek in die wêreld ingekom, om van die waarheid te getuig. Elkeen wat aan die kant van die waarheid is, luister na my stem” (Johannes 18:37). Daarom het dit ’n sterk verenigende uitwerking op Christus se ware dissipels as hulle sy leringe aanneem sowel as die res van God se geïnspireerde Woord, die Bybel.—1 Korintiërs 4:6; 2 Timoteus 3:16, 17.

Jesus se dissipels sou natuurlik met tye opregte vrae of meningsverskille onder mekaar hê. Wat dan? Jesus het verduidelik: “Wanneer hy, die gees van die waarheid, . . . kom, sal hy julle in die hele waarheid inlei, want hy sal nie op eie ingewing spreek nie, maar wat hy hoor, sal hy spreek, en hy sal die komende dinge aan julle bekend maak” (Johannes 16:12, 13). God se heilige gees sou dus Jesus se ware dissipels in staat stel om die waarheid te verstaan namate dit progressief deur God geopenbaar word. Daardie gees sou ook vrugte voortbring, soos liefde, vreugde en vrede, wat dan weer eenheid onder hulle sou bevorder.—Handelinge 15:28; Galasiërs 5:22, 23.

Jesus het geen onenigheid of verdeeldheid onder sy dissipels toegelaat nie; hy het hulle ook nie die reg gegee om goddelike waarhede te hervertolk sodat dit sou aanpas by die kulturele of godsdienstradisies van mense wat hulle sou ontmoet nie. Inteendeel, gedurende sy laaste aand saam met hulle het hy vurig gebid: “Ek doen nie net aangaande hulle versoek nie, maar ook aangaande dié wat deur hulle woord geloof in my stel; sodat hulle almal een kan wees, net soos u, Vader, in eenheid met my en ek in eenheid met u is, dat hulle ook in eenheid met ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat u my uitgestuur het” (Johannes 17:20, 21). Ware eenheid in gees en waarheid sou dus van die begin af tot in ons tyd ’n kenmerkende eienskap van Christus se dissipels wees (Johannes 4:23, 24). En tog is die kerke van vandag verdeeld, nie verenig nie. Hoe so?

Waarom kerke verdeeld is

Die eerlike verklaring van waarom daar vandag so ’n groot verskeidenheid oortuigings en gebruike onder verklaarde Christene is, is dat hulle nie by Jesus se leringe gebly het nie. Een skrywer het gesê: “Soos in die verlede is vandag se nuwe Christene geneig om net uit die Bybel te aanvaar wat in hulle behoeftes voorsien—en te ignoreer wat nie met hulle oorgelewerde godsdienstradisies ooreenstem nie.” Dit is presies wat Jesus en sy apostels voorspel het sou gebeur.

Die apostel Paulus het byvoorbeeld onder inspirasie aan sy medeopsiener, Timoteus, geskryf: “Daar sal ’n tyd wees wanneer hulle nie die gesonde leer sal verdra nie, maar ooreenkomstig hulle eie begeertes vir hulle onderrigters sal versamel sodat hulle ore gestreel kan word; en hulle sal hulle ore van die waarheid afkeer en hulle tot valse stories wend.” Sou alle Christene mislei word? Nee. Paulus het verder gesê: “Bly jy egter in alles nugter van verstand, ly kwaad, doen die werk van ’n evangeliedienaar, voer jou bediening ten volle uit” (2 Timoteus 4:3-5; Lukas 21:8; Handelinge 20:29, 30; 2 Petrus 2:1-3). Timoteus en ander getroue Christene het volgens hierdie geïnspireerde raad gelewe.

Ware Christene is nog steeds verenig

Soos Timoteus bly ware Christene vandag nugter van verstand deur menslike redenasies te verwerp en net skriftuurlike gesag vir hulle leerstellings te aanvaar (Kolossense 2:8; 1 Johannes 4:1). In navolging van die eerste-eeuse Christene voer Jehovah se Getuies hulle bediening in meer as 230 lande uit en bring hulle Jesus se oorspronklike boodskap, die goeie nuus van die Koninkryk, aan mense in alle wêrelddele. Beskou vier belangrike maniere waarop hulle Jesus eendragtig navolg en die ware Christelike godsdiens beoefen ongeag waar hulle woon.

Hulle opvattings is op God se Woord gegrond (Johannes 17:17). ’n Priester in België het van hulle geskryf: “Een ding wat ons by hulle [Jehovah se Getuies] kan leer, is dat hulle gewillig is om na God se Woord te luister en die moed het om daarvan te getuig.”

Hulle vertrou op God se Koninkryk vir die verligting van wêreldprobleme (Lukas 8:1). In Barranquilla, Colombia, het ’n Getuie met Antonio, ’n vurige ondersteuner van ’n politieke beweging, gepraat. Die Getuie het nie sy kant ondersteun nie en het ook nie ’n ander politieke ideologie voorgestaan nie. Hy het eerder aangebied om die Bybel gratis met Antonio en sy susters te studeer. Antonio het spoedig besef dat God se Koninkryk werklik die enigste hoop vir arm mense in Colombia en die res van die wêreld is.

Hulle vereer God se naam (Matteus 6:9). Toe Jehovah se Getuies Maria, ’n opregte Katoliek wat in Australië woon, ontmoet het, het sy hulle toegelaat om vir haar God se naam in die Bybel te wys. Hoe het sy daarop gereageer? “Toe ek God se naam die eerste keer in die Bybel gesien het, het ek gehuil. Die wete dat ek God se persoonlike naam kon ken en gebruik, het my diep getref.” Maria het volgehou met haar studie van die Bybel, en vir die eerste keer in haar lewe het sy Jehovah as ’n persoon leer ken en kon sy ’n blywende verhouding met hom opbou.

Hulle word deur liefde verenig (Johannes 13:34, 35). ’n Hoofartikel in The Ladysmith-Chemainus Chronicle, Kanada, het gesê: “Ongeag jou godsdiensoortuiging, of gebrek daaraan, moet jy jou hoed afhaal vir die 4 500 Getuies van Jehovah wat die afgelope week en ’n half dag en nag gewerk het om ’n Byeenkomssaal van 25 000 vierkante voet [2 300 vierkante meter] in Cassidy te bou . . . Om dit blymoedig, sonder stryery, onenigheid of eersug te doen, is ’n kenmerk van die ware Christelike godsdiens.”

Oorweeg dus die feite. Terwyl die Christendom se teoloë, sendelinge en kerkgangers steeds worstel met die broeiende storm in verband met geskille in hulle kerke, floreer die ware Christelike godsdiens wêreldwyd. Ja, ware Christene voer hulle toegewese bediening uit om God se Woord aan ander te verkondig en te leer (Matteus 24:14; 28:19, 20). As jy onder diegene is wat “sug en steun” oor die verfoeilike dinge wat nou plaasvind en besorg is oor die verdeeldheid onder die godsdienste van die Christendom, nooi ons jou om by Jehovah se Getuies aan te sluit in verenigde Christelike aanbidding van die enigste ware God, Jehovah.—Esegiël 9:4; Jesaja 2:2-4.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel