Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 4/1 bl. 11-14
  • Hooggeregshof bevestig Ware Aanbidding in “die land Ararat”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hooggeregshof bevestig Ware Aanbidding in “die land Ararat”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Die verhoor begin
  • Die vervolging word voortgesit
  • Na Armenië se hoogste hof
  • Gevolge van die uitspraak
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 4/1 bl. 11-14

Hooggeregshof bevestig Ware Aanbidding in “die land Ararat”

’n Armeense gryskopvader van drie staan voor sy land se hoogste hof. Sy vryheid en dié van sy talle medegelowiges is op die spel. Die Hof luister terwyl hy uit die Bybel aanhaal om sy godsdiensoortuigings te verduidelik. Om te verstaan hoe hierdie verhoor op ’n wonderlike oorwinning vir ware aanbidding in daardie land uitgeloop het, moet ons kyk na die verwikkelinge wat dit voorafgegaan het.

ARMENIË lê oos van Turkye en net suid van die groot Kaukasus-bergreeks. Dit is die tuiste van meer as driemiljoen mense. Die land se hoofstad, Jerewan, het ’n asemrowende uitsig op die twee pieke van die Araratgebergte, waar Noag se ark volgens oorlewering ná die wêreldvloed tot rus gekom het.—Genesis 8:4.a

Jehovah se Getuies voer al sedert 1975 hulle Christelike bedrywighede in Armenië uit. Nadat Armenië in 1991 onafhanklikheid van die voormalige Sowjetunie verkry het, is ’n Staatsraad vir Godsdienssake gestig om godsdiensorganisasies te registreer. Hierdie raad het egter herhaaldelik geweier om Jehovah se Getuies te registreer, hoofsaaklik weens die kwessie van Christelike neutraliteit. Gevolglik is meer as 100 jong Getuies in Armenië sedert 1991 weens hulle Bybelse standpunt oor militêre diens gevonnis en in die meeste gevalle in die tronk gegooi.

Die Raad het ook die staatsaanklaer se kantoor gevra om die godsdiensbedrywighede van Lyova Margaryan te ondersoek, ’n Christen- ouer man en hardwerkende regsgeleerde by die plaaslike kernkragaanleg. Broer Margaryan is uiteindelik aangekla ingevolge Artikel 244, ’n oorblyfsel van ’n Sowjet-wet wat gedurende Chroestjof se era uitgevaardig is met die doel om Jehovah se Getuies en ander godsdiensgroepe aan bande te lê en uiteindelik uit te wis.

Volgens hierdie wet is dit ’n misdaad om ’n godsdiensgroep te lei of te organiseer wat, onder die voorwendsel dat dit godsdiensopvattings verkondig, ‘jongmense verlok om die godsdienstige vergaderinge van ’n ongeregistreerde godsdiens by te woon’ en ‘lidmate beïnvloed om te weier om hulle burgerpligte uit te voer’. Om sy saak te steun, het die aanklaer hom toegespits op die teenwoordigheid van minderjarige kinders by vergaderinge wat deur broer Margaryan in die stad Metsamor gehou is. Die aanklaer het ook beweer dat broer Margaryan druk op jong lidmate van die gemeente uitgeoefen het om diensplig te weier.

Die verhoor begin

Die verhoor het op Vrydag, 20 Julie 2001, in die Armavir-streekshof begin, en regter Manvel Simonyan was die voorsittende regter. Die saak het tot diep in Augustus voortgeduur. Gedurende hulle getuienis het getuies vir die vervolging uiteindelik erken dat lede van die Departement van Staatsveiligheid (voorheen die KGB) ’n deel van die geskrewe verklarings teen broer Margaryan gedikteer het en hulle gedwing het om hierdie verklarings te onderteken. In een geval het ’n vrou erken dat ’n amptenaar van die Departement van Staatsveiligheid haar aangesê het om te beweer: “Jehovah se Getuies is teen ons regering en ons godsdiens.” Die vrou het erken dat sy geen Getuie van Jehovah persoonlik ken nie, maar net aantygings teen hulle op staatstelevisie gehoor het.

Toe dit broer Margaryan se beurt was, het hy getuig dat minderjarige kinders wat die vergaderinge van Jehovah se Getuies bywoon, dit met hulle ouers se toestemming doen. Hy het ook verduidelik dat diensplig ’n persoonlike besluit is. Die aanklaer se kruisverhoor het etlike dae lank voortgeduur. Broer Margaryn het die Bybel gebruik en kalm die vrae oor sy godsdiensoortuigings beantwoord terwyl die aanklaer die Bybeltekste in sy eie Bybel nageslaan het.

Op 18 September 2001 het die regter broer Margaryan “onskuldig” verklaar en gesê dat daar “geen element van ’n misdaad” in sy bedrywighede is nie. ’n Insiggewende verslag oor die hofsaak het in die Associated Press verskyn. Dit het gesê: “’n Leier van Jehovah se Getuies in Armenië is vandag vrygespreek van aanklagte van proselitisme en dat hy jongmense dwing om diensplig te ontduik. Ná ’n twee maande lange verhoor het die Hof gesê dat daar onvoldoende bewyse teen die leier, Levon Markarian [Lyova Margaryan], is. Hy kon tot vyf jaar tronkstraf ontvang het. . . . Hoewel Armenië se Grondwet godsdiensvryheid waarborg, is dit moeilik vir nuwe groepe om te registreer, en die wette begunstig die groot Armeens-Apostoliese Kerk.” In ’n persverklaring op 18 September 2001 het die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa (OSCE) gesê: “Hoewel die OSCE-kantoor die uitspraak verwelkom, betreur dit steeds die feit dat die vervolging in die eerste plek ingestel is.”

Die vervolging word voortgesit

Die aanklaers het nietemin appèl aangeteken, en die appèlsaak het nog vier maande geduur. Toe broer Margaryan aan die begin van die verhoor getuienis moes aflê, het een van die regters op die paneel die eerste vraag aan hom gestel. Toe broer Margaryan begin antwoord, het die voorsitter hom onderbreek en aangeval. Daarna het sy broer Margaryan nie kans gegee om selfs een vraag volledig te beantwoord nie. Sy het ook, sonder om redes te verstrek, die meeste vrae wat die verdediging aan hom gestel het, uit die verslag gelaat. Gedurende die verhoor het godsdiensfanatici wat teen die Getuies gekant is en die hofsaal gevul het, herhaaldelik beledigings na broer Margaryan geslinger. Ná die sessie is talle valse en verdraaide berigte oor die televisie uitgesaai; onder andere dat broer Margaryan as ’t ware skuld erken het.

Omtrent halfpad deur die verhoor het die voorsitter van die paneel van drie regters die aanwesiges verbaas deur ’n brief van die Staatsraad vir Godsdienssake voor te lê wat eis dat die aanklaer se kantoor stappe teen broer Margaryan doen. Dit het die internasionale waarnemers by die verhoor geskok, aangesien Armenië in sy aansoek om lidmaatskap van die Raad van Europa sy verpligting erken het om te “verseker dat alle Kerke of godsdiensgemeenskappe, veral dié wat as ‘nietradisioneel’ bestempel word, hulle godsdiens sonder diskriminasie kan beoefen”.

Terwyl die verhoor die daaropvolgende weke voortgeduur het, het die atmosfeer al hoe meer gespanne geraak. Teenstanders het voortgegaan om Getuies binne en buite die hofsaal te intimideer en aan te rand. Getuie-vroue is op hulle maermerrie geskop. Toe ’n Getuie aangeval is maar geweier het om terug te baklei, is hy van agter op sy rugstring geslaan en moes hy hospitaal toe geneem word.

Intussen is ’n nuwe voorsittende regter vir die saak aangestel. Ondanks pogings deur ’n paar in die gehoor om die advokaat vir die verdediging te intimideer, het hierdie nuwe voorsitter beheer uitgeoefen en die polisie selfs beveel om ’n vrou uit die hofsaal te neem wat dreigemente na die advokaat vir die verdediging geslinger het.

Na Armenië se hoogste hof

Uiteindelik, op 7 Maart 2002, het die appèlhof die uitspraak van die verhoorhof gehandhaaf. Dit is interessant dat die Staatsraad vir Godsdienssake ontbind is die dag voordat hierdie uitspraak gegee is. Die aanklaers het weer eens teen die uitspraak geappelleer, dié keer na Armenië se hoogste hof—die Hof van Kassassie. Die aanklaers het toe ’n versoek aan die Hof gerig dat die saak herverhoor word sodat “die uitspraak ’n skuldigbevinding kan wees”.

’n Paneel van ses regters, met regter Mher Khachatryan as voorsitter, het om 11:00 op 19 April 2002, vergader. In sy openingsrede het een van die aanklaers groot verontwaardiging uitgespreek omdat die twee vorige howe broer Margaryan nie skuldig bevind het nie. Maar hierdie keer is die aanklaer in die rede geval en indringend ondervra deur die vier regters. Een regter het die aanklaer streng berispe omdat hy die Hof bevooroordeeld probeer maak het deur die predikingswerk en ongeregistreerde status van Jehovah se Getuies in sy saak teen broer Margaryan in te sluit—nie een van die twee dinge word in Artikel 244 as ’n misdaad bestempel nie. Die regter het toe die aanklaer se dade beskryf as “vervolging deur middel van ’n strafsaak”. ’n Ander regter het verskillende sake gemeld wat deur die Europese Hof verhoor is en waarin Jehovah se Getuies erken is as ’n “bekende godsdiens” wat geregtig is op beskerming deur die Europese Konvensie oor Menseregte. Op hierdie tydstip het ’n priester in die hofsaal uitgeroep dat Jehovah se Getuies die nasie verdeel. Die Hof het hom beveel om stil te bly.

Die regters het Lyova Margaryan toe uit die gehoor geroep—iets wat nog nooit in hierdie hoër hof gedoen is nie. Broer Margaryan het ’n uitstekende getuienis oor Jehovah se Getuies se Christelike standpunt ten opsigte van verskillende geskille gegee (Markus 13:9). Ná ’n kort beraadslaging het die Hof teruggekeer en die uitspraak van “onskuldig” eenparig gehandhaaf. Broer Margaryan was sigbaar verlig. In hulle geskrewe uitspraak het die Hof gesê: “Hierdie bedrywighede [van Lyova Margaryan] word nie deur die bestaande wet as ’n misdaad beskou nie, en hierdie soort aanklag is strydig met Artikel 23 van die Armeense Grondwet en Artikel 9 van die Europese Konvensie.”

Gevolge van die uitspraak

As die staat hierdie saak gewen het, sou dit die pad oopgemaak het vir regsake teen ander Getuie- ouer manne in gemeentes regoor Armenië. Hopelik sal die duidelike uitspraak wat deur die Hof gelewer is, sulke teistering verhoed. ’n Ongunstige uitspraak kon ook as ’n voorwendsel gedien het om steeds te weier om Jehovah se Getuies te registreer. Gelukkig het die Hof nou hierdie valse voorwendsel uit die weg geruim.

Die tyd sal leer of registrasie toegestaan sal word aan die meer as 7 000 Getuies van Jehovah in hierdie land. Intussen floreer ware aanbidding steeds in “die land Ararat”.

[Voetnoot]

a Dit is een rede waarom die Armeniërs hulle land met die Araratgebergte assosieer. In die ou dae was Armenië ’n uitgestrekte koninkryk waarvan die gebied daardie gebergte ingesluit het. Daarom gee die Griekse Septuagint-vertaling van die Bybel die uitdrukking “die land Ararat” in Jesaja 37:38 met “Armenië” weer. Die Araratgebergte lê nou in Turkye, naby die land se oostelike grens.

[Prent op bladsy 12]

Lyova Margaryan tydens sy verhoor

[Prent op bladsy 13]

Broer Margaryan en sy gesin

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel