’N Geloofversterkende en bemoedigende verhaal—Jehovah se Getuies in die Oekraïne
NET soos Christene in die eerste eeu word God se volk vandag vervolg (Matteus 10:22; Johannes 15:20). Daar is egter min plekke waar die vervolging so lank voortgeduur het of so hewig was soos in die Oekraïne, waar die Koninkrykspredikingswerk 52 jaar lank verbied was.
Die 2002 Yearbook of Jehovah’s Witnesses het die verhaal van God se volk in daardie land vertel. Dit is ’n verhaal van geloof, moed en krag gedurende ’n uiters moeilike tyd. Hier volg ’n paar van die uitdrukkings van waardering wat die takkantoor van Jehovah se Getuies in die Oekraïne ontvang het:
“Ek het so pas die 2002-jaarboek klaar gelees. Terwyl ek van julle bedrywighede in die Oekraïne gelees het, kon ek nie die trane keer nie. Ek wil hê julle moet weet hoeveel julle ywerige voorbeeld en sterk geloof my aangemoedig het. Dit is vir my ’n voorreg om aan dieselfde geestelike familie as julle te behoort. Ek wil julle uit die diepte van my hart bedank!”—Andrée, Frankryk.
“Woorde kan nie beskryf hoe dankbaar ek teenoor julle en teenoor Jehovah is vir die 2002-jaarboek nie. Trane het oor my wange gerol terwyl ek die talle ondervindinge gelees het van broers wat hulle beste jare in tronke en konsentrasiekampe deurgebring het. Ek bewonder hulle moed. Hoewel ek al 27 jaar lank ’n Getuie is, kan ek steeds by hierdie broers en susters leer. Hulle het my geloof in ons hemelse Vader, Jehovah, versterk.”—Vera, voormalige Joego-Slawië.
“Ek skryf hierdie brief met blydskap omdat julle gedurende al daardie jare van teenstand so ’n goeie voorbeeld van volharding en getrouheid gestel het. Julle volkome vertroue op Jehovah en julle vasbeslotenheid om getrou te bly, is prysenswaardig. Wat meer is, julle nederigheid terwyl julle beproewinge deurgemaak het, versterk my oortuiging dat Jehovah nie sy volk verlaat nie. Weens julle goeie voorbeeld van moed, standvastigheid en volharding kan ons ons probleempies baie makliker aanvaar.”—Tuteirihia, Frans-Polinesië.
“Nadat ek die jaarboek gelees het, moes ek net vir julle skryf. Al die pragtige ondervindinge het my baie diep geraak. Ek het trots gevoel om deel te wees van so ’n lojale, verenigde organisasie, wat gerig word deur ’n liefdevolle, besorgde Vader, wat ons krag op die regte tyd gee. Ek was hartseer dat soveel pragtige knegte van Jehovah so erg gely het en selfs hulle lewe verloor het. Maar ek was ook bly dat soveel mense as gevolg van hulle moed en ywer die waarheid sowel as ons liefdevolle Vader leer ken het.”—Colette, Nederland.
“Ek en my vrou moes eenvoudig vir julle skryf om te sê dat die verslag in die jaarboek oor die Oekraïne ons harte geraak het. As getroue broers het julle ’n uitstekende voorbeeld van volharding onder voortdurende, uiters moeilike omstandighede gestel. In ooreenstemming met die woorde van Spreuke 27:11 is Jehovah sekerlik verheug dat soveel getroue broers in die Oekraïne hulle onkreukbaarheid gehandhaaf het ten spyte van al die Duiwel se bose dade.”—Alan, Australië.
“Ek het trane in my oë gekry toe ek van die broers in die Oekraïne lees. Hulle het soveel verduur—hulle was jare lank in tronke, gemartel, onderdruk en van hulle familie geskei. Ek wil vir al daardie broers wat nog in julle gemeentes dien, sê dat ek hulle baie liefhet en respekteer. Ook hulle moed en standvastigheid het my baie beïndruk. Ek weet dat Jehovah se gees die bron van hulle krag was. Jehovah is na aan ons en hy wil ons help.”—Sergei, Rusland.
“Toe ek die 2002-jaarboek lees, was ek in trane. Baie susters en broers in ons gemeente het van julle gepraat. Julle is werklik kosbaar. Ek is baie bly om deel te wees van so ’n groot geestelike familie.”—Jeoenhee, Suid-Korea.
“Die verslag van julle geloof, volharding en onwankelbare liefde vir Jehovah en sy Koninkryk, het my diep getref. Soms waardeer ons nie die vryheid wat ons geniet en die oorvloed geestelike voedsel wat Jehovah vir ons voorsien nie. Maar dit was nie die geval met julle nie. Julle voorbeeld van geloof laat ons besef dat God ons die krag sal gee om enige toets die hoof te bied as ons ’n hegte verhouding met hom het.”—Paulo, Brasilië.
“Ek het die voorreg gehad om julle ondervindinge in die 2002-jaarboek te lees. Dit het my diep geraak, veral die hartroerende ondervinding van suster Lydia Kurdas. Dit het my baie na aan hierdie suster laat voel.”—Nidia, Costa Rica.
“Ek het vandag die 2002-jaarboek klaar gelees. Terwyl ek dit gelees het, is my geloof in Jehovah versterk. Iets wat ek nooit sal vergeet nie, is die verslag oor hoe twyfelgedagtes gesaai is oor diegene wat die leiding neem. Dit het my geleer om altyd die broers wat die leiding neem, te vertrou. Baie dankie! Hierdie geestelike voedsel is goed vir die hart en berei ons voor op die tyd wanneer ons geloof getoets kan word.”—Leticia, Verenigde State.
“Ons is dankbaar vir die uitstekende jaarboek. Baie verkondigers het vir die eerste keer van die bedrywighede van ons broers in die Oekraïne gelees. Dit het die broers hier versterk. Baie, veral die jonges, doen nou meer in die veldbediening. Party het as gewone of hulppioniers begin dien. Almal is aangemoedig deur die verhale van broers en susters wat Jehovah gedurende die verbod gedien het.”—’n Gemeentelike dienskomitee, die Oekraïne.
Die getrouheid van ons broers in die Oekraïne is inderdaad ’n bron van bemoediging vir Jehovah se volk regoor die wêreld. Trouens, ’n goeie manier waarop ons ons geloof en volharding in hierdie betekenisvolle tye kan versterk, is deur gereeld die bemoedigende verslae te lees wat elke jaar in die jaarboek verskyn.—Hebreërs 12:1.