Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 7/15 bl. 10-15
  • Het jy “’n wagtende houding”?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het jy “’n wagtende houding”?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wag met “heilige gedrag”
  • Wag met “dade van godvrugtige toegewydheid”
  • Ons moet “vlekkeloos” wees
  • Ons moet “smetloos” wees
  • Ons moet “in vrede” bevind word
  • Watter soort mense behoort julle te wees?
    Ons Koninkryksbediening—1995
  • Laat ons ‘vlekkeloos, onberispelik en in vrede bevind word’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • ‘Watter soort mense behoort julle te wees!’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Voeg godvrugtige toegewydheid by jou volharding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 7/15 bl. 10-15

Het jy “’n wagtende houding”?

“Watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid, terwyl julle die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou!”—2 PETRUS 3:11, 12.

1, 2. Waarmee kan ons “’n wagtende houding” ten opsigte van Jehovah se dag toelig?

STEL jou ’n gesin voor wat gaste vir ete verwag. Die tyd van hulle aankoms kom vinnig nader. Die vrou is besig om die maaltyd af te rond. Haar man en die kinders help om seker te maak dat alles in orde is. Almal is opgewonde. Ja, die hele gesin wag gretig op die koms van die gaste en sien uit na ’n heerlike maaltyd en aangename geselskap.

2 As Christene wag ons op iets wat selfs belangriker is. Wat is dit? Ons almal wag op “die dag van Jehovah”! Totdat dit aanbreek, moet ons soos die profeet Miga wees, wat gesê het: “Na Jehovah sal ek op die uitkyk bly. Ek sal ’n wagtende houding teenoor die God van my redding inneem” (Miga 7:7). Impliseer dit onbedrywigheid? Nee. Daar is baie werk wat gedoen moet word.

3. Watter gesindheid moet Christene volgens 2 Petrus 3:11, 12 hê?

3 Die apostel Petrus help ons om die regte gesindheid te hê terwyl ons wag. Hy sê: “Watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid, terwyl julle die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou!” (2 Petrus 3:11, 12). Let daarop dat dit ’n uitroep is. Petrus het nie ’n vraag gevra nie. In sy twee briewe, wat onder goddelike inspirasie geskryf is, het hy beskryf watter soort mense Christene behoort te wees. Hy het hulle ook gemaan om voort te gaan om “heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid” te beoefen. Al het sowat 30 jaar verloop sedert Jesus Christus die teken “van die voleinding van die stelsel van dinge” gegee het, moes Christene nie in hulle waaksaamheid verslap nie (Matteus 24:3). Hulle moes die teenwoordigheid van Jehovah se dag “verwag en goed in gedagte hou”.

4. Wat behels dit om ‘die teenwoordigheid van die dag van Jehovah goed in gedagte te hou’?

4 Die Griekse woord wat hier met “goed in gedagte hou” weergegee word, beteken letterlik “verhaas”. Ons kan die dag van Jehovah natuurlik nie letterlik “verhaas” nie. Trouens, ons “weet nie die dag en ook nie die uur” wanneer Jesus Christus sal kom om oordeel aan sy Vader se vyande te voltrek nie (Matteus 24:36; 25:13). Een naslaanwerk verduidelik dat die grondwerkwoord van die uitdrukking “verhaas” hier beteken “‘om gou te maak’, en dit is derhalwe nou verbonde aan ‘om ywerig, bedrywig, besorg oor iets te wees’”. Petrus het medegelowiges dus aangespoor om die teenwoordigheid van die dag van Jehovah “vurig [te] begeer”. Hulle kon dit doen deur dit voortdurend in gedagte te hou (2 Petrus 3:12, voetnoot in NW). Noudat “die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah” so naby is, moet ons dieselfde geestesgesindheid hê.—Joël 2:31.

Wag met “heilige gedrag”

5. Hoe kan ons toon dat ons “vurig begeer” om “die dag van Jehovah” te sien?

5 As ons “vurig begeer” om Jehovah se dag te oorleef, sal ons dit duidelik toon deur ons “heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid”. Die uitdrukking “heilige gedrag” herinner ons heel moontlik aan Petrus se vermaning: “As gehoorsame kinders moet julle nie langer gevorm word volgens die begeertes wat julle vroeër in julle onkunde gehad het nie, maar word, in ooreenstemming met die Heilige wat julle geroep het, self ook in julle hele gedrag heilig, want daar staan geskrywe: ‘Julle moet heilig wees, want ek is heilig.’”—1 Petrus 1:14-16.

6. Wat moet ons doen om heilig te wees?

6 Om heilig te wees, moet ons fisies, verstandelik, sedelik en geestelik rein bly. Berei ons ons voor vir “die dag van Jehovah” deur heilig te bly as individue wat Jehovah se naam dra? Dit is vandag nie maklik om hierdie reinheid te handhaaf nie, want die sedelike standaarde van die wêreld gaan stelselmatig agteruit (1 Korintiërs 7:31; 2 Timoteus 3:13). Vind ons dat die gaping tussen ons sedelike standaarde en dié van die wêreld al hoe groter word? Indien nie, het ons rede om besorgd te wees. Kan dit wees dat ons persoonlike standaarde, al is dit hoër as dié van die wêreld, besig is om agteruit te gaan? Indien wel, moet ons daadwerklik optree om sake reg te stel sodat ons God kan behaag.

7, 8. (a) Hoe kan ons die belangrikheid van “heilige gedrag” uit die oog verloor? (b) Watter stappe is moontlik nodig om dit reg te stel?

7 Sedert pornografie vryelik beskikbaar is op die Internet en mense in privaatheid daarna kan kyk, is daar nou volgens een dokter “’n oorvloed seksuele geleenthede” vir mense wat eens geen toegang tot sulke onsedelike materiaal gehad het nie. As ons sulke onrein webwerwe opsoek, ignoreer ons beslis die Bybel se gebod om ‘aan niks te raak wat onrein is nie’ (Jesaja 52:11). Sal ons dan werklik “die teenwoordigheid van die dag van Jehovah . . . goed in gedagte hou”? Of stel ons dalk daardie dag in ons gedagtes uit, deur te redeneer dat ons nog tyd het om onsself te reinig, selfs al besoedel ons ons verstand met verdorwe inligting? As ons ’n probleem in hierdie opsig het, is dit uiters dringend dat ons Jehovah smeek om ‘ons oë af te wend, sodat hulle niks sien wat waardeloos is nie, en ons in die lewe te hou op sy weg’!—Psalm 119:37.

8 Die oorgrote meerderheid van Jehovah se Getuies, jonk en oud, bly by God se hoë sedelike standaarde en vermy hierdie wêreld se onsedelike versoekings. Omdat hulle bewus is van die dringendheid van ons tye en van Petrus se waarskuwing dat “Jehovah se dag soos ’n dief [sal] kom”, hou hulle aan om “heilige gedrag” te handhaaf (2 Petrus 3:10). Hulle dade bewys dat hulle “die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou”.a

Wag met “dade van godvrugtige toegewydheid”

9. Wat moet godvrugtige toegewydheid ons beweeg om te doen?

9 “Dade van godvrugtige toegewydheid” is ook noodsaaklik as ons Jehovah se dag in gedagte wil hou. “Godvrugtige toegewydheid” behels ontsag vir God wat ons beweeg om te doen wat hom behaag. Lojale gehegtheid aan Jehovah is die dryfveer agter sulke dade van godvrugtige toegewydheid. Dit is sy wil dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:4). God “wil [nie] hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Moet ons godvrugtige toegewydheid ons dan nie aanspoor om ons pogings te verskerp om mense te help om van Jehovah te leer en hom na te volg nie?—Efesiërs 5:1.

10. Waarom moet ons waak teen “die bedrieglike krag van rykdom”?

10 Dade van godvrugtige toegewydheid sal oorvloedig in ons lewe wees as ons eers God se Koninkryk soek (Matteus 6:33). Dit beteken dat ons ’n gebalanseerde beskouing van materiële dinge moet hê. Jesus het gewaarsku: “Hou julle oë oop en waak teen elke soort hebsug, want selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie” (Lukas 12:15). Al is dit miskien moeilik om ons voor te stel dat liefde vir geld ons sal verblind, sal dit goed wees om daarop te let dat ‘die woord van God verstik’ kan word deur “die sorge van hierdie stelsel van dinge en die bedrieglike krag van rykdom” (Matteus 13:22). Dit is dikwels nie maklik om ’n bestaan te maak nie. In party dele van die wêreld redeneer baie derhalwe dat hulle na ’n welvarender land moet trek as hulle ’n beter lewe wil hê, en soms is hulle jare lank weg van hulle gesin af. Selfs sommige onder God se volk het al so geredeneer. Deur na ’n ander land te gaan, kan hulle hulle gesin moontlik van moderne geriewe voorsien. Maar wat word van die geestelikheid van hulle geliefdes wat agterbly? Sal hulle, sonder behoorlike hoofskap in die huis, die geestelikheid hê wat nodig is om Jehovah se dag te oorleef?

11. Hoe het ’n man wat in ’n ander land gaan werk het, getoon dat dade van godvrugtige toegewydheid belangriker as rykdom is?

11 ’n Filippynse man wat in Japan gaan werk het, het daar Bybelwaarheid by Jehovah se Getuies geleer. Toe hy leer van die skriftuurlike verantwoordelikhede wat met hoofskap gepaardgaan, het hy besef dat hy sy gesin moet help om aanbidders van Jehovah te word (1 Korintiërs 11:3). Sy vrou het sy nuutgevonde geloof hewig teëgestaan en wou hê dat hy eerder geld bly stuur as dat hy huis toe kom om die gesin sy Bybelse oortuigings te leer. Maar die dringendheid van die tye en besorgdheid oor sy geliefdes het hom beweeg om terug te gaan huis toe. Hy is beloon vir sy geduld en liefdevolle handelinge met sy gesinslede. Mettertyd was sy gesin verenig in ware aanbidding, en sy vrou het die voltydse bediening betree.

12. Waarom moet ons geestelike belange eerste in ons lewe stel?

12 Ons situasie kan vergelyk word met dié van mense in ’n brandende gebou. Sal dit verstandig wees om koorsagtig rond te hardloop om materiële dinge te red uit die brandende gebou wat enige oomblik inmekaar kan stort? Sal dit nie veel belangriker wees om lewens te red nie—ons eie en dié van ons gesin en ander in die gebou? Wel, hierdie goddelose stelsel van dinge gaan binnekort inmekaarstort, en lewens is op die spel. As ons dit besef, sal ons beslis geestelike belange eerste stel en ywerig op die lewensreddende Koninkrykspredikingswerk konsentreer.—1 Timoteus 4:16.

Ons moet “vlekkeloos” wees

13. Hoe wil ons graag bevind word wanneer die dag van Jehovah aanbreek?

13 Petrus beklemtoon hoe belangrik dit is om ’n wagtende houding te handhaaf en sê: “Geliefdes, aangesien julle hierdie dinge verwag, moet julle julle uiterste bes doen om uiteindelik deur [God] vlekkeloos en smetloos en in vrede bevind te word” (2 Petrus 3:14). Petrus spoor ons nie net aan om heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid te beoefen nie, maar hy beklemtoon ook hoe belangrik dit is dat Jehovah ons uiteindelik beskou as individue wat deur Jesus se kosbare bloed gereinig is (Openbaring 7:9, 14). Dit vereis dat ’n mens geloof in Jesus se offerande beoefen en ’n toegewyde en gedoopte kneg van Jehovah word.

14. Wat behels dit om “vlekkeloos” te wees?

14 Petrus spoor ons aan om ons uiterste bes te doen om “vlekkeloos” bevind te word. Sorg ons dat die Christelike gedrag en persoonlikheid waarmee ons ons beklee het, vlekkeloos bly, onbesmet deur die wêreld? Wanneer ons ’n vlek op ons klere sien, probeer ons dit onmiddellik verwyder. As dit op ’n gunstelingkledingstuk is, doen ons veral moeite om dit skoon te maak. Voel ons dieselfde as ons Christelike klere as ’t ware bevlek word weens ’n swak plek in ons persoonlikheid of gedrag?

15. (a) Waarom moes die Israeliete fraiingrande aan die some van hulle klere maak? (b) Waarom is Jehovah se hedendaagse knegte opvallend anders?

15 Die Israeliete moes “fraiingrande aan die some van hulle klere” maak en “’n blou toutjie bo die fraiingrand van die soom aanbring”. Waarom? Sodat hulle aan Jehovah se gebooie sou dink, dit sou gehoorsaam en ‘heilig sou wees’ vir hulle God (Numeri 15:38-40). As Jehovah se hedendaagse knegte is ons opvallend anders as die wêreld omdat ons God se wette en beginsels onderhou. Ons handhaaf byvoorbeeld sedelike reinheid, respekteer die heiligheid van bloed en vermy alle vorme van afgodediens (Handelinge 15:28, 29). Baie respekteer ons vir ons vasbeslotenheid om onbesmet te bly.—Jakobus 1:27.

Ons moet “smetloos” wees

16. Wat beteken dit om “smetloos” te bly?

16 Petrus sê ook dat ons “smetloos” bevind moet word. Hoe is dit moontlik? ’n Vlek kan gewoonlik afgevee of uitgewas word, maar nie ’n smet nie. ’n Smet dui daarop dat iets diepers verkeerd is. Die apostel Paulus het mede-Christene in Filippi vermaan: “Hou aan om alles sonder murmurering en redekaweling te doen, sodat julle onberispelik en onskuldig kan word, kinders van God sonder ’n smet te midde van ’n verdorwe en verdraaide geslag, onder wie julle as ligte in die wêreld skyn” (Filippense 2:14, 15). As ons ag gee op hierdie vermaning, sal ons murmurering en redekaweling vermy en God met ’n suiwer beweegrede dien. Liefde vir Jehovah en ons naaste sal ons beweeg om “hierdie goeie nuus van die koninkryk” te verkondig (Matteus 22:35-40; 24:14). Wat meer is, ons sal voortgaan om die goeie nuus te verkondig, al kan mense oor die algemeen nie verstaan waarom ons ons tyd gebruik om ander te help om van God en sy Woord, die Bybel, te leer nie.

17. Wat moet ons beweegrede wees wanneer ons na voorregte in die Christengemeente streef?

17 Omdat ons graag “smetloos” bevind wil word, sal dit goed wees om in al ons strewes ons beweegredes te ondersoek. Ons het ons rug gekeer op die wêreld se manier om dinge uit selfsug te doen, soos om rykdom of mag te probeer verkry. As ons na voorregte in die Christengemeente streef, moet ons beweegredes altyd opreg wees en op liefde vir Jehovah en ander gegrond wees. Dit is verkwikkend om te sien dat geestelike manne wat “na ’n opsienersamp streef”, dit met vreugde doen sowel as met ’n nederige begeerte om Jehovah en hulle medeaanbidders te dien (1 Timoteus 3:1; 2 Korintiërs 1:24). Ja, diegene wat kwalifiseer om as ouer manne te dien, “hou as herders [gewillig] toesig oor die kudde van God, . . . nie uit liefde vir oneerlike gewin nie, maar gretig; ook nie as persone wat baasspeel oor dié wat God se erfenis is nie, maar deur voorbeelde vir die kudde te word”.—1 Petrus 5:1-4.

Ons moet “in vrede” bevind word

18. Vir watter eienskappe is Jehovah se Getuies welbekend?

18 Laastens sê Petrus dat ons “in vrede” bevind moet word. Om aan hierdie vereiste te voldoen, is vrede met Jehovah en ons naaste noodsaaklik. Petrus beklemtoon die belangrikheid daarvan om “intense liefde vir mekaar [te] hê” en om vrede met ons mede-Christene te handhaaf (1 Petrus 2:17; 3:10, 11; 4:8; 2 Petrus 1:5-7). Om vrede te handhaaf, moet ons liefde onder mekaar hê (Johannes 13:34, 35; Efesiërs 4:1, 2). Ons liefde en vrede kan veral tydens ons internasionale byeenkomste gesien word. Met ’n byeenkoms in 1999 in Costa Rica het ’n verkoper by die lughawe ergerlik geraak toe die plaaslike Getuies wat afgevaardigdes verwelkom het, onopsetlik sy winkeltjie toegestaan het. Maar op die tweede dag het hy die liefde en vrede opgemerk in die hartlike verwelkoming wat die afgevaardigdes ontvang het, al het die plaaslike Getuies hulle nie persoonlik geken nie. Op die laaste dag het die verkoper die afgevaardigdes saam met hulle verwelkom en ’n Bybelstudie gevra.

19. Waarom is dit noodsaaklik om vrede met medegelowiges na te streef?

19 Die opregtheid waarmee ons vrede met ons geestelike broers en susters nastreef, kan toon hoe gretig ons op Jehovah se dag en sy beloofde nuwe wêreld wag (Psalm 37:11; 2 Petrus 3:13). Gestel dit is vir ons moeilik om vrede te handhaaf met ’n sekere medegelowige. Hoe sal ons dan vreedsaam met hom in die Paradys kan lewe? As ’n broer iets teen ons het, moet ons dadelik ‘vrede met hom gaan maak’ (Matteus 5:23, 24). Hierdie optrede is noodsaaklik as ons vrede met Jehovah wil behou.—Psalm 35:27; 1 Johannes 4:20.

20. Op watter maniere word “’n wagtende houding” geopenbaar?

20 Toon ons as individue dat ons “die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou”? As ons heilig bly in hierdie onsedelike wêreld, is dit duidelik dat ons vurig begeer om die einde van goddeloosheid te sien. Ook is ons dade van godvrugtige toegewydheid ’n bewys daarvan dat ons gretig uitsien na Jehovah se dag en na lewe onder Koninkryksheerskappy. En as ons nou reeds vrede met ons medeaanbidders nastreef, weerspieël dit ons hoop om in die vreedsame nuwe wêreld te lewe. Op hierdie maniere bewys ons dat ons “’n wagtende houding” het en “die teenwoordigheid van die dag van Jehovah . . . goed in gedagte hou”.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring van 1 Januarie 2000, bladsy 16, en die 1997 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsy 51, vir voorbeelde.

Onthou jy?

• Wat beteken dit om ‘die teenwoordigheid van die dag van Jehovah goed in gedagte’ te hou?

• Hoe toon ons gedrag dat ons “’n wagtende houding” het?

• Waarom is “dade van godvrugtige toegewydheid” noodsaaklik?

• Wat moet ons doen om deur Jehovah “vlekkeloos en smetloos en in vrede” bevind te word?

[Prent op bladsy 11]

“’n Wagtende houding” word weerspieël deur heilige gedrag

[Prente op bladsy 12]

Die Koninkrykspredikingswerk red lewens

[Prent op bladsy 14]

Terwyl ons Jehovah se dag verwag, moet ons vrede met ander nastreef

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel