Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 8/1 bl. 14-19
  • Volg die God van waarheid na

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Volg die God van waarheid na
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah se knegte ken die waarheid
  • Jehovah se knegte is waarheidliewend
  • Jehovah se knegte maak die waarheid bekend
  • Streef waarheidliewendheid na
  • Jehovah, die God van waarheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Is waarheid nog belangrik?
    Nog onderwerpe
  • Praat die waarheid met jou naaste
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Christene aanbid met gees en waarheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 8/1 bl. 14-19

Volg die God van waarheid na

“Word . . . navolgers van God, as geliefde kinders.”—EFESIËRS 5:1.

1. Wat glo party oor waarheid, en waarom is hulle redenasies foutief?

“WAT is waarheid?” (Johannes 18:38). Daardie vraag, wat Pontius Pilatus bykans 2 000 jaar gelede sinies gevra het, impliseer dat dit onmoontlik is om waarheid te vind. Vandag sal baie hiermee saamstem. Waarheid op sigself word aangeval. Jy het dalk al gehoor dat elkeen sy eie waarheid formuleer, of dat waarheid relatief is, of dat waarheid altyd aan die verander is. Sulke redenasies is foutief. Die doel van navorsing en opvoeding is dan juis om die feite, die waarheid, te leer oor die wêreld waarin ons lewe. Waarheid is nie ’n saak van persoonlike opinie nie. Byvoorbeeld, die mensesiel is onsterflik of dit is nie. Satan bestaan of hy bestaan nie. Die lewe het ’n doel of dit het nie. In elke geval kan daar net een korrekte antwoord wees. Die een is waar en die ander is onwaar; albei kan nie waar wees nie.

2. In watter opsigte is Jehovah die God van waarheid, en watter vrae sal nou bespreek word?

2 In die vorige artikel het ons bespreek dat Jehovah die God van waarheid is. Hy ken die waarheid omtrent alle dinge. In skerp teenstelling met sy bedrieglike teenstander Satan die Duiwel, is Jehovah altyd waaragtig. Wat meer is, Jehovah openbaar die waarheid ruimhartig aan ander. Die apostel Paulus het mede-Christene aangespoor: “Word . . . navolgers van God, as geliefde kinders” (Efesiërs 5:1). Hoe kan ons, as Getuies van Jehovah, hom navolg deur die waarheid te praat en uit te leef? Waarom is dit belangrik? En watter versekering het ons dat Jehovah diegene goedkeur wat waarheidliewendheid nastreef? Kom ons kyk.

3, 4. Hoe het die apostels Paulus en Petrus beskryf wat gedurende “die laaste dae” sou plaasvind?

3 Ons lewe in ’n era waarin godsdiensonwaarheid volop is. Soos die apostel Paulus onder goddelike inspirasie voorspel het, het baie mense in hierdie “laaste dae” ’n vorm van godvrugtige toegewydheid, maar hulle verloën die krag daarvan. Party staan die waarheid teë omdat hulle “heeltemal verdorwe van verstand is”. En “goddelose mense en bedrieërs [gaan voort] van kwaad tot erger, terwyl hulle mislei en mislei word”. Al is hierdie mense altyd besig om te leer, kom hulle nooit tot “juiste kennis van die waarheid” nie.—2 Timoteus 3:1, 5, 7, 8, 13.

4 Die apostel Petrus is ook geïnspireer om oor die laaste dae te skryf. Net soos hy geprofeteer het, verwerp mense nie net die waarheid nie, maar spot hulle ook met God se Woord en dié wat die waarheid daarin verkondig. “Ooreenkomstig hulle wens” ignoreer sulke spotters die feit dat die wêreld van Noag se dag met water oorstroom is en as ’n voorbeeld dien van ’n toekomstige oordeelsdag. Hulle wensdenkery sal rampspoed vir hulle beteken wanneer God se tyd aanbreek om die goddeloses te vernietig.—2 Petrus 3:3-7.

Jehovah se knegte ken die waarheid

5. Wat sou volgens die profeet Daniël in “die tyd van die einde” gebeur, en hoe is hierdie profesie vervul?

5 In ’n beskrywing van “die tyd van die einde” het die profeet Daniël ’n heel ander verwikkeling onder God se volk voorspel—’n herlewing van godsdienswaarheid. Hy het geskryf: “Baie sal rondswerf, en die ware kennis sal oorvloedig word” (Daniël 12:4). Jehovah se volk word nie verwar of verblind deur die groot Bedrieër nie. Omdat hulle die bladsye van die Bybel deursoek, het hulle ware kennis verkry. In die eerste eeu het Jesus sy dissipels insig gegee. Hy het “hulle verstand ten volle geopen om die betekenis van die Skrif te begryp” (Lukas 24:45). In ons dag het Jehovah dieselfde gedoen. Deur sy Woord, sy gees en sy organisasie het hy miljoene regoor die aarde gehelp om te verstaan wat hy reeds ken—die waarheid.

