“Toon dat julle dankbaar is”
“Laat die vrede van die Christus in julle harte heers . . . En toon dat julle dankbaar is.”—KOLOSSENSE 3:15.
1. Watter teenstelling sien ons tussen die Christengemeente en die wêreld onder Satan se beheer?
IN DIE 94 600 gemeentes van Jehovah se Getuies regoor die wêreld vind ons ’n dankbare gees. Elke vergadering begin en eindig met ’n gebed wat woorde van dank teenoor Jehovah insluit. Ons hoor gereeld uitdrukkings soos “dankie” en “dis ’n plesier” by jonk en oud sowel as by nuwelinge en Getuies wat al lank in die waarheid is wanneer hulle bymekaarkom vir aanbidding en vreugdevolle assosiasie (Psalm 133:1). Wat ’n teenstelling vorm dit tog met die selfsug wat onder baie heers ‘wat Jehovah nie ken nie en die goeie nuus nie gehoorsaam nie’! (2 Tessalonisense 1:8). Ons lewe in ’n ondankbare wêreld. En dit verbaas ons nie wanneer ons in ag neem wie die god van hierdie wêreld is—Satan die Duiwel, die grootste voorstander van selfsug, wie se trots en opstandige gees deur die hele mensegemeenskap weerspieël word!—Johannes 8:44; 2 Korintiërs 4:4; 1 Johannes 5:19.
2. Op watter waarskuwing moet ons ag slaan, en watter vrae gaan ons bespreek?
2 Omdat ons deur Satan se wêreld omring word, moet ons versigtig wees dat wêreldse gesindhede nie ’n verderflike invloed op ons het nie. In die eerste eeu het die apostel Paulus die Christene in Efese hieraan herinner: “Julle [het] vroeër volgens die stelsel van dinge van hierdie wêreld gewandel . . . , volgens die heerser van die gesag van die lug, die gees wat nou in die seuns van die ongehoorsaamheid werk. Ja, onder hulle het ons almal ons vroeër in ooreenstemming met die begeertes van ons vlees gedra, terwyl ons die dinge gedoen het wat volgens die wil van die vlees en die gedagtes was, en ons was van nature kinders van die gramskap, net soos die res” (Efesiërs 2:2, 3). Dit is ook vandag met baie die geval. Hoe kan ons dus ’n dankbare gees behou? Watter hulp voorsien Jehovah? Op watter praktiese maniere kan ons toon dat ons werklik dankbaar is?
Redes om dankbaar te wees
3. Waaroor is ons dankbaar teenoor Jehovah?
3 Ons is dank verskuldig aan Jehovah God, ons Skepper en Lewegewer, veral as ons kyk na van die milddadige gawes wat hy op ons uitstort (Jakobus 1:17). Ons dank Jehovah elke dag dat ons lewe (Psalm 36:9). Oral om ons sien ons oorvloedige bewys van Jehovah se handewerk, soos die son, maan en sterre. Ons planeet se ryk skatkamer van lewensonderhoudende minerale, die fyn balans tussen die noodsaaklike gasse in die atmosfeer en die ingewikkelde kringlope in die natuur getuig alles van hoeveel ons ons liefdevolle hemelse Vader verskuldig is. “Baie dinge het u gedoen, O Jehovah my God”, het koning Dawid gesing, “ja, u wonderlike werke en u gedagtes teenoor ons; niemand kan met u vergelyk word nie. Sou ek geneig wees om dit te verkondig en daaroor te praat, het dit te talryk geword om te vertel.”—Psalm 40:5.
4. Waarom moet ons Jehovah dank vir die gelukkige assosiasie wat ons in ons gemeentes geniet?
4 Hoewel Jehovah se knegte beslis nie in ’n letterlike paradys is nie, is hulle verheug om vandag in ’n geestelike paradys te lewe. In ons Koninkryksale en by ons byeenkomste sien ons hoe die vrugte van God se gees in ons medegelowiges aan die werk is. Trouens, wanneer ons vir mense getuig wat nie juis godsdienstig is nie, verwys sommige Getuies na wat Paulus in sy brief aan die Galasiërs beskryf het. Eers vestig hulle die aandag op “die werke van die vlees” en dan vra hulle hulle toehoorders wat hulle om hulle sien (Galasiërs 5:19-23). Die meeste erken geredelik dat dit vandag kenmerkend van die mensegemeenskap is. Wanneer die beskrywing van die vrugte van God se gees vir hulle gewys word en hulle na die plaaslike Koninkryksaal genooi word om self bewyse hiervan te sien, erken baie sommer gou: “God is werklik onder julle” (1 Korintiërs 14:25). En dit is nie tot die plaaslike Koninkryksaal beperk nie. Waar jy ook al gaan, sal jy dieselfde gelukkige, vreugdevolle gees vind wanneer jy enigeen van die meer as sesmiljoen Getuies van Jehovah ontmoet. Hierdie opbouende assosiasie is waarlik ’n rede om Jehovah te dank, die een wat sy gees voorsien om dit moontlik te maak.—Sefanja 3:9; Efesiërs 3:20, 21.
5, 6. Hoe kan ons toon dat ons dankbaar is vir God se grootste gawe, die losprys?
5 Die grootste gawe, die volmaakste geskenk wat Jehovah gegee het, is dié van sy Seun, Jesus, deur wie die losprysoffer voorsien is. “As dit is hoe God ons liefgehad het”, het die apostel Johannes geskryf, “dan staan ons ook onder verpligting om mekaar lief te hê” (1 Johannes 4:11). Ja, ons toon ons dankbaarheid vir die losprys deur nie net liefde en waardering teenoor Jehovah uit te spreek nie, maar ook deur ons lewe so te lei dat dit liefde vir ander openbaar.—Matteus 22:37-39.
6 Ons kan meer leer oor die betoning van dankbaarheid deur te kyk na hoe Jehovah met eertydse Israel gehandel het. Deur middel van die Wet, wat hy deur Moses aan die nasie gegee het, het Jehovah die volk baie lesse geleer. Ons kan baie leer uit “die raamwerk van die kennis en van die waarheid in die Wet”, wat ons kan help om Paulus se raad te volg: “Toon dat julle dankbaar is.”—Romeine 2:20; Kolossense 3:15.
Drie lesse uit die Mosaïese Wet
7. Hoe het die reëling van tiendes Israeliete die geleentheid gegee om hulle dankbaarheid teenoor Jehovah te toon?
7 In die Mosaïese Wet het Jehovah drie maniere voorsien waarvolgens die Israeliete hulle opregte waardering vir sy goedheid kon toon. Eerstens was daar die reëling van tiendes. ’n Tiende van die land se opbrengs, asook “tiendes van die beeste en kleinvee”, moes “iets heiligs vir Jehovah” word (Levitikus 27:30-32). Wanneer die Israeliete gehoorsaam was, het Jehovah hulle ryklik geseën. “‘Bring al die tiendes in die voorraadkamer, sodat daar voedsel in my huis kan wees; en stel my asseblief hierin op die proef’, het Jehovah van die leërs gesê, ‘of ek nie vir julle die sluise van die hemel sal oopmaak en op julle ’n seën sal uitstort totdat daar geen gebrek meer is nie.’”—Maleagi 3:10.
8. Wat was die verskil tussen vrywillige bydraes en tiendes?
8 Tweedens het Jehovah gereël dat die Israeliete, benewens die vereiste om tiendes te gee, ook vrywillige bydraes kon maak. Hy het Moses beveel om vir die Israeliete te sê: “Wanneer julle in die land kom waarheen ek julle bring, moet julle, wanneer julle van die brood van die land eet, ’n bydrae aan Jehovah gee.” Hulle moes van die eerstelinge van hulle “growwe meel as ringvormige koeke” aanbied as “’n bydrae aan Jehovah” in al hulle geslagte. Let op dat geen spesifieke hoeveelheid van hierdie eerstelinge vereis is nie (Numeri 15:18-21). Maar wanneer die Israeliete ’n bydrae uit dankbaarheid gegee het, was hulle verseker van Jehovah se seën. ’n Soortgelyke reëling kan in verband met die tempel in Esegiël se visioen gesien word. Ons lees: “Die eerstelinge van al die eerste ryp vrugte van alles en elke bydrae van alles uit al julle bydraes—dit sal die priesters s’n word; en die eerstelinge van julle growwe meel moet julle aan die priester gee, om ’n seën op jou huis te laat rus.”—Esegiël 44:30.
9. Wat het Jehovah sy volk geleer deur die voorsiening om oesoorblyfsels op te tel?
9 Derdens het Jehovah gereël dat oesoorblyfsels opgetel kon word. “Wanneer julle die oes van julle land insamel”, het God beveel, “moet jy die rand van jou land nie heeltemal afoes nie, en die oorblyfsels van jou oes moet jy nie optel nie. Ook moet jy die oorblyfsels van jou wingerd nie insamel nie, en jy moet die druiwe wat van jou wingerd afgeval het, nie optel nie. Vir die geteisterde en die inwonende vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is Jehovah julle God” (Levitikus 19:9, 10). Weer eens is daar geen spesifieke hoeveelheid vereis nie. Elke Israeliet moes self besluit hoeveel hy vir die behoeftiges sou los. Die wyse koning Salomo het gepas verduidelik: “Hy wat aan die geringe guns betoon, leen aan Jehovah, en Hy sal hom vir sy handelswyse beloon” (Spreuke 19:17). So het Jehovah hulle medelye en bedagsaamheid teenoor minderbevoorregtes geleer.
10. Wat was die gevolge vir die volk Israel wanneer hulle versuim het om hulle dankbaarheid te toon?
10 Jehovah het die Israeliete geseën wanneer hulle gehoorsaam die tiendes ingebring het, vrywillige bydraes gegee het en vir die armes voorsiening gemaak het. Maar wanneer die volk Israel versuim het om hulle dankbaarheid te toon, het hulle Jehovah se guns verloor. Dit het tot rampspoed en uiteindelik tot ballingskap gelei (2 Kronieke 36:17-21). Watter lesse is daar dan vir ons?
Hoe ons ons dankbaarheid toon
11. Wat is die vernaamste manier waarop ons ons dankbaarheid teenoor Jehovah kan toon?
11 Die vernaamste manier waarop ons Jehovah kan loof en ons dankbaarheid kan toon, behels eweneens ’n “offerande”. As Christene is ons weliswaar nie onder die Mosaïese Wet, wat ons sou verplig om diere of gewasse te offer nie (Kolossense 2:14). Nietemin het die apostel Paulus die Hebreeuse Christene aangespoor: “Laat ons . . . altyd aan God ’n lofoffer bring, dit wil sê die vrug van die lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak” (Hebreërs 13:15). Deur ons vermoëns en middele te gebruik om aan Jehovah ’n lofoffer te bring, hetsy in die openbare bediening of in “die versamelde menigtes” van mede-Christene, kan ons hartgrondige dank teenoor ons liefdevolle hemelse Vader, Jehovah God, toon (Psalm 26:12). Wat kan ons leer uit die manier waarop die Israeliete hulle dankbaarheid teenoor Jehovah moes betuig?
12. Wat kan ons uit die reëling van tiendes leer wanneer dit by ons Christelike verantwoordelikheid kom?
12 Eerstens het ons gesien dat tiendes nie opsioneel was nie; elke Israeliet het in hierdie opsig ’n verpligting gehad. As Christene het ons die verantwoordelikheid om aan die bediening deel te neem en Christelike vergaderinge by te woon. Hierdie bedrywighede is nie opsioneel nie. In sy betekenisvolle profesie aangaande die tyd van die einde het Jesus nadruklik gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14; 28:19, 20). Wat Christelike vergaderinge betref, is die apostel Paulus geïnspireer om te skryf: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24, 25). Ons toon ons dankbaarheid teenoor Jehovah wanneer ons ons verantwoordelikheid vreugdevol aanvaar om te getuig en te onderrig, asook gereeld by die gemeentelike vergaderinge met ons broers te assosieer, wat ons as ’n eer en voorreg beskou.
13. Watter les leer ons uit die reëling van vrywillige bydraes en oesoorblyfsels?
13 Ons kan ook daarby baat vind as ons die ander twee voorsienings ondersoek waardeur die Israeliete hulle waardering kon toon—vrywillige bydraes en oesoorblyfsels. In teenstelling met tiendes, wat ’n voorgeskrewe hoeveelheid vereis het, is spesifieke hoeveelhede nie in die geval van vrywillige bydraes en oesoorblyfsels vereis nie. Dit het eerder ’n kneg van Jehovah die geleentheid gebied om beweeg te word deur die waardering in sy hart. So ook besef ons dat ’n deelname aan die bediening en die bywoning van Christelike vergaderinge ’n basiese verantwoordelikheid van elke kneg van Jehovah is. Maar neem ons heelhartig en met ’n gewillige gees daaraan deel? Beskou ons dit as ’n geleentheid om ons hartgrondige waardering te toon vir alles wat Jehovah vir ons doen? Neem ons ywerig aan hierdie bedrywighede deel, in die mate wat ons individuele omstandighede toelaat? Of beskou ons al hierdie dinge slegs as ’n verpligting wat ons moet nakom? Ons moet hierdie vrae natuurlik self beantwoord. Die apostel Paulus het dit so gestel: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot vreugde hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie.”—Galasiërs 6:4.
14. Wat verwag Jehovah van ons in ons diens aan hom?
14 Jehovah God ken ons omstandighede goed. Hy is bewus van ons beperkings. Hy waardeer die offers, groot en klein, wat sy knegte gewillig is om te bring. Hy verwag nie dat ons almal dieselfde gee nie, en ons kan ook nie. Toe die apostel Paulus materiële gawes bespreek het, het hy vir die Christene in Korinte gesê: “As die bereidheid eerste daar is, is dit veral aanneemlik volgens wat ’n mens het, nie volgens wat ’n mens nie het nie” (2 Korintiërs 8:12). Hierdie beginsel is net soveel van toepassing op ons diens aan God. Dit is nie hoeveel ons doen wat bepaal of ons diens vir Jehovah aanneemlik is nie, maar die manier waarop ons dit doen—vreugdevol en heelhartig.—Psalm 100:1-5; Kolossense 3:23.
Ontwikkel en behou die pioniergees
15, 16. (a) Watter verband is daar tussen die pionierbediening en dankbaarheid? (b) Hoe kan diegene wat nie as pioniers kan dien nie, ’n pioniergees openbaar?
15 ’n Lonende manier om ons dankbaarheid teenoor Jehovah te toon, is om die voltydse bediening te betree. Beweeg deur liefde vir Jehovah en waardering vir sy onverdiende goedhartigheid, het talle toegewyde knegte groot veranderinge in hulle lewe aangebring sodat hulle meer tyd vir Jehovah se diens kon hê. Party kan as gewone pioniers dien en gemiddeld 70 uur elke maand daaraan wy om die goeie nuus te verkondig en mense die waarheid te leer. Ander, wat dalk weens verskillende omstandighede beperk is, reël van tyd tot tyd om 50 uur per maand as hulppioniers te getuig.
16 Maar wat van die talle knegte van Jehovah wat nie as gewone of hulppioniers kan dien nie? Hulle kan dankbaarheid toon deur ’n pioniergees te ontwikkel en te behou. Hoe? Deur diegene aan te moedig wat wel as pioniers dien, deur ’n begeerte by hulle kinders in te boesem om ’n loopbaan in die voltydse diens te volg en deur ywerig aan die predikingswerk deel te neem na gelang van hulle omstandighede. Wat ons in ons bediening gee, hang baie af van hoe diep die waardering in ons hart is vir wat Jehovah reeds vir ons gedoen het, tans doen en nog sal doen.
Ons toon dankbaarheid met ons “waardevolle dinge”
17, 18. (a) Hoe kan ons dankbaarheid toon met ons “waardevolle dinge”? (b) Watter waarde het Jesus aan die weduwee se bydrae geheg, en waarom?
17 “Eer Jehovah met jou waardevolle dinge”, sê Spreuke 3:9, “en met die eerstelinge van jou hele opbrengs.” Knegte van Jehovah hoef nie meer tiendes te gee nie. Trouens, Paulus het vir die gemeente in Korinte geskryf: “Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie teësinnig of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief” (2 Korintiërs 9:7). Ons vrywillige bydraes ter ondersteuning van die wêreldwye Koninkrykspredikingswerk toon ook ons dankbaarheid. Hartgrondige waardering beweeg ons om dit gereeld te doen en moontlik elke week iets opsy te sit, soos die vroeë Christene gedoen het.—1 Korintiërs 16:1, 2.
18 Dit is nie die hoeveelheid wat ons bydra, wat ons waardering vir Jehovah weerspieël nie. Dit is eerder die gesindheid waarmee ons gee. Dit is waarna Jesus opgelet het toe hy gekyk het hoe mense hulle gawes in die skatkiste by die tempel ingooi. Toe Jesus sien hoe ’n behoeftige weduwee “twee muntstukkies van baie min waarde” ingooi, het hy gesê: “Ek sê vir julle die waarheid: Hierdie weduwee het, hoewel sy arm is, meer as hulle almal ingegooi. Want hulle almal het uit hulle oorvloed gawes ingegooi, maar hierdie vrou het in haar gebrek al die middele vir lewensonderhoud ingegooi wat sy gehad het.”—Lukas 21:1-4.
19. Waarom is dit goed om opnuut te kyk na maniere waarop ons ons dankbaarheid kan toon?
19 Mag hierdie hersiening van hoe ons ons dankbaarheid kan toon, ons aanspoor om opnuut te kyk na maniere waarop ons dit kan doen. Kan ons dalk ons lofoffer aan Jehovah vergroot, asook ons geldelike ondersteuning van die wêreldwye werk? As ons doen wat ons kan, toon dit dat ons dankbaar is en kan ons seker wees dat dit ons vrygewige, liefdevolle Vader, Jehovah, sal behaag.
Onthou jy?
• Om watter redes moet ons dankbaar teenoor Jehovah wees?
• Watter lesse leer ons uit die reëling van tiendes, vrywillige bydraes en oesoorblyfsels?
• Hoe kweek ons die pioniergees aan?
• Hoe kan ons ons “waardevolle dinge” gebruik om Jehovah te dank?
[Prente op bladsy 15]
“Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van bo”
[Prente op bladsy 16]
Watter drie lesse uit die Wet word hier uitgebeeld?
[Prente op bladsy 18]
Watter offers kan ons bring?