Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 2/15 bl. 21-25
  • ’n Byeenkoms by “die middelpunt van die wêreld”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Byeenkoms by “die middelpunt van die wêreld”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Eerste Koninkryksaad geplant
  • Voorbereidings vir ’n kringbyeenkoms
  • Publisiteit uit ’n onverwagte oord
  • Die byeenkoms begin
  • Getuieniswerk in die oggend
  • Die geestelike program word voortgesit
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 2/15 bl. 21-25

’n Byeenkoms by “die middelpunt van die wêreld”

Het jy al ooit die woorde “Te Pito o Te Henua” gehoor? In Rapa Nui, die oorspronklike taal van Paaseiland, beteken dit “die middelpunt van die wêreld”. Waarom was ’n byeenkoms hier so spesiaal?

AFGESONDERD, geheimsinnig, eksoties. Dit is van die woorde wat gebruik word om Paaseiland, of Rapa Nui soos die eilandbewoners dit noem, te beskryf. Dit is waarlik ’n afgesonderde gebied ver in die Stille Suidsee, ongeveer 3 790 kilometer van Santiago, Chili. Dit het op 9 September 1888 ’n provinsie van Chili geword.

Hierdie driehoekige eiland, wat ongeveer 166 vierkante kilometer beslaan, is basies drie uitgewerkte vulkane. Trouens, soos baie Suidsee-eilande, bestaan dit net uit die boonste gedeeltes van groot berge onder die see. Die hele eiland is ’n natuurmonument verklaar. Dit is ongetwyfeld veral bekend vir sy geheimsinnige klipbeelde, wat moai genoem word.a

Benewens die pragtige landskappe en geskiedkundige terreine, bied Paaseiland ’n verskeidenheid eksotiese lekkernye. Vrugte soos pynappels, avokado’s, papajas en nege piesangsoorte word op die eiland aangetref. En die see voorsien ’n groot verskeidenheid vis en ander seekos.

Paaseiland het ’n gematigde klimaat, gereelde reënbuie en reënboë, wat dit vir besoekers moontlik maak om skoon lug en asemrowende natuurtonele te geniet. Daar is tans sowat 3 800 inwoners. Die huidige bevolking is afstammelinge van die eerste setlaars, asook Europeërs, Chilene en ander. Honderde toeriste uit Europa en Asië besoek die eiland, wat toerisme ’n belangrike deel van die ekonomie maak.

Eerste Koninkryksaad geplant

Die 1982 Yearbook of Jehovah’s Witnesses het gesê: “Ons het ’n tyd lank ’n afgesonderde verkondiger op Paaseiland gehad. Sy is geestelik gehelp deur met ’n sendelingsuster by die takkantoor [in Chili] te korrespondeer. Hoewel sy sedertdien na die vasteland teruggekeer het, is daar volgens ons verslae Wagtoring-intekenaars op die eiland. Tot ons groot verbasing het ons in April 1980 ’n langafstandoproep van ’n belangstellende ontvang wat wou weet wanneer die Gedenkmaal gevier moet word. Later daardie selfde jaar het ’n egpaar van Valparaiso daarheen getrek, en hulle hou Bybelstudies met belangstellendes. In April 1981 is die Gedenkmaal vir die eerste keer op hierdie eiland gehou en 13 persone het dit bygewoon. Hoe verheug is ons tog dat die ‘goeie nuus’ na hierdie afgesonderde gebied versprei het!”

Later, op 30 Januarie 1991, het die takkantoor ’n spesialepionier-egpaar, Dario en Winny Fernandez, na die eiland gestuur. Broer Fernandez vertel: “Die vyf uur lange vlug het ons na die mees afgesonderde deel van die planeet gebring, na ’n kultuur wat in geheimsinnigheid gehul is.” Die vergaderinge en predikingswerk is onmiddellik georganiseer met die hulp van ’n plaaslike broer en ’n suster wat kort tevore saam met haar twee kinders daar aangekom het. Ten spyte van familieteenstand, oordrewe godsdiensywer en sekere lewenstyle wat eie aan Polinesiese kulture is, het hulle Jehovah se seën op hulle pogings ondervind. Broer en suster Fernandez dien nie meer as spesiale pioniers nie, maar hulle het op die eiland aangebly, waar hulle hulle seun grootmaak, wat daar gebore is. Vandag is daar 32 vreugdevolle Koninkryksverkondigers. Onder hulle is daar inboorlinge van Rapa Nui, sowel as dié wat hulle op die eiland gevestig het of daarheen getrek het om te dien waar Koninkryksverkondigers nodig is.

Voorbereidings vir ’n kringbyeenkoms

Omdat die afstand tussen die eiland en die vasteland so groot is, het die gemeente drie maal per jaar videokassette van die spesiale byeenkomsdag, die kringbyeenkoms en die streekbyeenkoms ontvang. Maar teen die einde van die jaar 2000 het die Takkomitee in Chili dit begin oorweeg om die heel eerste byeenkoms op die eiland te reël. Uiteindelik is daar besluit om in November 2001 ’n kringbyeenkoms te hou, en ’n beperkte getal broers en susters uit verskillende dele van Chili is genooi om hierdie spesiale geleentheid by te woon. Weens die lugredery se vlugrooster is die byeenkoms gereël vir die Sondag en die Maandag.

Die 33 genooide afgevaardigdes was opgewonde oor die vooruitsig om na die eiland te reis sodat hulle die heel eerste kringbyeenkoms in daardie afgesonderde deel kon bywoon. Ná ’n lang vlug oor die Stille Oseaan was die afgevaardigdes bly om by die lughawe deur die plaaslike broers verwelkom te word. Die afgevaardigdes is begroet met pragtige blommekranse wat om hulle nekke gehang is, ’n tipiese geskenk op die eiland. Daarna is hulle na hulle huisvesting geneem, en ná ’n kort besigtigingstoer van die eiland het almal wat aan die byeenkomsprogram sou deelneem, by die Koninkryksaal vergader.

Publisiteit uit ’n onverwagte oord

Terwyl party van die afgevaardigdes op pad was na die byeenkoms, was hulle verbaas om te hoor dat die plaaslike priester oor die radio kommentaar lewer oor hulle besoek. Hy het gemeld dat toeriste van die vasteland na mense se huise toe sou kom om met hulle oor die komende einde van die wêreld te praat. Hoewel hy sy gemeentelede aangespoor het om nie na die besoekers te luister nie, het sy aankondiging gehelp om die nuus te versprei dat ’n groot groep Getuies van Jehovah op die eiland aangekom het. Dit het afwagting onder die eilandbewoners gewek. Gedurende die daaropvolgende dae het die afgevaardigdes die bemoedigende boodskap van die goeie nuus taktvol aan hulle oorgedra.

Die byeenkoms begin

Op Sondagoggend het die plaaslike broers in die voorportaal van die Koninkryksaal gewag om die afgevaardigdes op die eerste dag van die byeenkoms te verwelkom. “Iorana Koe! Iorana Koe!” “Welkom!” Party susters het die tradisionele kleredrag gedra en hulle hare in eg Polinesiese styl met pragtige blomme versier.

Nadat ’n pragtige musiekopname gespeel is, het honderd stemme die lied “Wees standvastig, onbeweeglik!” saamgesing, soos dit nog nooit tevore op die eiland gehoor is nie. Die plaaslike broers het trane in hulle oë gekry toe die voorsitter almal hartlik verwelkom het in hulle moedertaal, Rapa Nui. Gedurende die middagpouse het drie nuwe Getuies hulle toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer. Toe die eerste dag se program tot ’n einde kom, het almal nader aan Jehovah en aan die hele broederskap gevoel.—1 Petrus 5:9.

Getuieniswerk in die oggend

Weens spesiale omstandighede op die eiland het die program vir die tweede dag van die kringbyeenkoms in die middag begin. Die afgevaardigdes het dus die geleentheid benut en die oggend gebruik om aan die veldbediening deel te neem. Watter ondervindinge het op hulle gewag?

’n Bejaarde vrou met agt seuns en dogters het vir die Getuies gesê dat sy nie met hulle kon praat nie omdat sy ’n Katoliek is. Nadat hulle vir haar gesê het dat hulle graag wou gesels oor die probleme waarmee almal te kampe het, soos dwelmmisbruik en gesinsprobleme, het sy ingestem om te luister.

’n Bejaarde inboorlingvrou het ’n Getuie-egpaar koel ontvang. Sy het vir hulle gesê om met die mense op die vasteland te gaan praat wat so wreed teenoor ander mense is. Die egpaar het vir haar gesê dat die boodskap van die “goeie nuus van die koninkryk” aan almal bekend gemaak word en dat hulle na die eiland gekom het om ’n byeenkoms by te woon wat almal sal help om ’n groter liefde vir God op te bou (Matteus 24:14). Hulle het haar gevra of sy daarvan sal hou om ’n lang lewe in paradystoestande te geniet, soortgelyk aan dié op die eiland maar sonder siekte en die dood. Nadat hulle met haar geredeneer het oor hoe lank die vulkaniese kraters op die eiland reeds bestaan, het sy nagedink oor hoe kort die lewe is en gevra: “Waarom lewe ons dan so ’n kort tydjie?” Sy was verbaas toe sy Psalm 90:10 lees.

Op daardie oomblik het die Getuies skielik ’n geskree uit die huis langsaan gehoor. Hoewel hulle nie verstaan het wat daar geskree is nie, het die vrou vir hulle gesê dat die bure beledigings geskree het en baie duidelik te kenne gegee het dat die Getuies hulle nie moet besoek nie. Maar hierdie vrou was die nua, of die oudste dogter van die familie. Ná haar pa se dood was dit haar verantwoordelikheid om te besluit wat in die belang van die familie sou wees. Sy het voor haar familielede die broers in haar taal verdedig en die publikasies wat aangebied is, vriendelik geneem. Toe sy later daardie week verby die Getuies ry, het sy vir haar broer gesê om stil te hou. Al was hy glad nie geneë nie, het sy totsiens gesê vir die broers en hulle sukses toegewens met hulle bediening.

Hoewel dit aanvanklik gelyk het of party eilandbewoners glad nie belangstel in die boodskap wat die Getuies van die vasteland verkondig het nie, het dit vir die besoekers duidelik geword dat die Rapa Nui van nature vriendelike, gawe mense is. Die meeste mense het gretig na die goeie nuus geluister. Om die waarheid te sê, 6 uit die 20 Getuies wat op die eiland gedoop is, is plaaslike inwoners. Een van hulle het die eerste keer Bybelwaarhede gehoor deur in die kamer langsaan te luister na die Bybelstudie wat met sy vrou gehou is. Hy en sy vrou is nou gedoopte Getuies, en hy dien as ’n bedieningskneg in die gemeente.

Die geestelike program word voortgesit

Ná middagete het die tweede dag se program begin. Weer eens het ’n aantal belangstellendes saam met die 32 plaaslike broers en susters en die 33 afgevaardigdes vergader. Byna honderd persone het na die program geluister, wat die openbare toespraak “Hoe liefde en geloof die wêreld oorwin”, ingesluit het. Ja, diegene wat teenwoordig was, het ’n lewende bewys gesien van die liefde wat onder Jehovah se volk bestaan, selfs onder diegene van verskillende kulture.—Johannes 13:35.

Gedurende die tyd van die kringbyeenkoms het die kring- en streekopsieners ’n spesiale vergadering met die pionierbedienaars gehou. Die drie gewone pioniers van die eiland het dit bygewoon saam met die afgevaardigdes wat gewone of spesiale pioniers was. Almal het baie bemoedig gevoel.

Die volgende dag het party van die plaaslike broers wat as toergidse werk, die afgevaardigdes op ’n toer van die eiland geneem. Hulle het ’n steengroef besoek waar moai uitgekap is, vulkane waar eertydse kompetisies gehou is en natuurlik die pragtige goue strand, Anakena, waar die eerste setlaars op die eiland aan wal gegaan het.b

Die laaste geleentheid om met die plaaslike broers te assosieer, was by die Gemeentelike Boekstudie. Ná die vergadering het die plaaslike Getuies hulle gaste verras met ’n tradisionele ete. Later het hulle ’n mooi volksdans in hulle tradisionele kleredrag uitgevoer. Die afgevaardigdes, sowel as die broers en susters van Rapa Nui, was daarvan oortuig dat al die reëlings vir die byeenkoms beslis die moeite werd was.

Al die afgevaardigdes het ’n hegte band ontwikkel met hulle afgesonderde broers en susters, en hulle het ’n opwindende week saam deurgebring. Dit was swaar om die eiland te verlaat. Hulle sal altyd die nuwe vriendskappe koester wat hulle gesluit het sowel as die geestelike aanmoediging wat hulle ontvang het. By die lughawe het die plaaslike broers skulphalssnoere wat hulle self gemaak het, om die afgevaardigdes se nekke gehang.

Die afgevaardigdes het vertrek met die belofte: “Iorana! Iau he hoki mai e Rapa Nui ee,” wat beteken: “Totsiens! Ek kom weer, Rapa Nui.” Ja, hulle wil graag weer hulle nuwe vriende en geestelike familielede besoek op die eksotiese, afgesonderde, geheimsinnige en vriendelike Paaseiland!

[Voetnote]

a Sien die Ontwaak! van 22 Junie 2000, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Op die krater van die Rano Raraku-vulkaan is daar baie petrogliewe, of rotsgraverings. Dit was die beginpunt van ’n kompetisie onder dié wat oor die eiland wou regeer. Die kompetisie het behels dat die deelnemers teen die krans afklim, na een van die klein eilandjies swem, ’n eier van ’n plaaslike voël kry, terug na die hoofeiland swem en teen die krans opklim sonder om die eier te beskadig.

[Venster op bladsy 24]

Die predikingswerk op Paaseiland

Omtrent twee jaar voor hierdie onvergeetlike byeenkoms het ’n kringopsiener en sy vrou die eiland besoek en talle aangename ondervindinge gehad. Hulle was byvoorbeeld aangenaam verras toe die suster wat hulle na hulle huisvesting geneem het, vir hulle gesê het dat hulle ongeveer 16 jaar tevore in die suide van Chili die Bybel met haar gestudeer het toe sy nog ’n tiener was. Later het daardie saad vrug gedra op Rapa Nui.

Hulle het ook hierdie komiese ondervinding gehad: Die eienaar van ’n aandenkingswinkel het ’n Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif en die Bybelstudiehulp Kennis wat tot die ewige lewe lei, albei uitgegee deur Jehovah se Getuies, by hulle geneem. Toe hulle teruggaan om hom te besoek, het hy vir hulle gesê dat hy nie daardie Bybel kon verstaan nie. In plaas van ’n Spaanse Bybel het hulle vir hom een in Frans gegee! Die probleem is vinnig opgelos, en hy het met die hulp van plaaslike Getuies, en natuurlik ’n Bybel in sy eie taal, uitgevind dat die Bybel toe glad nie so moeilik was om te verstaan nie.

[Kaart op bladsy 22]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

PAASEILAND

CHILI

[Prente op bladsy 23]

Twee van dié wat by die kringbyeenkoms gedoop is

[Prente op bladsy 25]

Helling van die vulkaan Rano Raraku; inlasfoto: Die wilde vrug wat “guayaba” genoem word, groei op die eiland

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel