Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 10/1 bl. 2-4
  • Baie vrae—min bevredigende antwoorde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Baie vrae—min bevredigende antwoorde
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Struikelblok in die weg van geloof?
  • Straf God ons?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Gee God om?
    Ontwaak!—2011
  • Die boek van die natuur en die Bybel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Waarom is daar soveel lyding as die Skepper vir ons omgee?
    Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 10/1 bl. 2-4

Baie vrae—Min bevredigende antwoorde

OP DIE oggend van Allerheiligedag, 1 November 1755, het ’n kragtige aardbewing Lissabon getref terwyl die meeste van die stad se inwoners in die kerk was. Duisende geboue het inmekaargestort, en tienduisende mense het omgekom.

Kort ná daardie tragedie het die Franse skrywer Voltaire sy Poème sur le désastre de Lisbonne (Gedig oor die ramp in Lissabon) gepubliseer, waarin hy die bewering verwerp het dat die ramp goddelike vergelding vir die mense se sondes was. Voltaire was van mening dat sulke rampspoedige gebeure nie deur die mens begryp of verduidelik kan word nie. Hy het geskryf:

Die natuur is stom, ons vra haar tevergeefs;

Ons het ’n God nodig wat met die mensdom praat.

Voltaire was natuurlik nie die eerste een wat vrae oor God geopper het nie. Regdeur die mens se geskiedenis het tragedies en rampe vrae by mense laat ontstaan. Duisende jare gelede het die aartsvader Job, wat pas tevore al sy kinders verloor het en deur ’n verskriklike siekte geteister is, gevra: “Waarom gee [God] lig aan iemand wat swaar kry, en lewe aan dié wat bitter van siel is?” (Job 3:20). Vandag wonder baie hoe ’n goeie en liefdevolle God skynbaar passief kan bly te midde van soveel lyding en ongeregtigheid.

Wanneer mense voor die werklikheid van hongersnood, oorlog, siekte en die dood te staan kom, is die idee van ’n Skepper wat vir die mensdom omgee, vir baie heeltemal onaanvaarbaar. ’n Ateïstiese filosoof het gesê: “Dit is onverskoonbaar dat God die lyding van ’n kind toelaat, . . . tensy hy natuurlik nie bestaan nie.” Groot tragedies, soos die Slagting tydens die Tweede Wêreldoorlog, laat mense tot soortgelyke gevolgtrekkings kom. Let op hierdie kommentaar in ’n nuusbrief deur ’n Joodse skrywer: “Die heel eenvoudigste verklaring vir Auschwitz is dat daar geen God is om in menseaangeleenthede in te gryp nie.” Volgens ’n 1997-meningspeiling in Frankryk, ’n land wat oorwegend Katoliek is, twyfel sowat 40 persent van die mense aan die bestaan van God nadat hulle volksmoorde gesien het, soos die een in 1994 in Rwanda.

’n Struikelblok in die weg van geloof?

Waarom gryp God nie in om te keer dat slegte dinge gebeur nie? Een Katolieke kroniekskrywer meen dat hierdie vraag vir baie “’n ernstige struikelblok in die weg van geloof” is. Hy vra: “Is dit werklik moontlik om in ’n God te glo wat hulpeloos toekyk terwyl miljoene onskuldige mense sterf en hele bevolkings in die wêreld uitgemoor word en wat niks doen om dit te verhoed nie?”

’n Hoofartikel in die Katolieke koerant La Croix sê eweneens: “Of dit nou tragedies uit die geskiedenis, tegnologiese dramas, natuurrampe, georganiseerde misdaad of die dood van ’n geliefde is, in elke geval slaan mense hulle geskokte oë op na die hemel. Waar is God? Hulle eis ’n antwoord. Is hy nie die Groot Afsydige, die Groot Afwesige nie?”

Pous Johannes-Paulus II het hierdie kwessie in sy apostoliese brief Salvifici Doloris van 1984 aangeroer. Hy het geskryf: “Hoewel die bestaan van die wêreld as ’t ware die oë van die mensesiel open om te sien dat God bestaan, dat hy wys, magtig en groot is, laat boosheid en lyding blykbaar hierdie beeld vervaag, soms op drastiese wyse, veral in die daaglikse drama van soveel onverdiende lyding en soveel oortredings wat nie behoorlik gestraf word nie.”

Is die bestaan van ’n liefdevolle en almagtige God, soos hy in die Bybel uitgebeeld word, verenigbaar met soveel menselyding? Gryp hy in om te voorkom dat tragedies individue of groepe mense tref? Doen hy vandag enigiets vir ons? Is daar, om Voltaire aan te haal, ‘’n God wat met die mensdom praat’ om hierdie vrae te beantwoord? Lees asseblief die volgende artikel vir die antwoord.

[Prente op bladsy 3]

Die verwoesting van Lissabon in 1755 het Voltaire beweeg om te sê dat sulke gebeure nie deur die mens begryp kan word nie

[Erkennings]

Voltaire: From the book Great Men and Famous Women; Lissabon: J.P. Le Bas, Praça da Patriarcal depois do terramoto de 1755. Foto: Museu da Cidade/Lisboa

[Prent op bladsy 4]

Baie twyfel aan die bestaan van God nadat hulle die tragiese gevolge gesien het van volksmoorde, soos die een in Rwanda

[Erkenning]

AFP PHOTO

[Foto-erkenning op bladsy 2]

VOORBLAD, kinders: USHMM, courtesy of Main Commission for the Prosecution of the Crimes against the Polish Nation

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel