‘Gereed vir elke goeie werk’
“HOU aan om hulle daaraan te herinner om onderdanig en gehoorsaam te wees aan regerings en owerhede as heersers, om gereed te wees vir elke goeie werk” (Titus 3:1). Watter goeie werk het die apostel Paulus in gedagte gehad toe hy hierdie woorde aan sy medegelowiges geskryf het? Die Bybelgeleerde E. F. Scott het na een soort goeie werk verwys en gesê: “Christene moes nie net gehoorsaam wees aan die owerheid nie, maar ook gereed wees vir enige goeie werk. . . . Wanneer die omstandighede dit vereis het, moes Christene onder die eerstes wees om hulle burgersin te toon. Daar sou altyd brande, plae of ander rampe wees, en dit is wanneer alle goeie burgers hulle medemens sou wou help.”
Christene doen werk wat in die openbare belang is, solank dit nie met God se wette bots nie (Handelinge 5:29). Byvoorbeeld, die takkantoor van Jehovah se Getuies in Ebina, Japan, volg die aanbeveling van die plaaslike brandweer deur jaarliks ’n brandoefening te reël. By hierdie geleenthede kom alle lede van die Bethelgesin byeen om na instruksies te luister wat deur ’n verteenwoordiger van die plaaslike brandweerstasie uiteengesit word.
Verder neem die takkantoor, al meer as ’n dekade lank, saam met die plaaslike owerheid deel aan ’n oefening wat bedoel is om mense meer bewus te maak van brandvoorkoming. Tydens die oefening demonstreer maatskappye en firmas in die stad hoe hulle maatreëls vir brandbestryding en -beheer toepas. Die takkantoor het al dikwels erkenning ontvang vir hulle personeel se vaardighede en samewerking. In 2001 is hulle die eerste prys in die oefening toegeken. Hulle is gereed om goeie werk te doen wat lewens kan red indien daar ’n brand uitbreek.
’n Kosbare diens
Jehovah se Getuies doen egter ’n goeie werk van ’n belangriker aard, wat ook lewensreddend is. Hulle besoek mense gereeld om die goeie nuus van God se Koninkryk aan hulle oor te dra (Matteus 24:14). Die Getuies spoor mense aan om Bybelbeginsels te leer ken en in hulle lewe toe te pas sodat hulle nou die gehalte van hulle lewe kan verbeter en die hoop kan hê op die ewige lewe in ’n wêreld waar daar ware vrede en veiligheid sal wees.
Party besef dalk nie die waarde van die diens wat Jehovah se Getuies lewer nie, en beskou hulle as lastig. Maar regter Jean Crepeau van die Hoër Hof in Quebec, Kanada, het nie hiermee saamgestem nie. Jehovah se Getuies daar het protes aangeteken teen ’n stadsverordening van Blainville, Quebec, wat ’n permit vereis het vir hulle huis-tot-huis-besoeke. In die hof se uitspraak het regter Crepeau gesê: “Besoeke deur die Jehovah se Getuies is ’n Christelike gemeenskapsdiens en . . . die publikasies wat die Getuies vir belangstellende burgers aanbied, dra gewig en handel oor onderwerpe soos godsdiens, die Bybel, dwelms, alkoholisme, opvoeding vir jongmense, huweliksprobleme en egskeiding.” Die beslissing het verder gelui: “Die hof kan nie anders nie as om tot die slotsom te kom dat dit beledigend, vernederend, skadelik en lasterlik is om Jehovah se Getuies met smouse te vergelyk.”
Jehovah se Getuies dra by tot die welsyn van die gemeenskap waarin hulle woon deur mense te help om probleme in hulle daaglikse lewe te oorkom en aan hulle hoop vir die toekoms te bring. Die Bybel rus hulle toe om daardie werk uit te voer. “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk.”—2 Timoteus 3:16, 17.
Wil jy graag weet wat Jehovah se Getuies help om “gereed te wees vir elke goeie werk”? Ons nooi jou om hulle hulp te aanvaar en meer oor die Bybel uit te vind; dan kan jy gebruik maak van hierdie lewensbelangrike gemeenskapsdiens wat hulle in jou omgewing en regoor die wêreld lewer.
[Prente op bladsy 30, 31]
Jehovah se Getuies streef daarna om met die sekulêre owerheid saam te werk
[Prent op bladsy 31]
Die Getuies is bekend vir hulle hulp aan hulle medemens