Het ons ander werklik nodig?
“WANNEER ons ons lewe en strewes ondersoek, sien ons gou dat byna al ons handelinge en begeertes ten nouste saamhang met die bestaan van ander mense”, het die welbekende wetenskaplike Albert Einstein gesê. Hy het bygevoeg: “Ons eet voedsel wat ander geproduseer het, dra klere wat ander gemaak het, woon in huise wat ander gebou het. . . . Die individu is wat hy is, en wat hom besonder maak, is nie soseer sy individualiteit nie, maar eerder die feit dat hy ’n lid van ’n groot mensegemeenskap is, wat sy fisiese en geestelike bestaan rig van die wiegie tot die graf.”
In die diereryk is groepinstink iets algemeens. Olifante beweeg in troppe rond en pas hulle kleintjies met groot sorg op. Leeuwyfies jag saam en deel hulle prooi met die mannetjies. Dolfyne speel saam en het al selfs ander diere of swemmers gehelp wat in nood verkeer het.
Maar sosiale wetenskaplikes het ’n neiging onder mense opgemerk wat toenemende kommer veroorsaak. Volgens ’n koerant wat in Mexiko uitgegee word, meen party wetenskaplikes dat “dekades van persoonlike afsondering en ’n afname in gemeenskapslewe ’n baie nadelige uitwerking op die Amerikaanse samelewing gehad het”. Die koerant het gesê dat “die welstand van die nasie van grootskaalse maatskaplike veranderinge afhang, wat ’n terugkeer tot gemeenskapslewe insluit”.
Hierdie probleem het veral versprei onder mense wat in ontwikkelde lande woon. ’n Neiging wat vinnig toeneem, is dat baie hulle afsonder. Mense wil ‘hulle eie lewe lei’ en hou niks daarvan as ander ‘inbreuk maak op hulle privaatheid’ nie. Daar is al gesê dat hierdie gesindheid veroorsaak het dat die mensegemeenskap meer geneig is tot emosionele probleme, depressie en selfmoord.
In hierdie verband het dr. Daniel Goleman gesê: “Sosiale afsondering—die gedagte dat ’n mens niemand het met wie jy jou diepste gevoelens kan deel of noue bande kan behou nie—verdubbel die kanse op siekte of die dood.” ’n Verslag wat in die tydskrif Science gepubliseer is, het tot die slotsom gekom dat sosiale afsondering ‘net soveel bydra tot sterftesyfers as die rookgewoonte, hoë bloeddruk, hoë cholesterol, vetsug en te min oefening’.
Daar is dus verskeie redes waarom ons ander werklik nodig het. Ons kan nie sonder ander klaarkom nie. Hoe kan die probleem van afsondering dan opgelos word? Wat het baie mense se lewe waarlik betekenisvol gemaak? Die volgende artikel sal hierdie vrae beantwoord.
[Lokteks op bladsy 3]
‘Byna al ons handelinge en begeertes hang ten nouste saam met die bestaan van ander mense.’—Albert Einstein