Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 10/15 bl. 8-12
  • Die goeie nuus dra vrug in São Tomé en Príncipe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die goeie nuus dra vrug in São Tomé en Príncipe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Saadjies wat onder moeilike omstandighede gesaai is
  • Uitbreiding en bouwerk
  • ’n Geskiedkundige streekbyeenkoms
  • Vrugte wat Jehovah tot lof strek
  • Na Príncipe
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 10/15 bl. 8-12

Die goeie nuus dra vrug in São Tomé en Príncipe

DIE meeste mense het seker nog nooit van São Tomé en Príncipe gehoor nie. Hierdie eilande word gewoonlik nie in vakansiebrosjures geadverteer nie. Op ’n wêreldkaart lyk hulle soos klein spikkeltjies in die Golf van Guinee naby die weskus van Afrika—São Tomé lê amper op die ewenaar en Príncipe effens na die noordooste toe. Die reënerige, vogtige klimaat het digte reënwoude laat ontstaan, wat die hange bedek van berge wat meer as 2 000 meter hoog is.

Hierdie tropiese eilande, wat omring word deur blou water en palmryke strande, word bewoon deur vriendelike, goedhartige mense, wie se gemengde Afrika- en Europese oorsprong ’n aangename samesmelting van kulture tot gevolg gehad het. Die bevolking van 170 000 is gemoeid met die vernaamste uitvoerproduk, kakao, of met boerdery en visvangs. In onlangse jare het dit moeilik geword om selfs net die daaglikse voedsel te bekom.

In die laaste dekade van die 20ste eeu het daar egter iets gebeur wat die lewe van al hoe meer mense op hierdie eilande grootliks geraak het. In Junie 1993 is Jehovah se Getuies wetlik geregistreer deur die regering van São Tomé en Príncipe, en sodoende is ’n lang en dikwels moeilike hoofstuk in die geskiedenis van Jehovah se Getuies op hierdie eilande afgesluit.

Saadjies wat onder moeilike omstandighede gesaai is

Die eerste Getuie het blykbaar in die vroeë 1950’s na hierdie eilande gekom toe gevangenes uit ander Portugese kolonies in Afrika na die eilande gestuur is om in strafkampe te werk. Die Getuie, ’n swart pionier, of voltydse bedienaar, is uit Mosambiek gedeporteer omdat hy die goeie nuus van God se Koninkryk in daardie land verkondig het. Al was hy die enigste Getuie, het hy besig gebly, en binne ses maande was daar 13 ander wat die goeie nuus saam met hom bekend gemaak het. Later het ander Getuies onder dieselfde omstandighede uit Angola aangekom. Gedurende hulle gevangenskap het hulle elke geleentheid aangegryp om die goeie nuus aan die plaaslike inwoners te verkondig.

Teen 1966 het al die broers wat tronkstraf in São Tomé uitgedien het, na die vasteland van Afrika teruggekeer. Die klein groepie Koninkryksverkondigers wat agtergebly het, het moedig voortgegaan. Hulle is vervolg, geslaan en in die tronk gegooi omdat hulle saam vergader het vir Bybelstudie, en daar was niemand wat hulle kon besoek of aanmoedig nie. Die land het in 1975 onafhanklikheid van Portugal verkry, en die saadjies van Koninkrykswaarheid het stadig maar seker begin vrug dra.

Uitbreiding en bouwerk

Dieselfde maand waarin die werk in 1993 wetlik geregistreer is, was daar ’n hoogtepunt van 100 Koninkryksverkondigers. Daardie selfde jaar het spesiale pioniers uit Portugal daar aangekom. Hulle pogings om Kreools-Portugees te leer, het hulle geliefd gemaak by die plaaslike mense. Die soeke na ’n stuk grond vir ’n Koninkryksaal het daarna ’n prioriteit geword. Toe ’n suster met die naam Maria hiervan hoor, het sy die helfte van die grond geskenk waarop haar huisie staan. Die grond was voldoende vir ’n groot Koninkryksaal. Maria het nie geweet dat ambisieuse ontwikkelaars hulle oog op die grond gehad het omdat sy nie meer familielede gehad het nie. Eendag het ’n vooraanstaande sakeman met Maria kom praat.

“Wat ek van jou hoor, is glad nie goed nie!” het hy vir haar gesê. “Ek hoor jy het jou grond geskenk. Het jy nie geweet dat dit ’n klomp geld werd is omdat dit reg hier in die stad is nie?”

“As ek jou die grond aanbied, hoeveel sal jy my betaal?” het Maria gevra. Toe die man nie antwoord nie, het Maria verder gesê: “Al sou jy my al die geld in die wêreld gee, sou dit nie genoeg wees nie, want geld kan nie lewe koop nie.”

“Jy het mos nie kinders nie”, het die man gesê.

Om die gesprek te beëindig, het Maria gesê: “Die grond behoort aan Jehovah. Hy het dit soveel jare vir my geleen, en nou het ek dit aan hom teruggegee. Ek sien daarna uit om vir ewig te lewe.” Toe het sy die man gevra: “Kan jy my die ewige lewe bied?” Sonder ’n verdere woord het hy omgedraai en weggeloop.

Die gevolg was dat ’n pragtige tweeverdiepinggebou met die hulp van bekwame broers uit Portugal gebou is. Dit het ’n volledige kelderverdieping, ’n ruim Koninkryksaal en ’n woonstel. Daar is ook klaskamers om skole te hou vir ouer manne, bedieningsknegte en pioniers. Twee gemeentes gebruik dit nou vir hulle vergaderinge; dit is dus ’n uitstekende onderrigsentrum vir rein aanbidding in die hoofstad.

In Mé-Zochi was daar ’n gemeente met 60 ywerige verkondigers. Aangesien die vergaderinge in ’n tydelike Koninkryksaal in ’n piesangplantasie gehou is, het dit duidelik geword dat daar ’n behoefte aan ’n gepaste Koninkryksaal was. Hulle het die stadsraad hieroor genader, en goedgesinde amptenare het hulle ’n mooi stuk grond in die hoofstraat aangebied. ’n Pragtige Koninkryksaal is binne twee maande gebou met die hulp van broers uit Portugal, wat die snelboumetode gebruik het. Die plaaslike mense kon skaars hulle oë glo. ’n Sweedse ingenieur wat besig was met ’n bouprojek in die stad, was verbaas toe hy die broers en susters die werk sien doen. “Dis ongelooflik!” het hy gesê. “Jehovah se Getuies gebruik ’n snelboumetode hier in Mé-Zochi! Dis hoe ons ons projek moet organiseer.” Die Koninkryksaal is op 12 Junie 1999 toegewy, en 232 was teenwoordig. Die saal het ’n vername besienswaardigheid vir besoekers aan die stad Mé-Zochi geword.

’n Geskiedkundige streekbyeenkoms

’n Geskiedkundige gebeurtenis vir Jehovah se Getuies in São Tomé en Príncipe was die driedaagse “Goddelike onderrigting”-streekbyeenkoms in Januarie 1994—die eerste een op hierdie eilande. Dit is in die beste lugversorgde ouditorium in die land gehou. Kan jy jou die vreugde voorstel van die 116 Koninkryksverkondigers toe hulle ’n skare van 405 daar sien en vir die eerste keer na Bybeldramas kyk en byeenkomsvrystellings ontvang? Twintig pastoegewydes is na ’n tropiese strand geneem om gedoop te word.

’n Nuwigheid wat die aandag van die publiek getrek het, was die unieke lapelkaarte wat die byeenkomsgangers gedra het. Die teenwoordigheid van 25 besoekers uit Portugal en Angola het ’n internasionale geur aan die byeenkoms verleen. ’n Band van hartlike Christelike liefde het gou ontwikkel, en trane het oor menige wang gestroom tydens die laaste sessie toe hulle afskeid moes neem.—Johannes 13:35.

Joernaliste van die Nasionale Radiodiens het gekom om ’n onderhoud met die byeenkomsopsiener te voer. Hulle het ook uittreksels uit ’n paar van die toesprake uitgesaai. Dit was ongetwyfeld ’n geskiedkundige geleentheid en het hierdie getroue Getuies wat so lank afgesonder was, soveel nader aan Jehovah se sigbare organisasie laat voel.

Vrugte wat Jehovah tot lof strek

Wanneer die Koninkryksboodskap vrug dra, bring dit goeie gedrag voort wat Jehovah tot lof en eer strek (Titus 2:10). ’n Tienermeisie het gehou van wat sy in haar weeklikse Bybelstudie geleer het. Maar haar vader het haar verbied om die gemeentelike vergaderinge by te woon. Toe sy eerbiedig vir hom verduidelik het dat Christelike vergaderinge belangrik is en dat sy dit graag wil bywoon, het hy haar sonder meer uit die huis gejaag. Hy het blykbaar gedink dat sy sou doen wat baie ander jongmense doen—dat sy gou sou intrek by ’n man wat vir haar kon sorg. Toe die vader hoor dat sy ’n voorbeeldige, kuis lewe lei as ’n Christen, het dit hom beweeg om haar terug te neem en haar volkome vryheid te gee om Jehovah te dien.

Nog ’n voorbeeld is dié van die leier van ’n musiekgroep. Sy onsedelike lewenswyse het net tot teleurstelling gelei. Terwyl hy op soek was na ’n doel in die lewe, het die Getuies met hom in aanraking gekom. Toe hy volgens die sedelike standaarde van die Bybel begin lewe, het almal daarvan gepraat. Hy het weldra besef dat hy alle onheilsame assosiasie moet beëindig (1 Korintiërs 15:33). Daarna het hy die belangrike stap geneem om gedoop te word as ’n simbool van sy toewyding aan Jehovah.

’n Groepie jongmense het na die ware godsdiens gesoek. In hulle soeke het hulle besprekings met die pastore van verskeie evangeliese groepe gehad, maar dit het net tot verdere verwarring en ontnugtering gelei. Gevolglik het hulle ’n gewelddadige klomp leeglêers geword wat met enigiets van ’n godsdienstige aard gespot het.

Eendag was een van Jehovah se Getuies, ’n sendeling, op pad om ’n Bybelstudie te hou en het hy by die plek verbygeloop waar hierdie jongmense was. Die groepie wou hê dat die sendeling ’n paar vrae beantwoord en het hom na ’n agterplaas geneem, waar hy genooi is om op ’n stoeltjie te sit. Hulle het hom toe met vrae bestook oor onderwerpe soos die siel, die helse vuur, lewe in die hemel en die einde van die wêreld. Die Getuie het al hulle vrae beantwoord uit ’n Bybel wat die bendeleier vir hom gegee het. ’n Uur later het die leier, met die naam Law, vir die sendeling gesê: “Toe ons jou gevra het om ons vrae te kom beantwoord, was ons van plan om met jou die spot te dryf, soos ons met mense van ander godsdienste gedoen het. Ons het gedink dat niemand hierdie vrae kon beantwoord nie. Maar jy het, en jy het die Bybel gebruik om dit te doen! Sê vir my, hoe kan ek meer van die Bybel leer?” ’n Bybelstudie is met Law begin, en hy het weldra vergaderinge begin bywoon. Kort daarna het hy die bende verlaat en sy gewelddadige lewenswyse die rug toegekeer. Binne ’n jaar het hy sy lewe aan Jehovah toegewy en is hy gedoop. Hy dien nou as ’n bedieningskneg.

’n Diepgewortelde plaaslike gebruik is dat paartjies eenvoudig saambly sonder om wettig getroud te wees. Baie bly al jare lank saam en het kinders saam. Hulle vind dit moeilik om God se beskouing van die saak te aanvaar. Dit is hartverblydend om te sien hoe God se Woord een persoon gehelp het om hierdie struikelblok te oorkom.—2 Korintiërs 10:4-6; Hebreërs 4:12.

Antonio het besef dat hy sy huwelik moet wettig en het beplan om dit ná die mielieoes te doen wanneer hy genoeg geld vir die troue sou hê. Een nag, net voor die oes, het diewe sy mielies kom steel. Hy het besluit om te wag vir die volgende jaar se oes, en weer eens is dit gesteel. Ná nog ’n mislukte poging om geld vir sy troue te kry, het Antonio besef wie werklik sy teenstander is. “Satan gaan nie meer met my speel nie”, het hy gesê. “Binne ’n maand en ’n half gaan ons trou, met of sonder ’n onthaal!” Hulle het getrou, en tot hulle verbasing het hulle vriende hoenders, eende en ’n bok voorsien vir die onthaal. Nadat Antonio en sy vrou hulle huwelik geregistreer het, is hulle—en hulle ses kinders—gedoop as ’n simbool van hulle toewyding aan Jehovah.

Na Príncipe

In onlangse jare het die kringopsiener en pioniers van São Tomé die 6 000 inwoners van Príncipe van tyd tot tyd besoek. Die eilanders was baie gasvry en het graag geluister na die Getuies se boodskap. Nadat ’n man ’n traktaat gelees het wat by hom gelaat is, het hy die volgende dag na die pioniers gaan soek en aangebied om hulle te help om meer traktate te versprei. Die pioniers het verduidelik dat dit ’n werk is wat húlle moet doen, maar die man het daarop aangedring om saam met hulle van deur tot deur te gaan sodat hy hulle aan die huisbewoners kon voorstel en mense kon aanspoor om mooi te luister. Die man is uiteindelik daar weg, maar eers nadat hy die pioniers geprys het vir die belangrike werk wat hulle doen.

In 1998 het twee pioniers van São Tomé na Príncipe getrek, en hulle het kort voor lank 17 tuisbybelstudies gehou. Die werk het bly uitbrei, en weldra het gemiddeld 16 mense die Gemeentelike Boekstudie bygewoon, en meer as 30 die openbare toespraak. Die behoefte aan ’n vergaderplek is aan die stadsraad voorgelê, en die broers was bly toe grond aan hulle toegestaan is waarop hulle ’n Koninkryksaal kon bou. Broers van São Tomé het aangebied om ’n klein Koninkryksaal te bou wat ook ’n woonstel vir twee spesiale pioniers het.

Die goeie nuus dra ongetwyfeld veel vrug en neem toe op hierdie verafgeleë eilande (Kolossense 1:5, 6). In Januarie 1990 was daar 46 verkondigers in São Tomé en Príncipe. Gedurende die 2002-diensjaar is ’n hoogtepunt van 388 Koninkryksverkondigers bereik! Meer as 20 persent van die verkondigers is in die voltydse diens, en omtrent 1 400 tuisbybelstudies word gehou. Die Gedenkmaal vir 2001 het ’n opkomshoogtepunt van 1 907 gehad. Ja, die woord van Jehovah beweeg vinnig vooruit en word verheerlik op hierdie tropiese eilande.—2 Tessalonisense 3:1.

[Venster/Prent op bladsy 12]

Gewilde radio-uitsendings

’n Publikasie wat baie waardeer word op hierdie eilande, is Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk.a Elke twee weke word ’n program van 15 minute op Nasionale Radio aangebied. Hoe wonderlik is dit tog om die omroeper te hoor vra: “Jongmense, hoe weet julle of dit ware liefde of verliefdheid is?” en dan te hoor hoe hy ’n gedeelte uit die boek voorlees! (Sien hoofstuk 31.) In ’n soortgelyke uitsending word gedeeltes voorgelees uit die boek Die geheim van gesinsgeluk.b

[Voetnote]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 9]

Eerste Koninkryksaal in São Tomé in 1994

[Prente op bladsy 10]

1. Snelbou-Koninkryksaal in Mé-Zochi

2. ’n Geskiedkundige streekbyeenkoms is in hierdie ouditorium gehou

3. Gelukkige doopkandidate by die streekbyeenkoms

[Foto-erkenning op bladsy 8]

Aardbol: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel