’n Video wat jongmense se harte raak
DIE video Young People Ask—How Can I Make Real Friends?a het talle jongmense beweeg om ernstig oor hulle gedrag na te dink. Die video bevat goeie skriftuurlike raad, persoonlike kommentare van jong Christene en ’n treffende hedendaagse drama wat op die Bybelverhaal van Dina gebaseer is (Genesis, hoofstuk 34). Kyk wat sê ’n paar jongmense uit Mexiko oor hierdie video.
Martha sê: “Die video het my diep geraak. Dit was asof dit net vir my bedoel was. My onderwysers en skoolmaats het geweet dat ek een van Jehovah se Getuies is, en ek het gedink dat dit genoeg is. Maar ek het dit nooit bewys deur vir hulle te getuig nie. Ek is dankbaar vir al die inligting wat Jehovah voorsien, veral wanneer dit ’n mens so diep raak soos hierdie video.”
Juan Carlos sê: “Hierdie video laat ’n mens regtig dink. As ’n jong persoon het ek al foute gemaak en kan ek my vereenselwig met party van die karakters in die drama. ’n Paar jaar gelede het ek ’n dubbele lewe gelei, maar ek het besef dat so ’n lewe slegte gevolge kan hê. Noudat ek die video gekyk het, is ek vasbeslote om getrou aan Jehovah te bly.”
Sulem erken: “Toe ek na die video gekyk het, was ek in trane. Vroeër het ek opgehou om die Bybel te lees, en ek het nie baie tot Jehovah gebid nie. Die kommentare van die jongmense in die video het my beweeg om die Bybel weer te begin studeer en tot Jehovah te bid.”
Jongmense kom vandag voor baie uitdagings te staan, en hulle keuse van vriende het dikwels ’n groot invloed op hulle lewe (Psalm 26:4; Spreuke 13:20). Die video Young People Ask—How Can I Make Real Friends? help baie om goeie besluite in hierdie verband te neem.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.