6. Watter Bybelwaarhede verstaan God se volk vandag?

6 As God se volk verstaan ons baie dinge wat ons andersins nie sou geweet het nie. Ons ken die antwoorde op vrae waarmee wêreldwyse manne al millenniums lank worstel. Byvoorbeeld, ons weet waarom daar lyding is, waarom mense sterf en waarom die mens nie wêreldvrede en -eenheid kan bewerkstellig nie. Ons is ook geseën met kennis van wat die toekoms inhou—die Koninkryk van God, ’n paradysaarde en ewige lewe in volmaaktheid. Ons het Jehovah, die Almagtige, leer ken. Ons het geleer van sy aantreklike persoonlikheid sowel as wat ons moet doen om sy seën te geniet. Omdat ons die waarheid ken, kan ons onwaarheid herken. Die toepassing van waarheid beskerm ons teen vrugtelose strewes, help ons om die lewe ten beste te benut en gee ons ’n wonderlike hoop vir die toekoms.

7. Wie kan Bybelwaarhede begryp, en wie nie?

7 Verstaan jy Bybelwaarheid? Indien wel, is jy ryklik geseën. Wanneer iemand ’n boek skryf, doen hy of sy dit gewoonlik op so ’n manier dat dit by ’n spesifieke groep byval sal vind. Party boeke is vir hooggeleerdes geskryf, ander vir kinders, ander weer vir diegene in gespesialiseerde velde. Hoewel die Bybel vir almal vryelik beskikbaar is, is dit geskryf sodat ’n spesifieke groep mense dit kan verstaan en waardeer. Jehovah het dit vir die nederiges, die ootmoediges van die aarde, laat neerskryf. Hierdie mense kan die sin van die Bybel begryp, ongeag hulle geleerdheid, kultuur, status in die lewe of etniese groep (1 Timoteus 2:3, 4). Aan die ander kant kan diegene wat nie die regte gesindheid het nie, ongeag hoe intelligent of geleerd hulle is, Bybelwaarheid nie begryp nie. Die hoogmoediges, die trotses, kan nie die kosbare waarhede van God se Woord verstaan nie (Matteus 13:11-15; Lukas 10:21; Handelinge 13:48). Net God kan die Outeur van so ’n boek wees.

Jehovah se knegte is waarheidliewend

8. Waarom was Jesus die verpersoonliking van waarheid?

8 Soos Jehovah het sy getroue Getuies die waarheid lief. Jesus Christus, die voortreflikste Getuie van Jehovah, het die waarheid bevestig deur die dinge wat hy geleer het en die manier waarop hy geleef en gesterf het. Hy het die waarheid van Jehovah se woord en beloftes hooggehou. Gevolglik was Jesus die verpersoonliking van waarheid, soos hy self gesê het.—Johannes 14:6; Openbaring 3:14; 19:10.

9. Wat sê die Skrif oor die vereiste om die waarheid te praat?

9 Jesus was “vol onverdiende goedhartigheid en waarheid”, en “daar [was] geen bedrog in sy mond” nie (Johannes 1:14; Jesaja 53:9). Ware Christene volg die voorbeeld wat Jesus gestel het deur die waarheid met ander te praat. Paulus het medegelowiges vermaan: “Julle [moet] die waarheid praat, elkeen van julle met sy naaste, want ons is lede wat aan mekaar behoort” (Efesiërs 4:25). Vroeër het die profeet Sagaria geskryf: “Praat die waarheid met mekaar” (Sagaria 8:16). Christene is waarheidliewend omdat hulle God wil behaag. Jehovah is waaragtig en weet watter skade onwaarheid tot gevolg het. Daarom verwag hy tereg van sy knegte om die waarheid te praat.

10. Waarom vertel mense leuens, en met watter negatiewe gevolge?

10 Baie dink dalk dat leuens ’n gerieflike middel is waardeur hulle sekere voorregte kan bekom. Mense vertel leuens om straf vry te spring, om voordele te verkry of om lof van ander te ontvang. Maar dit is verkeerd om leuens te vertel. Wat meer is, ’n leuenaar kan nie God se goedkeuring verkry nie (Openbaring 21:8, 27; 22:15). Wanneer ons bekend staan as mense wat altyd die waarheid praat, glo ander wat ons sê; hulle vertrou ons. Maar as ander uitvind dat ons selfs net een leuen vertel het, sal hulle enigiets wat ons in die toekoms sê, in twyfel trek. ’n Afrikaspreuk sê: “Een leuen bederf duisend waarhede.” ’n Ander spreuk sê: “’n Leuenaar sal nie geglo word nie, selfs wanneer hy die waarheid praat.”

11. In watter opsig is waarheidliewendheid meer as om net die waarheid te praat?

11 Om waarheidliewend te wees, beteken nie net dat ’n mens die waarheid praat nie. Dit is ’n lewenswyse. Dit is deel van ons karakter. Ons maak die waarheid nie net aan ander bekend deur wat ons sê nie, maar ook deur wat ons doen. “Leer jy, die een wat iemand anders leer, dan nie jouself nie?” het die apostel Paulus gevra. “Jy, die een wat preek: ‘Moenie steel nie’, steel jy? Jy, die een wat sê: ‘Moenie egbreuk pleeg nie’, pleeg jy egbreuk?” (Romeine 2:21, 22). As ons die waarheid aan ander wil oordra, moet ons waarheidliewend wees in al ons handelinge. Ons reputasie van waarheidliewendheid en eerlikheid sal ’n kragtige uitwerking hê op mense se reaksie op wat ons leer.

12, 13. Wat het ’n jong meisie oor waarheidliewendheid geskryf, en wat was die rede vir haar hoë sedelike standaard?

12 Jongmense onder Jehovah se volk besef ook dat dit belangrik is om waarheidliewend te wees. In ’n skoolopstel het Jenny, wat toe 13 was, geskryf: “Eerlikheid is iets waaraan ek groot waarde heg. Ongelukkig is daar vandag nie baie mense wat heeltemal eerlik is nie. Ek belowe myself dat ek altyd in my lewenswandel eerlik sal wees. Ek sal selfs eerlik wees wanneer ek of my vriende nie onmiddellik daarby sal baat vind om die waarheid te praat nie. Ek maak seker dat my vriende mense is wat die waarheid praat en eerlik is.”

13 Jenny se onderwyseres het van hierdie opstel gesê: “Dit is iets besonders dat jy op so ’n jong ouderdom so ’n streng sedelike en etiese gedragskode ontwikkel het. Ek weet dat jy by jou gedragskode sal bly omdat jy karaktervas is.” Wat was verantwoordelik vir hierdie skoolmeisie se sedelike krag? In die inleiding van haar opstel het Jenny gesê dat haar godsdiens “die standaarde vir [haar] lewe stel”. Sewe jaar het verloop sedert Jenny daardie opstel geskryf het. Soos haar onderwyseres verwag het, handhaaf Jenny nog steeds as een van Jehovah se Getuies ’n hoë sedelike standaard in haar lewe.

Jehovah se knegte maak die waarheid bekend

14. Waarom het God se knegte ’n besonder groot verantwoordelikheid om die waarheid hoog te hou?

14 Daar is natuurlik ander benewens Jehovah se Getuies wat die waarheid praat en eerlik probeer wees. Maar as knegte van God het ons ’n besonder groot verantwoordelikheid om die waarheid hoog te hou. Ons is toevertrou met Bybelwaarhede—waarhede wat mense na die ewige lewe kan lei. Gevolglik staan ons onder verpligting om daardie kennis met ander te deel. “Van elkeen aan wie baie gegee is”, het Jesus gesê, “sal baie geëis word” (Lukas 12:48). Daar word beslis “baie geëis” van diegene wat met die kosbare kennis van God geseën is.

15. Watter vreugde verskaf dit jou om Bybelwaarheid aan ander bekend te maak?

15 Dit bring geluk mee om Bybelwaarheid aan ander bekend te maak. Soos Jesus se eerste-eeuse dissipels verkondig ons die goeie nuus—’n bemoedigende boodskap van hoop—aan dié wat “gestroop en rondgegooi [is] soos skape sonder ’n herder” en aan dié wat verblind en verwar is deur “leringe van demone” (Matteus 9:36; 1 Timoteus 4:1). Die apostel Johannes het geskryf: “Ek het geen groter rede tot dankbaarheid as hierdie dinge nie, dat ek hoor dat my kinders voortgaan om in die waarheid te wandel” (3 Johannes 4). Die getrouheid van Johannes se “kinders”—moontlik dié vir wie hy die waarheid geleer het—het hom groot vreugde verskaf. Dit verskaf ons ook vreugde wanneer ons sien hoe mense met waardering op die Woord van God reageer.

16, 17. (a) Waarom neem nie almal die waarheid aan nie? (b) Watter vreugde kan jy ervaar wanneer jy Bybelwaarheid verkondig?

16 Nie almal sal natuurlik die waarheid aanneem nie. Jesus het die waarheid oor God verkondig, selfs wanneer dit hom ongewild gemaak het. Hy het vir Joodse teenstanders gesê: “Waarom glo julle my . . . nie? Hy wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie.”—Johannes 8:46, 47.

17 Soos Jesus aarsel ons nie om die kosbare waarheid aangaande Jehovah bekend te maak nie. Ons verwag nie dat almal sal aanvaar wat ons vir hulle sê nie, want nie almal het aanvaar wat Jesus gesê het nie. Nogtans put ons vreugde uit die wete dat ons doen wat reg is. Weens sy liefderyke goedhartigheid wil Jehovah hê dat die waarheid aan die mensdom geopenbaar moet word. Omdat Christene die waarheid het, word hulle ligdraers in ’n duister wêreld. As ons die lig van waarheid deur ons woorde en dade laat skyn, kan ons ander help om heerlikheid aan ons hemelse Vader te gee (Matteus 5:14, 16). Ons maak in die openbaar bekend dat ons Satan se valse weergawe van die waarheid verwerp en die suiwer en onvervalste Woord van God hooghou. Die waarheid wat ons ken en met ander deel, kan ware vryheid meebring vir dié wat dit aanneem.—Johannes 8:32.

Streef waarheidliewendheid na

18. Waarom en hoe het Jesus guns betoon aan Natanael?

18 Jesus het die waarheid liefgehad en het die waarheid gepraat. Gedurende sy bediening op aarde het hy guns betoon aan dié wat waarheidliewend was. Oor Natanael het Jesus gesê: “Kyk, gewis ’n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie” (Johannes 1:47). Later is Natanael, wat waarskynlik ook Bartolomeus genoem is, gekies om een van die 12 apostels te wees (Matteus 10:2-4). Wat ’n eer was dit tog!

19-21. Hoe is ’n man wat eens blind was, geseën omdat hy moedig die waarheid vertel het?

19 ’n Hele hoofstuk in die Bybelboek Johannes vertel die verhaal van ’n ander eerlike man wat deur Jesus geseën is. Ons weet nie wat sy naam was nie. Wat ons wel weet, is dat die man ’n bedelaar was wat van sy geboorte af blind was. Mense was verwonderd toe Jesus sy sig herstel het. Die nuus van hierdie wonderdadige genesing het die ore bereik van party van die Fariseërs, haters van die waarheid, wat onder mekaar ooreengekom het dat enigiemand wat geloof in Jesus stel, uit die sinagoge geban moet word. Die vreesbevange ouers van die man wat eens blind was, het hiervan geweet en ’n leuen vir die Fariseërs vertel deur te sê dat hulle nie weet hoe dit is dat hulle seun nou kan sien of wie daarvoor verantwoordelik is nie.—Johannes 9:1-23.

20 Die geneesde man is weer voor die Fariseërs ingeroep. Ten spyte van die gevolge het hy moedig die waarheid vertel. Hy het verduidelik hoe hy genees is en dat Jesus dit gedoen het. Die geneesde man was verstom dat hierdie vername en geleerde manne nie geglo het dat Jesus van God is nie en het hulle vreesloos aangespoor om te aanvaar wat voor die hand liggend was: “As hierdie man nie van God gekom het nie, sou hy hoegenaamd niks kon doen nie.” Omdat die Fariseërs geen verweer gehad het nie, het hulle die man van vermetelheid beskuldig en hom uitgegooi.—Johannes 9:24-34.

21 Toe Jesus hiervan hoor, het hy liefdevol die tyd geneem om die man te gaan soek. Daarna het hy voortgebou op die geloof van hierdie man wat eens blind was. Jesus het homself openlik as die Messias geïdentifiseer. Hoe is daardie man tog geseën omdat hy die waarheid vertel het! God se guns rus beslis op diegene wat die waarheid praat.—Johannes 9:35-37.

22. Waarom moet ons waarheidliewendheid nastreef?

22 Ons moet ernstig daarna streef om die waarheid uit te leef. Dit is onontbeerlik as ons goeie bande met mense en God wil smee en behou. Iemand wat waarheidliewend is, is openhartig, opreg, genaakbaar en betroubaar, en hy geniet Jehovah se goedkeuring (Psalm 15:1, 2). Iemand wat nie waarheidliewend is nie, is bedrieglik, onbetroubaar en vals, en hy mishaag Jehovah (Spreuke 6:16-19). Wees dus vasbeslote om waarheidliewendheid na te streef. Ja, om die God van waarheid na te volg, moet ons die waarheid ken, die waarheid praat en die waarheid uitleef.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom kan ons dankbaar wees dat ons die waarheid ken?

• Hoe kan ons Jehovah navolg deur waarheidliewend te wees?

• Watter voordele hou dit in om Bybelwaarheid aan ander bekend te maak?

• Waarom is dit belangrik om waarheidliewendheid na te streef?

[Prente op bladsy 17]

Aangesien Christene met Bybelwaarheid toevertrou is, maak hulle dit ywerig bekend aan ander

[Prente op bladsy 18]

Die blinde man wat deur Jesus genees is, is ryklik geseën omdat hy die waarheid vertel het

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel