Vrae van lesers
Is daar enigiets wat gedoen kan word as dit vir ’n fisies verswakte gesalfde Christen onmoontlik is om die gemeentelike viering van die Here se Aandmaal by te woon?
Ja. Iets kan en moet gedoen word vir ’n gesalfde Christen wat verswak of dalk bedlêend is en dus nie teenwoordig kan wees wanneer die gemeente Christus se dood herdenk nie. In so ’n geval kan die liggaam van ouer manne reël dat ’n ouer man of ’n ander ryp Christenman van die brood en wyn na daardie medegelowige neem op dieselfde aand voor sonsopkoms.
Na gelang van die omstandighede kan die besoekende ouer man of ander broer ’n paar woorde sê en gepaste tekste lees. Hy kan die patroon volg wat Jesus vasgestel het toe Hy die Here se Aandmaal ingestel het. Matteus 26:26 kan byvoorbeeld gelees word, en nadat hy ’n gebed gedoen het, kan hy die ongesuurde brood bedien. Daarna kan die besoekende broer Matteus hoofstuk 26, verse 27 en 28, lees en ná nog ’n gebed die wyn bedien. Die betekenis van elke embleem kan kortliks gemeld word, en ’n slotgebed sal gepas wees.
Alle redelike pogings moet natuurlik aangewend word om teenwoordig te wees by die gemeente se herdenking van die Here se Aandmaal. Maar wat kan gedoen word in ’n uiterste situasie waar ’n gesalfde Christen ernstig siek is, in die hospitaal is of om ’n ander rede verhinder word om die Gedenkmaal op 14 Nisan ná sononder te vier? ’n Gesalfde kan in so ’n geval van ’n presedent in die Mosaïese Wet gebruik maak en dit 30 dae later privaat vier.—Numeri 9:9-14.