’n Unieke taalgroep in Korea word bedien
’N BAIE entoesiastiese maar ietwat stil GROEP het in die somer van 1997 vir ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies vergader. Dit was die eerste byeenkoms van sy soort vir die dowes en hardhorendes in Korea. Dit het ’n opkomshoogtepunt van 1 174 gehad. Die hele program—wat toesprake, onderhoude en ’n drama ingesluit het—is in Koreaanse Gebaretaal aangebied en op ’n groot skerm gewys wat oral in die Byeenkomssaal gesien kon word. Dit was die hoogtepunt van ’n groot aantal vrywilligers se jare lange harde werk.
In die aardse paradys sal die tyd kom wanneer ‘die ore van die dowes ontsluit sal word’ (Jesaja 35:5). Om die lewe in daardie Paradys te beërf, moet almal, die dowes ingesluit, eers in die geestelike paradys kom, die voorspoedige geestelike toestand van God se geseënde volk. Hulle moet toegewyde, gedoopte Getuies van Jehovah word en deur hom onderrig word.—Miga 4:1-4.
’n Klein begin
Hoewel daar in die 1960’s getuieniswerk onder die dowes gedoen is, was dit eers in die 1970’s dat ’n paar van hulle die vergaderinge van Jehovah se Getuies in Seoel, die hoofstad van Korea, begin bywoon het. ’n Christenbroer wat vinnig kon skryf, het die hoofpunte van die toesprake, insluitende die Bybeltekste, op ’n swartbord geskryf.
In 1971 het ’n Getuie in die stad Taejon wat ’n dowe seun gehad het, hom en sy dowe vriende die Koninkryksboodskap begin leer. Uit hierdie groep het ’n hele paar ywerige persone gekom wat nou die kern van gemeentes in die gebaretaalgebied vorm.—Sagaria 4:10.
Jongmense bied hulle gewillig aan
Sodat meer dowes kennis van Jehovah en Jesus kan inneem en sodoende op die weg na die lewe kan kom, is meer hardwerkende vrywilligers nodig (Johannes 17:3). Om dié rede het ’n hele aantal Getuies van Jehovah gebaretaal geleer en is hulle met wonderlike ondervindinge geseën.
Die 15-jarige Park In-soen het besluit om gebaretaal te leer. Om sy doelwit te bereik, het hy ’n vakleerling by ’n fabriek geword waar 20 dowes gewerk het. Hy het agt maande lank ten nouste saam met hulle gewerk om die taal te leer en uit te vind hoe die dowes dink. Die daaropvolgende jaar het hy ’n gewone pionier, of voltydse Koninkryksverkondiger, geword en met ’n groep dowes gewerk wat in Bybelwaarheid belanggestel het. Die groep het vinnig gegroei, en kort voor lank het 35 die vergaderinge op Sondae bygewoon.—Psalm 110:3.
Daarna is Christelike vergaderinge vir die eerste keer in Seoel uitsluitlik in gebaretaal gehou. Broer Park In-soen het as ’n spesiale pionier in hierdie groeiende groep gedien. Hy was teen dié tyd bedrewe in gebaretaal. Gedurende sommige maande het hy 28 tuisbybelstudies met dowes gehou. Baie van hulle het vooruitgang gemaak en Getuies van Jehovah geword.
As gevolg van hierdie ywerige vrywilligerdiens is die eerste gebaretaalgemeente in Seoel in Oktober 1976 gestig, met 40 verkondigers en twee gewone pioniers. Dit het die werk in ander stede van Korea meer momentum gegee. Daar was nog baie dowes wat gehonger het na die goeie nuus en gewag het om besoek te word.
Werk onder die dowes
Jy wonder dalk hoe die dowes gevind is. Baie van hulle is deur middel van verwysings gevind. Ook is die eienaars van plaaslike ryswinkels genader, wat die name en adresse van dowes voorsien het. Party regeringskantore het gehelp om hierdie inligting te verskaf. Gebiede waar die dowes woon, is so goed gedek dat vier gebaretaalgemeentes mettertyd gestig is. Talle jong Christene is aangespoor om gebaretaal te leer.
Spesiale pionierbedienaars wat gebaretaal geleer het, is deur die takkantoor van Jehovah se Getuies gevra om saam met die gemeentes te werk. Meer onlangs is hierdie gemeentes geestelik versterk deur broers wat die Bedieningsopleidingskool bygewoon het en nou daar dien.
Werk onder die dowes bied ook uitdagings. Iemand wat in hierdie gebied werk, moet hom inspan om die kultuur van die dowes te verstaan. Hulle is baie direk in hulle manier van kommunikeer. Dit verras mense soms en kan misverstande veroorsaak. Verder moet Getuies wat tuisbybelstudies met dowes hou, hulle help om bedrewe in hulle taal te raak en hulle aanspoor om hulle eie lees- en studieprogram uit te brei.
In hulle daaglikse bedrywighede kom dowes te staan voor struikelblokke wat grotendeels onbekend is vir ander. Kommunikasie in regeringskantore en gesondheidsorgfasiliteite, sowel as eenvoudige saketransaksies, word dikwels ’n groot probleem vir hulle. Weens die liefdevolle bystand van Getuies in nabygeleë gemeentes het die dowes in die Christengemeente ’n ware broederskap gevind.—Johannes 13:34, 35.
Informele getuieniswerk werp vrugte af
In Poesan, die vernaamste hawestad in die suide van Korea, het ’n Getuie twee dowes teëgekom wat op ’n stukkie papier geskryf het: “Ons hou van Paradys. Ons wil weet watter tekste van ewige lewe praat.” Die broer het hulle adres neergeskryf en gereël om hulle te besoek. Toe hy daar aankom, het hy ’n vertrek vol dowes gevind wat gewag het om die Koninkryksboodskap te hoor. Hierdie ondervinding het hom aangespoor om gebaretaal te leer. Kort voor lank is ’n gebaretaalgemeente in Poesan gestig.
’n Broer van daardie gemeente het twee dowes gesien wat in gebaretaal met mekaar praat, en hy het hulle genader. Toe hy uitvind dat hulle pas van ’n godsdiensvergadering af gekom het, het hy hulle genooi om twee-uur daardie middag na die Koninkryksaal te kom. Hulle het gekom, en ’n Bybelstudie is begin. Kort daarna het die 2 die streekbyeenkoms saam met 20 van hulle dowe vriende bygewoon. Uit daardie groep het ’n hele paar hulle lewe aan Jehovah toegewy. Twee van hulle het gemeentelike ouer manne in gebaretaalgemeentes geword, en een ’n bedieningskneg.
Vasbeslotenheid word beloon
Aangesien party dowes redelik ver van enige gebaretaalgemeente af woon, verg dit dikwels groot inspanning en vasbeslotenheid om hulle gereeld van geestelike voedsel uit die Bybel te voorsien. Byvoorbeeld, ’n 31-jarige man wat op ’n eiland gewoon het, het ’n bestaan gemaak deur vis te vang. Hy het die Bybelboodskap gehoor by sy jonger broer, wat vroeër deur Jehovah se Getuies besoek is. Om sy geestelike honger te bevredig, het die dowe visserman 16 kilometer per boot na die stad Tongjong, aan die suidelike kus van Korea, gereis. Dit was sodat hy ’n spesiale pionier van die gebaretaalgemeente in die stad Masan kon ontmoet. Hierdie spesiale pionier het elke Maandag 65 kilometer gereis om ’n Bybelstudie met die dowe visserman te hou.
Die dowe Bybelstudent moes 16 kilometer per boot en dan nog 65 kilometer per bus reis om Sondae die vergadering in die stad Masan by te woon. Sy vasbeslotenheid het vrugte afgewerp. Binne ’n paar maande het sy gebaretaal verbeter, het hy meer Koreaanse karakters geleer en—nog belangriker—het hy geleer van die enigste manier om ’n verhouding met Jehovah op te bou. Toe hy besef hoe belangrik dit is om vergaderinge by te woon en gereeld te getuig, het hy na die gebied van die gebaretaalgemeente getrek. Was dit maklik? Nee. Hy moes sy werk as visserman opgee waaruit hy tot R32 400 per maand verdien het, maar sy vasbeslotenheid is beloon. Nadat hy in die waarheid vordering gemaak het, is hy gedoop, en hy dien Jehovah nou gelukkig saam met sy gesin.
Vertaling vir die dowes
Die goeie nuus van die Koninkryk word dikwels mondeling oorgedra. Maar om die boodskap van God se Woord akkurater oor te dra, is dit noodsaaklik dat Bybelleringe in ’n permanenter vorm aangebied word. In die eerste eeu is boeke en briewe dus deur ervare ouer manne geskryf (Handelinge 15:22-31; Efesiërs 3:4; Kolossense 1:2; 4:16). In ons tyd is ’n oorvloed geestelike voedsel al voorsien deur middel van boeke en ander Christelike publikasies. Dit is in honderde tale vertaal, onder andere verskeie gebaretale. Om dit in Koreaanse Gebaretaal te doen, is daar by die takkantoor ’n vertaaldepartement daarvoor. ’n Videodepartement maak video’s in gebaretaal. Dit voorsien geestelike voedsel aan dowe verkondigers van die goeie nuus en belangstellendes in gemeentes regoor Korea.
Hoewel baie al bedrewe geraak het in gebaretaal en gehelp het om video’s te maak, is die beste vertalers gewoonlik die kinders van dowe ouers. Hulle het gebaretaal van kleins af geleer. Die gebaretaal wat hulle gebruik, is nie net akkuraat nie, maar hulle gebare en gesigsuitdrukkings gee ook ware betekenis en gevoel aan die boodskap en bereik dus die verstand en hart.
Soos reeds genoem is, word byeenkomste in gebaretaal nou gereeld in Korea gehou. Dit verg baie werk, geld en inspanning. Maar dié wat dit bywoon, waardeer hierdie reëling. Ná hierdie byeenkomste bly baie agter om verdere heilsame omgang te geniet en oor die wonderlike geestelike voedsel te gesels. Dit is duidelik dat dit nie altyd maklik is om hierdie unieke groep te bedien nie, maar die geestelike seëninge maak dit die moeite werd.
[Prent op bladsy 10]
Video’s in gebaretaal wat in Korea gemaak is: “Wat vereis God van ons?” “Toon waardering vir ons geestelike erfenis” “Waarskuwende voorbeelde vir ons dag” “Respekteer Jehovah se gesag”
[Prente op bladsy 10]
Van onder regs om: Video in gebaretaal by die Koreaanse takkantoor gemaak; gebare voorberei vir teokratiese uitdrukkings; vertaalspan vir gebaretaal; vertaler word voorgesê gedurende video-opname