‘Skop jy teen die prikkels’?
IN BYBELTYE is ’n osprikkel—’n lang staf wat gewoonlik ’n skerp metaalpunt gehad het—gebruik om trekdiere aan te dryf en in die regte rigting te stuur. Wat was die gevolg as die dier steeks was en hom teen die prikkel verset het deur daarteen te druk? Dit het nie verligting meegebring nie; hy het homself eerder seergemaak.
Die verrese Jesus Christus het van prikkels gepraat toe hy verskyn het aan ’n man met die naam Saulus, wat op pad was om van Jesus se dissipels in hegtenis te neem. Saulus het Jesus vanuit ’n verblindende lig hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy my? Om teen die prikkels te bly skop, maak dit vir jou moeilik.” Deur Christene sleg te behandel, het Saulus in werklikheid teen God gestry en ’n weg gevolg wat hom net sou benadeel.—Handelinge 26:14.
Is ons dalk ook besig om onbewustelik ‘teen die prikkels te skop’? Die Bybel vergelyk “die woorde van die wyses” met osprikkels wat ons aanpor om vooruit te beweeg in die regte rigting (Prediker 12:11). Die geïnspireerde raad in God se Woord kan ons motiveer en op die regte weg rig—as ons dit toelaat (2 Timoteus 3:16). As ons ons teen die prikkels verset, sal dit ons net benadeel.
Saulus het Jesus se woorde ter harte geneem, sy weg verander en die geliefde Christenapostel Paulus geword. As ons ag slaan op goddelike raad, sal dit eweneens vir ons ewige seëninge meebring.—Spreuke 3:1-6.
[Foto-erkenning op bladsy 32]
L. Chapons/Illustrirte Familien-Bibel nach der deutschen Uebersetzung Dr. Martin Luthers