Benut veranderde omstandighede
Pum, Jan, Dries en Otto, vier Christen- ouer manne wat in Nederland woon, het heelwat in gemeen. Al vier is getroud en het kinders. Verder het hulle almal ’n paar jaar gelede voltyds gewerk en in gerieflike huise gewoon. Maar hulle almal het hulle sekulêre werk opgegee en al hulle tyd en energie aan die bevordering van Koninkryksbelange begin wy. Wat het hulle in staat gestel om hierdie verandering te maak? Hulle al vier het veranderde omstandighede benut.
VERANDERDE omstandighede raak ons almal op die een of ander stadium. Baie veranderinge, soos om te trou, kinders te hê of vir bejaarde ouers te sorg, bring groter verantwoordelikhede mee. Maar party bied ons meer vryheid om ons Christelike bediening uit te brei (Matteus 9:37, 38). Byvoorbeeld, ons volwasse kinders verlaat miskien die huis of ons tree dalk af.
En hoewel ons omstandighede kan verander of ons dit nou wil hê of nie, het sommige Christene daarin geslaag om veranderinge in hulle omstandighede aan te bring wat geleenthede geskep het om hulle bediening uit te brei. Dit is presies wat Pum, Jan, Dries en Otto gedoen het. Hoe?
Wanneer kinders die huis verlaat
Pum was ’n boekhouer by ’n farmaseutiese firma. Hy en sy vrou, Anny, het dikwels hulppionierdiens saam met hulle twee dogters gedoen. Pum en Anny het ook gereël dat ander pioniers saam met hulle gesin ontspannende omgang geniet. “Dit het ons gesin beskerm teen probleme wat ander assosiasie kon veroorsaak het”, sê hulle. Aangespoor deur hulle ouers se voorbeeld, het albei dogters gewone pioniers geword toe hulle klaar was met skool.
Toe hulle kinders die huis verlaat het, het Pum en Anny gevind dat hierdie veranderde omstandighede hulle meer vryheid en geld gegee het om na interessante plekke te reis of om ander vorme van ontspanning te geniet. Maar die egpaar het besluit om eerder hulle veranderde omstandighede te gebruik om hulle Christelike bediening uit te brei. Pum het dus sy werkgewer gevra of hy een dag per week minder kon werk. Later het Pum reëlings getref wat hom in staat gestel het om soggens sewe-uur te begin en in die middag twee-uur op te hou werk. Die korter werksure het natuurlik beteken dat hulle moes klaarkom met ’n kleiner inkomste. Hulle het dit nogtans reggekry, en in 1991 het Pum by sy vrou aangesluit as ’n gewone pionier.
Daarna is Pum gevra om die assistentopsigter van ’n Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies te word. Daardie uitnodiging het beteken dat die egpaar die huis sou moes verlaat waarin hulle 30 jaar lank gewoon het en na ’n woonstel op die Byeenkomssaalterrein moes trek. Hulle het dit gedoen. Was dit moeilik? Anny sê dat sy elke keer as sy terugverlang het, haar afgevra het: ‘Is ek Lot se vrou?’ Sy het geweier om ‘om te kyk’.—Genesis 19:26; Lukas 17:32.
Pum en Anny meen dat hulle besluit baie seëninge meegebring het. Van die baie dinge wat hulle geniet, is hulle diens by die Byeenkomssaal, die voorbereidingswerk vir streekbyeenkomste en hulle assosiasie met kringopsieners (reisende bedienaars) wat toesprake by die saal kom hou. Elke nou en dan besoek hulle ander gemeentes wanneer Pum as waarnemende kringopsiener dien.
Wat het hierdie egpaar gehelp om hulle diens uit te brei? Pum sê: “Wanneer jou lewe drasties verander, moet jy vasbeslote wees om die nuwe omstandighede ten beste te benut.”
’n Eenvoudiger lewe
Jan en sy vrou, Woth, het drie kinders. Soos Pum en sy gesin het Jan sy veranderde omstandighede benut. Jan het jare lank ’n goed betaalde werk by ’n bank gehad en ’n gerieflike lewenstyl vir sy gesin voorsien. Maar sy begeerte om sy bediening uit te brei, het al hoe sterker geword. Hy verduidelik: “Met die verloop van die jare het my waardering vir die waarheid verdiep en my liefde vir Jehovah toegeneem.” Jan het dus in 1986 sy omstandighede verander. Hy sê: “Ek het veranderinge op kantoor benut en minder ure begin werk. My verbaasde kollegas het my die bynaam Diwodo gegee, want ek het net op Dinsdae, Woensdae en Donderdae gewerk. My salaris het met 40 persent verminder. Ek het ons huis verkoop en ’n huisboot gekoop sodat ons kon dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig was. Later het ek die geleentheid aangegryp om vroeg af te tree; my inkomste het met nog 20 persent gedaal, maar in 1993 het ek as ’n gewone pionier begin dien.”
Vandag is Jan ’n lid van ’n Hospitaalskakelkomitee, en hy dien gereeld as byeenkomsopsiener. Ondanks haar swak gesondheid doen Woth van tyd tot tyd hulppionierdiens. Al drie kinders is nou getroud en dien saam met hulle huweliksmaats as ywerige bedienaars van die Koninkryk.
Hoe het Jan en Woth dit reggekry om by ’n laer lewenstandaard aan te pas? “Die dae toe ons baie gehad het”, antwoord Jan, “het ons seker gemaak dat ons nie te verknog raak aan materiële dinge nie. Deesdae is dit dalk ’n bietjie ongerieflik om ’n rukkie te wag voordat ons iets kan aanskaf, maar die geestelike seëninge en voorregte wat ons ontvang het, vergoed dubbel en dwars daarvoor.”
Soos Jan en Woth het Dries en sy vrou, Jenny, ook besluit om hulle lewe eenvoudig te hou sodat hulle meer tyd aan Koninkryksbelange kon wy. Dries en Jenny het as pioniers gedien totdat hulle ouers geword het. Om vir sy gesin te sorg, het Dries toe kantoorwerk by ’n groot maatskappy gedoen. Sy werkgewers het sy werk waardeer en hom ’n bevordering aangebied. Dries het dit egter van die hand gewys omdat hy dan minder tyd vir Christelike bedrywighede sou hê.
Die grootmaak van hulle kinders—asook die versorging van Jenny se siek moeder—het baie van die egpaar se tyd en energie in beslag geneem. Hulle het nogtans die pioniergees lewendig gehou. Wat het hulle gehelp om dit te doen? Jenny verduidelik: “Ons het pioniers gehad wat by ons gebly het, het pioniers vir etes oorgenooi en het kringopsieners gehuisves.” Dries voeg by: “Ons het ons lewe eenvoudig gehou en nie skuld gemaak nie. Ons het besluit om nooit groot ondernemings aan te pak of ’n huis te koop nie, sodat ons nie in die toekoms daardeur gebind sou word nie.”
Dries en Jenny se besluit om omstandighede te skep wat hulle meer tyd vir Koninkryksbelange sou gee, het lonende resultate gehad. Albei hulle seuns dien nou as ouer manne, en een van hulle pionier saam met sy vrou. Dries en Jenny het as spesiale pioniers gedien, en later het Jenny Dries in die kringwerk vergesel. Nou is hulle vrywillige werkers by Bethel, waar Dries as ’n lid van die Takkomitee dien.
Vroeë aftrede
Soos Dries en Jenny het Otto en sy vrou, Judy, pionierdiens gedoen voordat hulle twee dogters gebore is. Toe Judy swanger was met hulle eerste kind, het Otto begin skoolhou.
Terwyl die kinders grootgeword het, het Otto en Judy dikwels pioniers na hulle huis genooi sodat hulle dogters die vreugde van voltydse Christenwerkers kon sien. Met verloop van tyd het hulle oudste dogter ’n pionier geword. Later het sy Gileadskool bygewoon, en nou dien sy saam met haar man as ’n sendeling in ’n Afrikaland. Hulle jonger dogter het in 1987 pionierdiens begin doen, en Judy het by haar aangesluit.
Toe veranderde omstandighede Otto in staat gestel het om korter ure by die skool te werk, het hy die ekstra tyd gebruik om te pionier. Uiteindelik het hy sy werk heeltemal opgegee. Vandag gebruik Otto sy onderrigvermoë om gemeentes geestelik te versterk in die reisende werk.
Watter raad het Otto vir diegene wat vroeg aftree? “Wanneer jy aftree, moet jy nie besluit om eers ’n jaar of wat te rus nie. Dis nie moeilik om daaraan gewoond te raak om te ‘rus’ nie. Voor jy jou kom kry, sal jy van die pionierdiens vergeet het. Begin eerder dadelik om jou geestelike bedrywighede uit te brei.”
Benut lewenservaring
Broers soos Pum, Jan, Dries en Otto het weliswaar nou nie meer die krag en die stamina wat hulle gehad het toe hulle jonger was nie. Maar hulle het wel groter geestelike rypheid, ervaring en wysheid (Spreuke 20:29). Hulle weet wat dit beteken om ’n vader te wees en omdat hulle met hulle vrouens saamgewerk het, het hulle ’n idee van wat dit behels om ’n moeder te wees. Saam met hulle vrouens het hulle gesinsprobleme die hoof gebied en teokratiese doelwitte vir hulle kinders gestel. Otto sê: “Wanneer ek as kringopsiener raad gee oor gesinsaangeleenthede, help dit dat ek self ’n gesin grootgemaak het.” Dries se ervaring as ’n vader maak hom eweneens nou ’n waardevolle lid van die Bethelgesin, waar daar soveel jong werkers is.
Ja, eerstehandse kennis help hierdie broers om na ’n groot verskeidenheid behoeftes in die gemeentes om te sien. Hulle ervaring help hulle om doeltreffender te wees sodat hulle hulle energie ten beste kan benut (Prediker 10:10). Trouens, hulle kan dikwels in ’n gegewe tyd meer uitrig as diegene wat fisies sterker is maar minder ervaring het.
Sulke broers, tesame met hulle vrouens, is goeie voorbeelde vir die jongmense onder Jehovah se volk. Jongmense sien dat sulke egpare self baie van die uitdagings en seëninge ondervind het wat in ons Christelike publikasies gemeld word. Dit is bemoedigend om manne en vroue te sien wat ’n gees soos dié van Kaleb openbaar, wat ondanks sy gevorderde leeftyd ’n uitdagende toewysing gevra het.—Josua 14:10-12.
Volg hulle geloof na
Kan jy dalk die geloof en dade navolg van die egpare wat in hierdie artikel genoem word? Onthou, hulle het die waarheid ’n lewenswyse gemaak. Hulle het in hulle kinders die begeerte opgebou om pioniers te word. Volgens Jan het hulle het dit gedoen “deur ’n voorbeeld te stel in liefde vir Jehovah en sy organisasie, deur reëlings te tref vir goeie omgang en deur die kinders te leer om vir hulleself te sorg”. Hulle het ook as ’n gesin saamgewerk en saamgespeel. “Vakansietye”, sê Pum, “het die hele gesin gewoonlik in die oggend in die predikingswerk uitgegaan en in die middag saam ontspan.”
Verder het hierdie Christene vooruitbeplan sodat hulle gereed sou wees om enige veranderinge in hulle omstandighede te benut. Hulle het doelwitte gestel en besluite geneem wat hulle sou help om hulle doelwitte gouer te bereik. Hulle het na maniere gesoek om hulle sekulêre werk te verminder en was bereid om met ’n kleiner inkomste klaar te kom (Filippense 1:10). Die vrouens het hulle mans ten volle ondersteun. Hulle het almal ’n sterk begeerte gehad om in te gaan deur die “groot deur wat tot bedrywigheid lei”, en gevolglik geniet hulle Jehovah se ryk seën.—1 Korintiërs 16:9; Spreuke 10:22.
Het jy ook ’n begeerte om jou bediening uit te brei? Indien wel, sal jy moontlik vind dat jy dit kan doen as jy veranderde omstandighede benut.
[Prent op bladsy 20]
Pum en Anny sien om na die Byeenkomssaal
[Prent op bladsy 20]
Jan en Woth in die predikingswerk
[Prent op bladsy 21]
Dries en Jenny by Bethel
[Prent op bladsy 21]
Otto en Judy maak gereed om die volgende gemeente te besoek